Tuesday 14 June 2011

HOEKOM KERK? 'N LIEFDE VIR SY KERK


HOEKOM KERK? ‘N LIEFDE VIR SY KERK

Michael Griffiths het gesê,
A high proportion of people who “go to church” have forgotten what it is all for. Week by week they attend services in a special building and go through their particular, time-honored routine, but give little thought to the purpose of what they are doing. The Bible talks about the “the bride of Christ” but the church today seems like a ragged Cinderella. It needs to reaffirm the nonnegotiable, essential elements that God designed for it to be committed to. [God’s forgetful Pilgrims (Grand Rapids: Eerdmans, 1978)]

Hoekom moet ek lief wees vir die kerk? 

1.    Want die Kerk word deur God self gebou.  En ons praat nie hier van ‘n gebou nie.  Ons praat van die liggaam van gelowiges.

1 Pet 2:5 en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.

Die kerk van die Here is ‘n geestelike huis.  Dit is die plek waar God se Gees woon.

1 Kor 3:16 Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?

Ons, die kerk is die tempel van God en Sy Gees woon in ons.  En die Bybel sê dat God is die argitek en die bouer van die tempel.

Ef 2:19 So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God,
20 gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is,
21 in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here,
22 in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees.

Matt 16:18 En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.

En die rede waarom God nog nie Sy kerk kom haal het nie, is omdat Hy nog nie klaar gebou het nie.  Die deur van verlossing is nog oop vir die mens.  Hy is vandag steeds besig om Sy kerk te bou.  En ons kan al die beste strategieë en probeer om die kerk te laat groei, maar ek wil jou verseker as God nie hierdie kerk bou nie, is ons besig om ons tyd te mors.  God is die bouer van Sy kerk.

Psa 127:1 ...As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die HERE die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.

Dit is God wat mense red.  Dit is God wat Sy kerk bou.  Dit is God wat die groei gee.  Dit is Hy wat mense byvoeg by die gemeente.  En dalk dink jy jy is maar net toevalig hier.  Maar kyk daarby verby en sien die groot hand van God in alles raak.

1 Kor 3:6 Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei.

Hand 2:47 terwyl hulle God geprys het en in guns was by die hele volk. En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is.

Kan jy dit sien? Kan jy sien hoekom jy die kerk van die Jesus Christus moet liefhê? Want dit is deur God self opgerig en gebou.

Hoekom moet ek lief wees vir die kerk? 

2.    Dit is die uitwerking van ‘n ewige plan

Tit 1:1  Paulus, ‘n dienskneg van God en ‘n apostel van Jesus Christus, volgens die geloof van die uitverkorenes van God en die kennis van die waarheid wat na die godsaligheid is,
2 in die hoop van die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, van ewigheid af beloof het.

Vers 1 praat van die geloof van die uitverkorens van God, en dit is natuurlik die kerk.  En Paulus sê ek is ‘n dienskneg (doulos) slaaf en ‘n apostel van Jesus Christus volgens die geloof van die kerk.  Let op vers 2! In die hoop op die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, van ewigheid af beloof het.

Reeds voor die grondlegging van die wêreld het God ‘n ewige plan gehad vir die gereddes, vir die gelowiges, en hulle sal die uitwerking wees van God se ewige plan.  Aan wie het God hierdie ewige plan belowe, aan wie het Hy redding en heiligheid en finale heerlikheid belowe?  Aan ons, aan Sy kerk.  Ons is die uitwerking, die vervulling van God se ewige plan.  Is dit nie genoeg rede om die kerk lief te hê nie?

2 Tim 1:9 wat ons gered en geroep het met ‘n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is.

Hierdie belofde, hierdie plan van God word aan ons geskenk in Christus Jesus.  So maw, as jy deel wil wees van God se ewige plan, as jy deel wil wees van God se beloftes wat Hy gemaak het nog voor die grondlegging van die wêreld, dan moet jy Christus Jesus aanneem, want hierdie plan word in Christus Jesus aan jou geskenk.  Jy word alleen deel van God se ewige plan as jy deel is van die kerk in Christus.

Die kerk is die uitwerking, die uitdrukking van God se ewige liefde.  Die verlostes, die gereddes, ons, die kerk is ‘n geskenk van die Vader aan Jesus.

Joh 6:37 Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.

Elke mens wat gered is, almal wat glo, wat vergewe en geregverdig is voor God deur genade, is 'n liefdesgeskenk van die Vader aan die Seun.  En Jesus sê, ek sal hulle nooit uitwerp nie. 

Joh 6:39 En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag.

Die kerk is die Vader se geskenk aan Jesus en Je/sus sê al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie.  Jesus verloor nie Sy eiendom nie, Jesus verloor nie die wat aan Hom behoort nie.  Dit is ‘n bewys dat as jy eenkeer aan Hom behoort, dat jy altyd aan Hom behoort.  Jy word deel van die groot ewige plan van God.  Jy word deel van die kerk wat die uitwerking van God se ewige plan is.

Jesus bewys Sy liefde aan Sy Vader deur Hom te onderwerp aan die wil van Sy Vader deur te sterf aan die kruis.  Die Vader bewys Sy liefde aan Jesus deur vir Hom ‘n kerk te bou.  En hier speel ‘n drama af in die ewigheid, die Vader wat Sy liefde aan Sy Seun bewys deur vir Hom ‘n kerk te bou en te gee en Jesus wat Sy liefde aan Sy Vader bewys deur Sy Vader se wil te doen.

Die ware doel van God se ewige plan is nie bloot om ons net in die hemel te kry nie, maar dit is ‘n uitdrukking van ‘n ewige liefde wat bestaan in die Drie-eenheid.  Ons is slegs die geskenk.  Die kerk is net die uitwerking en uitdrukking van daardie ewige liefde.

Hoekom moet ek lief wees vir die kerk?

3.    Die kerk is die kosbaarste realiteit op aarde

Die kerk is die kosbaarste ding op aarde, meer as goud of sliwer of enige aardse besitting.  Hoe kosbaar is die kerk nie?  Dit het die hoogste prys gekos wat nog ooit betaal is.

1 Kor 6:20 Want julle is duur gekoop...

Die kerk was gekoop met die kosbare bloed van die Lam, die bloed van Jesus Christus.

1 Pet 1:18 omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie,
19 maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos.

Die Kerk is so kosbaar dat Jesus bereid was om te ly en te sterf in gehoorsaamheid aan die Vader sodat hierdie ewige liefdes geskenk ‘n realiteit kan word.  Paulus herinner die Korinthiërs,

2 Kor 8:9 Want julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word.

Nou ons weet dit gaan nie oor aardse rykdom of materiële dinge nie.  Christus was ryk in heerlikheid, maar Hy het die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem, so het Hy arm geword en God se toorn was op Hom uitgegiet.  Daardeur word ons ryk gemaak.

Rom 8:17 en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.

Maw, deurdat Jesus Sy rykdom in die hemele tydelik opgegee het, het Hy dit moontlik gemaak dat die kerk nou kan deel in daardie rykdom.  En dit maak die kerk die mees kosbaarste ding op aarde.

Hoekom moet ek lief wees vir die kerk?

4.    Die kerk is ‘n aardse uitdrukking van die hemelse.

Die rede waarom ons die kerk moet lief hê is omdat die kerk soos hemel op aarde is.  Dit beteken nie die kerk is volmaak nie.  Of dat dit ‘n ontvlugting vir mense bied uit hierdie sondige wêreld nie.  Maar die kerk is die plek waar alles wat in die hemel gebeur ook in sekere wyse op die aarde gebeur.

Jesus het gesê, so moet julle bid

Matt 6:10 ...laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;

Waar gesied God se wil op aarde?  Beslis nie in die regering nie.  Beslis nie in skole of universiteite nie.  Waar word God se wil geskied soos in die hemel net so ook op die aarde?  Net op een plek, en dit is die kerk.

Daar is ‘n paar dinge wat in die hemel gebeur, wat ook op die aarde gebeur in die kerk?

Eerste van alles, is aanbidding.  In elke bybelse beskrywing waar ‘n godsman ‘n visie van die hemel gehad het, is daar een ding wat uitstaan bo alles, en dit is aanbidding.  Lof, aanbidding en toewyding word voortdurend aan God gebring.  Ons sien dit in Jes 6:1-3,

Jes 6:1 In die sterfjaar van koning Ussía het ek die Here sien sit op ‘n hoë en verhewe troon, terwyl sy some die tempel gevul het.
:2 Serafs het bo Hom gestaan; elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy aangesig bedek, en met twee het hy sy voete bedek, en met twee het hy gevlieg.
3 En die een het die ander toegeroep en gesê: Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol!

Ons sien dit ook Openbaring 4:8-11,

Almal in die hemel is voordurend besig om God te aanbid.  En daarom is aanbidding is die hoof aktiwiteit van die kerk.

‘n Tweede aktiwiteit van die hemel is die verheerliking van Christus.  Nadat Jesus Sy aardse werk afgehandel, is Hy verheerlik en het Hy gaan sit aan die regterhand van die Vader.

Fil 2:9 Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is,

In die hemel word Hy verheerlik en op die aarde is die kerk die plek waar Jesus Christus se naam verhoog word.

‘n Derde aktiwiteit wat in die hemel plaasvind  is die behoud van suiwerheid en heiligheid.  Die hemel is ‘n heilige plek.  Niemand sal in die hemel toegelaat word wat onheilig is nie.

Heb 12:14 Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie.

Soos die hemel die plek is van heiligheid en daar geen onreinheid en onheiligheid sal wees nie, so moet die kerk op aarde ‘n plek wees van heiligheid en ook daarom sy heiligheid bewaar.  Die kerk moet rein bly.  In Matt 18:15-20 kry ons die dissiplinêre proses in die kerk, sodat die kerk suiwer kan bly.  Let op vers 18,

Matt 18:18 Voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle op die aarde bind, sal in die hemel gebonde wees; en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.

Dit het niks te doen met duiwels bind en ontbind nie.  Dit het te doen met die persoon wat nie hom wil bekeer van sy sonde nie, hy word gebind en die persoon wat hom bekeer, hy word ontbind. 

Jesus stel voor dat wanneer die kerk op aarde die dissiplinêre proses volg, dan is hulle besig om in ‘n sekere sin die uitspraak van die hemel in die kerk op aarde te bemiddel.  Die hemel is in ooreenstemming met die besluit op aarde.

Nog ‘n aktiwiteit van die hemel wat in die kerk op aarde is, is die gemeenskap van gelowiges.  Ons gemeenskap op aarde is ‘n voorsmaak van perfekte gemeenskap wat ons sal geniet in die hemel.

Die kerk dan is ‘n aardse uitdrukking van die hemel.

Hoekom moet ons lief wees vir die kerk?

5.    Die kerk is ‘n pilaar en grondslag van die waarheid. 

1 Tim 3:15 Maar as ek vertoef, dan kan jy weet hoe iemand hom moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, ‘n pilaar en grondslag van die waarheid.

Meer as enige ander instelling op aarde, is die kerk die plek waar die waarheid verkondig moet word.  Die kerk is die plek waar alle valse idees en leuens vernietig moet word en die waarheid verdedig moet word.

2 Kor 10:3 Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie;
4 want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp,
5 terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,

En dit is in hierdie doel waarna die kerk streef wanneer dit sy grootste oorwinning besef.

Dit is hoekom ons die kerk moet liefhê.


No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288