Thursday 15 September 2011

Reaksie op die vleesgeworde Woord


Teksgedeelte: Joh 1:6-9

Joh 1:6 Daar was ‘n man van God gestuur, wie se naam Johannes was.
7 Hy het tot ‘n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom sou glo.
8 Hy was nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig.
9 Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld.

Johannes se evangelie gaan oor Jesus Christus.  Jesus Christus is die Seun van God.  Jesus Christus is God in die vlees.  En dit is wat Johannes so uniek maak, anders as Matteus, Markus en Lukas, sy begeerte om Jesus voor te stel in al Sy goddelikheid.

Johannes gebruik eenvoudige terme om diep waarhede uit te druk.  Met eenvoudige terme wat ons kan verstaan beskryf hy waarhede wat ons verstand oorweldig.  Nou Johannes het ‘n drievoudige tema. 

Eerstens, om Christus voor te stel as die Seun van God, tweedens, die geskenk van verlossing wat Hy bring, en derdens, hoe die mens daarop reageer, sommige mense aanvaar dit, ander verwerp dit.

Nou Joh gee vir ons ses dimensies van Christus.  Amper soos ‘n diamante met ses kante.  Eerstens is Hy die ewige Christus, ons het dit laas week gesien in v1-3.  Tweedens het ons gesien dat Hy is die vleesgeworde Christus, v4-5.  Derdens is Hy die aangekondigde Christus.  Dit lees ons in v6-8 en vierdens sien ons dat Hy is die onherkenbare Christus, v9-11. Vyfdens is Hy die alomteenwoordige Christus, v12-13.  En sesdens is Hy die verheerlikde Christus.

3.    Die aangekondigde Christus

God het nie Christus gestuur sonder enige aankondiging nie. 

Joh 1:6 Daar was ‘n man van God gestuur, wie se naam Johannes was.
7 Hy het tot ‘n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom sou glo.

Hierdie Johannes is nou nie Johannes die apostel wat hierdie evangelie geskryf het nie.  Hy praat hier van Johannes die Doper.  Skielik verander die onderwerp.  Eers het dit gegaan oor God en nou skielik praat hy oor ‘n man.

Christus is God, Hy was by God, Hy het alles gemaak, Hy is die lewe en die lig.  En dan skielik word hier gepraat van Johannes die Doper, ‘n mens.  Vanaf die Woord, wie God is, beweeg hy nou na die een wat dit aagekondig het, dat die Woord God is.  Johannes die Doper.  Hy is die voorloper, die aankondiger.

Hy het die koms van die Messias aangekondig.  Hy word met Christus in kontras gestel.  Johannes was gestuur deur God.  Christus was God.  Johannes die Doper het gekom.  Christus was van alle ewigheid af gewees. 
Johannes was deur God aangestel.   Christus was God.  Johannes het gekom om na die lig toe te wys.  Christus was die lig.  Johannes was die agent van geloof.  Christus is die objek van geloof.

Hoekom is dit so belangrik?  Elke keer in die evangelie wanneer Johannes die Doper ter sprake kom, word hy in die regte perspektief geplaas, sodat hy nie verhoog of enige eer ontvang nie.

Jy sien, vir 400 jaar voor Johannes die Doper was daar nie weer ‘n profeet gewees nie.  Israel het nie ‘n profetiese stem gehad nie.  Dit was stil.  Geen boodskap van God af nie.  En skielik na 400 jaar, sedert die tyd van Esra en Nehemia, skielik op die horison verskyn hierdie fassinerende persoon.  ‘n Profeet van God.

Israel was aangetrokke tot hom, en die Bybel sê dat almal in Jerusalem en Judea het na die wildernis gegaan om hom te hoor.  Hy het gepreek en mense gedoop.  Na 400 jaar.  En jy weet wat doen mense.  Hulle begin om die prediker te aanbid, instede om na die boodskap te luister.

Daar het toe groep ontstaan wat Johannes die Doper gevolg het.  Ons lees van hulle in Hand 19, wat sê hulle was dissipels van Johannes.  Hierdie dissipels was egter nie gelowiges in Jesus Christus nie.  Hulle het agter Johannes aangeloop.  Hulle was ‘n Johannes die Doper groepie.

So wanneer Johannes, die Apostel skryf oor Johannes die Doper, plaas hy hom in die regte perspektief.  En dit is belangrik. Ja, hy was ‘n ongelooflike mens.  Hy was reeds van die skoot van sy moeder af vervul met die Heilige Gees.  Die Bybel sê hy was die grootste profeet gewees wat daar nog was.  Selfs groter as Moses of Dawid of Elia.

Matt 11:11 Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van die hemele is groter as hy.

Ja, hy was dalk die grootste mens wat nog geleef het, maar in vergelyking met Christus, was hy niks.

Joh 3:25 Daar het toe van die kant van die dissipels van Johannes ‘n redenasie met die Jode ontstaan oor die reiniging.

Jy sien.  Hier is daai groupie dissipels van Johannes wat argumenteer met die Jode.  Hulle stry oor die reiniging.  Die Jode kom dan na Johannes die Doper toe en sê vir hom,

Joh 3:26 ...Rabbi, Hy wat saam met u oorkant die Jordaan was, van wie u getuig het, kyk, Hy doop, en almal gaan na Hom toe.

Nou wat gebeur hier.  Hierdie Jode probeer Johannes die Doper en sy dissipels teen Jesus en Sy volgelinge teen mekaar afspeel.  Maar Johannes is skerp.  Hoor wat sê hy,

Joh 3:30 Hy moet meer word, maar ek minder.

Die grootste mens wat nog ooit geleef het in vergelyking met Jesus Christus is niks.  En Johannes die apostel, wil hê dat ons dit moet snap.  Jesus, die Seun van God is nie net ‘n mens nie.  Hy is God.

En dis so maklik vir mense om Christus te vervang met die prediker.  Om jou aandag te vestig op die aankondiger eerder as op die Een wat aangekondig word. 

Dit gaan nooit oor die prediker en hoe wonderlik hy is en hoe goed hy preek en mooi persoonlikheid hy het nie.  Dit gaan alles oor Jesus Christus.  Ons moet minder word, Hy moet meer word.

Joh 1:29 Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!

Wat ‘n ongelooflike stelling.  Die konsep van die Lam, die konsep van God, die konsep van sonde, die konsep om sonde weg te neem, die konsep om die sonde van die wêreld weg te neem.  ‘n Ongelooflik impak wat hierdie een stelling het.

Hy is die aankondiger van Christus.

Joh 1:7 Hy het tot ‘n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom sou glo.

‘n Getuie is iemand van die waarheid getuig.  Johannes het gekom om van die realiteit van Christus as die Seun van God te getuig.  Hy was egter een van agt verskillende getuies wat getuig dat Christus God is.  In Joh 5:37 lees ons van nog ‘n Getuie.

Joh 5:37 En die Vader wat My gestuur het, Hy het van My getuig. Julle het nog nooit sy stem gehoor of sy gedaante gesien nie.

God die Vader is Getuie.

Joh 8:18 Dit is Ek wat van Myself getuig; en die Vader wat My gestuur het, getuig van My.

Jesus self is Getuie.  Sy werke is geuie.

John 5:36 ...die werke self wat Ek doen, getuig van My dat die Vader My gestuur het.

Die Skrifte is getuie.  Maw die Ou Testament.

Joh 5:39 Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig.

Al die mense wat Hom ontmoet het getuig van Hom.  Die dissipels was getuies dat Hy Christus, die Seun van God is.

Joh 15:27 En julle getuig ook, omdat julle van die begin af met My is.

En daar is nog iemand.  Die Heilige Gees.

Joh 15:26 Maar as die Trooster gekom het wat Ek vir julle van die Vader sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy van My getuig.

So Johannes, die apostel, maak al die getuies bymekaar, God en die mens, wat getuig dat Christus die Seun van die Lewende God is.  Hiervan is Johannes die Doper die eerste getuie.  Hy het gekom om van die lig te getuig.

Joh 1:8 Hy was nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig.

Dit was direk gemik op die dissipels van Johannes wat hom orals gevolg het asof hy die lig is.  Hy het van die lig getuig sodat almal deur hom sou glo.  Sodat almal deur Johannes die Doper se getuienis in Christus sal glo. 

Johannes die Doper word ‘n deur of venster waardeur mense Christus kan sien en in Hom kan glo.

Hand 1:8 maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees ...

Vra jouself die vraag: Kan mense na jou kyk en deur jou lewe en getuienis in Christus glo?  Christus is die lig en ons is die weerkaatser.  Ons weerkaats Sy lig.  Ons is ligdraers van Christus.

Joh 5:35 Hy was die lamp wat brand en skyn, en julle was gewillig om julle vir ‘n tyd in sy lig te verbly.

In Joh 1 sê dit dat Jesus Christus is die lig.  Die Griekse woord is “phos”.  Maar in Joh 5 sê Jesus dat Johannes is die lamp.  Die engels kan nogals verwarrend wees, want dit sê,

Joh 5:35 He was a burning and a shining light: and ye were willing for a season to rejoice in his light.

Maar ek dag Johannes het gesê dat Jesus is die lig en hy het net kom getuig van die lig.  Die Afrikaans het gelukkig dit reg vertaal en gesê dat Johannes was die lamp.  Die Griekse woord is “luchnos”.  Maw die ligdraer, die lamp wat die lig dra.  Jesus is die lig.  Ons is die ligdraers.

Hoekom maak mense so groot ophef van die lamp???

Wanneer jy ‘n vuurhoutjie brand in ‘n donker plek, kan almal dit sien.  Jy hoef nie mense te vertel daarvan nie.  Jy hoef nie vir mense te sê, kyk daar is die lig nie. In ‘n donkerplek kan almal dit sien.  Maar wat bedoel Johannes as hy sê dat hy getuig van die lig?

Jy kan net mense van die lig vertel wat blind is.  En jy weet wat.  Almal in die wêreld is blind.

2 Kor 4:3 Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan,
4 naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.

Satan verblind mense se sinne, se verstand, se denke, sodat hulle nie God se lig kan sien nie.  En dit is waar die profete ingekom het, en waar ek en jy inkom en blinde mense aan die hand neem en na die lig toe neem.

So die lig van God het in die wêreld gekom en in die duisternis kom skyn, maar die ongelowiges kon dit nie sien nie.  En Johannes die Doper het gekom om mense aan die hand te vat en hulle na die lig toe te lei.  En dit is wat elke prediker se job is.  Dit is wat ek jy moet doen elke dag.

Elke mens wat dan nog ooit geleef het, was al aan God se lig blootgestel.  Het jy dit geweet?

Joh 1:9 Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld.

God het kennis oor Homself aan elke mens geopenbaar en steeds kan hulle dit nie sien nie.  Steeds weier hulle, omdat hulle blind is.  Hulle wil nie kyk nie.  En dit is ons werk as predikers, as Christene, as getuies om blinde mense wat rond tas in die donker om hulle na die lig te neem, sodat God hulle geestelike blindheid kan wegneem.

Hoe weerkaats jou lewe die lig van Christus?

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288