Monday 25 July 2011

Die gevolge van die valse leraars


1 Tim 1:7 hulle wil leraars van die wet wees, alhoewel hulle wat hulle sê, of die dinge wat hulle beslis beweer, nie verstaan nie.
8 Maar ons weet dat die wet goed is as iemand dit wettiglik gebruik
9 en as hy weet dat die wet nie gegee is vir die regverdige nie, maar vir die wettelose en tugtelose mense, goddelose en sondaars, onheiliges en ongewydes, vadermoorders en moedermoorders, moordenaars,
10 hoereerders, sodomiete, mensediewe, leuenaars, meinediges en wat daar anders met die gesonde leer in stryd is,
11 volgens die evangelie van die heerlikheid van die salige God wat aan my toevertrou is.

Ons het nou alreeds gekyk na drie gedagtes wat Paulus vir Timotheus gee oor hoe hy te werk moet gaan wanneer dit kom by valse leraars. 

Eerstens het ons gesien dat die fout wat valse leraars maak is dat hulle kom met iets anders as wat die Bybel leer.  Hulle kom met ‘n nuwe openbaring, of ‘n nuwe idee, ‘n nuwe ding.  En die effek daarvan is dat hulle op einde die evangelie aanval en net twisvrae bevorder.

Tweedens het ons gesien dat hulle doel nie die gebod van liefde is nie.  Hulle is nie daar om vir mense om te gee en om hulle te lei in die waarheid nie, maar hulle is leraars vir hul eie gewin. 

Derdens is hulle motief, hulle wil leraars van die wet wees, terwyl hulle self nie die wet verstaan nie en hulle verstaan self nie wat hulle sê nie.  Dit gaan nie vir hulle om die wet te ken of om God te ken nie.  Hulle motief is, hulle wil leraars wees, hulle wil die applous van mense hê, hulle wil gesien word.

Die vierde gedagte waarna ons dan kyk vanoggend is die gevolge van die valse leraars.  En net om jou ‘n idee te gee wat die tema is van 1 Tim, 2 Tim en Tit, kry ons die woorde “didaskalia” en “eusebeia” in al drie hierdie briewe. 

“Didaskalia” beteken “lering” en kom 21 keer voor in die Nuwe Testament.  15 keer net in hierdie drie briewe.  En dit gee ons ‘n idee wat die tema van hierdie briewe is.  Dit gaan oor lering.  Die behoefte aan gesonde leringe.

Die ander woord “eusebeia” beteken “godsvrug” en kom 15 keer voor in die Nuwe Testament en 10 keer alleen in hierdie drie briewe.  8 keer net in 1 Tim.  En wanneer jy soos hierdie geval ‘n woord kry wat 8 keer herhaal word in een brief, dan sê dit vir jou hoe dit belangrik is.  Dit is waaroor dit gaan vir Paulus wanneer hy skryf aan Timotheus.  Gesonde leer en ‘n godsvrugte lewe in die kerk.

Dit is dan die gevolge van valse leraars, dat hulle nie ‘n gesonde leer verkondig nie, en die vrug wat hulle dra is sleg.

Dit is net so belangrik vir ons vandag dat ons sal vashou aan die gesonde leer van die Woord en dat ons heilig sal leef.  Tit 1:7-8 praat dan van die gedrag van die opsieners, maw die leraars en dan v9 gaan oor die gesonde leer.
Tit 1:9 een wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê.

En dit is die beskrywing van ‘n ware leraar.  Dit is twee belangrike dinge wat ‘n leraar moet hê.  Eerstens is die gesonde leer en tweedens is ‘n heilige lewenswandel.  Dit is ook die twee dinge wat die leierskap van enige kerk moet uitmaak.  Dit is ook op die plekke waar die Satan die kerk aanval.  Leerstellinge en lewenswandel.

In Matt 7 praat Jesus van die smal weg en die breë weg.  Die uitnoding wat Hy gee is dat ons deur die nou poort sal gaan, want dit is die nou poort en die smal weg wat na die lewe lei.  Jesus waarsku ons ook van die breë weg wat na die verderf lei, en hierdie weg waarvan hy praat is die godsdienstige weg.  Baie volg egter hierdie godsdienstige weg, maar dit lei nie na die lewe nie.

Dan sê Jesus net daarna in v15,

Matt 7:15 Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.

Maw vir elke ware profeet wat mense roep na die smal weg en die nou poort, is daar baie meer valse profete wat mense op ‘n verkeerde weg lei na die verderf.  En hier is ‘n belangrike waarheid wat jy moet hoor: die meerderheid is verkeerd.  Die meerderheid loop op die breë weg. 

En hul leraars kom nie in rooi klere met ‘n groot vurk nie.  Hulle kom nie na jou toe soos ‘n wolf nie.  Hulle kom na jou toe in skaapsklere.  Hulle kom as profete van God na jou toe.UHull


En soos ek alreeds genoem het, is dit nie ‘n nuwe ding nie.  Reg deur die geskiedenis was daar valse profete.

2 Joh 1:7 Want baie verleiers het in die wêreld ingekom: die wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie. Dit is die verleier en die Antichris.

Rom 16:17 En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle.
18 Want sulke mense dien nie onse Here Jesus nie, maar hulle eie buik; en hulle verlei deur hul vriendelike en mooi woorde die harte van die eenvoudiges.

2 Pet 2:1 Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring;
2 en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word;
3 en uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek. Oor hulle is die oordeel van lankal af nie werkeloos nie, en hulle verderf sluimer nie.

1 Joh 4:1 Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.

Jer 14:14 En die HERE het vir my gesê: Die profete profeteer vals in my Naam; Ek het hulle nie gestuur en hulle geen bevel gegee en met hulle nie gespreek nie; hulle profeteer vir julle ‘n leuengesig en nietige waarsêery en bedrieëry van hulle hart.

Ateïsme is nie die kerk se grootste vyand nie.  Valse godsdiens is.  Want valse godsdiens lei mense tot in die verderf.  En dit kom vanaf die grootste misleier, Satan homself, wat hom voordoen as ‘n engel van die lig.  2 Kor 11:14 sê dat sy dienaars doen hulle voor as dienaars van geregtigheid.

Jesus sê in Matt 7 dat ons hulle sal ken aan hulle vrugte.  Nie noodwendig aan dit wat hulle sê nie, maar aan hulle lewenswandel.  En dit is wat Jesus sê, dat ‘n slegte boom kan nie goeie vrugte dra nie.  So hulle steek baie keer hulle slegte vrugte weg en issoleer hulleself, sodat mense nie te naby aan hulle kan kom en hulle ware kleure kan sien nie.

OK, so kom ons kom terug by die vierde gedagte wat Paulus vir Timotheus gee rondom die valse leraars wat ons moet verstaan.  En dit is die gevolge van valse leraars.

1 Tim 1:7 hulle wil leraars van die wet wees, alhoewel hulle wat hulle sê, of die dinge wat hulle beslis beweer, nie verstaan nie.

Nie net verstaan hulle self nie wat hulle sê nie, maar hulle beweer dit beslis asof dit absolute waarheid is.  Hulle is onkundig en dan is hulle nog trots daarop ook.  Dit is mense wat voorgee of hulle weet waarvan hulle praat, maar hulleself is onkundig.  Hulle is dogmaties oor hulle onkunde.

So Paulus sê dan in v8,

1 Tim 1:8 Maar ons weet dat die wet goed is as iemand dit wettiglik gebruik

So wat Paulus nou hier doen is dit.  Hy praat teen die valse leraars wat sê hulle wil leraars van die wet wees, maar hy wil nie die verkeerde indruk skep dat hy nou teen die wet self is nie.  Hy sê ons weet dat die wet goed is as iemand dit wettiglik gebruik.  Maw die wet het sy plek.  Maar hierdie oues gebruik dit verkeerd.  Hulle gebruik dit as ‘n manier om daardeur gered te word.

Hulle sê dat jy deur die wet te onderhou, gered kan word.  En dit lyk altyd goed vir die persoon wat trots is, want hulle glo dat hulle goed genoeg is om God se guns te verdien, hulle is trotse mense.  Trots sê, ek het nie Verlosser nodig nie.  Trots sê, ek sal dit regkry.

Hierdie valse leraars verstaan self nie wat die wet beteken nie.  Hulle dink dat hulle deur die wet gered kan word.  Dit is altyd moets en moenies.  Jy moet dit en jy moet dat doen.  Hulle ken egter nie die genade van God nie.  Hulle verstaan nie genade nie. 

Paulus sê, die wet is goed as iemand dit wettiglik gebruik.  Hoe gebruik iemand dit wettiglik? Vers 9,

1 Tim 1:9 en as hy weet dat die wet nie gegee is vir die regverdige nie, maar vir die wettelose en tugtelose mense, goddelose en sondaars, onheiliges en ongewydes, vadermoorders en moedermoorders, moordenaars,
10 hoereerders, sodomiete, mensediewe, leuenaars, meinediges en wat daar anders met die gesonde leer in stryd is,

Die wet is nie gegee vir regverdige mense nie.  Dit is tog logies.  Die wet is gegee vir wettelose mense.  Die wet veroordeel sondaars.  Jy sien, die wet is goed, maar die wet alleen is nie goeie nuus nie.  Die wet alleen is slegte nuus.

Rom 3:19 Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees;
20 aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.

Maw die wet maak mense skuldig voor God.  Die wet veroordeel almal.  Die wet stuur mense hel toe, want hulle het God se wet verbreek.  Geen mens kan voldoen aan God se heilige standaard nie.

So die valse leraars, wil leraars van die wet wees, hulle doen hulle voor as mense wat die wet onderhou.  En solank as wat jy dink jy is geregverdig deur dit wat jy doen en deur die wette wat jy probeer onderhou, sal jy nooit gered word nie. 

Want die wet is vir die wettelose, nie vir die regverdige nie.  Dit is vir die tugtelose mense, die goddelose mense en sondaars, onheiliges, ens.  Die wet wys vir hulle wie hulle regtig is.  Hoekom preek sommige predikers dan die wet vir gelowiges en bring hulle weer onder die vloek of laat hulle weer skuldig voel? Sê die Bybel nie in,

Rom 8:1 Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.

So die wet is goed, maar dit is nie goeie nuus nie.  Die wet is goed, maar dit alleen is nie die evangelie nie.  Dit is gegee om vir sondaars te wys hoe hulle lyk.  En gewoonlik is dit hierdie dinge wat Paulus in 1 Tim 1:9,10 noem wat op die ou einde by die valse leraars voorkom.  ‘n Boom word aan sy vrugte geken.

Paulus sê in Rom 7 dat hy bly is dat die wet gekom het, want toe die wet gekom het, het ek my sonde raakgesien.

Rom 7:7 Wat sal ons dan sê? Is die wet sonde? Nee, stellig nie! Inteendeel, ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het nie; want ek sou ook die begeerlikheid nie geken het nie as die wet nie gesê het: Jy mag nie begeer nie.
8 Maar die sonde het aanleiding gevind deur die gebod en in my allerhande begeerlikheid gewerk; want sonder die wet is die sonde dood.
9 En sonder die wet het ek vroeër gelewe, maar toe die gebod kom, het die sonde weer opgelewe en ek het gesterwe.
10 En die gebod wat die lewe moes wees, dié het vir my geblyk die dood te wees.

Die wet is goed want die wet is die eerste deel van die evangelie.  Die wet sê vir jou dat jy is ‘n sondaar en jy moet dit weet, want die tweede deel van die evangelie is dat daar is ‘n Verlosser. 

So, Paulus sê dat die wet gekom het vir sondaars en hy lys al hierdie dinge hier, maar wanneer iemand dan sê, “ek is nie op daai lys nie, ek is OK” dan eindig hy in 1 Tim 1:10 met “en wat daar anders met die gesonde leer in stryd is”

Iemand wat in stryd is met die gesonde leer.  Gesonde is die Griekse woord “hugiaino”, waar die woord higiëne vandaan kom en dit beteken “wholesome, healthy, gesond”.  En die leerstellinge wat Paulus sê ons moet verkondig is leerstelinge wat ‘n gesonde geestelike lewe produseer.  So hy sê, die wet is daar om te veroordeel en die sondaar te verdoem.  En dan lys hy ‘n paar dinge en alles wat ongesond is.  

Slot

1 Tim 1:11 volgens die evangelie van die heerlikheid van die salige God wat aan my toevertrou is.

Wat bedoel hy daarby?  Die wet is deel van die evangelie aan sondaars.  Die evangelie is: die mens is ‘n sondaar, hy kan homself nie red nie, maar Jesus het gekom in die wêreld, God het mens geword, Hy het aan die kruis gesterf, het opgestaan op die derde dag en nou kan ons deur geloof in Hom en die genade van God vergewe word van ons sonde.  Dit is die evangelie. 

So om die wet reg te verstaan is, dat dit deel is van die evangelie.  Dit is hoekom hy sê dit is volgens die evangelie van die heerlikheid.  So die goeie nuus begin as slegte nuus.  Jy is ‘n sondaar.  Jy is verlore sonder Christus.  Daar is vir jou ‘n ewige verderf wat voorlê.

So wanneer iemand kom en hierdie boodskap van sonde wegsteek, gaan dit nie sondaars enigsins help nie.  Jy kan nie die wet wegsteek nie, dit is deel van die evangelie. 

So Paulus sê in hierdie gedeelte dat die wet is deel van die evangelie van heerlikheid.  Sommige predikers wil nie die “sondaar deel” van die evangelie preek nie.  Hulle dink dat hulle so die evangelie makliker gaan verkoop aan sondaars.  Nee!

Die evangelie is ‘n demonstrasie van God se heerlikheid.  Dit verkondig wie Hy is.  En Hy is heilig en haat sonde.  Hy is ‘n God van geregtigheid en oordeel en heiligheid.  En wanneer jy die evangelie stroop van die wet, is dit nie meer ‘n evangelie van heerlikheid nie.  Dan maak God se genade ook nie meer sin nie.  Die goeie nuus maak nie sin as daar nie slegte nuus is nie.

Die evangelie van heerlikheid begin met die wet wat die mens veroordeel, maar dit eindig met die heerlikheid van vergifnis van sonde en redding.
Kom ek voeg by: Die wet is nie vir die regverdige mens nie.

Paulus sê ook verder dat hierdie evangelie van heerlikheid is aan my toevertrou. In 1 Kor 4:1 sê hy dat ons beskou moet word as dienaars van Christus en bedienaars van die verborgenhede, dit is die evangelie van genade.  En verder word vereis dat ons getrou bevind moet word.

1 Kor 9:16 Want as ek die evangelie verkondig, is dit vir my geen roem nie; want die dwang is my opgelê, en wee my as ek die evangelie nie verkondig nie!

Hoekom sê hy dit?  Want hy was onder God se opdrag om die evangelie te verkondig.

Die gevolge van valse leraars is dat hulle ‘n boodskap preek wat nie volgens die gesonde leer is nie en nie volgens die evangelie van die heerlikheid is nie.  En ‘n halwe evangelie, ‘n ongesonde evangelie sal nooit mense red nie, maar verdoem.  En dit is die rede waarom Paulus vir Timotheus sê hy moet hierdie ouens stop en hulle nie toelaat om te leer nie.

Elkeen van ons het hierdie verantwoordelikheid in die kerk.  Waarvoor moet ons oplet?  Waarna moet ons kyk?  En hier is hierdie vier gedagtes weer wat Paulus vir Timotheus gee.  Wanneer ons na iemand luister en wil weet of hy ‘n valse leraar is, eerstens luister hoe daardie persoon die Skrif verklaar.  Is dit Bybels?  Is dit gesonde leer?  Is hy besig om iets anders wat buite die Bybelse waarhede is te preek?

Moenie kyk na persoonlikheid en vertoning nie.  Luister na dit wat hulle sê.  Toets dit wat hulle sê.  Toets alles teen die Skrif.  Is hulle besig om die Skrif vir jou oop te maak en te verklaar, of is hulle net besig met buite Bybelse stories.  Sê hulle dinge wat geen Bybelse verwysings het nie, alhoewel dit goed klink? 

Tweedens,  wat is hulle doel?  Is dit geestelik?  Is hulle doel om die liefde van God in mense se lewens te bevorder, of is hulle net agter self liefde aan?  Is hulle besig om hulleself te verhef?  Gaan dit oor geld, materialisme, persoonlike geluk?  Of gaan dit oor liefde vir God en liefde vir jou naaste?  Streef hulle na ‘n goeie en rein gewete en ongeveinste geloof?  Is daar opregtheid?

Derdens, wat is hulle motiewe?  Demonstreer hulle onselfsugtigheid?  Is hulle nederig en sagmoedig?  Of lyk dit dat hulle terwyl hulle besig is om “mense te help” dat hulle daardeur verryk word?  Doen hulle dit om hulle sakke te vul?

En vierdens, wat is die gevolge?  Verstaan hulle volgelinge die evangelie van Jesus Christus duidelik?  Verstaan hulle wat die doel van die wet is?  Verstaan hulle die evangelie van die heerlikheid?  Lewe hulle self ‘n godvrugtige lewe?  Waarvan getuig hulle lewens?

Dit is maklik om ‘n show in die kerk op te sit, maar gaan kyk na hulle lewens buite die kerkgebou, daar buite waar die tire die teer tref.  Die Bybel sê nie dit is ‘n opsie nie, die Bybel sê jy moet alle dinge beproef en die goeie behou.

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288