Thursday 19 May 2011

Gaan die wegraping 21 Mei 2011 plaasvind?


Tema: Gaan die wegraping 21 Mei 2011 plaasvind?

(video) Judgement Day 21 May 2011

Soos ons nou net gesien het is Harold Camping die persoon wat hierdie datum uitgewerk het.   Hoe kom hy by hierdie datum uit?

Volgens hom het Noag se vloed 4990 vC plaasgevind.  God het vir Noag gesê dat oor 7 dae gaan die vloed begin.  Die vloed spreek dan van God se oordeel.  Die vloed is dan ‘n tipe van God se finale oordeel aan die einde.  Die 7 dae is ‘n skadubeeld van 7000 jaar, want in 2 Pet 3:6-8 sê dit mos dat vir die Here is 1 dag soos ‘n duisend jaar en ‘n duisend jaart soos 1 dag.

As jy dan 4990 + 2011 jaar = 7001 jaar.  Die jaar 0 word dan afgetrek as 1 jaar en dit gee ons 7000 jaar.  Die 17e dag van die 2e maand volgens die Joodse kalender is dag toe God die deur van die ark toegesluit het.

Nou volgens Harold Camping het die kerkeeu geëindig in 1988 en het die groot verdrukking begin van 23 jaar.  Die kerkeeu het begin op 22 Mei, die dag van Pinkster in die jaar 33 nC. 1955 jaar later het dit geëindig op die 21e Mei 1988 die dag voor Pinksterdag.

Die Heilige Gees het hier al die kerke verlaat en Satan het in die kerke ingekom.  Dan sê hy dat die Bybel leer ons dat 23 jaar later op 21 Mei 2011, die dag van oordeel sal aanbreek.  Dit is ook dan dieselfde dag op ons kalender as die 17e dag van die 2e maand toe God die ark toegesluit het.

Kom ek begin deur ‘n stelling te maak:

Enigiemand wat datums voorspel vir die wederkoms of die einde van die wêreld bewys daardeur dat hy nie die Bybel reg verstaan nie.  Daarom is daar geen twyfel dat hierdie datum 21 Mei 2011 wat voorspel is reeds ‘n aanduiding is dat dit ‘n valse profesie is.

Matt 24:36 Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.

Wie is Harold Camping?  Hy is ‘n baie invloedryke persoon.  Hy is die president van “Family Radio Network” en besit 150 radio stasies.  So daar is baie mense, miloene mense regoor die wêreld wat na hierdie ou luister.  Iewers het ek gelees dat hy 200 miljoen volgelinge het.

Sy siening van die Bybel is Amillenialisme, hy is gereformeerd en hy glo in vervangings teologie.  Nou wat beteken dit alles.  Amillenialisme sê daar is nie ‘n letterlike duisend jaar van vrede nie.  Maw Jesus gaan nie letterlik op aarde vir ‘n 1000 jaar regeer nie. 

Dan is hy ook gereformeerd, en dit beteken hy is ‘n Kalvinis en glo in die uitverkiesings leer, maw God het net ‘n sekere groep mense uitverkies om hemel toe te gaan, en in hierdie geval is dit hy en al sy volgelinge wat uitverkies is. 

En vervangings teologie beteken dat die Kerk het die plek van Israel vervang.  Dit beteken die kerk is nou die geestelike Israel.  En God is klaar met die Jode.  Al die beloftes wat God vir Israel gegee het, word nou op die kerk van toepassing gemaak.

En dit alles is klaar ‘n groot problem.  So sy voorspelling wat hy maak, is uitgewerk op ‘n verkeerde teologiese raamwerk.  Hy het voorspel dat die wegraping sal plaasvind op 21 Mei 2011.  Harold Camping is egter nie enigste wat al datums voorspel het nie en daarom is hy deel van vele ander valse profete wat al die einde van die wêreld voorspel het.

Daar was byvoorbeeld William Miller wat die stigter was van ‘n eindtyd beweging en hy het gesê die Here kom tussen 1843 - 21 Maart 1844.  Sy volgelinge het al hul besittings verkoop, mooi wit klere aangetrek en by die heuwels gaan staan en wag.  Niks het gebeur nie.  Sy volgelinge het ‘n nuwe datum voorspel op 22 Okt 1844 en toe die Here nie kom, het die beweging tot ‘n einde gekom.  Hierdie volgelinge word toe sewendedaagse adventiste geword.

Dan was daar die bekende “Watchtower Society: Jehovah’s witnesses”.  Hier is ‘n artikel van hulle wat sê, “why are you looking forward to 1975?”  Hulle het geglo dit is wanneer Jesus weer gaan terug kom, maar hulle Jesus is die aartsengel Migael, maw hulle het ‘n ander Jesus. 

Hulle is bekend vir al hulle datums.  Eers was dit 1888, daarna 1914, toe sê hulle het geestelik gekom. 

In 1925 het hulle miljoene dollars ingesamel om ‘n groot mansion te bou vir Abraham, Isak en Jakob en toe hulle nou nie opdaag nie, raai wie trek toe in in die mansion?  Die president van die Watchtower Society.  Dis nice!  Dan was daar ook die voorspelling in 1975 en 1984.

Dan was daar ook Edgar C. Whisenant, ‘n oud-ingeneur van Nase, en hy het voorspel dat die wegraping in Sep 11-13 1988 gaan gebeur.  TBN het hom ondersteun en onderskryf en hulle programme uitgesaai om mense voor te berei op die wegraping.  Toe dit nou nie gebeur nie het hy nog drie ander datums gegee, in 1989, 1993 en 1994.

Harold Camping het al in die verlede ook ‘n datum voorspel.  Hierdie is nie sy eerste datum nie.  Sy eerste datum wat hy voorspel het was 6 September 1994, en wat het gebeur?  Niks!  Hy sê toe dat hy ‘n wiskundigings berekenings fout gemaak het.  Die regte datum is eintlik 21 Mei 2011.  Dit is nou Saterdag.  So is jy gereed?

Ons het gesien dat die probleem wat al hierdie ouens het wat datums probeer voorspel is dat hulle die Bybel nie reg verstaan nie.  Nou, met sekere dinge is Harold Camping reg, maar dié dinge wat reg is word vermeng met verkeerde dinge.  En dit maak hom ‘n valse profeet.

Hy is reg wanneer dit kom by die feeste wat gaan oor Jesus Christus, maar sy amillennialisme en Kalvinisme plaas hom op ‘n verkeerde weg.  Die dinge wat van toepassing is op Israel en Jesus, maak hy van toepassing op die kerk.

Hy verwys na die feeste van trompette en ja, dit hou verband met die sewe trompette in Openbaring, maar hy maak die fout deur dit op die wegraping van toepassing te maak.

 Jy sien die sewe trompette in Openbaring vind eers plaas na die wegraping en na die Antichris op die voorgrond tree wanneer hy ‘n 7 jaar vebond gaan sluit met Israel vlg. Dan 9, en iewers in die middel van die sewe jaar gaan die sewe trompette begin, maar daar is nie ‘n manier om eers te weet wanneer die trompette gaan begin nie

Kom ons kyk gou na die feeste:

Wanneer is die paasfees, die fees van ongesuurde brode, vervul op Jesus?  Die kruisiging.  Sy verraad, Sy verhoor, Sy kruisiging, dit was alles ‘n vervulling van dit wat die paasfees uitbeeld.

Wanneer is die pinksterfees vervul?  50 dae na die kruisiging en dit was die begin van die transisie typerk van die wet na genade.  So die verband was nie met die kerk so ver dit die heidene betref nie, maar dit was met Israel.  Die heidene het nie ‘n wet gehad nie.

As jy teruggaan na Hand 2, sal jy sien dat daar nie heidene was nie, maar net Jode.  Hulle het van verskillende lande gekom, maar hulle was almal Jode.  Ons moet dit nie vergeet nie. 

Die fees van trompette het te doen met die Jode en met Jesus en nie met die kerk nie, so die trompette van Openbaring het ook weer met die Joodse volk te doen en nie die kerk nie, want die kerk sal reeds weggeraap wees en by die Here wees voor die 7 jaar groot verdrukking begin.

Die dag van versoening, is die nuwe jaar van die Joodse kalender en dit sal vervul word wanneer hulle na Hom sal kyk wie hulle deurboor het en die nuwe jaar van 1000 vrede aanbreek.

Sag 12:10 Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind.

Hierdie is die vervulling van die fees van die dag van versoening en dit sal gebeur by Jesus se wederkoms.  Dit het te doen met Israel en Jesus.

Die huttefees sal eers in die 1000 jaar vrederyk vervul word.  Dan sal die tabernakel van God by die mense wees.  Dan sal God by hulle woon en hulle sal Sy volk wees.

So daar is sekere waarhede in dit wat Camping sê oor die feeste, maar die feeste hou verband met Jesus en Israel en nie met Jesus en die kerk nie.

Soos al die ander valse profete, sê Camping dat as jy nie glo in sy voorspelling nie, dan is jy nie gered nie.

(video)

Maw as jy nie saamstem met Camping nie, is dit ‘n bewys dat jy nie die wil van God glo nie en jy is dan ook nie gered nie.  So om alleen in Jesus Christus te glo is nie genoeg nie.  Jy moet ook in sy datum glo.  Dit is om die kruis plus te verkondig.  Die kruis alleen is nie genoeg nie.

Kom ek voeg net dit by, daar is kerke wat sê, as jy nie gedoop is nie, dan is jy nie gered nie.  Is dit so?  Nee!  Jesus het dan vir die misdadiger aan die kruis gesê, vandag sal jy saam met my in die paradys wees en hy was nie gedoop nie.

Daar is ander kerke wat sê, as jy nie in vreemde tale praat nie, het jy nie die Heilige Gees.  En daarom is jy nie gered nie.  Is dit waar?  Nee!  Volgens Rom 8:9 het elke wedergebore kind van God die inwonende Heilige Gees. En nêrens lees ek dat jy moet in tale praat as bewys dat jy die Heilige Gees ontvang het nie.

Daar is dan ander wat sê, as jy nie Saterdag op die Sabbat kerk toe gaan nie, dan is jy nie gered nie.  Die sewendedaagse advitiste sê dat as jy Sondag kerk toe gaan, dan het jy die merk van die bees.  Is dit waar? Nee!

Dit is alles die kruis PLUS PLUS PLUS...

Wat sê die Bybel?

Hand 16:31 Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.

Rom 10:9 As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word;
10 want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.

Niks van doop of tale of sabbat nie of in datums glo nie.  Luister!  Daar is niks wat jy kan doen om gered te word nie.  Christus het dit klaar vir jou gedoen.  Jy kan nie nog werke byvoeg by dit wat Jesus gedoen het nie.  Dit is nie die kruis PLUS nog iets anders nie.

Ons kry ‘n voorbeeld in die Bybel van ‘n spesifieke gemeente waar daar ook ouens was wat verkondig het dat die oordeelsdag aangebreek het.  Die gemeente van Thessalonika.

2 Thes 2:1 Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom,
2 om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie—deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees—asof die dag van Christus al daar is.
3 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf

Paulus sê hier is mense wat hul verstand verloor en verskrik raak.  Dit is wat ook nou gebeur.  Mense verkoop alles en koop ‘n trok en ry die land vol om mense te waarsku van die oordeelsdag 21 Mei 2011.  Hulle gaan aan asof die dag van die Here, die oordeelsdag daar is.

Dan sê Paulus, God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing.  Ons dien nie God omdat ons bang is nie.  Ons dien God omdat ons Hom liefhet. 

Paulus sê dat die afval moet eers kom, die mens van sonde, die seun van die verderf.  Dit is die antichris.  Die oordeelsdag kan nie aanbreek as die antichrist nie op die voorgrond getree het nie.  Dit het nog nie gebeur nie.

Slot

Wat my bekommerd is dat hierdie 21 Mei 2011 voorspelling gaan nie meer Christene maak nie, maar eerder meer mense laat wegdraai van die kerk.  Daar is miljoene mense wat 22 Mei gaan opstaan en besef dat hulle verkeerd was, en op die ou einde gaan hulle niks met die Bybel en niks met God te doen wil hê nie.  Nie omdat hulle gered was en nou verlore gaan nie, maar omdat hulle geloof in die verkeerde dinge was.

Ons geloof, die ware Christen geloof is in Jesus Christus, die Seun van God wat vlees geword het en onder ons kom woon het.  Hy het ‘n sondelose lewe geleef en het aan die kruis my en jou sondestraf gedra. 

Maar dit is nie al nie, Hy het opgestaan en sit aan die regterhand van God die Vader en is ons Voorspraak by die Vader.  Maar daar kom beslis ‘n dag en datum wanneer Hy weer sal terug kom.  Dit kan volgende week 21 Mei wees, dit kan more wees, dit kan vandag wees.

Elke mens moet nou seker wees of sy saak met God reg is.

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288