Tuesday 27 September 2011

DIE HEERLIKHEID VAN DIE VLEESGEWORDE WOORD – JOH 1:14


Joh 1:14 En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.

Ons het so rukkie terug begin met Joh 1 en die eerste verse tot by v18 gaan oor Christus die Lewende Woord.  In ‘n sekere sin is die eerste 18 verse ‘n samevatting van wat Johannes in die res van die hele evangelie sê.

Hy skets vir ons Jesus Christus die Lewende Woord, die Lewende God wat vleesgeword het.  Dit is wie Christus is.  Hy is die vleesgeworde Woord.  Ons het eerstens gekyk na die Ewige Christus.  Toe het ons gekyk na die Vleesgeworde Christus.  Daarna die Aangekondigde Christus. 

En laas week het ons gekyk na die Onherkenbare Christus, dat Jesus na Sy eiendom gekom het en Sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.  Maar Hy is ook die alomteenwoordige, die alwetende, die almagtige Christus.  Alhoewel baie Hom verwerp is daar sommige wat Hom aanneem. 

God se plan was nie gefrustreerd nie.  Hy het geweet dat mense Hom gaan verwerp, maar ten spyte daarvan het, het Hy mense na Homself geroep.  So vandag kyk ons dan na die sesde dimensie van Christus en dit is die Heerlikheid van Christus

Vers 14 beskryf dan vir ons die grootste wonder wat God ooit in ewigheid gedoen het, en dit is dat God vlees geword het.  Hierdie is die heerlikheid van Christus. 

Die Seun van die Lewende God was in die begin by God, was God, en het na die mens gekom as lig en lewe, was deur Johannes die Doper aangekondig, wat die mens verwerp het, verag het, op gespoeg het en gekruisig het.

Maar ten spyte daarvan het God daardie mense wat Hom verwerp en gekruisig het, het Hy hulle gebruik om Sy Verlossingsplan te laat vervul om sodoende die wat Hom aangeneem het, te verlos.  Dit is hierdie Christus wat Johannes nou opsom in hierdie verse en vir ons wys wie Christus werklik is.

Joh 1:14 En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.

En ons gaan hierdie woord sien “vol” want hier kom ons by die volle heerlikheid van Christus.  Die Woord het vlees geword.  Om dit eenvoudig te stel.  God het mens geword.  Die diepste en grootste verklaring in die heelal word in hierdie eenvoudige woorde beskryf:  Die Woord het vlees geword.

Weet jy wat dit beteken?  Ewigheid het tydelik geword.  Die onsienlike het sienlik geword.  Die bonatuurlike het homself verminder om in die natuurlik vasgevang te word.  Wat ‘n ongelooflike gedagte.

Wie is die Woord?  Christus!  En onthou die Grieke kon verstaan en die Jode kon verstaan toe Johannes praat van die Woord.  Die Jode het geweet wat die Woord van die Here is.  En nou is die Woord van die Here beliggaam.

Heb 1:1 Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun

God het met hulle gepraat deur Sy Woord.  Nou het die Woord gekom.  Jesus Christus is die beliggaming van al die gedagtes en redes en alles wat God is in Een mens.  Christus is die Woord.  Hy is die Lewende Woord.  En hierdie Woord het vlees geword.

En vir ons brein is dit moeilik om te verstaan hoe God Homself kon minder maak tot ‘n mens.  Hoe kon God ‘n mens word en hoekom sou God ‘n mens wou word?  Hoekom sou die Skepper deel wou word van Sy skepping?

Daar is ‘n goeie rede, en dit is waaroor Christenskap alles gaan.  Luister mooi!  Ons leef in die natuurlike, korrek?  Niemand is bonatuurlik nie, ons is almal natuurlik. 

Kom ons teken gou ‘n boks.  Daardie boks is die natuurlike.  Jy leef daar, ek leef daar, ons almal leef daar.

Ons almal is dieselfde gebore, ons het op dieselfde wyse in die wêreld gekom.  Nie een van ons het van ‘n boom afgeval nie.  Ons is in ‘n natuurlike wêreld in gebore.  Ons is natuurlike wesens.  Ons doen dieselfde dinge.  Ons het dieselfde funksies.

Ten spyte van wat jy glo, kan jy nie in ‘n telefoon hoekie inklim, ander klere aantrek en uitkom as Superman nie.  Dit werk nie so nie.  Jy is ‘n natuurlike mens.  Jy kan nie jouself verander in ‘n bonatuurlike wese nie.  So ons is vasgevang in die natuurlike en ons natuurlike wêreld is vasgevang in tyd en ruimte.

Ons elkeen neem spasie op.  Sommige net meer spasie as ander.  Ons kan net op een plek wees op ‘n slag.  Ons kan nie op dieselfde tyd op twee plekke wees nie.  Ons leef in tyd.  Ons lewe nie more nie.  Ons lewe nou vandag.

Nou buite hierdie boks, is die bonatuurlike.  En dit is waar God is.  Ons dilemma is, ons kan nie hierdie boks waarin ons is ontsnap nie.  So wat gaan ek doen om God te vind?  Hoe gaan ek uit my boks uit ontsnap om by God uit te kom?  Hoe kan ek God vind?

Dan kom iemand en sê, “Lees net die Koran, gaan 5 keer ‘n dag op jou knieë, en bid in die rigting van Mekka.  So sal jy ‘n gat in die boks maak en uitkruip en God vind. 

Dan kom iemand anders en sê, Nee man, dit werk nie so nie.  Jy moet mediteer en yoga oefenige doen totdat jy die eindelose kringloop van Samsara ontvlug en ‘n gat steek in die boks en uitkom en een word met die Brama, een word met die onpersoonlik godheid.

En so kan ons aan gaan, maar daar is niks wat jy kan doen om uit hierdie boks te kom nie.  Daar is niks wat jy kan doen om uit die natuurlike wêreld uit te kom nie.  Jy kan nie op ‘n natuurlike wyse God vind nie.

Luister!  Die mens kon nie uitkom en God vind nie, so wat het gebeur?  God het in die natuurlike ingekom.  God het vlees geword.  God het na die mens toe gekom in die persoon Jesus Christus.  En weet jy wat dit beteken?  Dit is God die bonatuurlike wat die bonatuurlike na die mens se realiteit toe gebring het.  Die Woord het vlees geword.  Wat ‘n ongelooflike realiteit.

Het die Woord opgehou om die Woord te wees, toe dit vlees geword het?  Nee!  Wanneer ‘n vrou ‘n kind kry, het sy ‘n ma geword.  Dit beteken nie sy het opgehou om ‘n vrou te wees nie.  Christus het nie opgehou om God te wees toe Hy ‘n mens geword het nie.  Toe Hy vlees geword het, was Hy steeds God, maar Hy het die dimensie van menslikheid bygekry.

So wie was Christus?  Hy was 100% God en 100% mens.  Hoe werk dit? Ek weet nie en dis ok.  Die Bybel sê nie ons moet dit verstaan nie.  Die Bybel sê ons moet dit glo.  So eenvoudig as dit.  Al wat nodig is, is geloof.

God het mens geword en steeds was Hy ten volle God.

1 Tim 3:16 En, onteenseglik, die verborgenheid van die godsaligheid is groot: God is geopenbaar in die vlees, is geregverdig in die Gees, het verskyn aan engele, is verkondig onder die heidene, is geglo in die wêreld, is opgeneem in heerlikheid.

Let op wat sê Johannes verder.

Joh 1:14 En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon...

Vir 33 jaar het Jesus Christus onder ons gewoon.  Die Griekse woord is “esgenoson”, wat beteken “om tent op te slaan”.  In Engels sê jy, “He tabernacle among us”.  Maw die idee is, dat Hy regtig gekom het om saam met ons te lewe.  Hy het Homself verminder om deel van ons sisteem te wees, deel van ons kultuur, deel van ons wêreld, deel van wat ons is.  Hy was een van ons.

Hy het tent opgeslaan onder ons, wat nie iets nuuts vir God is nie, want Hy het in die Ou Testament tent opgeslaan by Israel.  Die tent was genoem, die tabernakel.  En dit is waar God gewoon het.  En weet jy wat nog?

Op 21:3 En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.

God het in die verlede onder ons gewoon en Hy gaan ook in die ewige toekoms onder ons tent opslaan en onder ons woon.  Maar vir 33 jaar het Hy in die liggaam van Jesus Christus onder ons gewoon.  Hy het in ons boks in gebreek.  Anders was ons verlore.  Anders sou ons nooit God geken het nie.  Ons sou net ons eie opinies gehad het.

Joh 1:14 En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou...

Hy was verberg.  Sy goddelikheid was verberg en Hy het onder ons gewoon.  Maar alhoewel Hy Homself verberg het, kon Hy nie Sy heerlikheid verberg nie.    Johannes sê, ons het Sy heerlikheid aanskou.

Het hulle Sy heerlikeheid fisies aanskou?  Beslis.  Hulle het Sy heerlikheid aanskou op die berg van verheerliking.  Hulle het saam met Hom op die berg gegaan en Jesus het net eenvoudig die mantel opgelig en die lig het deur gekom, onthou julle dit?

Matt 17:2 En Hy het voor hulle van gedaante verander, en sy aangesig het geblink soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig.

Johannes kon dit nooit vergeet nie.  Petrus ook nie.  Dit was so ‘n belewenis dat hulle daar wou bly en vir hulle drie hutte wou maak.  Hulle het Sy heerlikheid fisies aanskou.

Dit het ook in die Ou Testament gebeur.  Moses het die heerlikheid van die Here aanskou.  Sy gesig het gestraal van die heerlikheid.  God se heerlikheid was op ‘n fisiese wyse sigbaar en hulle het dit gesien met hulle fisiese oë.

Maar bo op dit het hulle ook Sy heerlikheid aanskou in Sy geestelike kwaliteite.  God se heerlikheid was ook geopenbaar in Sy genade, en goedheid, en liefde, en wysheid, en kennis, en verstand, ens.  Sy heerlikheid word geopenbaar in Sy karakter en wie Hy is.

So wanneer Johannes sê, ons het Sy heerlikheid aanskou, was dit nie net fisies nie, maar was dit in wie Hy was.  Hulle het Hom gevolg,na Hom geluister, saam met Hom gebid en Sy liefde ervaar. 

Watter heerlikheid was dit gewees?  Johannes sê dit was tweevoudig.

Joh 1:14 En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.

Eerstens was dit ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom.  En tweedens was dit vol van genade en waarheid.  Wat beteken dit?

Die eerste heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom, is die aanvanklike heerlikheid.  Die heerlikheid van wie Hy is.  Sy wese.  Dit is deel van Sy natuur.  Maw Hy is heerlikheid.  Dit is wie Hy is.

Maar meer as dit, is daar ‘n ander soort heerlikheid.  Die heerlikheid wat Hy aan ons geopenbaar.  Hy is vol van genade en waarheid.  En dit is die uitdrukking van die aanvanklike heerlikheid in die morele verhouding tot die mens.  Jesus druk dit op twee maniere uit, want Hy is vol van genade en waarheid.

Luister!  Genade en waarheid is die twee bestandele van saligheid.  Saligheid is gebou op genade en waarheid.  Uit genade is julle gered, nommer een.  Deur die geloof in die waarheid, nommer twee.  Jy kan nie gered word sonder genade nie.  En jy kan nie gered word sonder die waarheid nie.

Genade.  As God ons moes hanteer op ‘n meriete basis.  As Hy ons moes hanteer op die basis van dit wat ons verdien het, sou dit verby gewees het met ons almal.  As God net geoordeel het, was ons gonners, want ons het teen Hom gerebelleer.  Ons het teen Hom gesondig.  Ons het ons eie pad gevolg.  Ons was Hom ongehoorsaam.

Maar dank God vir Sy genade.  Hy is vol van genade.  Christus het gekom om God se genade aan ons as mens te openbaar.  Anders, hoekom Sy Hy gekom het?  Hy het gekom om Sy genade te openbaar.  Die wêreld het Hom teen Hom gerebelleer.  Die wêreld Hom gehaat.  Maar God sê, Ek het jou lief.  En Ek wil vir jou die geleentheid gee om My liefde te aanvaar deur Christus.

Het ons dit verdien dat Christus moes kom?  Was ons goed genoeg?  Was ons te waardevol vir Hom dat Hy besluit het om te kom om ons te red?  Nee!  Dit is alleen net genade.  Genade is genoeg om die vuilste, slegste, grootste sondaar te red.

Tweedens het Hy gekom vol van waarheid.  ‘n Uitdrukking van Sy heerlikheid.  In die Ou Testament was die waarheid net gedeeltelik geopenbaar.  Daar was baie tipes.  Tipes van Christus, skadubeelde van Christus.  Dit was gedeeltelike waarheid.  So, wie was die volle openbaring van waarheid?  Jesus Christus.

Wat gebeur met ‘n Jood vandag wat opgevoed is in die waarhede van die Ou Testament en alles geleer het, en dan Jesus Christus verwerp?  Hy’s verlore.  So halwe waarheid is geen waarheid nie.  Christus is die volle waarheid.  Om die Ou Testament te preek sonder Christus, is ‘n halwe waarheid. 

In die Ou Testament was dit slegs skadu’s en profesieë en tipes.  Maar Christus het dit alles vervul.  Hy is vol van waarheid.  Hy is die weg en die waarheid en die lewe.

Joh 8:32 En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.

Jesus is die waarheid.  En Hy het ook gesê, Ek gaan weg, maar ek stuur vir julle ‘n Trooster, die Gees van die waarheid.  Kom ek maak ‘n belangrike stelling:  As Jy Jesus Christus het, het jy nie nog meer openbaring nodig nie. 

Toe Jesus op die kruis gesterf het, het Hy gesê, “Te telosti”, wat beteken “dit is volbring”.  Hoekom?  Nie meer halwe waarheid nie.  Dit is alles volbring.  En as jy Jesus ken, ken jy die waarheid.  As jy enigiets minder as Jesus Christus ken, het jy net halwe waarheid.

Om net te sê, ek glo in God, is nie genoeg nie.  Het jy geweet die mense wat Jesus gekruisig het, het it gedoen vir God?  Het jy geweet dat Paulus Christene doodgemaak het vir God?  Mense doen baie dinge vir God.  Om net in God te glo, doen niks nie.  Die duiwels glo ook en sidder.

Jesus Christus is God in die vlees.  Sonder Hom is daar nie volle waarheid nie.  Jesus is vol van waarheid.  Hy is vol van genade en waarheid.  Dit is die heerlikheid van die vleesgeworde Woord.

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288