Tuesday 21 February 2012

Kenmerke van ‘n toegewyde Christen


Joh 13:31 En toe hy buite was, sê Jesus: Nou is die Seun van die mens verheerlik, en God is in Hom verheerlik.

Die vraag wat jy jouself voortdurend moet vra is, “watter tipe Christen is ek?”  Ons is almal waarskynlik nie dieselfde nie en ons is elkeen uniek.  Maar wanneer ek die vraag vra, watter tipe Christen is jy, dan vra ek die vraag in terme van jou toewyding.

Vanaf die nie-toegewyde Christen, die persoon wat net in die Koninkryk van God ingekom het, en dit is dit.  Al sy werke sal verbrand soos ons lees in 1 Kor 3, hy sal skade ly, alhoewel hyself gered sal word.  Tot by die Christen wat totaal en al toegewyd is, wat ‘n goddelike lewe leef, wat geestelik volwasse en stabiel is. 

Watse tipe Christen is jy?  Is jy alles wat God beplan het jy moet wees?  Of is jy op dieselfde plek waar jy was, drie maande gelede, ses maande later of ‘n jaar gelede?  Is daar sigbare kenmerke dat jou Christenskap toegewyd is?  Dit is die vrae waarmee ons ge-challenge gaan word.

Baie Christene wil gekenmerk word aan uiterlike tekens.  ‘n Lapel wat hy dra, of ‘n hemp met ‘n Christelike simbool, of ‘n kettinkie met ‘n kruis, of vissie op die kar, ens. om hulle te identifiseer as gelowiges.  En dit is ok!  Maar dit is baie oppervlakkig.  Want ‘n nie-gelowige kan ook al hierdie dinge doen, maar dit maak hom nie ‘n Christen nie.  Jy word nie ‘n Christen as jy hemp aantrek met ‘n christelike simbool nie.  En die manier waarop sommige Christene ry op die paaie, is dit waarskynlik beter dat hulle eerder geen kentekens dra nie.

Ons gaan kyk na kenmerke van ‘n toegewyde Christen.  En wanneer ons Joh 13 lees, moet ons onthou dit is naby die einde van Jesus se bediening.  Dit is die aand voor sy dood.  Jesus spandeer Sy laaste ure met sy geliefde dissipels om hulle voor te berei op wanneer Hy hulle gaan verlaat.

Judas het Jesus veraai en hy is weg.  So Jesus praat dan met elf van Sy dissipels en gee aan hulle ‘n afskeidsrede.  Dit is vanaf v31.

Hy gee aan hulle opdragte, beloftes, waarskuwings, gebooie en persoonlike intruksies.  Hierdie woorde is alles oor hoe ‘n dissipel behoort te wees.  Om ‘n toegewyse Christen te wees.  Dit is bestandele van ware dissipelskap.

Paulus in sy briewe, defineer en herdefineer basies van hierdie beginsels wat ons kry in Joh 13.  Hierdie dinge is krities belangrik vir elke gelowige.  Dit is Jesus se laaste woode, Sy laaste opdrag voordat Hy na die kruis toe gaan.  Jesus gee op die vooraand van Sy dood, die kenmerke van ‘n ware dissipel.

Daar is net na een van die kenmerke vanoggend.  Ons sal volgende week na die ander kyk.  En hierdie dinge is dan die kenmerke van ‘n toegewyde Christen.  Eerstens sien ons, die gelowige is geabsorbeer met Sy God se heerlikheid.  Dit sal ons vanoggend sien.  Dan tweedens, die gelowige se liefde en derdens, sy lojaliteit.  Ons sal volgende week daarna kyk.

Om dit meer duideliker te probeer stel is die kenmerke van ‘n toegewyde Christen iemand wat nommer een, onwrikbaar fokus op Christus se heerlikheid, nommer twee, oneindige liefde het vir sy broer, en nommer drie, ‘n onfeilbare lojaliteit het aan sy Here.  Hierdie dinge is kenmerke van ‘n dinamiese dissipel.  Dit is kenmerke wat veronderstel is om deel te wees van elke Christen.

1.      Die heerlikheid van God

Nou die tema van die heelal is die heerlikheid van God.  En ‘n toegewyde Christen is iemand wat so lewe om in alles wat hy doen God te verheerlik.  Hy gee nie om wat mense van hom dink nie, maar die heerlikheid van God is alles waaroor dit gaan.  Hy wil God verheerlik met sy hele lewe.  Hy wil lewe tot eer van God.

Dit is die doel van sy lewe.  Dit is die motief vir alles wat hy doen.  Om aan Hom die eer te gee.  Paulus sê dit so,

2 Thes 1:11 Daarom bid ons ook altyd vir julle dat onse God julle die roeping waardig mag ag, en dat Hy alle welgevalle aan wat goed is, en alle werk van die geloof met krag volkome mag maak,
12 sodat die Naam van onse Here Jesus Christus in julle verheerlik kan word en julle in Hom, ooreenkomstig die genade van onse God en die Here Jesus Christus.

Dit is dié rede waarom jy bestaan as ‘n gelowige, dat God se naam, dat Christus se naam in jou verheerlik kan word.  Judas sê dit so,

Jud 1:25 aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou en tot in alle ewigheid! Amen.

Dit is waarom ons bestaan.  Petrus sê dit so,

1 Pet 4:11 As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God; as iemand dien, laat dit wees soos uit die krag wat God verleen, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en krag toekom tot in alle ewigheid. Amen.

Ons moet so lewe dat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus.

Ef 3:21 aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid! Amen.

Dit is die rede waarom ons bestaan, om God te verheerlik.  Dit is waaroor alles gaan.  En ‘n toegwyde Christen is geabsobeer met sy Here se heerlikheid.  Om Hom die eer te gee.  Om Sy heerlikheid te weerspieël.  Om Hom te eer deur jou lewenswyse.

Joh 13:31 En toe hy buite was, sê Jesus: Nou is die Seun van die mens verheerlik, en God is in Hom verheerlik.

Toe Judas uitgaan, toe sê Jesus, nou is die Seun van die mens verheerlik.  Nou dat Judas weg is, die seun van die verderf, was daar ‘n soort van verligting en Jesus kon met vrymoedigheid met die ander dissipels praat oor Sy heerlikheid.  Hy begin om afskeid te neem en hy praat oor die belangrikste kwessie van die heelal, en dit is Sy heerlikheid.  Dit is die sleutel tot alles.

God het vlees geword, Homself aan die mens se swakheid in die sin van die fisiese wêreld onderwerp, maar Hy het nooit gesondig nie.  Hy het die openbaring van Sy volle heerlikheid vir 33 jaar beperk.  Maar nou sê Hy, die Seun van die mens word verheerlik, meenende Hy verwys na die volgende dag.

Dit was Jesus se begeerte om verheerlik te word.

Joh 17:5 En nou, Vader, verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was.

Hy was gereed om na die kruis toe te gaan en dat die verheerlikings proses weer kan begin.  En met Jesus se komende heerlikheid praat Hy oor drie dinge wat gaan oor Sy eer.  Dit is uniek en dit is belangrik.  Die eerste stelling wat Hy maak oor Sy heerlikheid is, v31 “Nou is die Seun van die mens verheerlik.”  Dit is ‘n geweldige verklaring.  En Hy sê dit in afwagting.

Hy het 33 jaar gewag om verheerlik te word.  Nou het die tyd aangebreek en Sy verheerliking gaan begin op die kruis die volgende dag.  Judas het begin om dit in werking te stel.  Hy het begin met die verraad.  Dit is net ‘n paar ure voordat Jesus in die tuin van Getsemane gaan bid en wanneer Judas sou kom met soldate en Hy gevange geneem sou word en gekruisig sou word.

Dit is hoekom Jesus sê, “Nou is die Seun van die mens verheerlik.”  Toe Judas Jesus veraai, het die wiele begin rol om die kruis ‘n werklikheid te maak.  En Jesus was gereed om te sterf, Hy was gereed om verheerlik te word.

Dalk wonder jy, hoe kon Jesus se dood deel wees van Sy heerlikheid.  En ek gaan jou nou wys hoe is dit moontlik.  Kyk gou eers wat Petrus sê,

Hand 3:13 Die God van Abraham en Isak en Jakob, die God van ons vaders, het sy Kind Jesus verheerlik, Hom wat julle oorgelewer en voor Pilatus verloën het toe hy besluit het om Hom los te laat.

Petrus sê, God verheerlik Hom, ten spyte van hulle, het Hy Hom aan ‘n kruis verheerlik, het Hy Hom in ‘n graf verheerlik, het Hy Hom verheerlik.  Deur en ander kant die graf het God Hom verheerlik en ook met Sy hemelvaart.

Wanneer ons praat van die heerlikheid van Jesus, sluit dit in Sy dood en opstanding en hemelvaart.  Maar dit word veral geopenbaar op die kruis.  Selfs al lyk die kruis soos ‘n skande, selfs al het die kruis gelyk soos ‘n ramp, was dit die heerlikheid van God wat geopenbaar word en kon Jesus sê, “Nou is die Seun van die mens verheerlik.”

Die grootste skande, die ergste vernedering, beledigings, bespottinge en beskuldigings, steeds kon Jesus sê, “Nou is die Seun van die mens verheerlik.”  Dalk sê jy, maar ek verstaan nie hoe op dees aarde iemand verheerlik kan word deur hom te kruisig nie.

Die heerlikheid van God beteken om alles wat Hy is aan Hom toe te skryf.  Om God te verheerlik beteken om Sy eienskappe te openbaar, om te glo in Sy eienskappe, om Hom te prys vir wie Hy is.  En toe Jesus op die kruis gesterf het, het Hy al die eienskappe van God geopenbaar.  In Sy dood sien ons wie Hy is.  Ons sien hoe God verheerlik word op die kruis.

Hoe het die kruis Jesus verheerlik?  Eerstens, op die kruis het Jesus die grootste werk gedoen wat nog ooit in die geskiedenis van die heelal plaasgevind het.  Op die kruis het Jesus die redding van verlore sondaars bewerk.  Hy het gedoen wat geen mens nog ooit kon doen nie.  En daarom verdien Hy alle eer.

Meer as dit, het Jesus sonde op die kruis vernietig.  Daarom verdien Hy die eer.  Nog meer het Jesus nie net sonde vernietig nie, maar ook die een wat mag van die dood het, die duiwel en daarom verdien Hy eer.  En dan het Jesus ook die prys betaal van God se geregtigheid en vir Homself ‘n uitverkore volk gekoop en dit verdien heerlikheid.

En aan die kruis van Golgota het Jesus ‘n offer gebring wat aanvaarbaar was vir God.  En nadat Hy die geregtigheid van God te vrede gestel het die wet vervul het, het afgesluit met die woorde, “dit is volbring.”   Hy het verlossing aan die mens gebring en God se geregtigheid vervul.  Dit is die grootste werk in die geskiedenis van die heelal en daarom openbaar die kruis Jesus Christus se heerlikheid.

Daar is in die hemel en op die aarde geen ander daad wat so waardig en lof en eer en heerlikheid kan ontvang soos die daad van Jesus Christus op die kruis nie.  Dit is hoekom Jesus sê, “Nou is die Seun van die mens verheerlik.”

Daar is dan ook ‘n tweede aspek van Jesus se heerlikheid wat ons kan sien in v31.  Dit sê,

Joh 13:31 En toe hy buite was, sê Jesus: Nou is die Seun van die mens verheerlik, en God is in Hom verheerlik.

God is in Hom verheerlik.  God word in Jesus verheerlik.  God se heerlikheid is wie Hy is.  Hy is liefde, genade wysheid, alwetend, almagtig, alomteenwoordig.  Al die eienskappe van God is Sy heerlikheid.  En by die kruis word die eienskappe van God geopenbaar op sy wyse wat nog nooit geopenbaar is nie.  En so word God word verheerlik in die dood van Christus.

Jesus het al die eienskappe van God geopenbaar op die kruis.  Watter eienskappe van God word in Christus geopenbaar?  Kom ek gee julle ‘n voorbeeld.  Eerstens weet ons dat God is almagtig.  En Sy krag word geopenbaar op die kruis soos nêrens anders gesien is nie.

Die konings van die aarde het saam raad gehou teen God en teen Sy Gesalfde.  Die verskriklike vyandskap wat die vlees bedink en die boosheid van die mens se hart het Jesus Christus aan die kruis vasgenael.  Die duiwel het sy beste poging probeer. 

Die wêreld en die Satan en al die bose magte in die heelal het al hulle kragte teen Jesus ingespan, maar Jesus het die krag gehad om dit alles te oorwin en Hy het die mag van die dood oorwin en elke mag van sonde verbreek en die mag van Satan verbreek.  Maw die kruis is ‘n vertoning van God se krag en dit verheerlik God.  God word verheerlik in Jesus, deur Sy absolute krag oor elke mag in die heelal.

‘n Tweede eienskap van God is bv. Sy geregtigheid.  God is regverdig.  En nêrens anders sien ons God se geregtigheid beter uitgebeeld soos op die kruis nie.  God het gesê, “die loon van die sonde is die ... dood.”  Dit is God se geregtigheid.  Iemand moes sterf vir sonde. 

Jes 53:6 Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.

Jesus was die geseënde plaasvervanger.  Hy het in ons plek gesterf.  Al die sonde van alle mense van alle tye het God op Jesus laat neerkom.  Die kruis word die grootste vertoning van God se geregtigheid, omdat Sy geregtigheid eis dat sonde gestraf moet word.  Daarom word God verheerlik in die dood van Christus.

Nog ‘n eienskap van God waarin God verheerlik word op die kruis is, God is heilig.  Nêrens anders word God se heiligheid so duidelik vertoon soos op die kruis nie.  Ons sien dat God Sy rug op Jesus gedraai het, want Hy is heilig.  Selfs al het Hy Jesus Christus liefgehad met ‘n oneindige liefde, draai God Sy rug omdat Hy heilig is en nie onheiligheid kan verdra nie.

Hab 1:13 U, wat te rein is van oë om die kwaad aan te sien en die onreg nie kan aanskou nie...

En toe Jesus op die kruis, ‘n vloek geword het, kon God nie daarna kyk nie, want Hy is heilig.  En Jesus het uitgeroep, “My God, My God, waarom het U My verlaar?”  Hier word God se haat vir onheil en sonde geopenbaar in die lyding en dood van Sy eie Seun.  So word God verheerlik in Christus deurdat Sy heiligheid vertoon word in Christus op die kruis.

Nog ‘n eienskap van God wat op die kruis geopenbaar word en wat God verheerlik, is Sy getrouheid.  God is so getrou.  Hy het ‘n Verlosser aan die wêreld belowe.  En Hy het ‘n Verlosser aan die wêreld gegee.  Wanneer Jesus, wat sondeloos is, op die kruis geoffer word om die volle en finale loon van sonde te dra, het aan die wêreld getoon dat Hy is getrou.

Hy was so getrou dat dit selfs Sy enigste Seun gekos het en dat Hy steeds dit deurgesien het.  En God se getrouheid word geopenbaar in Christus op die kruis en daardeur sien ons Sy heerlikheid.

Ons sien ook God se liefde.  Nêrens anders word God se liefde beter vertoon soos op die kruis nie.
1 Joh 4:10 Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes.

Die liefde van God word vertoon op die kruis.  En so word God verheerlik in Christus op die kruis.

Slot

‘n Toegwyde Christen is iemand wat Christus verheerlik in alles wat hy doen.  Want dit is waaroor dit alles gaan.  Oor die eer van God.  Hy lewe tot eer van God. 

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288