Wednesday 13 July 2011

Wat sê die Bybel oor valse leraars?

1 Tim 1:3 Soos ek jou versoek het toe ek na Macedónië op reis was, moet jy in Éfese wag om sekere persone te beveel dat hulle geen ander leer moet leer nie,
4 en hulle nie besig hou met fabels en eindelose geslagsregisters nie, wat net twisvrae bevorder meer as stigting van God wat in die geloof is.
5 Maar die doel van die gebod is liefde uit ‘n rein hart en ‘n goeie gewete en ‘n ongeveinsde geloof
6 waarvan sommige mense afgedwaal en hulle afgewend het na onsinnige praatjies;

Ons kyk vandag nie na ‘n onderwerp waarvan julle nie bewus is nie.  Ons almal is bewus daarvan dat daar valse leraars is. 

In Joh 8:44 lees ons dat die duiwel is nie net ‘n moordenaar nie, maar hy is ook ‘n leuenaar.  Die wyse waarop die duiwel nog altyd die evangelie en die waarheid probeer aanval het, was om valse leraars in die kerk te plaas en dit sien ons regdeur die geskiedenis van die kerk.  Valse profete en valse leraars was nog altyd deel van die stryd warin die kerk gewikkel is.

Dit is nie iets waarmee net ons moet deel nie, maar die waarheid is dit dat al God se mense deur al die eeue te doen gehad het met valse leraars.  As ons na die Ou Testament toe gaan dan kry ons waarskuwing op waarskuwing op waarskuwing teen valse leraars.  Soos bv in Jer 23 tot hoofstuk 27 waar daar baie verwysings is na die valse leraars is.

Waar God ookal die waarheid vasstel, streef Satan daarna om leuens en dwalinge te saai.  Julle sal onthou wat in Matt 7 staan waar Jesus vertel van die valse leraars, en valse profete wat kom in skaapsklere.

Wanneer Jesus die tekens van die tye gee in Matt 24, dan waarsku Hy van die baie valse christusse in die toekoms.  Johannes vertel vir ons in 1 Joh 2 dat daar altreeds baie antichriste in die wêreld is.  Die boek Openbaring skets vir ons ‘n duidelike prentjie van die voleinding van die kerkbedeling en God se finale prentjie van wat op die aarde gaan gebeur.

Hierdie prentjie is gevul met misleiding en leuens, valse leerstellings, wat uiteindelik sal uitloop tot op die Antichris.  1 Tim 4:1 herinner ons van die verleidende geeste in die kerk en leringe van duiwels.  Hulle spreek leuens.

Die apostel Paulus waarsku die gemeente van Galasië op verskeie geleenthede oor die valse leraars.  Die brief aan die gemeente van Kolosse, in die tweede hoofstuk, word die grootste gedeelte van die hoofstuk gebruik om die genoegsaamheid van Jesus Christus te verdedig wanneer dit kom by redding, teenoor die leuens wat sê dat geloof in Jesus Christus is nie genoeg nie.  Jy moet nog dit, jy moet nog dat...

So in ‘n algemene sin van die woord, moet elke gelowige wat getrou die Woord van God bestudeer bewus wees van die feit dat waarookal jy die waarheid verkondig of waarookal jy die waarheid sal vind, dat daar ook ‘n indringing gaan wees van dwalinge.  Ons moet vir mekaar sê, solank as wat ons die waarheid gaan verkondig gaan die duiwel soveel as moontlik probeer om leuens te saai.  Hy wil mense op ‘n dwaalspoor lei.

Dit is mense wat hulle oor afkeer van die waarheid en op die ou einde so verward is in hul eie begrip van wat die waarheid is.  En in die tyd waarin ons leef glo ek nie dat dit gaan afneem nie, maar ek glo dat juis in die laaste dae dat dit gaan toeneem. God skep egter daardeur vir ons ‘n geleentheid om ‘n groter stem te wees in ons dag.

Dit was so in Efese.  Efese was ‘n uitsonderlike kerk.  Hulle het God se seën leer ken meer as wat al kerke ooit in die geskiedenis geken het, die tydperk toe Paulus daar was vir drie jaar.  Hull het geweet wat dit was om vir Paulus vir die drie jaar as mentor te hê, vlg Hand 20.  En tog kry hy die ouderlinge bymekaar en sê vir hulle,

Hand 20:29 Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie.
30 Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan.
31 Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie.
32 En nou, broeders, dra ek julle op aan God en aan die woord van sy genade, wat magtig is om julle op te bou en julle ‘n erfdeel te gee onder al die geheiligdes.

Paulus het geweet dat die gemeente van Efese soos enige ander kerk is wat onder die aanval van valse profete en leraars gaan kom.  En dit is presies wat gebeur het.  Dit is die nalatenskap van enige kerk wat sterk staan in die waarheid om te stry met dit wat Paulus noem in 2 Kor 2:17, mense wat handel dryf met die woord.  Die KJV sê, “which corrupt the word of God”.  Ons is in stryd met sulke mense.

2 Kor 4:2 Maar ons het van die heimlike dinge wat skandelik is, afstand gedoen, en ons wandel nie in listigheid of vervals die woord van God nie; maar deur die waarheid aan die lig te bring, beveel ons ons by elke menslike gewete voor God aan.

KJV
2 Cor 4:2 But have renounced the hidden things of dishonesty, not walking in craftiness, nor handling the word of God deceitfully; but by manifestation of the truth commending ourselves to every man's conscience in the sight of God.

Dit is ons werk, dit is ons plig om die waarheid aan die lig te bring.

Die kerk en die Christelike leer word nie werklik bedreig deur leringe wat openlik en herkenbaar antiBybels, antiChristeliks of anitGod is nie.  Dit is wanneer valse leringe baie subtiel gepreek word, wanneer dit Bybels lyk.  Dit is die grootste gevaar wat die kerk in die gesig staar.

Die gemeente van Efese, alhoewel dit ‘n groot geskiedenis gehad het, alhoewel dit ‘n groot begin gehad het en waaruit ander suster kerke in klein-Asië gebore is, was hulleself nie immuun teen vlase leraars nie.  So Paulus skryf aan Timotheus om die valse leraars te stop en orde te bring in die kerk.  Hy gee hom die opdrag om die leringe suiwer te hou en om ‘n voorbeeld vir ander gemeentes te stel.

Paulus gee vir Timotheus vier belangrike dinge wat hy moet begryp wat noodsaaklik is om die valse leraars te stop.  En dit is wat ons ook moet bergyp. 

Eerstens, ons moet verstaan wat die fout is wat hulle maak en wat die effek is daarvan.  Tweedens, ons moet verstaan wat hulle doelwit is.  Derdens moet ons verstaan wat hulle motief is en laastens, moet ons verstaan wat die gevolg is, wat hulle voortbring uit hierdie wanorde. Ons kyk vanoggend net na die eerste een, dan sal ons volgende Sondag na die ander kyk.

Eerstens, wat is die fout wat hulle maak en die effek wat dit veroorsaak.  Valse lerraars se foute het ‘n baie ernstige en geweldige effek.  Kom ons kyk na ons teksgedeelte.

1 Tim 1:3 Soos ek jou versoek het toe ek na Macedónië op reis was, moet jy in Éfese wag om sekere persone te beveel dat hulle geen ander leer moet leer nie,
4 en hulle nie besig hou met fabels en eindelose geslagsregisters nie, wat net twisvrae bevorder meer as stigting van God wat in die geloof is.

Hier kry ons baie eenvoudig die fout van die valse leraars.  Eerstens sê Paulus  ek het julle versoek.  Timotheus is ‘n jong man, so ongeveer 35 jaar oud en hy was saam met Paulus ongeveer 20 jaar.  Hy was ‘n ware replika van Paulus.  In vers 2 noem Paulus hom, my ware kind in die geloof.  Maat Timotheus het so bietjie ontoereikend gevoel vir die taak.  Daarom sê Paulus vir hom, laat niemand jou jonkheid verag nie.

So Paulus verlaat Efese oppad na Macedonië, maar beveel Timothues om te bly in Efese.  Paulus het reeds met Himenéüs en Alexander, twee vooraanstaande valse leraars gedeel, maar nou moet Timotheus agterbly en verder die opruimings werk doen.  Hy moet ‘n einde bring aan hierdie valse leraars en hulle stop.

So Paulus gaan Macedonië toe, na Filippi toe en los Timotheus agter met ‘n baie moeilike taak.  Hy moet ontslae raak van die valse geestelike leiers in die kerk in Efese.  Paulus was nie lank weg nie, toe skryf hy hierdie brief aan hom, want hy het geweet dit gaan ‘n moeilike taak wees.  En hy wil Timotheus bemoedig.

Hy sê vir Timotheus dat hy sekere persone moet beveel om geen ander leer te leer nie.  Maw hy moet dit nie ligtelik hanteer nie.  En luister!  Jy hoef nie ligtelik valse leringe te hanteer nie.  Jy moet onmiddelik en met gesag daarmee deel.

Hy sê dat hy sekere persone moet beveel om geen ander leer te leer nie, wat veronderstel dat hierdie individue was slegs ‘n paar oues gewees, maar hulle het waarskynlik baie invloed gehad.  Hulle was waarskynlik die ouens soos wat Paulus in Hand 20 gesê het, wat uit hulle opgestaan het.

En vers 7 sê vir ons dat hulle leraars van die wet wil wees, maw dit was ouens wat in die kerk was, ouens wat in die kerk opgestaan het en leraars was.  En die konteks van die brief van Timotheus gaan oor die opsieners, die diakens of dan die ouderlinge.  En vers 20 praat hy van twee ouens.  Dat dit nie almal is nie, maar ‘n paar invloedyke persone is.

Om hierdie ouens te probeer uitskakel gee Paulus dan in hoofstuk 3 & 5 die vereistes om ‘n ouderling of diaken te wees.  Dit is mense wat ‘n prominente rol speel in die kerk.  Hulle wil leraars van die wet wees wat sê dat hulle waarskynlik die Ou Testament gebruik het as basis en daarmee gespeel het, dinge geleer wat nie strook met die Ou Testament nie en wat teenstrydig was met die Nuwe Testament.  Daarom het hulle die hele karakter en waarheid van Christenskap verander en verdraai .

Ons sien in Hand 2 dat 3000 mense het tot bekering gekom en dan sê vers 42,

Hand 2:42 En hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede.

Die valse leraars in Efese het egter nie gebly by dit wat die apostels geleer het nie.  Hulle het iets anders geleer.  Hulle het van die leer afgewyk, van die geloof wat eenmaal oorgelewer is.

Jud 1:3 Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.

In 2 Tim 2:2 word Timotheus ook herinner om ander te leer dit wat hy by Paulus gehoor het.  Dat hierdie boodskap aan getroue manne wat bekwaam is vertrou sal word om ander te leer.  Dit is nie ‘n ander boodskap nie.  Dit is nie ‘n nuwe boodskap nie.  Dit is dieselfde boodskap wat al vir 2000 jaar verkondig is deur mense wat getrou is aan die waarheid.

So die fout wat die valse leraars maak is dat hulle iets nuuts, iets anders leer as wat die Bybel vir ons leer? Vers 4,

1 Tim 1:4 en hulle nie besig hou met fabels en eindelose geslagsregisters nie, wat net twisvrae bevorder meer as stigting van God wat in die geloof is.

Hulle hou hulleself besig met fabels, die Griekse woord is “muthos”, mites.  Nou wat is ‘n mite?  ‘n Mite is ‘n denkbeeldige storie wat deur mense of ook deur verleidende geeste opgemaak is.  In hoofstuk 4 noem hy dit leringe van duiwels.  Hulle was baie soos die Atheners wat beskryf word in Hand 17:21,

Hand 17:21 Nou het al die Atheners en die uitlanders wat by hulle gewoon het, vir niks anders tyd gehad as om iets nuuts te sê en te hoor nie.

So dit is fout wat die valse leraars maak.  Hulle is besig met nuwe dinge, nuwe idees, nuwe filosofië, nuwe openbaringe.  En die gevaar kom in wanneer hierdie nuwe idees, hierdie dinge wat deur mense opgemaak is of selfs deur verleidende geeste ontwerp is, slinkse leuens is wat aan mense verkoop word as goddelike waarheid.

Paulus sê egter nie vir ons watse fabels en eindelose geslagsregisters die mense hulle hier mee besig hou nie.  Maar dit is genoeg vir ons om te weet dat dit waarmee hulle besig was, was in stryd met die waarheid, met die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.  Dit is ‘n nuwe ding.

Ons kan wel probeer om afleidings te maak as ons kyk na v7, dat hulle leraars van die wet wil wees, dat dit iets met die geslagsregisters te doen het en met die Ou Testamentiese wet.

Hoofstuk 4 vertel vir ons dat hierdie verleidende geeste en leringe van duiwels gevul is met skynheiligheid en leuens.  Deel daarvan het te doen met v3 waar mense verbied word om te trou.  Maw hulle is voorstanders van selibaatheid en hulle het ook vir mense gesê om hulle te onthou van kos.

So daar is ‘n sekere soort monnik kwaliteit, wat ons noem asketisme of self-ontrekking of ‘n klooster benadering.  Die idée dat ware geestelikheid gevind word deur middel van mites en geslagregisters en geheime interpretasies van die wet en deur jou te onthou van die huwelik en sekere kos nie te eet nie.  Hierdeur sal jy glo aan die goddelike standaard voldoen.

1 Tim 6:3 As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie,
4 dié is verwaand en verstaan niks nie, maar het ‘n sieklike sug na twisvrae en woordestryd waaruit ontstaan afguns, twis, lasteringe, bose agterdog,
5 nuttelose stryery van mense wat verdorwe in hulle verstand en van die waarheid beroof is en dink dat die godsaligheid winsgewend is. Onttrek jou aan sulke mense.

Wat doen hulle?  Hulle het ‘n sieklike sug na twisvrae.  Al wat hulle doen is om hulle tyd te spandeer op nuttelose stryery.  Hulle is egter van die waarheid beroof.  En hulle dink die godsaligheid is winsgewend.  Hulle is nie in dit vir godsaligheid nie, maar vir die geld.  En jy sal uitvind dat die bottom line van alle valse profete is altyd geld.

2 Tim 2:14 Herinner aan hierdie dinge en betuig voor die Here dat hulle geen woordestryd moet voer wat tot geen nut is nie, maar net tot ondergang van die hoorders.

So dit is ‘n woordestryd.  Hulle stry oor woorde.  Hulle het waarskynlik woorde uit hul konteks geneem en allegoriese betekenisse gegee.  Dit beteken hulle vergeestelik woorde.  Maar v15 sê,

2 Tim 2:15 Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.

Maw hulle het die woord verkeerdelik geïnerpreteer en verkeerdelik toegepas.  En dit gebeur vandag ook.  Daar is mense wat die woord van die waarheid nie reg sny nie.  En dit is wat ons reeds in die begin gesien het.  Valse leraars is mense wat handel dryf met die woord van God.  They corrupt the word of God.  Hulle laat die Bybel sê wat dit nie sê nie.

Hulle gebruik egter die Woord van God om handel te dryf, om geld te maak.  Hulle verdraai dit en verander dit tot hul eie voordeel.

Tit 1:10 Want daar is baie wat tugteloos is, wat onsin praat en verleiers is, veral die wat uit die besnydenis is;
11 hulle mond moet gestop word. Hulle keer hele huise onderstebo deur te leer wat nie betaam nie, ter wille van vuil wins.

Luister! Valse leraars stel nie belang in die waarheid nie.  Hulle stel nie belang om die waarheid te ondersoek en die Woord suiwer te verkondig nie.  Hulle is in dit vir hul eie gewin.

Dit is skrikwekkend om te sien wat mense met die Bybel doen vandag.  Dit bekommer my hoe mense met die Woord van God werk.

2 Tim 2:16 sê dat jy die onheilige en onsinnige praatjies moet vermy, v19 sê dit is mense wat van die waarheid afgedwaal het en dan sê v23 dit is dwase en onverstandinge strydvrae.  Hoofstuk 3:7 sê dat hulle atyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie. Vers 8 sê hulle is verdorwe in die verstand.  Hulle weerstaan die waarheid.  Hulle is onbetroubaar ten opsigte van die geloof.  Vers 13 sê hulle is goddelose mense en bedrieërs wat voortgaan van kwaad tot erger.

2 Tim 4:3 want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.

Ek dink dit is baie duidelik.  Dit is ‘n stryd om die waarheid van God.  En die wyse hoe om dit te hanteer is nie om daarmee te argumenteer nie, maar om dit te stop.  Ons kan nie sit en luister na valse leringe nie.  Ons moet dit eenvoudig net stop.  Paulus beveel Timotheus om hierdie ouens te stop en nie toe te laat om iets anders te leer nie.

En die rede waarom hierdie valse leraars so effektief is, is omdat jou gewone Christen nie die Woord ken nie. 

Wat is die effek van hierdie valse leringe?

1 Tim 1:4 en hulle nie besig hou met fabels en eindelose geslagsregisters nie, wat net twisvrae bevorder meer as stigting van God wat in die geloof is.

Nou instede dat hulle vra, wat is die waarheid, is hulle net besig om verwarring te veroorsaak en alles te bevraagteken.  Hulle bevorder twisvrae.  Meer as stigting van God wat in die geloof is.  Hulle bevorder nie die waarheid nie, hulle is nie opsoek na die waarheid nie.  Hulle wil net twisvrae bevorder.

Die effek daarvan is dat hulle die waarheid van die evangelie aanval.  Hulle aanvaar nie die evangelie van genade nie, maar wil leraars wees van die wet. 

Daar is ‘n baie eenvoudige manier om dit te kan onderskei.  Daar is net twee godsdienste in die wêreld.  Daar is dit wat God gedoen het en dan is daar dit wat die mens doen.  Dit wat die mens doen kan jou nie red nie.  Net dit wat God gedoen het kan jou red.  Dit wat Jesus Christus vir jou gedoen het.

Valse leraars probeer altyd vir jou sê wat jy moet doen om God se guns te verdien.  Dit is ‘n stelsel van wette.  En dit is ‘n aanval teen die ware evangelie wat leer dit is net uit genade wat ons gered kan word.  Ons kan niks doen om God se guns te verdien nie, dit is alleen uit genade.

Paulus sê in Galasiërs daar is net een evangelie en enigiets anders moet ‘n vervloeking wees.

1 Tim 1:5 Maar die doel van die gebod is liefde uit ‘n rein hart en ‘n goeie gewete en ‘n ongeveinsde geloof
6 waarvan sommige mense afgedwaal en hulle afgewend het na onsinnige praatjies;

Die doel van die gebod is liefde.  Die kenmerk van ware Christene is liefde.  Liefde soek nie sy eie belange nie.  Dit is mens wat nie vir hulleself leef nie.  Ek kan jou verseker dit is nie die doel van valse leraars nie.  Hulle is in dit vir hullelself, vir wat hulle daaruit kan kry, vir vuil wins, vir geld.

Slot

So ons het nou gesien wat die fout is van die valse leraars, dat hulle nie by die geopenbaarde waarheid bly nie, dat hulle nie by die gesonde leer van die Woord bly nie, en die effek is dat hulle net meer verwarring saai en twisvrae bevorder en nie opsoek is na die waarheid nie, maar in dit is vir hulleself.

Volgende week sal ons nou kyk na die ander gedagtes wat Paulus vir Timotheus gee, hoe om met die valse leraars te deel.

 

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288