Thursday 27 October 2011

Die gevaar van valse leringe


2 Timotheus 2:14-15

2 Tim 2:14 Herinner aan hierdie dinge en betuig voor die Here dat hulle geen woordestryd moet voer wat tot geen nut is nie, maar net tot ondergang van die hoorders.
15 Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.

Die Skrif is duidelik dat God is waarheid, dat God spreek waarheid en dat God nie kan lieg nie.  Die Skrif is ook duidelik dat Satan is ‘n leuenaar en die vader van leuens en gaan rond en mislei mense.  God openbaar Homself as waarheid en Satan word geopenbaar as die antitese van God, naamlik leuens.

En dit is belangrik dat ons sal sien daar is ‘n geestelik oorlog in die heelal aan die gang, en dit is die oorlog tussen waarheid en leuens.  God se mense was nog altyd deur al die eeue oorweldig met valse leringe.  Valse leraars en profete, valse apostels en valse christusse wat die kerk van die Here binnedring en die kerk moes nog altyd deur die eeue daarmee te doen kry.

Satan probeer nog altyd om die waarheid te verdraai en sy leuens te  versprei.  Sy werk is om die wêreld te verwar sodat hulle nie die waarheid van God kan sien nie.  Dit was Satan se bose bedoeling en slingste wanvoorstelling van die waarheid aan Eva wat die hele wêreld in sonde gedompel het.

Van toe af het ons in die moeras van sonde geleef en verdrink in die moeras van misleiding.  Misleiding neem eenvoudig net toe en daar was nog nooit soveel misleiding soos daar vandag is nie.  Valse leringe oor God, oor Christus, oor die Bybel, oor geestelike dinge. 

Die vader van leuens werk hard om die reddende heiligmakende waarheid van God wat God vir ons gegee het in Sy Woord en in Sy Seun te vernietig.  Die gevolge van valse leringe is baie erger as wat ons dink.  Daarom noem die Bybel dit verderflike ketterye.

Soos wat ons dan nader beweeg aan die wederkoms van Christus gaan dit net erger word en dit gaan vermeerder.  En enige dienskeg van die Here moet bewus wees van valse leraars.  Enige dienskneg van die Here moet gewaarsku word oor die leuens wat versprei word.

Dit is waarom Paulus in Hand 20 vir 3 jaar, dag en nag met trane die gelowiges in Efese gewaarsku het dat daar onder hulle ouens sal wees en van buite af ouens sal wees wat leuens sal versprei.  Ons het ook in die verlede gesien dat Paulus vir Timotheus waarsku en vir hom vertel hoe om met hierdie valse leraars te werk te gaan.

Wat moet ons doen? Natuurlik moet ons die waarheid verdedig.  Ons is mos aan God se kant.  Ons is aan die waarheid se kant.  Ons moet mense red wat besig is om te verdrink in die see van misleiding.  Ons moet ‘n greep kry op die waarheid en dit oordra aan die volgende generasie, sodat ons kan help dat mense nie deur valse leraars en valse leringe gevang word nie.

Die stroom van misleiding word net groter en dieper en sterker.  Daar is net soveel vandag.  Dit is om ons in al die kultusse, die ismes die valse godsdienste, die leraars wat die waarheid verdraai vir vuil wins en die media speel ‘n rol in die verspreiding daarvan.

Daar is mense wat nie meer in die drie-eenheid glo nie, hulle glo nie meer dat Jesus Christus God is nie.  Daar is mense wat nie meer glo in die foutloosheid en outoriteit van die Bybel nie, mense wat nie meer glo dat salgheid uit genade deur geloof alleen genoeg is nie, wat ‘n valse evangelie van werke verkondig. 

Mense wat ‘n wanvoorstelling het van die karakter, die natuur en werk van God, mense wat ‘n wanvoorstelling het van Christus en dan ook die Heilige Gees.  Die ergste van alles is dat hierdie leuens verkoop word in die naam van God en as God se waarheid.

2 Tim 2:14-19 gee ons dan redes waarom ons valse leringe moet vermy.  Redes om leringe van duiwels te vermy.  Want dit is ‘n groot gevaar vir die kerk en vir enige mens.

2 Tim 2:14 Herinner aan hierdie dinge...

In die KJV word die woord “them” bygevoeg, “put them in remembrance” en dit verwys na die gemeente sowel as die getroue ouens wat ander leer.  Nou waaraan moet Timotheus hulle herinner?  Aan die vorige dinge wat hy net genoem het in v1-13. 

Herinner hulle aan die verantwoordelikheid om leraars te wees wat die waarheid oordra aan ander.  Herinner hulle om as goeie krygsmanne, dit is soldate, van Christus verdrukking te kan vat.  Herinner hulle dat hulle soos atlete is wat moet hardloop om te wen. 

Herinner hulle dat hulle soos landbouers is wat swaar werk en dan die vrugte daarvan geniet.  Herinner hulle dat Jesus Chrstus opgestaan het uit die dode.  Herinner hulle dat die Woord van God nie gebonde is nie.

So Timotheus moet hulle herinner.  Maar die dinge wat hy in die eerste 13 verse noem is positiewe dinge.  Eers vanaf v14 begin hy met die negatiewe dinge.

2 Tim 2:14 Herinner aan hierdie dinge en betuig voor die Here dat hulle geen woordestryd moet voer wat tot geen nut is nie, maar net tot ondergang van die hoorders.

KJV sê, “charging them before the Lord...”  Ander vertalings sê weer, “command them in the presence of God...”

Die positiewe sê wat hulle moet doen.  Die negatiewe sê wat hulle nie moet doen nie.  Dit wat hulle moet vermy.  En vanaf v14-19 gee Paulus ‘n klomp redes waarom hulle valse leringe moet vermy.

Die eerste gevaar wat ons moet raaksien oor valse leringe is, is dat dit tot die hoorders se ondergang lei.  Hulle wat na valse leringe luister word daardeur geruïneer.  En dit is ‘n baie ernstige waarskuwing.  Paulus sê, “betuig voor die Here”, “charging them before God”.  Om ernstig te betuig in die teenwoordigheid van God.

So Paulus sê vir Timotheus, roep hulle tot diens in die teenwoordigheid van God.  En dit is bedoel om vrees in hulle harte te wek.  Ons kry hierdie selfde soort opdrag in 1 Tim 5 ook.  Hy sê,

1 Tim 5:21 Ek besweer jou voor God en die Here Jesus Christus en die uitverkore engele dat jy hierdie dinge sonder vooroordeel in ag neem en niks uit partydigheid doen nie.

Dit is ook om ernstig te betuig.  To solemnly charge.   Dieselfde in,

1 Tim 6:13 Ek gebied jou voor die aangesig van God wat aan alle dinge die lewe gee, en van Christus Jesus wat voor Pontius Pilatus die goeie belydenis betuig het,

2 Tim 4:1 Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk:
2 verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering;

Hierdie is vir almal ernstige opdragte.  Nie net enige opdrag nie, maar ‘n opdrag in die teenwoordigheid van God.  Dit is bedoel om vrees in jou hart te sit.  Daar is tye waar die teenwoordigheid van God vir jou vertroosting bring, maar daar is ook tye waar die teenwoordigheid van God jou sin van verantwoordelikheid vergroot.

Wat is dan so ernstig?

2 Tim 2:14 ...dat hulle geen woordestryd moet voer wat tot geen nut is nie...

Die Griekse woord hier vir woordestryd is die woord “logomachia” wat letterlik beteken om oorlog te voer met woorde.  En in die konteks van hierdie gedeelte is dit tipies van valse leraars wat woorde gebruik om teen die Woord van God te argumenteer.

Paulus sê, vermy hierdie soort van woordestryd.  Dit is hierdie soort stryd wat die eenvoudige waarheid van die Skrif aanval en dit gekompliseerd maak.  Daar is nie neutrale gronde vir hierdie soort oorlog nie.  Jy staan op die Woord van God, en hulle staan op demonies geïnspireerde godsdiens.  Daar is geen common ground nie.

Jy kan nie die Bybel vat en met iemand daaroor stry, wat die outoriteit van die Bybel ondermyn nie.  As daardie persoon nie die gesag van die Woord aanvaar nie, help dit geensins om met hom daaroor te stry nie.  Jy kan nie die waarheid van God se Woord onderheuwig maak aan menslike rede nie.  Vermy ‘n woordestryd.

Die duiwel weet as jy net jou kop kan vul met ‘n klomp termes, ‘n klomp woorde, menslike redes en filosofie, dan is jy verward en sal jy nie die eenvoudige waarheid van God se Woord raaksien nie.  Dit gebeur in die Teologiese Kolleges en seminariums reg oor die wêreld.

En as jy dalk dink dit het nie ernstige gevolge nie dan vra jy jouself die vraag af hoe die kerk op die plek gekom het waar dit aborsies al goed praat.  Vra jouself die vraag af hoe die kerk op die plek gekom het waar dit die evolusie teorië aanvaar het.  Hulle noem dit teïstiese evolusie.

Vra jouself die vraag af hoe die kerk op die plek gekom het waar hulle vroue predikers toelaat.  Waar hulle homseksuelisme toelaat en ook egskeidings begin goed praat.  Vra jouself die vraag af hoe die kerk onheilige leiers in leierskap toelaat, en ten spyte van wat hulle aanvang nog steeds daar hou.

Vra jouself die vraag af hoe die kerk trots, selfrespek en die sielkunde van kontemporêre menslike denke in die kerk in gebring het.  En as jy dink daar is nie gemors in die kerk nie, kyk jy nie naby genoeg nie.

En valse godsdienste van ander godsdienste het ook die kerk binnegedring en nou sit ons met mistisme in die kerk soos ons kan sien in die Charismatiese kerke en ook sommige Pinkster kerke.  En al hierdie dinge is woorde van mense.

Ek hoor mense sê in die kerk, jy moet die duiwel bind, maar ek kry dit nie in die Bybel nie.  Ons het al gesien hoe mense val in die gees maar dit is nie in die Bybel nie.  Enigiets wat nie skriftuurlik verklaar kan word sonder om tekste buite konteks en verband te ruk nie, is ‘n aanval teen die Woord van God, en is ‘n ernstige oortreding. 

Hierdie dinge is in die kerk omdat die mense in die kerk luister na die wêreld en luister na valse leraars wat die gesag van die Woord ondermyn, en eerder na mense se redenasies luister.  Dit verwar die hoorders en dit lei tot hulle ondergang.

Paulus sê, hierdie woordestryd is van geen nut nie.  Dit het geen geestelike voordeel nie.  Dit gaan jou nie geestelik baat nie.  Onbybelse leringe en onbybelse ervarings gaan jou niks baat nie, maar wat dit nog erger maak is dat dit eerder demonies is.  1 Tim 4:1 sê dit is verleidende geeste en leringe van duiwels.

En wat doen dit?  Wat is die resultate?  Dit lei tot die hoorders se ondergang.  Die Griekse woord hier vir ondergang is “katastrephe”.  En dit beteken letterlik om “om ver te gooi”.  Valse leringe het net die teenoorgestelde resultate as stigting.  Dit bou nie op nie, maar breek af.  Dit versterk nie, maar verswak.  Dit verwoes jou lewe.

Hierdie woord “katastrephe” kom nog net op een ander plek voor in die Nuwe Testament.   Dit is in 2 Pet 2:6.

2 Pet 2:6 en deur die stede van Sodom en Gomorra tot as te verbrand, hulle tot ondergang veroordeel het en as ‘n voorbeeld gestel het vir die wat in die toekoms goddeloos sou wees;

So wat beteken dit/  Dit is totale verwoesting.  Soos wat Sodom en Gomorra verwoes is, in dieselfde sin word die woord gebruik “katastrephe” of te wys hoe dit die hoorder se lewe totaal verwoes. 2 Pet 2:1 noem dit verderflike ketterye, maw ketterye wat jou siel tot die ewige verderf lei.

2 Pet 3:16 ...Hy spreek daarin oor hierdie dinge, waarvan sommige swaar is om te verstaan, wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf.

Dit lei tot verderf van die mens se siel in ‘n ewige hel.  En die teenoorgestelde behoort te wees dat ‘n mens die onvervalste Woord van God hoor en daardeur gered word.

En my liewe vriende, ek hoop julle besef dat ons nie valse leringe kan verdra nie en dat ons daarvan moet weg bly juis as gevolg daarvan dat dit mense se siele veroordeel tot ‘n ewige verderf.

Maar daar is nog ‘n gevaar en dit is dat dit nie net die hoorders tot ondergand lei nie, maar dat dit ook die leraars beskaam.

2 Tim 2:15 Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.

Enigiemand wat enigiets anders leer as dit wat die Woord van die waarheid akkuraat reflekteer behoort skaam te wees.  Nie net skaam voor die honderde en duisende mense wat hulle mislei het nie, maar skaam voor God.  Hulle het die goddelike waarheid verdraai en vervals. 

Hulle het God se kosbare Woord wat die krag het om mense se siele te red, vernietig en kragteloos gemaak.  Hoeveel groter oordeel sal hulle nie ondergaan nie.

So wat is die eerste en belangrikste beginsel wat enige leraar moet volg.  Hy moet homself daarop toe lê om homself beproef voor God te stel.  Iemand wat die Woord bestudeer en dit so akkuraat as moontlik aan ander oor dra, sodat hy nie hom hoef eendag voor God te skaam nie.

Die woorde “lê jou daarop toe” is die Griekse woord “spoudazo”.  Dit word in die KJV vertaal met “study”, maar ‘n meer letterlike vertaling sou gesê het, “to give diligence, to give maximum effort”.  Hoe vermy ek dit om eendag skaam voor God te staan?  Deur maksimale effort in te sit.

Kom ons wees eerlik vanoggend.  Meeste Christene sit nie maksimale “effort” in wanneer dit kom by Bybelstudie nie.  Nog minder enige “effort”.  Hulle vreet eerder alles wat hulle pastore vir hulle preek, wat self nie eers die Bybel goed ken nie.  En dit is hoekom kerk vandag in so gehawende toestand is.

Mense ons is besig met God nie met kerk speel nie.  Ons kan nie met God se Woord werk en maak soos wat ons wil nie.

My ma het altyd in haar kombuis so bordjie teen die muur gehad wat sê: Die menu vandag: Take it or leave it.  En ek wil vir jou vandag sê: Take it (die Bybel) or leave it.  Maar moenie dit verdraai en vervals nie.  Moenie luister na valse leringe en dink jy gaan ongeskonde daarvan afkom nie.  Dit is gevaarlik en kan jou lewe verwoes.

Maar dank God vir die waarheid van Sy Woord.  Ek het een ding geleer oor al die jare en dit is dat die waarheid homself altyd sal verdedig.  Dat die waarheid altyd die swaarste weeg.  En as jy die waarheid leer ken, sal die waarheid jou vrymaak.

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288