Thursday 2 February 2012

Hoe lyk ‘n ware kerk?


Ek hoor so baie van mense wat ‘n kerk soek en hulle het al by baie kerke gaan besoek, maar kry net nie die regte kerk nie.  So die vraag wat ek myself vra is, as ek nie ‘n pastoor was nie en ek het die geleentheid gehad om ‘n kerk in Rustenburg te gaan soek: wat is die fundamentele dinge wat ‘n kerk moet hê voordat ek dit sal oorweeg om daar aan te sluit?  Maw hoe lyk ‘n ware kerk?  Obviously wil ek nie ‘n valse kerk join of deel wees van ‘n sirkus nie.

Wat soek jy in kerk?  Gaan die oor die gebou.  Maw die kerk moet lyk soos ‘n kerk.  Dit moet nie ‘n saal of ‘n skoolsaal of huis-kerk nie.  Dit moet ‘n kerk kerk wees.  Gaan dit oor kleredrag.  Almal moet deftig aangetrek wees of ek wil met my kort broek en plakkies kerk toe gaan.  Gaan dit oor die musiek.  Dit moet psalms en gesange wees.  Afrikaans en nie nuwe liedjies wat onmoontlik is om te sing nie.  Daar moet ‘n koor wees.

Daar moet ‘n kruis voor in die kerk wees.  Ons moet uit ‘n beker drink wanneer ons die nagmaal gebruik en nie kelkies nie.  Daar moet programme vir die kinders wees.  En so kan ons aan gaan.  Maar is dit regtig die dinge waarvoor ek moet kyk?  Hoe lyk ‘n ware kerk?

Kom ek vertel julle ‘n groot waarheid:  Nie almal wat die naam “kerk” gebruik is ‘n ware kerk nie.  Wat is kerk?  Hoe lyk ‘n ware kerk?  Dit is nodig om te weet sodat ons gemeente onsself daaraan kan meet.  Sodat ons kan weet hoe ons kerk moet wees.  Dit is my begeerte dat hierdie gemeente ‘n ware kerk sal wees.

Daar is soveel misleiding.  Daar is soveel kerke wat nie waarlik kerke is nie.  Hulle sê hulle is, hulle dra die naam, maar hulle voldoen nie aan die Bybelse voorskrifte van wat ‘n ware kerk moet wees nie.

Matt 16:18 En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.

Let op!  Hierdie kerk behoort aan Hom.  Dit is Sy kerk.  Dit is die kerk van die Here Jesus Christus en ons verstaan dit.  En in hierdie gedeelte kry ons die belangrikste komponent van ‘n ware kerk.  Daar is baie “kerk” vandag.  Daar is seeker-sensitive kerke.  Die emerging church movement. 

Hoekom is dit dan so verkeerd om hierdie name te gee aan kerke? Jy sien ek gee nie om wat hulle dit noem nie, maar hulle moet dit nie kerk noem nie, want dit mislei mense.  Ons weet wat ‘n Boediste tempel is.  Ons weet wat ‘n Joodse sinagoge is.  Maar as jy sê jy is ‘n kerk, maar jy is nie volgens Bybelse definisie ‘n ware kerk nie, dan mislei jy mense.

Die vers sê, “op hierdie rots sal Ek my gemeente bou.”  En dit is die fondasie van die kerk.  Jesus sê, Ek sal my gemeente bou.  Dit is Sy kerk en Hy sal Sy kerk bou.  So hoe lyk Sy kerk?

Eerstens, ‘n ware kerk word gekenmerk aan  sy belydenis.  Nie belydenis van skuld nie, maar belydenis van geloof.  Wat is die gemeente se oortuiging?  Wat glo die gemeente?  En ongelukkig is dit die laaste ding op meeste mense se lys van wanneer hulle ‘n kerk soek.  Wat is die gemeente se belydenis?  Wat glo hulle?  Die kerk is mense wat bymekaar kom rondom dit wat hulle bely en glo.  So kom ons kyk na Matt 16 vanaf v13,

Matt 16:13 En toe Jesus in die streke van Cesaréa-Filippi kom, vra Hy sy dissipels en sê: Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is?

Wat sê die mense van My?  Wat is die populêre siening oor My? 

Matt 16:14 En hulle antwoord: Sommige Johannes die Doper, en sommige Elía, en ander Jeremia of een van die profete.

En dit klink so goed.  Johanes die Doper het hoë aansien gehad.  Wat van Elia, die groot profeet?  En Jeremia.  Dit klink alles goed en wel.  Hulle vergelyk Jesus met hierdie groot Gods manne.  Maar eintlik beledig hulle Hom.  Die Seun van God kan tog nie vergelyk word met ‘n mens nie.  

Matt 16:15 Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek?
16 En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God.

En dit is die belangrikste belydenis wat ‘n ware kerk moet hê.  ‘n Kerk is nie ‘n kerk as hulle nie bely dat Jesus die Christus is, die Seun van die lewende God nie.  ‘n Ware kerk is ‘n kerk wat verstaan wie Jesus Christus is, wat ‘n Bybelse begrip het van Jesus.

Enigiets anders as ‘n Bybelse begrip van Jesus beteken dat dit nie ‘n ware kerk is nie.  Dit is ‘n ander evangelie en dit moet ‘n vervloeking wees.

2 Joh 1:9 Elkeen wat ‘n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hy het die Vader sowel as die Seun.
10 As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie.

Maw jy mag nie iemand in jou huis ontvang of groet as hy nie in die leer van Christus bly nie.  Jy mag niks met hom te doen hê nie.  Om enigiets minder as die waarheid oor Jesus te sê, is ‘n groot problem. 

Daar is sommige wat net bely en sê, Hy was ‘n goeie leermeester.  Hy was ‘n nederige mens.  Hy was ‘n goeie mens.  Maar dit is dieselfde as om te sê, Hy is Johanes die Doper of Elia of Jeremia.

Jesus bou nie Sy kerk op ‘n verkeerde siening van Homself nie.  Die eerste absolute in ‘n ware kerk is ‘n Bybelse siening van Jesus Christus.  Die fondasie van die kerk is Jesus Christus.  Dit is Sy kerk en Sy mense glo dat Hy die Seun van die lewende God is.

In Cesaréa-Filippi waar Jesus en Sy dissipels gekom het en Hy vir hulle die vraag gevra het: Wie sê die mense is Ek? Wie sê julle is Ek?  Daar baie afgode vir al die Griekse veral in hierdie plek was die Griekse god Pan bekend.  Dit was net ‘n klomp beelde.  Jesus sê, Ek is die Seun van die lewende God.  Nie ‘n dooie afgod nie.

Die ware kerk is gebou op die ware en lewende God en geen ander afgod nie.  Die ware en lewende God het Homself openbaar in Sy Seun Jesus Christus.  Petrus het dit verstaan.  U is die Christus, die Gesalfde, Seun van God van die lewende God.  Die beloofde Messias, die Verlosser.

Dit is op hierdie groot belydenis waarop die ware kerk gebou word.  Dat die lewende God Homself geopenbaar het in Sy Seun Jesus Christus.  Ons bely dit ook.  Ons bely ook saam met Thomas,

Joh 20:28 En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God!

“Jesus is my Here en my God.”  Ons bely soos Petrus ook gesê het,

Joh 6:68 ...Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe.

Ons kom bymekaar om ons die Here Jesus Christus te aanbid.  Die kerk is nie ‘n groep mense wat bymekaar kom om na ‘n gemotiveerde boodskap te luister nie.  Die kerk is nie ‘n groep mense wat bymekaar kom wat hulp soek vir hulle verslawings nie.  Die kerk is nie ‘n groep mense wat bymekaar kom wat iets geestelik wil voel nie.

Die kerk is nie ‘n byeenkoms vir mense wat een of ander onverstaanbare godsdienstige ervaring wil beleef en hulle laat beter voel nie.  Dit is ‘n gemeenskap van mense wat glo en bely dat daar ‘n lewende God is wat Homself aan ons openbaar het in Sy Seun Jesus Christus, wat bely dat Jesus God is en dat Hy alleen die Een is by wie ons die ewige lewe kan ontvang.

Dit is die eerste kenmerk van ‘n ware kerk.  Die kerk se belydenis.  Wat glo jy oor Jesus Christus?

Joh 20:31 maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.

Die ware kerk is hulle wat glo en bely en die ewige lewe in Sy naam ontvang het.  Die ware kerk is die gemeenskap van verlostes.  Dit is nie ‘n groep mense wat maar net sentimenteel is oor Jesus nie.

1 Tim 3:15 Maar as ek vertoef, dan kan jy weet hoe iemand hom moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, ‘n pilaar en grondslag van die waarheid.
16 En, onteenseglik, die verborgenheid van die godsaligheid is groot: God is geopenbaar in die vlees, is geregverdig in die Gees, het verskyn aan engele, is verkondig onder die heidene, is geglo in die wêreld, is opgeneem in heerlikheid.

In die ware kerk, is dit almal se geloofsbelydenis.   En ons glo dieselfde waarheid.  Ons wonder nie of spekuleer nie nog oor wie Jesus is nie.  Ons glo almal hierdie waarheid.  As jy ‘n ware kerk soek, is dit waar jy begin.  Glo die mense in daardie kerk dat Jesus die Seun van die lewende God is.  Hy is die fondasie.  Alles sentreer rondom Hom.
Tweedens, is ‘n ware kerk nie net gebou op ‘n geloofsbelydenis nie, maar op goddelike openbaring.

Matt 16:17 Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is.

Salig kan ook vertaal word met geseënd.  Geseënd is jy Simon Bar-Jona, want jy is reg!  Jy is geseënd, want jy het die regte geloofsbelydenis gemaak.  Maar hoe het jy dit reg gekry?  Het jy net eendag net gesit en dink en besluit dat Jesus nie ‘n slegte idee is nie en dat jy aangetrokke tot Hom voel. Nee!

Hier is hoe jy dit reg gekry het?  Jy het dit reg gekry , want vlees en bloed het dit nie aan jou openbaar nie.  Dit kom nie van ‘n mens af nie.  Die Vader in die hemel het dit aan jou geopenbaar.  Jy het ‘n “revelation” gehad.  God het dit aan jou geopenbaar.

1 Kor 1:21 Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red.

Dit kom nie van ‘n mens af nie.  Daar is geen menslike wysheid of kennis wat jou kan lei tot hierdie groot belydenis nie.  God het dit aan jou openbaar.  Daar is net een manier om die waarheid te kan ken en daarom hierdie belydenis van geloof te kan maak.  Dit is goddelike openbaring.

Evangelisasie is niks meer as Woord verkondiging nie.

Joh 5:39 Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig.

Dit is die Woord wat van Jesus getuig.  Daar is nie ‘n ander manier waarop die mens gered kan word nie.  Ons word gered deur die prediking van die Woord.  Nie deur een of ander foefie, of ervaring of belewenis nie. 

1 Pet 1:23 want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.

Die saad wat wedergeboorte voortbring is die lewende woord van God.  Joh 17:17 sê ons word geheilig in die waarheid.  U woord is die waarheid.  Ons begeerte na die Woord moet wees soos ‘n baba wat melk soek.  Ons word versoen deur die Woord.  Ons word gereinig deur die Woord.  Ons word beveel deur die Woord.

‘n Ware kerk is ‘n kerk wat hul tyd spandeer om Jesus Christus te verheerlik en Sy Woord uitlê.

Johannes Calvyn het gesê, “If a church does not have sound doctrine and exposition of Scripture, it's not a church.”

So ‘n ware kerk is ‘n kerk wat ‘n groot belydenis het en tweedens wat die goddelike openbaring, die Woord van God verkondig en uitlê.  Dit wat ons verkondig kom nie van menslike bronne af nie.  Dit kom van God af.

God het Homself aan ons openbaar.  God praat met ons deur Sy Woord.  Petrus het ‘n geloofsbelydenis, want die Vader het gepraat.

Matt 16:18 En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.

Hierdie vers is baie eenvoudig.  Maar ongelukkig is hierdie vers heeltemal uit verband geruk.  Petrus is maar net Petrus en in v23 sê Jesus, gaan weg agter My satan.  So ons wil nie te veel van Petrus maak nie.  Hierdie vers is nie die inhuldiging van die pousdom nie.  Jesus sê vir hom, Jy is Petrus.  Dis al.  Jy is maar net Petrus.

En Petrus sou nie geweet het of iets kon doen as die Vader in die hemel nie dit aan hom openbaar het nie.  Jy is Petrus en op hierdie rots sal Ek My kerk bou.  Wat beteken dit?  Die Griekse woorde wat gebruik word is, Petrus = petros, klein rots, op hierdie rots, petra, groot rots, sal Ek My kerk bou.

Dit is op hierdie belydenis wat Petrus gemaak het, op die belydenis dat Jesus die Christus is, die Seun van die lewende God, wat Jesus sê Hy gaan Sy kerk bou.  Die rots waarvan Jesus praat is die belydenis, nie Petrus nie.  Dit is dieselfde belydenis wat al die ander apostels gemaak het.

Ef 2:20 gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is.

Wat is die fundament van die apostels en profete?  Dit is die belydenis wat hulle gemaak het.  Nommer een, hulle het die groot belydenis gemaak, nommer twee want hulle het die goddelike openbaring geglo.  Hulle het dit gehoor en geglo.

Die ware kerk is die kerk wat gebou is op die openbaring van God, die Woord van God en elkeen wat dit glo en bely.  ‘n Kerk wat so gebou word is ‘n kerk wat nie deur die poorte van die doderyk oorweldig sal word nie.  Dit beteken eenvoudig, die dood sal nie kerk vernietig nie.

Inteendeel hoe meer mense oor die eeue die kerk probeer doodmaak het, hoe meer het die kerk gegroei.  Die kerk is die gemeenskap van gelowiges wat bely dat Jesus Christus die Here is, want hulle het die goddelike openbaring van die Woord van God geglo.

Matt 16:19 En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee...

Wat dink julle is die sleutels van die koninkryk van die hemele?  Jesus sê, jy en die apostels en almal in die kerk, hier is die sleutels.  Waarvoor gebruik ‘n mens sleutels?  Om ‘n deur oop te maak.  Maw ons het sleutels gekry om die deur van die koninkryk oop te maak.

Hoekom?  Om mense te laat ingaan.  Julle het die sleutels om mense te laat ingaan in die koninkryk.  Dan sê die vers,

Matt 16:19  ...en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.

Dit was ‘n sê ding van die rabi’s.  Wanneer hulle daarvan gepraat het, het hulle bedoel jy is gebind in jou sonde.  Of jy is losgemaak van jou sonde wanneer jy jou bekeer.  Dit was ‘n uitdrukking wat hulle gebruik het om te verwys nie hoe mense reageer oor hulle sonde.

So wat sê Jesus vir hulle?  Hy sê, jy kan vir mense sê, die koninkryk is vir hulle gesluit, hulle is gebind in hulle sonde.  En die hemel stem daarmee saam.  Of jy kan vir hulle sê, hulle is losgemaak van hulle sonde, en hulle kan inkom, en die hemel stem daarmee saam.

Hoe is dit moontlik?  Want die hemel het vir jou ‘n goddelike openbaring gegee.  Dit is die Woord van God.  Dit is die sleutels van die koninkryk wat God vir ons gegee het.  Die Woord van God. 

As ek die deur van die koninkryk van mense wil oopsluit sodat mense kan inkom, moet ek die Woord van God verkondig.  Geloof kom deur die gehoor en gehoor deur die Woord van God.  Die Woord is kragtig en skerper as ‘n tweesnydende swaard.  Dit is lewend.  Dit is kragtig.

Met die Woord van God het ons die vermoë om die deur van die koninkryk oop te maak.  Mag ek vir mense sê, julle is gebind in julle sonde en totdat julle julle nie bekeer en julle geloof in Jesus Christus plaas nie, is julle gebind en die hemel stem daarmee saam met wat ek sê.

Ek het die sleutels van die koninkryk, nie omdat ek die pous is, of ‘n priester is, of omdat ek enige amp het nie, maar omdat ek jou vertel wat die hemel in Sy Woord aan my openbaar het.

Mag ek vir mense sê, julle is ontbind van julle sonde as julle op Jesus Christus vertrou en julle bekeer, dan sal die deur van die koninkryk vir jou oopgaan en jy kan in gaan en die hemel stem daarmee saam.  Hoekom?  Want dit is die goddelike openbaring wat vir ons gegee is.

Hoe lyk ‘n ware kerk?  Dit is ‘n kerk waar Jesus die Christus, die Seun van die lewende God, die belydenis van die kerk is, en hierdie belydenis is gebaseer op goddelike openbaring.  Die Woord van God.

Dit is op hierdie wyse waarop Jesus sê, Hy Sy kerk bou. Die ware kerk word nie gebou deur menslike wyshede en programme en allerhande ervarings nie.  Christus is sentraal en die Woord is die sleutels van die koninkryk.  Ons saai die saad.  Ons maak dit nat.  Die Here gee die groei.  Dit is die Here wat daagliks by Sy kerk byvoeg.


No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288