Friday 16 March 2012

Die einde van sondaars en sonde


Sag 5:1 En ek het my oë weer opgeslaan en gekyk—daar was ‘n vlieënde boekrol.
2 En hy het vir my gesê: Wat sien jy? Toe antwoord ek: Ek sien ‘n vlieënde boekrol, sy lengte is twintig el en sy breedte tien el.
3 Daarop sê hy vir my: Dit is die vloek wat uitgaan oor die ganse land; want ooreenkomstig daarmee sal al die diewe hiervandaan weggeruim word, en ooreenkomstig daarmee sal al die meinediges hiervandaan weggeruim word.
4 En laat dit uitgaan, spreek die HERE van die leërskare, en dit sal kom in die huis van die dief en in die huis van hom wat vals sweer by my Naam; en dit sal binne-in sy huis vernag en dit verteer saam met sy balke en sy klippe.

Hierdie gedeelte gaan oor die einde van sondaars en sonde.  En om mee te begin ter inleiding kyk ons gou na,

Psa 5:4 Want U is nie ‘n God wat behae het in goddeloosheid nie; die kwaaddoener sal by U nie vertoef nie.

Psa 11:5 Die HERE toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet.
6 Hy sal op die goddelose vangnette, vuur en swawel laat reën; en ‘n gloeiende wind sal die deel van hulle beker wees.

Hab 1:13 U, wat te rein is van oë om die kwaad aan te sien en die onreg nie kan aanskou nie—waarom aanskou U die trouelose, swyg U wanneer die goddelose dié verslind wat regverdiger is as hy?

God kan nie sonde verdra nie.  Dit is wat al hierdie verse vir ons sê.  1 Pet 1:15 sê dat God ons geroep het om heilig te wees in ons lewenswandel, want Hy is heilig.  God kyk nie met guns na ongeregtigheid nie.  God straf ongeregtigheid.  En Habakuk sê dat Hy is rein van oë en kan nie onreg aanskou nie. 

Maar dan sê die vers verder, waarom aanskou U die trouelose.  Waarom swyg U wanneer die goddelose die regveridge verslind.  Die vraag wat Habakuk vra is: waarom as God dit nie kan aanskou nie, waarom laat Hy dit toe?  Hoekom gaan dit dan so goed met sondaars?  Hoekom is dit dat die onregverdige so voorspoedig is?  Hoekom tree die Here nie op nie?

Psalm 10 vra dieselfde vraag:

Psa 10:1 o HERE, waarom staan U so ver weg en hou U verborge in tye van benoudheid?

En as jy verder lees, dan sê die Psalmdigter, v15

Psa 10:15 Verbreek die arm van die goddelose en slegte; besoek sy goddeloosheid totdat U niks vind nie!

Hy bid en sê, wil God nie afreken met sonde en die goddelose nie?  Wil God nie ‘n einde bring aan dit alles nie?  Hoe lank nog?  Het jy nie al so gevoel nie?  Hoe lank gaan die Here nog hierdie ongeregtigheid toelaat?  En ons kry dieselfde uitroep in Open 6.

Op 6:10 En hulle het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie?

Hulle almal sê vir die Here, U is dan heilig, U kan nie onheil verdra nie, U kan nie onreg aanskou nie.  Wanneer gaan U dinge regstel?  Wanneer gaan God ‘n einde bring aan sondaars en sonde?  Wanneer gaan God hierdie aarde skoonmaak van alle boosheid en goddeloosheid?

En daar is ‘n antwoord vir al hierdie vrae en die antwoord is dat God sal optree.

Psa 50:3 Onse God kom en kan nie swyg nie. Vuur verteer voor sy aangesig, en rondom Hom storm dit geweldig.

En so sê die Psalmdigter dat God iets sal doen.  God gaan optree.  Daar gaan ‘n dag aanbreek wanneer God ‘n einde gaan bring aan alle sondaars en sonde.  God gaan sondaars en sonde oordeel op Sy tyd. 

Jes 42 sê dat daar ‘n dag sal kom wanneer die Here sal sê, te lank het Ek geswyg en My stil gehou, maar dinge gaan verander. 

Jes 42 verwys dan na die tyd van oordeel, wanneer Hy Sy koninkryk gaan oprig.  Dit is wanneer God gaan oordeel en Jesus Sy koninkryk gaan oprig.  Wanneer Jesus kom om Sy 1000 jaar koninkryk op te rig, gaan Hy die nasies oordeel.

Op 19:15 En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige.

Wanneer Jesus kom op die wolke en Sy koninkryk op aarde gaan vestig, dit is wanneer Hy met ‘n skerp swaard die nasies gaan verslaan en met ‘n ysterstaf gaan regeer.  Dit is wanneer Hy met sondaars en sonde gaan afreken.

Aan die einde van die 1000 jaar sal daar ‘n wittroon oordeel wees, wanneer alle sonde geoordeel sal word.  Maar van nou af tot wanneer dit alles gaan gebeur gaan dinge net erger en erger word.  En ons sien dit gebeur.

2 Tim 3:13 Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.

2 Thes 2:7 Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is;
8 en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak,

So vanaf nou todat Jesus kom op die wolke, gaan boosheid en sonde toeneem en dinge gaan net erger en erger word.  En daar sal afvalligheid wees.  Dit gaan toeneem tot ‘n verskriklike klimaks gedurende die groot verdrukking wanneer die hel gaan losbreek op hierdie aarde en sonde sal wees soos wat dit nog nooit was nie.

Openbaring 9 sê dat, dit is gedurende die 7 jaar groot verdrukking, dat God die put van die afgrond gaan oopmaak en elke demon wat daar gebind was sal losgelaat word en hulle sal oor die aarde gaan en die mense teen God draai in hierdie finale vertoon van sonde.

So graag as wat ons wil hê alles moet beter gaan, gaan dit ongelukkig eers slegter gaan en net erger word.  So tydens die groot verdrukking gaan God oordeel, tydens die koninkryk gaan God oordeel en heel aan die einde gaan God oordeel.  En dit is die tema in Sagaria 5.

Sagaria was geskryf net nadat die Jode uit gevangenisskap gekom het van 70 jaar.  Dit was die prys wat hulle moes betaal het vir die sondaars onder hulle.  Omdat daar so baie sondaars was, moes die hele nasie die prys betaal. 

Nou wil die ouens weet, wat van die toekoms.  Hoe is dit dan dat die goddelose Jode so voorspoedig is?  Hoekom?  En dan gee Sagaria die antwoord in hoofstuk 5.  God sal met hulle afhandel op Sy tyd.  Voordat daar vrede sonder einde kan wees, sal God eers met sondaars en sonde afhandel.

In Sag 5 is daar twee visioene.  En wat dit sê is dat God gaan sondaars oordeel.

‘n Kommentaar met die naam Barron wat oor Sagaria skryf het gesê:

“The message here is this: sin must be purged away, iniquity must be stamped out in the city of God, and when the sinner is so wedded to his sin that he is no longer separable from it he becomes the object of God's curse and must be cleansed away from the earth."

Hierdie twee visoene bevat drie belangrike temas: God se oordeel oor sondaars, God se oordeel oor sonde en God se oordeel oor die sisteem.

God se oordeel oor sondaars lees ons dan in Sagaria 5:1-4 en hier sien ons hoe God teen sondaars optree soos wat Hy Sy aarde suiwer om die Koninkryk op te rig.  Eers is die duisternis voor die Koninkryk aanbreek.

Ons teksgedeelte vanoggend in Sag 5:1-4, wat beteken dit alles?  Waaroor gaan dit alles.  Dit gaan oor God se oordeel oor die sondaar.  V3 is die sleutelvers.

3 Daarop sê hy vir my: Dit is die vloek wat uitgaan oor die ganse land; want ooreenkomstig daarmee sal al die diewe hiervandaan weggeruim word, en ooreenkomstig daarmee sal al die meinediges hiervandaan weggeruim word.

‘n Vloek gaan oor die ganse land.  Die KJV sê, “This is the curse that goeth forth over the face of the whole earth...”  Dit is ‘n goddelike daad van oordeel oor die sondaar.  Dit lei tot gevolg, aan die einde v4, tot die vertering van sy huis en balke en klippe.  Die KJV sê, “and it shall remain in the midst of his house, and shall consume it with the timber thereof and the stones thereof.”

Dit is wat hierdie visioen sê.  En hier is drie elemente: die maatstaf waarmee God oordeel, die volledigheid van God se oordeel en die sekerheid van God se oordeel.

1.    Die maatstaf van God se oordeel

Sag 5:1 En ek het my oë weer opgeslaan en gekyk—daar was ‘n vlieënde boekrol.

In Hebreeus is dit ‘n “megillah”.  Dit is twee stokke met ‘n lang papirus.  Hy begin op een punt en rol net aan.  En natuurlik het jy in Hebreeus agter begin.  En soos wat jy rol, lees jy.

Nou hierdie megillah is die goddelike standaard.  En hierdie boekrol bevat die vloek van God se oordeel teen sondaars.  En dit is die maatstaf van God se oordeel.  Die maatstaf van God se oordeel is Sy standaard.  Hierdie boekrol is dan ‘n simbool van God se Woord.

Heb 4:12 Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.

Die Woord van God is die beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.  Die maatstaf waarmee die mens geoordeel gaan word, is die Woord van God.

Kom ek wys jou iets baie interresant.   Die Afrikaanse vertaling sien ons dit nie, maar in die KJV

Zec 5:3 Then said he unto me, This is the curse that goeth forth over the face of the whole earth: for every one that stealeth shall be cut off as on this side according to it; and every one that sweareth shall be cut off as on that side according to it.

“On this side and on that side”.  Aan hierdie kant en aan daardie kant.  Nou die Afrikaanse vertaling vertaal dit nie so nie, maar dit is baie belangrik.  Want dit is dieselfde wat ons kry wanneer daar gepraat was van die wet van Moses, toe dit op twee tafels geskryf is.  Aan die eenkant en aan die ander kant.

Dit is die goddelike standaard waarmee God die wêreld gaan oordeel.  Dit is die maatstaf van God se oordeel.

Rom 2:1 Daarom is jy, o mens wat oordeel, wie jy ook mag wees, sonder verontskuldiging; want waarin jy ‘n ander oordeel, veroordeel jy jouself; want jy wat oordeel, doen dieselfde dinge.
2 En ons weet dat die oordeel van God na waarheid is oor die wat sulke dinge doen.

V2 sê, die oordeel van God is na waarheid.  Kan ek jou iets vertel.  God gaan jou nie oordeel op grond van werke nie, nie op grond van jou goeie dade nie, maar op grond van die waarheid.  En wat het Jesus gesê, wat is die waarheid?  Joh 17:17, “...U Woord is die waarheid.”  Die oordeel sal wees op grond van die Woord van God.

Jesus sê in,

Joh 5:24 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.

Maw die oordeel berus alles daarop of jy die woord hoor en Hom glo of nie.  Die Woord is die maatstaf.  Mense sal teen God se Woord geplaas word en as hulle Sy Woord oortree het en nie die offer wat Jesus gebring het vir sonde aanvaar nie, sal hulle geoordeel word.

2.    Die volledigheid van God se oordeel

Sag 5:3 Daarop sê hy vir my: Dit is die vloek wat uitgaan oor die ganse land...(over the face of the whole earth)

Alhoewel hierdie profesie direk hier op Israel van toepassing is, sluit dit ook al die nasies van die wêreld in. 

Wanneer Jesus in Openbaring 5 die boekrol neem met die sewe seëls en die seëls begin oopmaak, dan sien ons die oordele van God wat uitgegiet word.  Die oordele van die sewe seëls, die sewe trompette, die sewe bakke, al die dinge wat die groot verdrukking uitmaak.

So die boekrol met die sewe seëls, is die oordeel megillah.  Die is die boekrol met die al die vloeke teen sonde en dit gaan uit oor die hele wêreld.

Die rede hoekom dit ook nie net na Israel verwys nie maar die hele wêreld is,

3 Daarop sê hy vir my: Dit is die vloek wat uitgaan oor die ganse land; want ooreenkomstig daarmee sal al die diewe hiervandaan weggeruim word, en ooreenkomstig daarmee sal al die meinediges hiervandaan weggeruim word.

God gaan almal oordeel.  Al die diewe en al die meinediges.  Meinediges is hulle wat valslik sweer.  Hierdie oordeel sal begin by die begin die koninkryk, Sy ysterstaf gedurende die koninkryk en die wittroon by die einde.  En in al hierdie oordele is dit finaal en volledig.

Die Messias gaan nie boosheid verdra nie.  As daar enige boosheid is, sal Hy dit onmiddelik vernietig.  As daar mense is, gedurende die 1000 jaar regering wanneer Jesus met ‘n ysterstaf regeer, wat God se wet oortree, sal hulle onmiddelik Sy ysterstaf voel.

God sal nie meer swyg nie.  God sal nie meer dit toelaat nie.  God sal nie meer geduldig wees nie.  Gedurende die 1000 jaar sal enige oortreding onmiddelike oordeel word.
Maar as die mens uit genade deur die geloof gered is deur die bloed van Jesus Christus sê die Bybel in Rom 8 dat daar geen veroordeling mee is vir die wat in Christus Jesus is nie.  As iemand egter nie die saligheid van Jesus Christus ontvang het nie, sal hy/sy veroordeel word op grond van God se wet wat hulle oortree het.

Die vers sê, hulle sal weggeruim word.  Die KJV sê, they “shall be cut off”.  Dit is die Hebreuse woord “Naqah” wat beteken “om uitgewis te word”, “to be wiped out”.  Ons kry dieselfde woord in Jes 3:26 wanneer dit verwys na ‘n stad wat uitgewis is. 

Let op die totaliteit en volledigheid van oordeel.  Die maatstaf is die Woord van God, die volledigheid is almal wat sondig sal total en al uitgewis word.

3.    Die sekerheid van God se oordeel

Sag 5:4 En laat dit uitgaan, spreek die HERE van die leërskare, en dit sal kom in die huis van die dief en in die huis van hom wat vals sweer by my Naam; en dit sal binne-in sy huis vernag en dit verteer saam met sy balke en sy klippe.

Die KJV sê, “I will bring it forth...”  Die Here sê, Ek sal dit laat gebeur.

Openbaring 6 sê, mense sal uitroep dat die berge op hulle val en hulle sal verberg van die aangesig van God wat op die troon sit.  Dit is ‘n verskriklike oordeel.  En dit is verseker.  Dit sal kom in die huis van die dief.  Dit sal kom in die huis van hom wat vals sweer.  Dit is volledig en verseker.

Vandag leef ons in die tydperk van genade, waar God geduldig is en die evangelie gepreek word en Hy nie wil hê dat enige mens verlore moet gaan nie.  Waar Hy vir almal ‘n geleentheid wil gee om tot bekering te kom.

Maar met die dagbreek van die millennium koninkryk, wanneer Jesus kom, sal die vloek oor die hele wêreld uitgaan en dit sal elke sondaar in die wêreld uitwis en vernietig.  En wanneer daar sondaars gebore word tydens die 1000 vrederyk en hulle sondig, sal Jesus hulle met ‘n ysterstaf onmiddelik oordeel.

Jud 1:14 En Henog, die sewende van Adam af, het ook teen hulle geprofeteer en gesê: Kyk, die Here het gekom met sy heilige tien duisendtalle,
15 om gerig te hou oor almal en al die goddelose mense onder hulle te straf oor al hulle goddelose werke wat hulle goddelooslik gedoen het, en oor al die harde woorde wat die goddelose sondaars teen Hom gespreek het.

Dit is die eerste visioen wat Sagaria 5 oor praat, en dit het te doen met die oordeel van God op die sondaar.  Die tweede visioen het te doen met God se oordeel oor sonde self.  Ons sal volgende week daarna kyk.

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288