Sunday 6 November 2011

Word vervul met die Heilige Gees!



Teksgedeelte: Ef 5:18

Ef 5:18 Moenie dronk word van wyn nie—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.
19 Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here,

Word vervul met die Heilige Gees!  Dit is die sleutel tot die Christen lewe.  Jy kan nie nederig wees of in eenheid wandel of anders as die wêreld lewe of in die lig wandel of in liefde wandel, of in wysheid wandel, as jy nie vervul is met die Heilige Gees nie.

Die lewe van God in die gelowige is die enigste ding wat hierdie soort lewe kan produseer.  As dit nie so was nie kon ongelowige mense ook al hierdie dinge doen.  As jy nie Ef 5:18 gehoorsaam nie, is jy die grootste dwaas.

Ef 5:15 Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse.

Die grootste dwaas of onwyse persoon sou iemand wees wat probeer om al hierdie dinge wat ek genoem het en probeer om die wil van God te vervul in sy vlees.  ‘n Christen moet dit alles doen in die krag van die Heilige Gees.

Wat beteken dit dan om met die Heilige Gees vervul te wees?  Baie mense is verward hieroor.  Sommige mense dink dit beteken dat jy met een of ander goddelike krag ge-zap is.  Sommige mense dink dit is wat gebeur wanneer jy in vreemde tale praat. 

So daar is die wat gezap is en ander wat nie-gezap is nie.  Die wat hierdie ekstatiese ervaring beleef het en ander wat nie dit beleef het nie.  Op die ou einde van die dag maak dit nie saak wat mense sê en wat elkeen se opinie daaroor is nie.  Ons moet hoor wat God se Woord sê rondom hierdie belangrike waarheid.

V18 sê “Word vervul met die Heilige Gees!”.  Dit is belangrik dat ons sal sien, dit is ‘n opdrag.  Paulus sê, moenie dronk word van wyn nie, want daarin is losbandigheid.  Die Griekse woord is “asotia” wat letterlik beteken “profligacy”, Recklessly wasteful; wildly extravagant”.  Dit is waarheen dronkenskap lei.

In kontras daarmee is “om met die Gees vervul te word”.  En hoekom sou Paulus hierdie twee dinge teenoor mekaar stel.  Want daar was ‘n sekere metode in die heidense godsdienste waarin dronk word gebruik was om sodoende met gode en engele te kan kommunikeer.  So dit het nie primer gegaan oor net dronk word en dat dit ‘n kenmerk is van sondaars nie.  Dit gaan hier om die ‘n godsdienstige gebruik van die heidense godsdienste.

Heidene het dronk geword met die doel om op ‘n hoër geestekelike vlak te beweeg en met die gode te kan kommunikeer.  Maar Paulus stel ‘n groot kontras deur te sê, as jy met God gemeenskap wil hê, as jy met God wil kommunikeer, doen jy dit deur aanbidding, en die sing van psalms en lofsange en geestelike liedere.

Dit kom nie deur dronkenskap nie, maar dit kom deur ‘n Gees vervulde lewe en dit is heeltemaal anders as wat die heidene gedoen het.  Paulus stel dit duidelik dat ons vind ons vreugde en ons vind gemeenskap met God en die basis van ons aanbidding, die motivering van ons geestelike lewe deur om met die Heilige Gees vervul te wees.

Ons ware aanbidding en gemeenskap met God kom deur die krag van die Heilige Gees en nie deur ekstatiese ervarings en dronkenskap nie.  Dit lei egter tot losbandigheid.

Luk 1:15 want hy sal groot wees voor die Here. En wyn en sterk drank sal hy nooit drink nie, en hy sal vervul word met die Heilige Gees reeds van die skoot van sy moeder af.

Wat is die kontras wat hier gestel word.  Johannes die Doper sal groot wees voor die Here.  Hier is een van die dinge waaraan hy gekenmerk sal word, “wyn en sterk drank sal hy nooit drink nie.”  Maar hy sal vervul word met die Heilige Gees.  Interresant.

Kyk na Hand 2, weer dieselfde kontas, op Pinksterdag.

Hand 2:4 En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.

Dan lees ons verder hoe die Joodse manne wat van verskillende nasies bymekaar gekom het om hierdie Joodse fees te vier, saamgedrom het toe hulle die geluid gehoor het, en hulle het gehoor hoe die dissipels in hulle eie taal waarin hulle gebore is, gespreek het.  Dit was verstaanbare tale.

Hulle het gehoor hoe hulle in hul eie taal waarin hulle gebore is, gespreek het oor die groot dade van God.  Maar daar was ander wat nie verstaan het nie en hulle het gesê, in v12

Hand 2:13 Maar ander het gespot (dit was die ouens wat nie een van hierdie 15 tale wat genoem word in Hand 2 gepraat het nie – hulle het gespot) en gesê: Hulle is vol soetwyn.

Wat sê hulle? Hierdie is net nog een of ander heidense godsdienstige aktiwiteit.  Hulle het gesien wat gebeur het en vir ‘n Jood was dit ‘n onsmaaklike ding gewees.  Die heidene wil deur hulle dronk word aanbidding beoefen, en nou sê hulle dat hierdie klomp Jode het laag neergedaal en ‘n soort van heidense aanbiddings gebruik wat bespotlik is aangeneem.

Maar wat sê Petrus? V15

Hand 2:15 Hierdie mense is tog nie dronk soos julle dink nie...

Hierdie oues is nie dronk nie.  Hulle is met die Gees vervul.  So hierdie kontras tussen die dronkenskap van heidense godsdienste en vervulling met die Gees kry ons ‘n paar keer.

Paulus sê, “word vervul met die Heilige Gees!”  Dit is ‘n opdrag.  Dit is ‘n imperatief.  Elke gelowige moet vervul word met die Heilige Gees.  Dit is nie ‘n opsie nie.  Dit is nie ‘n voorstelling nie.  God stel nie dinge voor nie.  God gee opdragte. 

En dit is jammer dat soveel Christene vandag nie weet wat dit beteken om met die Heilige Gees vervul te wees nie.  Verkeerde idees en valse konsepte veroorsaak dat daar twee groepe ontstaan, die wat vervul is en die wat nie vervul is nie.  Die wat dit het en die wat dit nie het nie. 

Die Here sê nie, as jy meer toegewyd wil wees of nie.  Dit is nie optioneel nie, maar dit is ‘n opdrag.  Jy kan nie ‘n Christen wees en dan besluit of jy wil of nie wil vervul word met die Heilige Gees nie.  Dit is ‘n opdrag aan elke gelowige.  Enigiets minder as dit is ongehoorsaamheid.

Kom ons kyk dan spesifiek na wat dit beteken om vervul te word met die Heilige Gees.  Hier is eers ‘n paar basiese waarhede:

Eerstens, elke gelowige besit die Heilige Gees in al Sy volheid.  Elke gelowige het die Heilige Gees.  Jy kan nie ‘n Christen wees en nie die Heilige Gees hê nie.  Die oomblik toe jy gered is, het jy die Heilige Gees ontvang.  Jy sien, dit is die Heilige Gees wat in jou kom en jou geestelik lewend maak.  Jy kan nie wedergeboorte ontvang sonder die Heilige Gees nie.

Die Heilige Gees kom woon binne in jou die oomblik wat jy ‘n kind van God word.  Maw daar bestaan nie so iets soos ‘n Christen sonder die Gees van God nie.

Rom 8:9 julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie.

Meeste van die tyd wanneer die woord “vlees” in die Bybel kry, dan verwys dit na ongeredde mense.  En in Rom 8 kry ons ‘n goeie inllustrasie.

Rom 8:7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.
8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;

So hier verwys die vlees na die ongeredde.  Daar kan Christene wees wat in die vlees wandel, maar die vlees is meeste van die tyd kenmerkend van ongelowige mense.  Hulle is in vyandskap met God.  Hulle kan nie aan die wet van God onderwerp nie.  Hulle kan nie God behaag nie.

Dan sê vers 9, “julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees.”  As jy ‘n Christen is, is jy in die Gees, nie in die vlees nie.  Naamlik as die Gees van God in julle woon.  Maw as jy ‘n Christen is, is jy in die Gees, want die Gees van God woon in jou.  En dan die einde van die vers, “Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie.”

Sien jy dit?  As jy nie die Gees het nie, is jy nie gered nie.  Jy behoort nie aan Christus nie.  Maar as jy die Gees van God het, behoort jy aan Hom.  So elke kind van God het die Heilige Gees wat in hom woon.  Jy besit nie dele of gedeeltes van Hom nie.  Hy woon in Sy volheid in elke gelowige.

1 Kor 12:13 Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.

Elke gelowige is deur die Gees gedoop tot die liggaam van Christus.  En kan ek dit baie duidelik stel dat die doping met die Heilige Gees is nie ‘n ervaring nie.  Dit is nie iets wat jy voel nie, of iets wat fisies met jou gebeur nie.

Die doping met die Heilige Gees is die gebeurtenis waar jy in die liggaam van Christus in geplaas word.  Dit is gebeurtenis waar Jesus Christus, die Doper, deur middel van die Gees jou in die liggaam plaas.  En die oomblik wat jy gered word, word jy in die liggaam van Christus geplaas.  Dan sê die vers aan die einde, “ons is almal van een Gees deurdronge”

Hoe kan jy as gelowige deurdronge wees van die Heilige Gees as jy Hom nog nie ontvang het nie.  Elke gelowige besit die Heilige Gees.

1 Kor 6:19 Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?

En Paulus skryf hierdie aan ‘n klomp Christene wat in sonde leef.  Hy sê nie vir hulle, luister, as julle net nog die Heilige Gees kan kry, dan sal julle ophou met wat julle doen nie.  Nee, hy sê hier, julle beter ophou met wat julle doen, want besef julle nie dat die Heilige Gees in julle woon nie? 

Joh 7:37 En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink!
38 Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.

Volgens hierdie gedeelte, wie ontvang die strome van lewende water?  “Hy wat in My glo”.  Enigiemand wat kom, wat dors het.  Hy wat kom en drink, hy wat glo in Jesus Christus. 

Nou wat is die strome van lewende water?

Joh 7:39 En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.

Sien jy dit?  Wie ontvang die Gees?  Die wat in Hom glo.  Dit is wanneer iemand glo to redding, wanneer hy/sy die Heilige Gees ontvang.  Hy word hierdie strome van lewende water wat uit jou binneste vloei.  Hy kom maak Sy permanente woning binne in jou.  Jy kan dit nooit verloor nie.

Ons is nie soos in die Ou Testament waar gebid is, “Moenie U Gees van my af wegneem nie”.  Ons is in die Nuwe Testament.  Die Heilige Gees kom woon in ons en is by ons tot in alle ewigheid. 

En luister, dit is hoekom daar van al die opdragte in die Nuwe Testament, nie een opdrag is aan die gelowige om nou gedoop te word met die Heilige Gees nie.  Hoekom nie?  Want elke gelowige is klaar gedoop met die Heilige Gees.
Tweendens, nêrens in die Nuwe Testament word ons beveel om die Heilige Gees se inwoning te ontvang nie.  Dit is ‘n belofte wat reeds gewaarborg is.  Jy word nêrens beveel om nou verseël te word met die Gees nie.  Dit is ‘n gawe van God waarmee ons klaar verseël is. 

Elke gelowige is klaar gedoop met die Heilige Gees.  Elk gelowige het die inwoning van die Gees.  Die opdrag wat ons wel het is: word vervul met die Gees.  En dit is iets anders.  Dit is nie die inwoning of die doping of die verseëling nie.

So wat beteken om vervul te word met die Heilige Gees?  Wel, in die eerste plek is dit die teenoorgestelde as wat die heidense godsdienste gedoen het.  Dit is die teenoorgestelde van die ekstase en dronkenskap. 

“Word vervul” is die Griekse woord “plerousthe” wat letterlik beteken “be ye being filled”, “wees om vervul te wees”. 

Die idee is dat dit ‘n konstante ding is.  Dit is nie ‘n eenmalige gebeurtenis nie.  Dit is ‘n konstante ding.  Elke dag elke oomblik, moet ek vervul wees.  Dit is nie ek word nou gezap en dan oor ‘n paar weke weer gezap en dan weer oor ‘n jaar gezap nie.  Ons moet konstant voortdurend vervul wees.

Die woord is ook in die passiewe vorm en dit beteken dit is nie jy wat jouself vul nie.  Dit is ‘n soewereine daad van God.  Maw jy moet konstant toelaat dat God jou vervul met die Gees. 

Die gedagte is dit, dat soos ‘n seilboot sy seile span dat die wind sy seile kan vul en hom vorentoe beweeg, so moet ons ons lewens seile span dat die Heilige Gees ons kan beheer en stuur waar Hy wil hê ons moet wees.

Die Heilige Gees is jou krag en energie.  Jy beweeg nie in jou eie krag nie.  Jy beweeg nie in jou eie vlees nie.  Jy beweeg nie volgens jou eie idees nie.  Jy beweeg nie volgens wat jy wil nie.  Jy word gestuur deur die wind van die Heilige Gees.  Hy vat jou waar Hy wil hê jy moet gaan.

So “om vervul te word met die Heilige Gees” beteken om deur die Heilige Gees gestuur te word van dag tot dag, van oomblik tot oomblik.  Hy bepaal jou gedagtes, jou woorde, jou dade.  Hy gee jou die energie en krag om vorentoe te gaan. 

Slot

Sluit af met illustrasie van handskoen.






No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288