Thursday 6 October 2011

Genade op genade


Genade op genade

Joh 1:15 Johannes getuig van Hom en roep en sê: Dit was Hy van wie ek gesê het: Hy wat ná my kom, het voor my geword, want Hy was eerder as ek.
16 En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade.
17 Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.
18 Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar.

Jesus is die uitrukking van God.  Sonder Hom is daar nie volle waarheid nie. 

Johannes sê ons het Sy heerlikheid aanskou.  Maar om sy saak nog sterker te maak, roep hy die getuienis van Johannes die Doper in.  Want dit is waarom hy hierdie brief skryf, om mense te oortuig wie Christus is.  In v14 sê hy dat hierdie Christus is God.  En ek is nie die enigste getuie nie.  Johannes die Doper getuig ook daarvan.

Dan sê hy in v16 dat nie net is dit hy en Johannes die Doper wat getuig nie, maar elke gelowige weet dat hy die volheid van Christus het.  So ons almal getuig van wie Christus is.  Johannes die Doper sê, dit is Hy van wie ek gespreek het.  Hy wat na my kom het voor my geword, want Hy was eerder as ek.

KJV
Joh 1:15 John bare witness of him, and cried, saying, This was he of whom I spake, He that cometh after me is preferred before me: for he was before me.

Johannes die Doper sê hiermee, dat Hy wat na my gekom het, maw Hy wat na my gebore is en Hy wat Sy bediening na my begin het, Hy is God, en was nog altyd daar gewees voor my van ewigheid af.  Hy was na my gebore, maar Hy was voor my gewees.

Joh 8:56 Abraham, julle vader, het hom verheug dat hy my dag sou sien; en hy het dit gesien en het hom verbly.
57 Toe sê die Jode vir Hom: U is nog nie vyftig jaar oud nie, en het U Abraham gesien?
58 Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek.
59 Hulle het toe klippe opgetel om Hom te stenig; maar Jesus het stilletjies uit die tempel gegaan en tussen hulle deurgeloop; en so het Hy vertrek.

Kyk hoe reageer hierdie ouens.  Hulle wil Hom doodmaak.  Maar Hy verdwyn stilletjies.  Hy was God.  Voor Johannes die Doper, voor Abraham, voor enige mens nog bestaan het, was Hy.  So Johannes die Doper se getuienis en Johannes die Apostel se getuies stem ooreen.

En in v16 gee die getuienis van alle gelowiges. 

Joh 1:16 En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade.

So wat beteken dit?  Dit sê, as jy ‘n gelowige is het jy die volheid van Christus.  Het ons die volheid?  Verseker!  Maar wat beteken dit?

Kol 2:9 Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik;

Alles wat God is, is in Christus.  En luister mooi!  Alles wat in Christus is, woon in ons.  Besef jy dat die volheid van die Godheid woon in jou?  God het nie gesê, gaan leef nou die Christen lewe en gaan soek en vind nog geestelike bronne wat daar is nie.  Nee!  Die dag toe Christus in jou lewe gekom het, het die volheid van die Godheid saam met al die geestelike dinge wat ons nodig het in jou lewe gekom.

2 Pet 1:3 Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug,

KJV
2 Pet1:3 According as his divine power hath given unto us all things that pertain unto life and godliness, through the knowledge of him that hath called us to glory and virtue:

Is dit nie ongelooflik nie?  Ons kom niks kort nie.  Al wat ons nodig het, is soos Jakobus dit sê, ons het die wysheid nodig om te weet wat ons reeds het.  Alles is daar, die volheid van Christus is myne.  Omdat Christus in my is, is daar ‘n onuitputlike bron.

Wat dan van al die probleme wat ons het?  Ek ken dalk nie jou problem nie, maar ek ken Christus.  En Hy net nie probleme nie.  Wat dan van alles waardeur ek moet gaan?  Ek weet dalk nie waardeur jy gaan nie, maar ek weet Hy ken die weg. 

Jy het al sy volheid ontvang.  Daar is geen rede waarom ‘n Christen onvergenoegd hoef te wees nie.  Christus met al Sy volheid leef in jou.

Dan gaan sê v16 verder,

Joh 1:16 En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade.

En julle weet wat genade is?  Die engels sê, “Grace for grace”.  Letterlik staan daar, “genade in die plek van genade”.  Maw wanneer genade gaan, dan kom genade in sy plek.  Soos die golwe van die see.  Wanneer een golf kom en gaan, kom die volgende golf in sy plek.  So die is golwe op golwe, genade op genade.  Paulus sê,

Ef 2:7 sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus.

Het jy ooit gaan sit en dink oor genade?  Sy genade kom soos die golwe van die see en stop nooit nie.  Jy word oorspoel met genade.  Jy het nie verlede week genade gehad en nie vandag nie.  Wanneer ons nie altyd God se genade erken of raaksien nie, beteken nie dat God se genade gestagneer het nie. 

Dit is nie dat God se genade nie meer daar is nie, dit is jy wat eerder in jou omstandighede vaskyk, en nie God se genade raaksien nie.  Daar is ‘n konstante aanhoudende vloei van genade.  Hoekom?  Want as genade vir een oomblik moet stop, is dit verby met ons.

As genade moet ophou, is al wat oorbly, die wet.  En ons almal het die wet gebreek.  En dit beteken net een ding.  Ewige oordeel.  Daarom sê Paulus duidelik in Rom 5:2 dat ons staan in genade, ons is gesetel, ons is gesement in genade.  As dit ooit moes ophou, hoef jy net een sonde te doen, en jy is verlore.  Dit vat net een sonde om ‘n sondaar te wees.

Daarom is dit genade op genade.  Genade in die plek van genade.  En ons ontvang dit uit Sy volheid.  Dit is die verskil tussen ‘n gelowige en ‘n ongelowige.  Leeg, doelloos, geen betekenis, nietig, vaag, geen hulpbronne en die gelowige, hy het die volheid van God tot Sy beskiking.

So die getuienis van al die gelowiges saam met die van Johannes die apostel en Johannes die Doper is dat Christus is God, ons het Sy volheid ontvang.

Dan kom Johannes en hy stel ‘n kontras in v17.

Joh 1:17 Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.

So hier is die kontras.  Die wet het gekom deur Moses.  Genade en waarheid kom deur Jesus Christus.  Moses het die wet gegee, hy het op die berg van Sinai gegaan en God het dit met Sy vinger op klippe geskryf.  Hy het twee kliptafels geneem as getuienis.  By die berg afgegeaan en die wet gebring.

Almal was onder die wet geplaas.  En almal moes die wet onderhou, of anders was dit quits.  Was daar enige genade in die wet?  Nee!

Rom 11:6 En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie.

So genade en werke gaan nie saam nie.  Genade en die wet staan teenoor mekaar.  Die wet het geen genade nie.  In werklikheid sê,

Heb 10:28 As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie;

Maw daar was geen genade in die wet nie.  Beteken dit egter dat daar geen genade in die Ou Testament was nie? Nee!  Daar was genade in die Ou Testament.  Daar was genade, maar jy kon dit nie in die wet vind nie.

Somtyds was God genadig teenoor mense wat die wet verbreek het.  Dawid is ‘n goeie voorbeeld.  God het aan Dawid genade bewys, maar hierdie genade was nie in die wet gewees nie.  Die genade het bo op die wet gekom.

So Moses het die wet gegee en gesê, doen dit en doen dit en as jy dit nie doen nie, sorry, jy is gone.  Maar Jesus het genade gebring wat sê, Ek weet jy het My wet gebreek, Ek weet jy het teen My gerebelleer, Ek weet jy is hardkoppig maar Ek het jou lief en as jy My aanneem as jou Verlosser, sal Ek jou sonde wegneem.  Ek sal lewe skoonmaak en Ek sal jou die ewige lewe gee in plek van die wet wat veroordeel.

So genade kom deur Jesus Christus.  En ja, daar was gedeeltelike genade in die Ou Testament, maar daar is volle genade in Jesus Christus.  En daar was gedeeltelike waarheid in die Ou Testament, maar daar is volle waarheid in Christus Jesus.

Al wat die wet doen is om vir jou te wys hoe sleg jy is.  Die wet kan jou nie red nie.  Dit wys net vir ons dat ons ‘n sondaar is.  Maar genade en waarheid wat vir ons verlossing bring het in Jesus Christus gekom.

Dan kom ons by v18 wat in die laaste vers is in die inleiding van Johannes se evangelie.

Joh 1:18 Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar.

Die woorde “in die boesem van die Vader” vertel vir ons van die intieme verhouding tussen Christus en Sy Vader.  Jesus wou by die Vader wees.  In Joh 17 kry ons die priesterlike gebed waar Jesus bid en sê,

Joh 17:5 En nou, Vader, verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was.

Jesus wou by die Vader wees waar Hy Sy heerlikheid gehad het.  Daardie intieme verhouding wat Hy met die Vader gehad het toe Hy in die boesem van Sy Vader was.  Hierdie woorde “in die boesem” vertel vir ons hoe naby die Vader en Sy Seun is.  Maar kyk na die tyd van v18,

Joh 1:18 ...die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is...

En dit spreek van die verborgenheid van die drie-eenheid.  Nie dat Jesus in die boesem was en nou nie meer daar is nie.  Hy was altyd daar. 

En in die boesem van Sy Vader het Christus God aan ons verklaar.  Luister!  Die enigste uitrdukking van God wat enige mens ooit sal ken is Jesus Christus.  Jesus Christus is die uitdrukking van God.

Kol 1:15 Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping;

Hy is God aan die mens geopenbaar.  Hy het God aan ons verklaar.   Ons sien in Christus die ver, onbereikbare, onkenbare, onsiggbare, die Almagtige, majestieuse God wat tot die mens uitreik en mens word.  Hy breek binne in ons boks.
En omdat God ‘n mens geword het, is Hy nie meer ‘n vreemdeling nie, is Hy?  As jy Jesus Christus ken, dan is God nie meer vir jou ‘n vreemdeling nie.  God is nie meer ver nie.  Jy kan Hom ken.  Jy kan God vind.  Hy het Homself geopenbaar.  Nou is Hy ons Vader. 

En so sien ons die heerlikheid van Christus wat geopenbaar is aan ons, verwerp is deur die meerderheid, aangeneem is deur sommige, waarvan Johannes die skrywer ‘n getuie is, waarvan Johannes die Doper ‘n getuie is, waarvan ek en jy ‘n getuie is, omdat Sy volheid in ons woon.

Dit is waaroor Christenskap alles gaan.  Christenskap is nie ‘n vorm godsdiens nie.  Dit is nie stelsel nie.  Dit is nie ‘n klomp wette en reëls nie.  Dit is ‘n persoonlike liefdevolle verhouding met Jesus Christus, die Seun van die Lewende God, wat God in ‘n menslike liggaam was, wat gesterf het en weer opgestaan het en vandag en tot in alle ewigheid lewe.
  

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288