Thursday 16 February 2012

Eienskappe van ‘n ware kerk


Matt 16:16 ‘n Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God.
17 Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is.
18 En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.
19 En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.
20 Daarop het Hy sy dissipels bevel gegee dat hulle vir niemand moes sê dat Hy Jesus die Christus is nie.
21 Van toe af het Jesus begin om sy dissipels te toon dat Hy na Jerusalem moes gaan en veel van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes moes ly, en gedood en op die derde dag opgewek word.
22 Toe neem Petrus Hom opsy en begin Hom bestraf en sê: Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie!
23 Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense.

Ons het laas week gekyk na, hoe lyk ‘n ware kerk.  En die eerste ding wat ons gesê het was, dat ‘n ware kerk word gekenmerk aan sy belydenis.  Wat glo die kerk?  Wat is hulle geloofsbelydenis?  Baie ongelukkig gee nie regtig om wat die kerk glo of bely nie, solank die musiek lekker is, die mense vriendelik is en daar genoeg programme is wat my happy hou. Nee!  Wat is die belydenis van die kerk?  Want dit is die fondasie van die kerk.

Petrus het ‘n belydenis gemaak en gesê dat Jesus is Christus, die Seun van die Lewende God.  En Jesus se reaksie daarop is, dit is Sy kerk en Hy bou Sy kerk op hierdie rots, op hierdie belydenis wat Petrus gemaak het.  So die kerk word nie gebou op ander maniere nie.  Jesus bou Sy kerk op die belydenis dat Hy die Christus is, die Seun van die Lewende God.

Tweendens, ‘n ware kerk word gebou op Goddelike openbaring, naamlik die Woord van God.  ‘n Ware kerk is ‘n plek waar gelowiges die Woord van God as riglyn vir die Christen lewe en praktyk aanvaar.  ‘n Ware kerk is waar die Woord gepredik word en nie ‘n klomp storietjies en motiverings boodskappe gegee word nie.  Die Woord wat van Christus getuig is sentraal, want Christus is sentraal tot alle aktiwiteite in die gemeente.

Jesus het in v23 vir Petrus, “Gaan weg agter My, Satan.”  En enige tyd wanneer jy weg beweeg van die wil van God af, neem jy Satan se agenda op, selfs al is jy ‘n apostel.  Jy moet alles onderwerp aan die Woord van God, in lyn kom met God se wil, want die kerk is gebou op Goddelike openbaring.  Daarom is die kerk onoorwonne, want die hemel staan agter dit alles.

Die eienskappe van ‘n ware kerk is dat dit gebou is op ‘n belydenis en tweedens op die onwrikbare Woord van God.

Richard Philips het ‘n artikel geskryf in ‘n boek met die naam “The Church”, en hy se die volgende:

"If we want people to join in Peter's great profession and thus to be admitted into the saving company of Christ's people, then we must not rely on flesh and blood  devices. We must not be tempted by the things that appeal to men and women today, especially the entertainment that so dominates our secular culture and sadly much of the church as well. We may make the most effective appeals to flesh and blood, to the things which are persuasive and enticing to the fleshly nature of mankind. But Jesus here assures us that by those means we will never bring about the saving faith first professed by Simon Peter. Instead, we must rely on the one means God has provided, His revealed Word. As we teach and proclaim God's Word about Jesus, the Father in heaven reveals the truth in the minds and hearts of men and women and brings them to true and saving faith."

Omdat ons dit doen het ons die sleutels van die Koninkryk.  Ons kan die deur oopmaak van die Koninkryk.  Ons kan vir mense die waarheid preek wat die deur vir hulle sal oopmaak na die ewige lewe.

Maar as die mense hul nie wil bekeer nie, is hulle gebind in hulle sondes en daarom ook gebonde in die hemel.

Goed!

Die hartseer is, dat die kerk oor die algemeen begin het om weg te beweeg van hierdie twee eienskappe wat absoluut krities is.  ‘n Geloofsbelydenis en Goddelike openbaring.  So daar is baie plekke wat hulleself ‘n kerk noem, maar hulle kom bymekaar oor ander redes.

Matt 16:18 En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.

Ek wil weer beklemtoon.  Dit is Sy kerk en Hy bou Sy kerk.  Hy bou Sy kerk op die belydenis dat Jesus die Christus is, die Seun van die Lewende God.  Die kerk word gebou op die fondasie van Christus en Sy Woord.  En daarom sal die poorte van doderyk dit nie oorweldig nie.

So kom ons kyk na die derde eienskap van ‘n ware kerk.  En dit is ‘n groot kontras.  Kyk gou na v20,

Matt 16:20 Daarop het Hy sy dissipels bevel gegee dat hulle vir niemand moes sê dat Hy Jesus die Christus is nie.

Dis vreemd.  So hulle moenie uitgaan en almal gaan vertel dat Jesus die Christus is nie.  Hoekom sou Jesus nie wou hê dat almal moet weet dat Hy die Christus is nie?  Is dit nie waarom Hy dan gekom het nie?  Dit klink amper soos ‘n ant-evangeliese opdrag.  Hoekom sou Hy sê, vertel vir niemand nie?

Kom ons gaan kyk gou in Joh 6:15, toe Jesus die skare gevoed het.  Hy het die brode en vissies vermeerder en duisende mense gevoed.  En die mense was mal daaroor.  Hulle het hulle hele lewe lank gesukkel om brood te kry.  Daar was nie fast food gewees nie.  Jy moes jou kos maak van scratch af elke dag.  En skielik is hier nou gratis kos.  En die resultate is,

Joh 6:15 En toe Jesus merk dat hulle wou kom en Hom met geweld neem om Hom koning te maak, het Hy weer weggegaan na die berg, Hy alleen.

Hoekom het Jesus weggegaan? Want hulle het ‘n verkeerde begrip gehad van die Messias.  Hulle het gedink dit is iemand wat politieke mag het en dat Hy die Romeinse oorheersing gaan omvergooi.  Hulle het gedink Hy gaan kom en vir hulle net welvaart en voorspoed gee.

So hier kom iemand en gee vir hulle gratis kos.  Hulle het hul messiaanse verwagging verminder tot ‘n politieke en militêre mag en dat Hy aan hulle fisiese behoeftes gaan voorsien.  Hulle het ‘n aardse regeerder gesoek, maar Hy het gekom om te soek en te red die wat verlore is.  Hulle het ‘n verkeerde begrip gehad van Christus.  Hulle wou Jesus vir die verkeerde redes koning maak.

Jy sien, die kerk  het niks met die regering te doen nie.  Dit is irrelevant vir die Koninkryk van saligheid wat die aardse regerings doen of nie doen nie.  Die kerk het geen direkte rol, in die herrangskikking van sondaars in ‘n meer aanvaarbare leefstyl nie.  Ons verantwoordelikheid in hierdie wêreld is nie om ons kultuur meer gemakliker en meer aanvaarbaar te maak nie.  Dit is nie die ware kerk se plig nie.  Dit is nie wat ‘n ware kerk doen nie.

Die Koninkryk van God is anders as die wêreld se koninkryke.

Joh 18:36 Jesus antwoord: My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.

Ons is nie geroep om ‘n Christen kultuur of ‘n Christen nasie of Christen land te skep nie.  Ons is geroep om die wêreld en almal om ons te beïnvloed met die evangelie van Jesus Christus.  Dit is verbasend hoeveel kerke hulle geld spandeer om die koninkryk van die duisternis te probeer manipuleer.

Dit is soos om al die meubels in die Titanic te rearrange.  Dit is sinneloos, want die Titanic gaan sink.  Die wêreld gaan sink.  Ons het reddingsbote en ons roeping is om soveel mense as moontlik te red, voordat die skip sink.

Dit bring my by die punt.  Die ware kerk verstaan dat ons onsself moet sien as ‘n groot kontras.  Ons het ‘n geloofsbelydenis, ons is toegewyd aan die Woord van God en derdens weet ons dat ons in ‘n groot kontras leef met die wêreld om ons.

Ons bediening is ‘n geestelike bediening, om mense te red van die oordeel.  Ons het geen besorgdheid oor dit wat die regering of hierdie wêreld doen nie.  ‘n Ware kerk is ‘n kerk wat meer besorgd is oor mense se siele wat gered moet word as om die regering te probeer beïnvloed.  Hulle passie is vir die verlorenes en die evangelie.

Die vierde eiendskap van ‘n ware kerk, noem ons ‘n groot verowering.

Matt 16:21 Van toe af het Jesus begin om sy dissipels te toon dat Hy na Jerusalem moes gaan en veel van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes moes ly, en gedood en op die derde dag opgewek word.

Die ware kerk draai rondom ‘n groot verowering, die oorwinning van Christus op die kruis.  Die kruis is nie net iets wat op ‘n muur hang nie.  Dit spreek van Jesus se oorwinning.  Hy kan nie ons Here en Verlosser wees sonder die kruis nie.  Dit is hoekom Paulus sê,

1 Kor 2:2 want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.

Ons vier die kruis.  Wanneer ons nagmaal gebruik herdenk ons die kruis, daar waar ons sondestraf betaal is.  Die nagmaal herinner ons elke keer aan die betekenis van die kruis.  Die kruis wat ‘n skaduwee gooi op die Ou Testament en die begin is van die Nuwe Testament.  ‘n Mens kan nie aan Christenskap eers dink sonder ‘n kruis nie, want dit is daar waar God se geregtigheid te vrede gestel is.

Dit is daar waar Christus ons sondes in Sy liggaam gedra het en daar waar Hy vir die straf van sonde betaal het, sodat ons verlos kan word.  Hy het sonde vir ons geword, sodat ons geregtigheid van God kan word in Hom.  Alles draai rondom die kruis.  Die kruis verteenwoordig die geregtigheid van God, die oordeel van God, maar ook Sy liefde en genade en barmhartigheid.

 So die vierde eienskap van ‘n ware kerk is dat dit sentreer rondom die kruis.  Maar nie net die kruis nie.  Jesus het gesê dat Hy sal moet ly en doodgemaak word, maar op die derde dag sal Hy opstaan.

Rom 10:9 As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word;
10 want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.

Dit is by die kruis waar die geregtigheid van God geopenbaar is.  Dit is by die kruis waar met sonde afgereken is.  Dit is op die kruis waar ons sonde op Christus toegereken is.  Dit is op die kruis waar ons genade en liefde sien en daardeur kom vergifnis.  Deur die opstanding kom nuwe lewe.  So ons preek Christus die gekruisigde.

Ons preek die waarheid en alles wat rondom die kruis gebeur.  Ons is nie hier vir goedkoop entertainment nie.  Ons is nie hier vir oppervlakigheid en sielkundige oplossings nie.  Ons hier oor die kruis.

En dan vyfdens, is die eienskap van ‘n ware kerk, ‘n kerk wat betrokke is in ‘n oorlog met die Satan.  Dit kry ons in ons teksgedeelte waar Petrus Jesus eenkant vat en Hom begin bestraf.

Matt 16:22 Toe neem Petrus Hom opsy en begin Hom bestraf en sê: Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie!

Petrus sê, nee Here!  Dit sal nooit met U gebeur nie.  U gaan nie sterf nie.  Niemand gaan jou doodmaak nie.  Mag God dit verhoed.   En dit is toe Jesus omdraai en sê, “Gaan weg agter My Satan.”

Sjoe, en dis baie erg.  Net nadat Jesus vir hom gesê het, “geseënd is jy”, sê Hy, “gaan weg agter My Satan.”  Enigiets wat nie in lyn met God se wil is nie, enigiets wat teen God se plan is, enigiets wat teen God se openbaring is, kom van die vader van leuens.  Jesus sê, uit my pad, jy is ‘n struikelblok.

En al wat Petrus wou doen is om te help.  Hy het ‘n plan B, iets beters.  En op die ou einde word hy geïdentifiseer met Satan.  En hy is in Jesus se pad.

Luister!  As jy teen die openbaring van God gaan, is jy ‘n struikelblok vir God en jy het Satan se leuens en agenda opgeneem.  Jy aanvaar nie God se plan nie.  En dit is ‘n problem.  God se gedagtes is nie jou gedagtes nie.

En enige ware kerk is in hierdie oorlog betrokke die hele tyd.  ‘n Oorlog vir die waarheid.  Maar dit is meer as net ‘n oorlog vir die waarheid, jy is in ‘n stryd met hulle wat die openbaring van God verwerp.  Ons veg teen die elke valse interpretasie van die Skrif.

Jud 1:3 Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.

Ons stry vir die waarheid.  Ons stry vir heiligheid.  Die ware kerk stry vir sy reinheid.  Die ware kerk verwyder alle valsheid en sonde en onheiligheid onder hulle uit.  Die ware kerk verwyder die suurdeug onder hulle uit.

Enigiemand wat valse leringe verkondig in die kerk, is ‘n struikelblok.  So persoon het Satan se agenda opgeneem.  En hy staan in God se pad.  En ‘n ware kerk is ‘n kerk wat sy gesonde leer verdedig en hom beskerm teen onreinheid.


No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288