Friday 16 March 2012

Die Grootste Wêreld Oorlog


Teksgedeelte: 2 Kor 10:3-6

2 Kor 10:3 Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie;
4 want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp,
5 terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,
6 en ons gereed hou om elke ongehoorsaamheid te straf wanneer julle gehoorsaamheid volkome is.

Inleiding

Daar is oorlog aan die gang en hierdie oorlog is nie ‘n fisiese oorlog met kern wapens, missiele en vuurwapens nie.  Nee!  Dit is nie ‘n vleeslike stryd nie, maar ‘n geestelike stryd.  Ons kan ook nie hierdie stryd met vleeslike wapens voer nie.  Ek noem dit die grootse wêreld oorlog, want hierdie is die langste oorlog nog ooit en dit  het die meeste geestelike sterftes opgelewer.

Wat is hierdie oorlog?  Waaroor gaan dit? Dit is ‘n oorlog tussen die waarheid en leuens.  Ek wil vir julle sê dat die Bybelse waarhede is onder geweldige aanvalle van die vyand, die Satan.  Veral in hierdie tyd waarin ons leef.

En as jy ingeteken het in God se weermag, as jy ‘n soldaat van die Here is, dan het jy as’t ware gesê, ek sal die waarheid verdedig met my lewe.  Daarom is die opdrag in Judas 3 op elke Christen van toepassing.

Jud 1:3 Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.

Ons moet nie net stry nie, maar ons moet kragtig stry vir die geloof.  Die geloof wat eenmaal aan ons oorgelewer is.  Dit sluit in die Skrif, die Woord van God, die inhoud van hierdie Woord, die gesonde leer, die Openbaring van God aan ons.  Ons moet hiervoor stry.  Hierdie oorlog is egter nie net daar buite nie, maar ook binne die kerk.  Ons moet ook binne die kerk stry vir die waarheid.  Hoekom?

2 Tim 4:3 want daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.

Let op die woorde: “volgens hulle eie begeerlikhede.”  Die mens wil hoor waarvan hy hou, hy wil dit doen wat hom gelukkig maak en wat hom pas en nie wat die gesonde leer sê nie.  Dit gaan nie oor dit wat God sê nie, dit gaan oor wat hom pas.  Daarom keer hulle hulle af van die waarheid en wend hulle tot fables.

As jy jouself ‘n Christen gaan noem, dan moet jy die stryd gaan veg, daar waar die tyre die teer tref.  En die stryd vandag, en ook regdeur die geskiedenis, gaan oor die waarheid van die Skrif.  Die Bybel word ongelooflik aangeval deur die vyand.  Die waarheid van die Skrif word bevraagteken.  God se Woord word betwyfel.

God is die outeur en die bron van waarheid.  Satan is die outeur en die bron van leuens.  En hier is die oorlog.  God se waarhede teenoor Satan se leuens.  En Satan val die waarheid gedurig aan.  Jesus sê in,

Joh 8:44 (dat die duiwel)…was 'n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy 'n leuenaar is en die vader daarvan.

Hy is die vader van leuens.  En hy het alreeds van die begin af die waarheid aangeval met sy leuens.  Ons sien dit in Gen 3. 

Die sondeval het ontstaan agv ‘n konflik wat onstaan het tussen die waarheid en ‘n leuen.  Die konflik het gegaan oor, “wie vertel die waarheid?”  Het God die waarheid vertel of het die duiwel die waarheid vertel?  Eva het besluit dat dit die duiwel was wat die waarheid vertel het.

Die mensdom het nie in sonde geval primêr omdat Eva ‘n verbode vrug geëet het nie, maar die mensdom het in sonde geval omdat Eva ‘n leuen geglo het.  Die feit dat sy ‘n verbode vrug geëet het, was die gevolge van ‘n leuen wat sy geglo het. 

En dit vind ons regdeur die menslike geskiedenis.  Daar is mense wat God glo, en daar is mense wat God nie glo nie.  Daar is mense wat die Bybel glo en daar is mense wat die Bybel nie glo nie.

Daar is net een ding waarin die duiwel konstant is, en dit is wanneer hy lieg.  Wanneer jy die duiwel en sy trawante gaan bestudeer in die Bybel, sal jy sien dat hulle nooit konstant is nie.  Maar daar is een ding waarin hulle altyd konstant bly, en dit is dat hulle die waarheid haat en hulle vertel leuens.  Hulle doen dit om mense te mislei.

Ons sien dat die duiwel is die vader van leuens en hy vertel die eerste leuen in die Bybel.  Hy is die eerste leuenaar.  As gevolg van die mens se sondige natuur is dit dan ook so dat die mens kies om ‘n leuen te glo en die waarheid te haat.

Ek meen, watter mens sal die waarheid, dat God jou liefhet en Sy Seun gegee het om in jou plek te sterf, sodat jy die ewige lewe kan hê, watter mens sal dit nie wil glo nie?  Die beste geskenk wat ‘n mens ooit kan ontvang.  Maar mense kies om dit nie te glo nie.

In Gen 3:1 sê die slang vir die vrou

Gen 3:1 …Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?

Die slang kry vir Eva alleen, onbeskermd.  Adam, die een wat haar beskerm, die een wat haar hoof is, is nie daar nie.  Sy is broos.  En ek dink die slang het dit so beplan.   

Eerstens en let op!  Die eerste ding: die eerste woorde wat uit sy mond uit kom, is ‘n vraag?  Hy begin met ‘n baie onskuldige vraag.  Want hy wil hê dat sy God se woord moet betwyfel.  “Is dit ook so dat God gesê het…?”  Maw, “het God regtig dit gesê?”

‘n Letterlike vertaling sou wees: “So, God het gesê, het Hy, dat julle nie mag eet van al die bome van die tuin nie?  Het God dit gesê?”  Wat probeer die duiwel doen?  Hy probeer net ‘n gedagte by haar plant dat daar iets verkeerd is met God se opdrag.  “Het God regtig dit vir julle gesê?”

Dit is die eerste vraag in die Bybel.  Dit mag dalk die eerste vraag wees in die geskiedenis van die mensdom.  Dit is die eerste dilemma.  Daar was nog nooit ‘n dilemma gewees nie.  Daar was nog altyd net antwoorde gewees.  Alles was duidelik.  En die vraag is so gestel om Eva op ‘n rigting te plaas waar sy God se woord betwyfel.  En dit is die kern van sonde.

En vir die eerste keer het die dodelikste mag in hierdie wêreld in die mens se lewe ingetree.  En dit is die veronderstelling dat dit wat God gesê het onderhewig is aan menslike oordeel.  Wie het in elk geval die mens die reg gegee om God se woord te bevraagteken?  Eva het presies geweet wat God gesê het.  Sy het geweet dat God gesê het.

Gen 2:16 Van al die bome van die tuin mag jy vry eet,
17 maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.

Maar nou kom die duiwel en plaas hierdie gedagte in Eva se kop om God se woord te bevraagteken.  “Het God regtig gesê julle mag nie eet van al die bome in die tuin nie?”  Die implikasie is dit: “Hoekom sou God julle beperk?  Hoekom sou Hy dit doen?  Hoekom sou Hy so eng wees?  Wil God nie hê julle moet vry wees nie?  Het Hy dan nie vir julle ‘n vrye wil gegee nie?  Waar is julle vryheid?  Wil God nie hê dat julle kan doen net wat julle wil, watookal goed lyk, watookal goed voel, watookal julle plesier gee, watookal julle blydskap gee nie?  Hoekom beperk Hy julle so?”

Die duiwel skep die gedagte by Eva dat God hulle vryheid beperk, dat God baie eng is, dat God hulle regte wegneem.  Dalk is Hy nie so goeie God as wat hulle gedink het nie.  Dalk kan hulle Hom nie vertrou nie.  Hierdie is mos ‘n perfekte wêreld.  Hoekom sou Hy beperkinge plaas?

Dit is so asof die slang sê, “Ek kan nie glo dat God dit vir julle gesê het nie.  Hoekom sou Hy dit doen?”  So daar is ‘n gedagte van twyfel.  God se goedheid word onder verdenking geplaas.  God se woord word onder verdenking geplaas.  En dit is ‘n gevaarlike plek om te wees.

Eva verdedig dit so half hartiglik in v2&3

Gen 3:2 En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet,
3 maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe.

Nee man! Dit is nie so erg nie.  Dit is net een boom.  God het gesê: “Julle mag nie daarvan eet nie en dit nie aanroer/aanraak nie…”  Kyk mooi!  Het God dit gesê?  Nee!  God het nie gesê, hulle mag dit nie aanraak nie.  Hy het dit nooit gesê nie, maar Eva het reeds geval vir die duiwel se versoeking.  Sy sê dat God het gesê, wanneer God dit nie gesê het nie.  Sy plaas woorde in God se mond waarop sy besluit het om God se engheid te beklemtoon.  “Julle mag dit nie aanraak nie”.  God het dit nie gesê nie.

Die duiwel probeer haar op die plek kry waar sy verstaan dat hy is vir vryheid en menseregte en vrye wil en jou eie keuses en jou eie regte en jou geluk en jou vervulling.  Net die feit dat Eva nou woorde in God se mond plaas is klaar ‘n teken dat sy val vir Satan se versoeking.

Sy was veronderstel om God te verdedig.  Sy het God geken.  Sy het God se goedheid verstaan.  Sy het God se duidelike opdrag gehad.  Dit is nie dat sy nie verstaan het nie.  Sy moes klaar bedenklik gewees het oor die pratende slang.  Maar sy val vir sy leuens.

Luister!  As iemand nie ten volle en met sy hele hart en geheel en al in die Woord van God vertrou nie, het sonde reeds in sy hart ingetree.  Dit is waar die sondeval vandaan gekom het.  Die wantroue wat Eva gehad het in God se woord.  Die sondeval het gekom by ‘n verkeerde gedagte wat sy gehad het oor God.  “God is eng en Hy hou iets goeds terug vir my.”

Sy het God se woord bevraagteken en dit was nie aanvaarbaar nie.  En dit is waar sy geval het.  Sy het die waarheid verruil vir ‘n leuen.  So die eerste ding wat die duiwel vir jou sê is: Jy het die reg om God se woord te oordeel of te bevraagteken. 
Die tweede ding volg in v4

Gen 3:4 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie;

Hier draai die duiwel dit om.  Hy sê: “God het nie die waarheid gepraat nie, maar ek praat die waarheid.  Moenie die Woord van God glo nie, glo my”.  En dit is dieselfde ou ding: moenie die Bybel glo nie, maar glo hierdie ou of daardie ou of daardie profeet.  En so gaan dit aan. 

Satan doen homself voor as ‘n engel van die lig in ‘n duisend verskillende kostuums, maar sy boodskap bly nog altyd dieselfde. “Moenie God glo nie, Hy vertel nie die waarheid nie.  Jy sal nie sterf nie.  Daar is nie ‘n oordeel nie.  Daar is nie gevolge vir jou dade nie.  Jy kan Hom nie vertrou nie.  Hy is te eng en nougeset.  Hy wil jou van jou vryheid beroof.  Jy mag nie dit nie, jy mag nie dat nie.  Waar is jou vryheid?”  En so gaan hy aan.

Die duiwel sê vir jou “jy kan doen net wat jy wil, jy is vry, jy maak jou eie besluite, daar is geen grense nie.”

Die vraag in Eva se kop teen hierdie tyd is: “Waarom sou God dit doen? Hoekom sou Hy so wees?  Hoekom sou Hy sê ek gaan sterf as ek nie gaan sterf nie?  Hoekom is dit so belangrik dat hulle nie mag eet van die boom van die kennis van goed en kwaad?”  En dan gaan die duiwel verder en sê in v5

Gen 3:5 maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.

Eerstens plant die duiwel twyfel in God se Woord en tweedens plant hy nuwe gedagtes in haarr kop.  Gedagtes wat in stryd is met God se Woord.  Hy rig ‘n skans op teen die kennis van God.  Julle sal soos God wees.  Die KJV is reg vertaal wanneer dit sê,

KJV
Gen 3:5 For God doth know that in the day ye eat thereof, then your eyes shall be opened, and ye shall be as gods, knowing good and evil.

“Ye shall be as gods”.  Julle sal soos gode wees.  Maw jy kan ook ‘n god wees.  En ons weet dat dit is die geboorte plek van die New Age beweging.  Die New Age beweging is nie ‘n nuwe beweging nie, maar dit is die ou leuen van die slang.

En hierdie oorlog is steeds vandag aan die gang.  ‘n Oorlog tussen die waarheid en leuens.  Hierdie oorlog is ‘n oorglog vir mense se gedagtes.  As die duiwel eerstens twyfel in jou gedagtes kan saai, dan kom hy met allerhande leuens. 
Kom ons gaan terug na ons teksgedeelte in 2 Kor 10:

2 Kor 10:3 Want hoewel ons in die vlees wandel (en hier praat hy nie van sonde nie, maar hy praat hier van menslik), hoewel ons in die vlees wandel (alhoewel ons menslik is) voer ons die stryd nie volgens die vlees nie (maw ons voer nie die stryd met menslike wapens nie);
4 want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie (ons stryd is nie menslik nie), maar kragtig deur God om vestings neer te werp,

Ons wapens is kragtig deur God.  Nou, waarom het jy kragtige wapens nodig? Want ons v4, probeer om vestings neer te werp.  KJV sê “the pulling down of strongholds”.

“Vestings” is die Griekse woord “ochuroma” en verwys na ‘n kasteel (a fortress).  Die beeld wat hier geskets word, is dat ons nie ‘n klein huisie van papier probeer afbreek nie.  Ons is besig om groot kastele, “strongholds”, “fortresses” aan te val.  Ons probeer nie ‘n tent omgooi nie, ons probeer massiewe groot strukture, kastele of vestings neerwerp.  En luister!  Jy kan dit nie doen met kunsmatige of oppervlakkige of menslike wapens nie.

“Ochuroma” is ook die woord vir “‘n tronk”, of “‘n graf”.  Ons val hierdie dinge aan.  En waarvan praat Paulus dan.  Hy gebruik hier ‘n metafoor, ‘n vergelyking.  ‘n Kateel, ‘n tronk of ‘n graf is ‘n metafoor.  En dit word verduidelik in die volgende vers.

2 Kor 10:5 terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,

KJV
2 Cor 10:5 Casting down imaginations, and every high thing that exalteth itself against the knowledge of God, and bringing into captivity every thought to the obedience of Christ;

So wat is hierdie vestings, kasteel of tronk of graf wat ons moet aanval en afbreek?  Die Griekse woord is “logismas” = idees, ideologieë, spekulasies.  Die kastele of vestings wat ons aanval en neerwerp is verkeerde idees.  Godsdienstige, sielkundige, filosofiese, teoretiese, morele, intuïtiewe, geestelike idees.  Luister!  Geestelike oorlogvoering beteken nie om demone te jaag nie.  Geestelike oorlogvoering beteken om valse, verkeerde idees aan te val. 

Ons is agter mense se denke aan.  Nie emosies nie.  Ja, emosies volg.  Maar ons val mense se verjeerde denke aan.  Ons moet die ideologieë en idees van mense vernietig.  Verkeerde idees, leuens, wat soos kastele opgerig is.  En kyk wat gebeur, hierdie logismas word vir mense ‘n tronk en maak hulle gevangenisse en dit word vir hulle ‘n graf.

Hierdie “logismas” is elke skans, “every high thing” wat teen die kennis van God opgewerp word.  Enige goddelose idee is ‘n kasteel wat afgebreek moet word.
Nou sê julle vir my: Wat is die een wapen wat jy kan gebruik teen leuens en verkeerde idees?  Die waarheid.  Ons verkondig die waarheid teenoor “logismas”.  Verkeerde denke.  Leuens.  Die kragtige wapen van God is die waarheid.

Ons gebruik die woord van God.  Dit is die wapen wat Jesus gebruik het: daar staan geskrywe.  Dit is ons wapen van ons stryd.  Die swaard van die Gees, is die Woord van God. En wat is die doel?  V5 Om “…elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus”.  Daar het jy dit.  Ons is agter mense se gedagtes aan.   En die krag is in die woord, want die waarheid is in die woord.

Kom ek gee vir julle een van die grootste waarhede:  Lewe leef teologie.  Teologie is dit wat glo jy oor God.  Wat glo jy oor God?  Onthou wat het Eva begin dink oor God!

Spr 23:7 Want soos hy in sy siel bereken, so is hy…

Soos ‘n mens in sy hart bedink, so is hy.  Jy leef jou teologie.  Lewe leef teologie.  Almal doen dit.  Die mees dominerende ding in jou lewe, die sterkste en die kragtigste motivering in jou lewe is, wat jy glo oor God.

As jy oppervlakkige idees het oor God, dan is jy oppervlakkig in jou motivering oor God.  Jy kan nie iets uitleef wat jy nie glo is die waarheid oor God nie. 

Mense is bereid om dinge te doen en selfs te sterf in die naam van God of ‘n god.  Mense sal enigiets doen vir dit waarin hulle glo.  Dit is waarom Moslems bomme aan hulle liggaam vasmaak en hulleself opblaas, want hulle glo hulle doen dit vir God.  Dit is die nommer een rede waarom 915 volgelinge van Jim Jones, ‘n sekte in Amerika selfmoord gepleeg het, want hulle het dit gedoen in die naam van godsdiens.

Dit is die nommer een rede waarom Adolph Hitler 6 miljoen Jode doodgemaak het, want hy het geglo in die evolusie leer en “natuurlike seleksie”.  Hy het gedink hy doen die mensdom ‘n guns, deur die laagste klas mense uit te wis en so daardeur die menslike evolusie te bevorder.

Jy leef jou teologie.  Jy leef dit wat jy glo oor God.  En kan u sien waarom dit van so belangrik is dat ‘n mens nie leuens sal glo en op valse idees sal bou nie.  Daarom is ons enigste wapen, die Woord van God.

Heb 4:12 Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is 'n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.

Daar is net een wapen en dit is die lewende, kragtige wapen van die woord van God.  Luister!  Jesus sê,

Joh 8:31 …As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels.
32 En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.

Vry van logismas, vry van die tronk, vry van die graf.

Hoekom ek praat met u hieroor?  Luister!  Daar is ‘n oorlog aan die gang.  Hierdie oorlog is ‘n oorlog tussen die waarheid en leuens.  Daar is soveel verkeerde idees en leuens oor God.  Die Bybel se gesag word aangeval.  Daar is selfs Teoloë en Predikante wat nie meer hierdie Woord, elke woord, jota en titteltjie glo nie.

Matt 5:18 Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie.

Ek wil vir julle sê, ek glo in elke woord van hierdie Woord.  En dit is tyd dat die kerk sal opstaan en verkondig dat hierdie die onfeilbare, die onveranderlike, die ewige Woord van God is.

1 Pet 3:15 Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees.

Hoe goed doen ons as Christene in hierdie oorlog?  Kan ons vir mense sê soos wat Jesus gesê het, “Daar staan geskrywe…”?

Die duiwel is ook agter jou gedagtes aan en as jy nie jou gedagtes vul met die Woord van God nie, gaan hy twyfel in jou gedagtes saai.  As jy nie die Woord toelaat om oor jou te spoel en hart te vul nie, gaan jy later begin om leuens te glo.

Wil jy nie vandag ‘n keuse maak om God se Woord elke dag te bestudeer en toe te laat om jou te verander nie?  Die krag is in Sy Woord.  Die kragtige wapen waarmee ons vestings neerwerp is die Woord.

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288