Sunday 5 June 2011

Hoe om kerk te speel


Tema: Hoe om kerk te speel (die valse kerk binne die ware kerk) (Matt 7:21-23)

Matt 7:21 Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.
22 Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?
23 En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!

In Matt 12 lees ons dat die Fariseërs en hulle wat saam met hulle was het die onvergeeflike sonde gedoen.  Hulle het gesê dat Jesus duiwels uitdryf uit die owerste van duiwels.  Jesus sê toe vir hulle dat Hy deur die Gees van God duiwels uitdryf.  Dat Hy enigiets kan vergewe maar wanneer hulle so laster teen die Gees, kan Hy hulle nie vergewe nie.

Hoekom kan Jesus hulle nie daarvoor vergewe nie?  Want as hulle alles gesien het wat Hy kan doen, as hulle al die wonderwerke gesien het en alles gehoor het wat Hy gesê het en hulle kom tot die gevolgtrekking dat Hy dit doen deur die owerste van die duiwels en nie deur die Gees van God nie, dan laster hulle teen die Gees en is hulle verby die punt dat hulle ooit sal kan glo.

Jy sien as jy die volle openbaring gehad het en steeds nie glo nie en Jesus nie aanvaar nie, dan is dit verby.  Hulle het Jesus gevolg, Hom gesien en Hom gehoor, maar steeds daarna sê hulle dat Hy is uit die bose, en dit plaas hulle buite die kategorie van geloof.  Dit is die onvergeeflike sonde.  Dit is sonde teen die Heilige Gees. 

Om dit duideliker te maak.

Joh 16:7 Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur;
8 en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel:
9 van sonde, omdat hulle in My nie glo nie;

Die sonde van ongeloof.  Dit is so eenvoudig.  As jy nie glo nie, kan God jou nie vergewe nie.  Jesus het vir alle sondes gesterf, maar daar is net een sonde wat Hy nie kan vergewe nie, en dit is as jy nie glo nie.  Jy kan net vergewe word as jy glo.

En dan as ons na Matt 13 toe gaan dan begin Jesus gelykenisse vertel.  Hoekom?  Want dit gaan oor ongeloof.

Matt 13:10 En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse?
11 Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie.
12 Want hy wat het, aan hom sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar hy wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het.

Die verborgenhede is dit wat weggesteek is.  Dan sê Jesus, hy wat het, maw hy wat die geloof het, aan hom sal gegee word. En hy wat nie het nie, van hom sal weggeneem word.  Wie is dit wat het?  Die heidene.  Die heidene het begin om te glo, hulle sal die geloof by kry en die Jode wat nie glo nie, van hulle sal dit weggeneem word. 

So die verborgenheid van die koninkryk waarvan Jesus praat in die gelykenisse verwys na die heidene wat glo, en dan ook die kerk wat verborge was in die Ou Testament.  So Jesus plaas Israel eenkant agv hulle ongeloof en begin om oor die kerkeeu te praat wat op daardie stadium nog verborge was.

Jesus praat van die kerkeeu op ‘n baie unieke wyse.  Hoor hoe beskryf Hy dit. 

Matt 13:24 ‘n Ander gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos ‘n man wat goeie saad in sy land gesaai het;
25 maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid onder die koring gesaai en weggegaan.
26 En toe die spruitjies opgeskiet en vrug gevorm het, toe verskyn die onkruid ook.

In die kerk gaan daar koring en onkruid wees.  Ware christene en valse christene.  En dit gaan moeilik wees om hulle van mekaar te kan onderskei totdat God wat die Regter is hulle van mekaar sal skei.

Ons lees dat daar baie verskillende fasette is van die kerk.  Die illustrasie van die mostert saad gee ons die idee dat die kerk gaan ontplof en dit gaan ‘n groot ding wees.  Dit sluit in die egte en die onegte, die ware en die valse.  So die kerkeeu gaan ‘n baie vreemde tydperk wees, en so waar dit is.

In die naam van die “kerk”, gebeur daar baie dinge vandag.  Jesus het Johannes opdrag gegee in Openbaring om aan die gemeente van Sardis te skryf.

Op 3:1 En skryf aan die engel van die gemeente in Sardis: Dít sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het: Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef en jy is dood.

Wow!  Is dit nie waar van baie kerke vandag nie?  Hulle het die naam, maar hulle is dood.  En hoekom is hulle dood?  Wel, hulle is dood, want die mense in die kerk is dood.  Ek sal sê dat daar baie kerklidmate is wat nie weet wat dit beteken om ‘n ware Christen te wees nie.  Hulle is geestelik dood.

Paulus sê in Efesiërs 2, hulle is dood deur die misdade en die sondes.  Die gevolg is dat dooie mense bring ‘n dooie kerk voort.  Die kerk vandag sukkel nie omdat daar soveel druk van buite af is en omdat die duiwel hom so aanval nie.  Die kerk sukkel omdat hy dood is van binne af.

Maar aan die ander kant, ‘n lewende kerk, ‘n kerk wat Jesus Christus ken en die evangelie verkondig is ‘n kerk wat altyd aangeval sal word, want so ‘n kerk is die gewete van die gemeenskap. 

‘n Kerk wat lewe, ‘n kerk wat die boodskap van Jesus Christus verkondig, gaan vir die gemeenskap en omgewing waar hy preek ‘n issue raak.

Luk 6:26 Wee julle wanneer al die mense goed van julle praat, want hulle vaders het net so aan die valse profete gedoen.

Die kerk is altyd in opposisie met die wêreld, want lig en duisternis kan nie gemeenskap hê nie.

2 Kor 6:14 Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?
15 En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?

Jy sien, liefde vir Christus is die basis en dit wat vir die kerk belangrik is, is om betrokke te wees in die maak van nuwe skepsels uit hierdie dooie mense.  ‘n Kerk wat ‘n ware lewende kerk is, is ‘n kerk wat in die besigheid is om vir dooie mense die evangelie van Christus te verkondig wat alleen die krag het om hulle lewendig te maak.  Dit is die kerk se missie.

Daar is geen bybelse manier waarop die kerk in dieselfde juk saam met die ongelowiges kan trek nie.  Die kerk moet die gewete van die wêreld wees.  En my gebed is dat hierdie kerk, vir hulle wat buite Jesus Christus is, die ongemaklikste sitplek sal wees in die wêreld, want ons bied ‘n boodskap aan wat verdeelheid bring.

Al hoekom jy ongemaklik sou voel in hierdie kerk, is omdat jy nie die evangelie van Jesus Christus aanvaar het nie.  ‘n Kerk wat gemeenskap het met die wêreld, is ‘n kerk wat besig is om te sterf.

Die kerk se plig is nie net om die gelowiges te leer en toe te rus nie, maar dit is ook die kerk se plig ook om die wêreld te waarsku van God se heilige standaard.  Ons sal nie getrou bly aan God se roeping as ons aan mense net ‘n oorvloedige lewe verkondig nie. 

Ja, dit is ‘n belangrike deel van saligheid, maar iewers in die proses moet ons vir mense vertel dat hulle sondaars is, dat hulle van ‘n heilige God geskei is, en dat hulle geoordeel gaan word en hulle kinders van die toorn is, soos Paulus sê in Ef 2.

Om die waarheid van Jesus Christus openlik te verkondig, om openlik vir mense te vertel dat hulle sondaars is, gaan verdeeldheid bring. Kan julle onthou wat Jesus gesê het in Matt 10?

Matt 10:34 Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard.
35 Want Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen ‘n man en sy vader, en tussen ‘n dogter en haar moeder, en ‘n skoondogter en haar skoonmoeder.

Luister!  Die ware kerk van Jesus Christus is nie ‘n godsdienstige instelling wat almal verwelkom nie.  Dit is die liggaam van Christus wat eenkant geplaas is vir God.  Die ware kerk bestaan uit wedergebore kinders van God wat gered is deur die geloof.

En as iemand buite daardie geloof van verlossing staan kan hy nie daarvan deel wees nie, want dit is die vereiste vir die kerk en dit is ons werk om mense te waarsku wat nie Christus aanvaar het nie.  Om hulle in liefde te waarsku, om hulle van God se toorn te waarsku.

2 Kor 5:11 Omdat ons dan die vrees van die Here ken, probeer ons om die mense te oortuig; maar voor God is ons openbaar, en ek hoop om ook in julle gewetens openbaar te wees.

Wat sê Paulus?  Hy sê wanneer ek dink aan die oordeel van God wat kom, spoor dit my aan om die evangelie te verkondig.  Dit is ons plig.  En ons teksgedeelte Matt 7 is so ‘n waarskuwing.  ‘n Waarskuwing aan hulle wat binne die kerk is en wat dink hulle is deel van die kerk, maar in werklikheid is hulle nie.

Dit is nie ‘n waarskuwing hier vir mense buitekant nie.  Dit is ‘n waarskuwing aan hulle wat binne die kerk betrokke is.  Daar is baie mense in die kerk wat nie Jesus Christus ken nie.  Daar is baie mense wat godsdienstige belewenisse het, mense wat ‘n self-geestelikheid beleef, maar hulle ken nie Jesus Christus nie.  Ons sien dit in ons teksgedeelte.

Matt 7:22 sê “in daardie dag”.  Nou dit is belangrik want daar kom ‘n spesifieke dag wanneer Christus gaan oordeel.  Die dag van oordeel.  Op 21:12 sê dat die dode geoordeel sal word volgens hulle werke.

Maw hulle het nie geloof gehad nie, al wat hulle gehad het is hulle werke.  Hulle sal geoordeel word volgens hulle werke.  En ons weet dat die Bybel sê dat uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie.  Matt 7 het te doen met die oordeelsdag.

En daar sal mense wees in daardie dag wat sê, “Here, Here, hier is ons.  Ons was godsdienstige mense.”  Nou Petrus noem hierdie oordeelsdag in 2 Pet 3:7 die verderf van die goddelose mense.  En dit is moeilik om te dink dat godsdienstige mense na verwys kan word as goddelose mense.  Jesus sê,

Matt 7:21 Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.

En hier kry ons die voorwaarde om in die koninkryk in te gaan.  Hoe kan ‘n mens die koninkryk ingaan?  Hoe word jy deel van die koninkryk?  Hoe kan jy ‘n ware ‘n Christen wees?

Eerstens is die nie almal wat sê, Here, Here nie.  Maar dit is hulle wat die wil van die Vader doen.  Dit is nie noodwendig hulle wat net wens dat hulle in die koninkryk sal ingaan nie.  Dit is ook nie noodwendig hulle wat net vra om in te gaan nie.  Dit is hulle wat die wil van die Vader doen.

Wat is die wil van die Vader?  Dat ons deur Jesus Christus sal ingaan.  Dit is die wil van die Vader.  Petrus sê in Hand 4:12 dat daar geen ander naam onder die hemel is, waardeur ons gered kan word nie.

Dit is deur geloof in die Here Jesus Christus dat ons ingaan.  Dit is nie deur godsdienstige handelinge nie.  Dit is nie deur ervarings nie.  Dit is deur die kosbare bloed van Jesus Christus.  Dit is die Vader se wil.  En daar is geen ander manier hoe om in die koninkryk in te gaan nie.

Deur net te sê Here, Here is nie genoeg nie.

Luk 6:46 En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?

Op ‘n katedraal se muur in Lubeck in Duitsland staan die volgende woorde:

"Thus speaketh Christ our Lord to us, you call Me Master and obey Me not, you call Me light and see Me not, you call Me the way and walk Me not, you call Me life and live Me not, you call Me wise and follow Me not, you call Me fair and love Me not, you call Me rich and ask Me not, you call Me eternal and seek Me not, you call Me gracious and trust Me not, you call Me noble and serve Me not, you call Me mighty and honor Me not, you call Me just and do not accept My justice. If I condemn thee, blame Me not."

God het bepaal hoe ‘n mens in die koninkryk kan ingaan.  Dit het niks met ‘n kerkgebou of kerk denominasie te doen nie, dit het te doen met Jesus Christus.  Om net te sê, Here, Here is nie genoeg nie.  Dit gaan oor die wil van die Vader.  Nou wat is die wil van die Vader?

1 Tim 2:3 Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser,
4 wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.

Dit is God se wil.  Jesus sê, Ek is die weg en die waarheid en die lewe, niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.  Dit is God se wil.  Die wil van die Vader is dat ons na Jesus sal kyk en op Hom sal glo.  Dat ons Hom sal aanneem.

Joh 1:12 Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;

Dit is deur geloof wat ons Jesus aanneem, want sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag, sonder geloof in Jesus Christus.  Nie deur jou godsdienstigheid nie.  Nie deur jou goedheid nie.  Nie deur jou dienste wat jy aan die kerk lewer nie.  Selfs nie deur te sê Here, Here nie.  Dit is deur geloof in Jesus Christus as jou persoonlike Verlosser en Saligmaker.

Eerstens kry ons in v21 die voorwaarde om in die koninkryk in te gaan.  Verder lees ons in v22 van hulle wat nie mag ingaan nie.

Matt 7:22 Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?

En kyk waarop maak hulle staat.  Here ons het dit gedoen.  Here ons het dat gedoen.  Hulle vertel net alles wat hulle gedoen het, so asof hulle deur hulle werke toegelaat sal word om in te gaan.  Die waarheid is dat baie teleurgestel gaan word, want hulle het gedink hulle godsdiens is genoeg.

Miljoene mense maak staat op hulle moraliteit, op hulle goeie dade, op hulle doop, op hulle kerklidmaatskap, of op hulle geestelike ervaringe.  Daar gaan baie kerkwerkers in die hel wees.  Daar gaan baie predikante daar wees.  Daar gaan baie wonderwerkers daar wees.

Baie gaan sê, Here dis ons, ons het geprofeteer in jou Naam.  Ons het in jou Naam baie duiwels uitgedryf en baie kragte gedoen.  Maar Jesus gaan in daardie dag hulle skaapsklere van hulle afskeur en hulle blootstel as wolwe.  Dit is presies waarvan Hy praat in Matt 7:15-20.  Dit gaan oor valse profete.  En Jesus gaan hulle blootstel.

Luk 13:25 Wanneer die eienaar van die huis opgestaan en die deur gesluit het, en julle begin buitekant te staan en aan die deur te klop en te sê: Here, Here, maak vir ons oop—sal Hy antwoord en vir julle sê: Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie.
26 Dan sal julle begin sê: Ons het in u teenwoordigheid geëet en gedrink, en U het op ons strate geleer.
27 En Hy sal sê: Ek sê vir julle, Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie. Gaan weg van My, al julle werkers van die ongeregtigheid!

Dit moet verskriklik wees.  Hulle doen dinge in Sy Naam.  Hulle het in Sy teenwoordigheid geëet en gedrink.  Hulle het die naam van Christus, maar in werklikheid het hulle nie geloof in Hom gehad nie.  Dit is mense wat ‘n gestalte van godsaligheid het.  Dit is mense wat kerk speel. 

Die vraag is: ken jy Jesus Christus persoonlik?  Is jy wedergebore?  Het jy die wil van die Vader gedoen deur Jesus Christus aan te neem?

Dan in Matt 7:23 veroordeel Jesus hulle wat buite die wil van die Vader staan.  Hulle wat sonder Christus is.

Matt 7:23 En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!

Jesus verklaar openlik dat Hy hulle nie ken nie.  Dit is presies waarvan Hy gepraat het in Matt 10:32.

Matt 10:32 Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is.

As jy nie Jesus hier bely nie, sal Hy jou nie daar bely nie.  In werklikheid sal Hy sê, Ek het julle nooit geken nie.

Die volgende is onsettend belangrik.  Wat beteken dit dat God iemand ken of dat Hy nie iemand ken nie?  Ons weet dat dit nie beteken dat Hy nie bewus is van iemand nie.  Ons weet dat nie beteken dat Hy nie weet wie iemand is nie.  In daardie sin ken Hy almal.  Hy weet hoeveel hare op elkeen se kop is.

Dit gaan oor persoonlik ken.

2 Tim 2:19 ...Die Here ken die wat syne is...

Hierdie ken impliseer ‘n liefdevolle verhouding.

Joh 10:14 Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en word deur my eie geken.

Maar hulle wat nie in ‘n liefdevolle verhouding met Jesus staan nie, sê Jesus, Ek het julle nooit geken nie.  Christenskap is nie ‘n godsdiens nie, dit is ‘n persoonlike liefdevolle verhouding met Jesus Christus.  Kerkwees gaan daaroor om Jesus te ken.

Slot

Daar was 'n akteur wat by ‘n vermaaklikheids funksie gevra is om iets voor te dra.  Hy het opgestaan ​​en het uit beleefdheid vir die aanhoorders gesê dat hy enigiets op hulle versoek sou voordra.  Niemand het iets gesê nie totdat ‘n ou predikant opgestaan het en gevra het of hy nie Psalm 23 sal voordra nie. 

Nou gewoonlik was dit net hoërklas mense wat na hierdie funksies toe uitgenooi is.  Daar was nie predikante by hierdie tipe funksies nie, want hulle het altyd net die pret bederf, maar by hierdie geleentheid was daar een.

Die akteur was toe so bietjie onkant gevang, maar hy het mos gesê hy sal enigiets voordra.  Hy sê toe dis reg, hy ken Psalm 23 en sal dit doen.  So dra hy toe Psalm 23 op met welsprekendheid en hy het dit meesterlik vertolk.  Sy uitspraak was pragtig.

Toe hy klaar was het die aanhoorders hom toegejuig met spontane applous.  Die akteur reken toe dat hy die ou prediker gaan terug kry en vra toe dat hy die Psalm sal voordra.  Die predikant het dit nie verwag nie, maar as gevolg van sy liefde vir Christus het hy opgestaan en het hy Psalm 23 herhaal. 

Sy stem het gekraak en gebreek en sy voordrag was nie baie goed nie.  Toe hy klaar was, was daar geen applous nie, maar almal se oë was vol trane.

Die akteur was daardeur geraak en staan toe op en sê: Dames en here, ek het julle oë en ore bereik, maar hy het julle harte bereik.  Hier is die verskil.  Ek ken Psalm, maar hy ken die Herder.

Daar is baie goeie toneelspelers in die kerk.  Hulle weet wanneer om op die regte tyd amen te sê en op die regte tyd hallelujah te sê.  Hulle weet presies hoe om mense emosioneel op te werk en hoe om mense te kry om te reageer op hulle uitnodigings.  Hulle is meesters wanneer dit kom by kerk speel en kerk hou.

Die vraag is egter: ken hulle die Herder.  Wandel hulle in opregtheid voor die Here?  God soek mense wat in opregtheid wandel en nie mense wat weet hoe om kerk te speel nie.

Gen 17:1 Toe Abram nege en negentig jaar oud was, het die HERE aan Abram verskyn en vir hom gesê: Ek is God, die Almagtige; wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees.



No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288