2 Kor 5:20 Ons tree dan op as gesante om Christus wil,
asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God
versoen.
21 Want Hy het Hom wat geen sonde geken
het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.
Die hart van die evangelie gaan oor een ding en dit is verlossing, en die inhoud van verlossing is die plaasvervangende offer van Christus.
Predikers wat ‘n verlossing preek, sonder die bloedoffer, mis die hart en die
inhoud van die hemelse boodskap. Solank as wat ek op die kansel staan
en die Woord van God preek, sal ek en kan ek nie anders as om oor en oor
hierdie elementêre waarhede aan julle
te verkondig nie. Ek sal en ek kan nooit
die boodskap van saligheid verander nie.
Dit is belangrik dat ons ook ander waarhede sal preek, maar ons kan
nie die basiese beginsels
vergeet of nalaat nie. Dit is die fondasie
van ons geloof. Ons geloof is daarop
gebou. Ons moet ons harte bewaar en
hierdie waarheid, die eerste beginsels
van die geloof, verdedig met alles wat in ons is.
Daar is kerke wat vandag nie meer die
eerste beginsels van die geloof preek en verdedig nie, hulle hou hulleself
besig met allerhande menslike wyshede en
pragtige motiverings boodskappe.
Nee, kom ons hou vas aan die eerste beginsels, kom ons staan op die waarhede
van die Woord wat lewe gee, kom ons verklaar die fundamentele waarhede van die
evangelie van Jesus Christus.
Ek het geen begeerte om populêr te wees met enige ander
boodskap nie. Die mense moet maar van my
sê, hy preek maar daardie ou ou storie
van Jesus se liefde. Dit sal altyd die
inhoud wees van my boodskap:
Op 1:5 “…Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons
sondes gewas het in sy bloed.”
Dit is die boodskap wat ek wil verkondig, dat daar ‘n God in die hemel is wat ons so liefgehad het, terwyl ons nog ‘n
sondaar was en dat Hy ons sondes met Sy
bloed wegwas, wanneer ons ons tot Hom bekeer.
1. 2 Kor 5:21
2 Kor 5:21 Want Hy het Hom wat geen
sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van
God in Hom.
Hier leer ons van die plaasvervangende dood van Jesus Christus. Dit is hierdie waarheid waarvan mense van bewus moet wees. Luister!
Daar is niks wat die mens se hart
so kan aanraak soos die kruisdood van Christus nie.
En wanneer die hart aangeraak en gewond is met die twee snydedende swaard van die
wet, kan niks anders daardie wonde
genees soos die salf wat vloei van Jesus se deurboorde hart nie. Die
kruis is lewe vir die wat geestelik dood is.
Daar bestaan nie so iets dat ‘n mens vir God kan leef en heilig kan lewe, sonder hierdie lering van die dood van
Christus in die plek van die mens nie.
Die Heilige
Gees moet eers
die hart van klip, waarin daar geen hartklop is nie, verwyder en ‘n hart van vlees gee, dan kan die
mens hierdie waarheid ken. Hulle wat
oppad is na ‘n ewigheid sonder God,
wat verlore is, wat vasgevang is in die greep van sonde.
Dis selfs op hulle waarop God hierdie lig wil laat skyn. Die ou ou storie van die groot Liefling van die mens se
siel wat Homself gegee het vir hulle verlossing. Dit is hierdie storie wat steeds vandag die grootste krag is tot redding vir
die wat glo.
Geen ander
storie, geen
ander evangelie, geen ander boodskap wat die mens kan aangryp, soos die
evangelie van Jesus Christus nie.
Hierdie is die belangrikste waarheid, en dit is dat God die mens sien in sy
verlore toestand agv sy sonde, dat God die
sonde van die mens neem en dit
op sy enige gebore Seun plaas,
wat Hom sonde vir ons gemaak het, al het Hy geen sonde geken nie, en nou kan hy
wat in Jesus Christus glo, geregtigheid van God in Christus word. Christus
word sonde gemaak, sodat sondaars geregverdig kan word.
Die verse wat ons gelees het sê: “…Hom wat geen sonde geken het nie.”
Ons
plaasvervanger was
onbesmet, onskuldig, en rein. Hy het
geen sonde geken nie. Jesus Christus,
die Seun van God, het vlees geword en
onder ons kom woon; en alhoewel hy vlees geword het, het hy nie sonde geken
nie.
Op Hom was
sonde geplaas,
nie dat Hy skuldig was of daardeur skuldig geword het nie. Hy was nie, en kon nie, ‘n sondaar wees
nie. Hy het geen persoonlike kennis van sonde gehad nie.
Deur sy hele lewe het Hy nooit die wet oortree nie. Die wet
was in sy hart, dit was in Sy natuur om heilig te wees. Hy kon sê:
Joh 8:46 “Wie van julle oortuig My van sonde?…”
Selfs ‘n aardse regter, Pilatus, het gesê:
Mark 15:14 “…Watter kwaad het Hy dan
gedoen? Hulle skreeu toe nog harder: Kruisig Hom!”
Daar was nie een getuie in Jerusalem wat teen Hom kon getuig nie. Soos die Jode die paaslam ondersoek het, voordat hulle dit geslag het, so het die skrifgeleerdes, die Fariseërs en die
wetgeleerdes, die heersers en prinse, Jesus ondersoek, en geen fout in Hom
gevind nie. Hy was die Lam van God, sonder
vlek of rimpel.
Ons verse sê verder “…Hy het
Hom…sonde…gemaak…”
Maar Hy het op Homself die gelykheid van die sondige vlees geneem. Dit sou vir ‘n sondige mens nie soveel moeite
gewees het om saam met ander sondige
mense te lewe nie, maar dit sou ‘n groot smart wees vir die een wat rein
van hart is om in die gemeenskap van losbandiges te wandel.
Watter smart was dit nie vir die rein en volmaakte Christus wat saam
met die roekeloses, die selfsugtiges, en die onheiliges moes bly nie. Hoeveel
meer nog dat Hy die sonde
van daardie skuldige mense op homself
moes neem. Geen mens sal dit ooit
kan begryp nie.
Die Bybel sê Hy is sonde gemaak. God het
die gewig van sonde op Jesus, wat Homself vrywilliglik beskikbaar gestel het, geplaas. Jesus het dit gedoen, sodat ons wat skuldig
was, geregverdig kan word, terwyl Hy wat geen sonde geken het nie, behandel was
as die skuldige een.
Die
natuurlike mens
kan hierdie waarheid nie begryp nie, want dit is die werk van God. Dit is die grootste wonderwerk. En
wonderwerke kan alleenlik deur geloof aanvaar word as wat ‘n mens dit wil
probeer uitwerk.
Christus was
nie skuldig nie,
en kon nie skuldig gemaak word nie, maar word behandel asof Hy skuldig
was. Hy was nie net as ‘n sondaar
behandel nie, maar was behandel asof Hy
sonde self is.
Hy het die gewig daarvan gevoel in die tuin van Getsemane, dat Hy bloed
gesweet het. Hy het die volle gewig daarvan gedra op die kruis. Daar in sy donkerste ure het Hy meer gedra as
wat ons ooit sal kan besef.
Jes 53:12 “…omdat Hy sy siel uitgestort
het in die dood en saam met die oortreders getel was…”
‘n Mens kan nie eers probeer om te beskryf wat Hy
alles deurgemaak het vir ons nie. Die kruis van Golgota spreek van die wraak wat God geneem het teen
sonde. Dit was die plek waar God sy strafstok laat val het op die sonde
van die wêreld. Dit is op die kruis waar
God afgereken het met die sonde
van die wêreld. Dit is hier waar ons God se haat vir sonde sien.
Die vraag is: wie het dit gedoen? Ons
skrifgedeelte sê: Hy het Hom…sonde
vir ons gemaak. Dit was God self wat Sy Seun gekies het en Hom
sonde gemaak te het vir die skuld van
die wêreld. Hierdeur bewys God Sy
goddelike soewereiniteit, deur
die feit dat Hy gedoen het wat geen iemand anders kon doen nie.
Dit sou nie moontlik wees vir almal
van ons om sonde op Jesus se skouers te lê nie. Maar dit was moontlik vir die groot Regter, wat in sy alwysheid
besluit het dat dit so moes wees.
Die dood van Jesus openbaar goddelike geregtigheid. Dit was hoe God dit wou hê, en dit is hoe Hy
sy liefde bewys, deur wraak te neem teen sonde.
Watter tipe regter in
Suid-Afrika deel straf uit aan misdadigers en moordenaars? ‘n Baie goeie regter. ‘n Regter wat nie misdadigers laat boet
vir dit wat hulle gedoen het nie, doen onreg aan die res van die mensdom.
As ‘n goeie regter, reg laat geskied teen misdadigers, hoeveel te meer
sal God wat ‘n goeie God is, en ‘n Goeie Regter is, nie reg laat geskied
nie. As daar moordenaars, verkragters,
diewe, rowers, in hemel was, sou die hemel
nie hemel gewees het nie.
God doen nie
ongeregtigheid
om Sy genade te betoon nie. God spaar
nie die skuldiges om so sy goedertierenheid te bewys nie. Elke
oortreding en ongehoorsaamheid dra
straf. Maar deur die offer van Christus is die straf
gedra. Die volkome prys van sonde is betaal deur die versoening wat gemaak
is, om so aan die eise wat die wet gestel het, te voldoen.
So sien ons die genade van God deur die plaasvervangende offer. Hierdie saligheid was die werk van God self, en geen mens het of kon enige bydrae gemaak
nie.
En omdat God hierdie versoening bewerk, kon niemand dit beter gedoen het
nie. Net soos God aan Abraham ‘n offer voorsien het op
die plek wat Abraham genoem het, Jahwe
Jireh, die Here het voorsien, so het God ‘n offer voorsien vir jou en
vir my om in ons plek te sterf.
Luister! As God te vrede is met die offer van Sy Seun Jesus, hoeveel te meer moet ons nie te vrede wees nie? Sal ons, onsself nie in Hom verlustig,
deurdat Hy ons met so ‘n offer red nie. ‘n Offer wat Hy self gekies het, wat Hy
self voorsien het, en wat Hy
aanvaar. “Hy het Hom wat geen
sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak.”
Die vers sê ook: “sodat
ons kan word geregtigheid van God in Hom.”
Elke mens wat in Jesus glo, word geregtigheid van God in
Hom. Ons word geregverdig deur geloof in Christus Jesus.
Rom 5:1 Omdat ons dan uit die geloof
geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus;
Ons word nie net gemaak om die karakter van “regverdiging”
te hê nie, maar ons word die inhoud van
geregtigheid. Ek dink nie ons kan
dit regtig begryp wat dit beteken om geregtigheid te word nie, maar dit is
beslis nie ‘n netelige saak nie. Dan sê
dit verder dat ons nie net geregtigheid word nie, maar ons word die geregtigheid van God. Hierin lê ‘n groot verborgenheid.
Die
geregtigheid wat Adam
gehad het in die tuin van Eden was perfek,
maar dit was die geregtigheid van ‘n
mens. Ons is die geregtigheid
van God. Die geregtigheid van ‘n mens het misluk. Maar die
gelowige het ‘n goddelike
geregtigheid wat nooit kan
misluk nie. Die gelowige het nie
net geregtigheid nie, maar hy is geregtigheid.
Ons vers sê: “sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.”
Hoe
aanvaarbaar
moet die mens nie vir God wees, wat deur Hom die geregtigheid van God gemaak is
nie? Hoeveel meer aanvaarbaar kan jy
wees as dit?
Kom ons som
dit alles op:
Christus word sonde gemaak, alhoewel hy nie sonde geken het nie. Ons
word geregtigheid gemaak,
alhoewel ons nie in onsself en deur onsself geregverdig is nie.
Kan u dit raaksien vanaand! As jy nog
nie wedergebore is nie, wil jy
nie vandag die groot Plaasvervanger wat God voorsien het in Sy Seun Jesus
Christus aanvaar nie, dan sal jy sien hoe jou sondes weggewas word en
geregtigheid jou deel word.
Jou sonde was op Jesus geplaas, hulle is nie meer daar nie, want Hy het dit
begrawe. Daar is reeds voorsiening gemaak vir jou in Hom. Maar jy word alleen geregverdig in Hom.
Daar is nie beter goeie nuus as dit wat ek jou nou vertel nie. Daardie swaar gewig van sonde wat op jou skouers is en die vloek van daardie las wat jy dra. Dit kan weggeneem word, as jy die Here Jesus
Christus bely en in jou hart glo.
- (eerste gedeelte van ons teksgedeelte) 2 Kor
5:20
2 Kor 5:20 Ons tree dan op as gesante (ambassedeers/ verteenwoordigers) om Christus wil, asof God deur ons
vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen.
(CEV)
2 Cor 5:20 We were sent to speak for
Christ, and God is begging you to listen to our message…”
Aan God se kant is daar ‘n welwillendheid om te versoen. Hy het ‘n weg gemaak waardeur jy kan kom.
Dit het Hom duur gekos,
maar vir jou is dit vernuut. God kon nie sy oordeel opgee, want daardeur sou Hy Sy eie eer vernietig
nie, maar Hy het Sy Seun opgegee. Sien hoe graag wil God jou ontmoet. Sien hoe gewillig is Hy.
Ons bid julle om Christus wil: “…laat julle met God versoen.”
Hoekom sou jy nie vrede met God wou hê, terwyl Hy graag met jou wil versoen
nie? God sal geen mens wegwys wat na Hom
toe gaan en met Hom wil versoen nie.
God het
alles gedoen,
sodat jy met Hom kan versoen. Hoekom sou
jy nie met Hom wou versoen nie?
Die persoon wat nie die Here wil dien nie; hoe kan hy so min dink van die dood van God se Seun? Dit is die grootste wonder in die ewigheid. Hoekom sou iemand die ewige lewe nie wou aanvaar nie? Hoekom sou enigiemand die ewige dood kies? Hoekom
sou enigiemand die Een wou verwerp
wat vir jou lewe kan gee?
Mat 11:28
Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.
29 Neem my
juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle
sal rus vind vir julle siele;
30 want my juk is sag en my las is lig.
Die Here sê vandag: Kom na My toe.
Joh 7:37 En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus
gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en
drink!
Wil jy nie
reageer op die roepstem
van die Here nie? Hoor die woorde van
God: “Laat julle met God versoen.”
No comments:
Post a Comment