Tuesday 15 November 2011

‘n Geesvervulde lewe



Ef 5:18  Moenie dronk word van wyn nie—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.

Ons het laas week begin om te kyk na Ef 5:18 waar Paulus ‘n opdrag gee en sê, “word met die Gees vervul”.  Nou om net weer op te som het ons gesê dat die lewe van God in die gelowige is die enigste ding wat ‘n godvrugtige lewe kan produseer.  Jy is dwaas as jy dink jy kan dit met jou vlees regkry.

Ons het gesê dat om vervul te word met die Heilige Gees is nie ‘n gebeurtenis waarin jy in een oomblik ge-zap word of een of ander ekstase of belewenis kry nie.  Vervul met die Heilige Gees beteken ook nie om nou in een of ander vreemde taal te praat nie.

Word vervul met die Heilige Gees is ‘n konstante aanhoudende proses.  Die passiewe vorm van die woord sê ook vir ons dit is ‘n soewereine werk van God.  Ons moet ons seile span sodat die Heilige Gees ons seile kan vul en ons vorentoe stuur.

Maw ek moet elke dag God se Gees toelaat dat Hy my kan lei en leer.  Dit beteken om die Heilige Gees toe te laat om elke aspek van my lewe te vul.  ‘n Mens sou kon sê, dit is nie ek wat meer van die Here kry nie, maar dit is Hy wat meer van my in die hande kry.

Ons het ook laas week gesê dat die doping met die Heilige Gees en die inwoning van die Heilige Gees vind plaas by wedergeboorte, en is nie dieselfde as die vervulling met die Heilige Gees nie.  Dit is ‘n opdrag waarin my lewe onder Sy beheer is.

Die Griekse woord is “plerousthe”, “be ye being fulfilled”, “wees om vervul te wees” en die volgende gedagte waarna ons vanoggend wil kyk is die idee van “om deur te werk”.  ‘n Goeie voorbeeld is sout.  Sout is ‘n preserveer middel.  As jy genoeg sout in iets deurwerk dan sal dit preserveer.

Sout geur ook jou kos.  Dit gee smaak.  Jy werk dit deur jou kos, sodat dit lekker gegeur is.  En dit is die gedagte ook met “plerousthe”.  Dat die Gees van God jou lewe geur en smaak gee, sodat jy soos die Heilige Gees kan proe.  En wanneer iemand langs jou kom staan dan kan hulle die geur van die lewe van God in jou lewe proe. 

Jou lewe reflekteer Jesus Christus.  Mense kan Christus in jou lewe sien en beleef.  Dit is wat dit beteken.  Om met die Heilige Gees vervul te wees beteken om met die Heilige Gees deurgewerk te wees.  Maw jou lewe word deur Hom totaal en al beheer.  Dit is die gedagte.

Kom ek gee nog illustrasies.  Wanneer die skrywer van die evangelie sy emosies wil uitdruk en dat hierdie emosies hom totaal en al beheer, dan het hy hierdie woord “pleroo” gebruik.  Kyk na Johannes.

Joh 16:6 Maar omdat Ek dit vir julle gesê het, het droefheid julle hart vervul.

Maw die emosie van droefheid het oorgeneem en hulle totaal en al beheer.

Luk 5:26 En verbasing het almal aangegryp, en hulle het God verheerlik en is met vrees vervul en het gesê: Ons het vandag ongelooflike dinge gesien.

Vrees het oorgeneem.  Vrees het gedomineer.

Luk 6:11 En hulle is met uitsinnigheid vervul en het met mekaar gepraat wat hulle aan Jesus sou doen.

Die engels sê, “they were filled with madness”.  In Hand 6:5 kry ons ook “pleroo”, “’n man vol van geloof”.  En hier is nog ‘n illustrasie om ons te help.

Neem die konsep van hartseer.  Aan die eenkant het ons hartseer en aan die ander kant het ons blydskap.  Ons so gaan deur die lewe en dan beleef of soms hartseer en ander tye is ons gelukkig en bly.  En so is daar in die lewe ‘n sekere balans.  As ons hartseer is, dan doen ons dinge om ons weer gelukkig te maak. 

Maar so af en toe is daai balans heeltemal weg.  ‘n Geliefde sterf en die hartseer is oorweldigend.  Niks wat niemand sê of doen maak dat dit weg gaan nie.  En dit is wanneer iemand vervul is met hartseer.  Hartseer domineer jou lewe op daardie stadium.

Dit is wat hierdie woord “pleroo” beteken.  “om gedomineer te word, om deurgewerk te word”.

Dit is hoe ‘n Christen se lewe is.  Aan die eenkant is self en aan die ander kant is die Heilige Gees.  Ons sê dinge uit onsself en dan sê ons dinge uit die Heilige Gees.  Ons doen dinge uit onsself en dan doen ons dinge deur die Heilige Gees.  ‘n Bietjie hier, ‘n bietjie daar.  Maar wanneer ons so naby aan die Here kom dat ons vervul word met die Heilige Gees en dat Hy ons totaal en al beheer. 

En dit is wat Paulus sê.  Hy gee die opdrag dat ons elke oomblik van elke dag vervul moet word met die Heilige Gees. “Be ye being fulfilled”. “Wees om vervul te wees”.  Word met die Heilige Gees deurgewerk, sodat die geur van Christus in jou gesien kan word.  Word deur die Heilige Gees beheer.

Matt 4:1 Toe is Jesus deur die Gees weggelei die woestyn in om versoek te word deur die duiwel.

Hier sien ons word Jesus deur die Gees weggelei.

Luk 4:1 En Jesus het vol van die Heilige Gees teruggekeer van die Jordaan af, en is deur die Gees in die woestyn gelei,

Wat was die kondisie waardeur die Gees Hom gelei het?  Hy was? Vol van die Heilige Gees.  Sien jy wat beteken dit om vervul te wees met die Heilige Gees?  Dit beteken om deur die Gees gelei te word.  Om deur die Gees beheer te word.

Mar 1:12 En dadelik het die Gees Hom uitgedryf in die woestyn.

Hier gebruik Markus die woord “uitgedryf”.  En dit is ‘n baie sterk woord.  Die Heilige Gees het Jesus in die woestyn in gedryf.  Maw Jesus was onder die beheer van die Heilige Gees.  Die Gees het Hom letterlik gedryf waar Hy wou hê Jesus moes wees.

Dit is wat dit beteken om met die Heilige Gees vervul te wees.  Om deur die Gees gedryf te word.  Om deur die Gees beweeg te word.  Om deur die Gees deurgewerk te word.  Om deur die Gees beheer te word.  En as jy nie so lewe nie, dat bedroef jy die Heilige Gees.  Jy blus Sy werke in jou lewe.

Het jy geweet, wanneer die Here ‘n werk het wat gedoen moet word, dan gebruik Hy altyd iemand wat vol van die Heilige Gees is.

Hand 6:5 En die woord het byval gevind by die hele menigte; en hulle het gekies: Stéfanus, ‘n man vol van geloof en van die Heilige Gees...

Wat was die vereistes om die werk te doen?  Hulle kies hom want hy was vol van geloof en vol van die Heilige Gees.  Maar wat het met Stefanus geword daarna?  In hoofstuk 7 lees ons dat hulle het hom gestenig en dood gemaak, maar hoor wat sê v55,

Hand 7:55 Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God.

Kom ek vertel jou, wanneer jy vervul is met die Gees, dan maak die aardse dinge en die wêreld nie saak meernie.  Jy kry ‘n hemelse perspektief.  Solank God verheerlik word.  Dit is al wat saakmaak.  Hoe kyk ‘n mens op en sien die heerlikheid van God, terwyl hulle jou wil stenig?  Hoe kry ‘n mens dit reg?  Wanneer jy Gees vervuld is.

Wanneer God iemand soek vir ‘n werk dat kies Hy ‘n Geesvervulde peroon, want as die persoon dalk op die ou einde gestenig sou word en hy nie Geesvervuld was nie, sou hy dit nie kon hanteer nie.

Later in Hand 9 het God ‘n man nodig gehad, ‘n man met die naam van Saulus.  En hy was ‘n harde ou.  Hy het die kerk vervolg, maar die Here het hom in die hande gekry.  En een van die basiese vereistes vir hom lees ons in vers 17,

Hand 9:17 En Ananías het gegaan en in die huis gekom en hom die hande opgelê en gesê: Saul, broeder, die Here het my gestuur, naamlik Jesus wat aan jou verskyn het op die pad waarmee jy gekom het, sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul word.

Voordat Saulus sy werk kon begin, wat moes gebeur?  Hy moet met die Heilige Gees vervul word.  Hoekom?  Want anders gaan jy dit in die vlees probeer doen.  Maw ek moet minder word, Hy moet meer word.  Ek moet beheer aan Hom oorgee.

Ons kry ook verder in hoofstuk 11 vers 22 waar die Here ‘n man met die naam van Barnabas wou gebruik.  Die Here wil hê hy moet vir Paulus gaan help.

Hand 11:22 En die berig hiervan het die gemeente wat in Jerusalem was, ter ore gekom en hulle het Bárnabas afgestuur om die land deur te gaan tot by Antiochíë.

Maar hoekom vir Barnabas?

Hand 11:24 want hy was ‘n goeie man en vol van die Heilige Gees en geloof...

Dit is wat God vereis.  Later in hoofstuk 13 lees ons in vers 9,

Hand 13:9 Maar Saulus, dit is Paulus, vervul met die Heilige Gees...

Dit is ‘n hele rukkie later en hy is nog vervul met die Heilige Gees.  En dan kry ons verse 52,

Hand 13:52 En die dissipels is vervul met blydskap en met die Heilige Gees.
Hand 14:1 En op dieselfde wyse het hulle in Ikónium in die sinagoge van die Jode ingegaan en so gespreek dat ‘n groot menigte Jode sowel as Grieke gelowig geword het.

Jy sien!  Wanneer God iemand wil gebruik om iets te doen, dan soek Hy iemand, wat? Vervul is met die Heilige Gees.  En dit is die standaard wat God stel vir Sy kinders.  Word vervul met die Heilige Gees!

So kom ons vra die volgende vraag: hoe word ek vervul met die Heilige Gees?  As dit die standaard is wat God vir elke gelowige het en as dit ‘n opdrag is vir ons, hoe word ek dan vervul? 

Nou ons weet sommige kerke gee ‘n uitnodiging en sê kom ons bid en vra die Here dat Hy jou sal vervul met die Heilige Gees.  Is dit reg?  Nee.  Dit is nie iets waarvoor jy bid of vra nie.  Luister mooi!  Dit is ‘n opdrag.

As God vir jou ‘n opdrag gee dan vra jy nie nog daarvoor nie.  Hy sê, word vervul met die Heilige Gees.  So wat moet ek doen?  Jy moet jouself verloën.  Jy moet minder word.  Jy moet jou wil oorgee, jou intellek, jou liggaam, jou tyd, jou talente, jy moet alles onder Sy beheer plaas.  Dit is die dood van die self, die self wat gekruisig word, sodat Hy daardie leemtes kan vul.

Wat gebeur as jy vervul word met die Heilige Gees?  Kom ons lees.

Ef 5:18 Moenie dronk word van wyn nie—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.
19 Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here,

V20 sê jy is dankbaar vir alles. V21 sê, julle is onderdanig aan mekaar.  V22 sê, Geesvervulde vrouens is aan hulle mans onderdanig. V25 sê, Geesvervulde mans het hulle vroue lief.  Hoofstuk 6 vers 1 sê, Geesvervulde kinders is aan hulle ouers gehoorsaam.  V4 sê, Geesvervulde vaders maak nie hulle kinders vertoorn nie.  V5 sê, Geesvervulde dienskengte is gehoorsaam.   V9 sê, Geesvervulde here behandel hulle diensknegte op die regte manier.

Is dit nie ongelooflik nie?  Let op!  Nie een keer sê dit dat ‘n Geesvervulde lewe produseer ‘n een of ander ekstatiese ervaring of lekker gevoel nie.  Niemand word ge-zap en gaan in een of ander trans nie.  Niemand val agteroor nie.  Nee! 

Dis eenvoudig.  Alle verhoudinge herstel, jou verhouding met God, want jy sing en aanbid Hom.  Jou verhouding met ander kom reg, want julle is onderdanig aan mekaar.  Jou verhouding met jou man of vrou kom reg.  Met jou kinders.  Om vervul te wees met die Heilige Gees is ‘n eenvoudige praktiese ding. 

Kol 3:16 Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here.

Dit klink net soos Ef 5 v 19, “psalms en lofsange en geestelike liedere.

Kol 3:17 En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

(slide van ef 5)

Dankbaarheid.  Dan kry ons dieselfde. V18 vroue wees aan die mans onderdanig. V19 manne moet vroue liefhê.  V20 kinders moet ouers gehoorsaam. V21 vaders moenie kinders terg dat hulle moedeloos word nie. V22 diensknegte moet hul here gehoorsaam. 4 vers 1 die here moet hul diensknegte regverdig behandel.  Presies dieselfde soos Efesiërs 5.

Nou ons weet hoe is dit moontlik.  Hoe word dit in jou geproduseer?  Word vervul met die Gees.  V16 sê dit wel anders.

Kol 3:16 Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid...

Om vervul te wees met die Heilige Gees is presies dieselfde as wanneer die woord van Christus ryklik in jou woon in alle wysheid.  Dit moet dieselfde ding wees want dit bring dieselfde resultate voort.  Die vervulling met die Heilige Gees is nie een of ander mistiese ervaring nie.

Die vervulling met die Heilige Gees is om die Woord wat Christus te vat en in jou te laat woon.  Dit gaan nie help om net in ‘n hoek te gaan sit en pleit by God om jou vul nie.  As jy met die Gees vervul wil word moet jy jouself voed met die Woord van Christus.

En soos jy met die Woord gevoed word en gevul word met die Woord en dit ryklik in jou begin woon sal jy agter kom dat jy onder Sy beheer kom.

Charles Spurgeon het gesê, "Your blood will become Biblean."  Dit is ‘n eenvoudige praktiese ding.  ‘n Geesvervulde lewe is wanneer God se Woord jou lewe domineer.  

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288