Wednesday 18 April 2012

Die kroning van die Koning


Sag 6:9 En die woord van die HERE het tot my gekom en gesê:
10 Neem aan van die ballinge, uit die hand van Heldai, Tobía en Jedája—kom jy op dieselfde dag en gaan na die huis van Josía, die seun van Sefánja, waar hulle uit Babel aangekom het—
11 neem dan aan silwer en goud, en maak ‘n kroon en sit dit op die hoof van Josua, die seun van Jósadak, die hoëpriester,
12 en sê vir hom dit: So spreek die HERE van die leërskare: Kyk, daar kom ‘n Man wie se Naam is Spruit, en Hy sal uit sy plek uitspruit, en Hy sal die tempel van die HERE bou.
13 Ja, Hy sal die tempel van die HERE bou, en Hy sal majesteit verkry en sit en heers op sy troon; ook sal Hy ‘n priester wees op sy troon, en die raad van vrede sal tussen hulle twee bestaan.
14 En die kroon moet as gedagtenis bly aan Helem en Tobía en Jedája, en aan die vriendelikheid van die seun van Sefánja in die tempel van die HERE.
15 En die wat ver is, sal kom en aan die tempel van die HERE bou. Dan sal julle weet dat die HERE van die leërskare my na julle gestuur het. En dit sal so wees, as julle nougeset luister na die stem van die HERE julle God.

Ons het twee weke gelede gekyk na die vestiging van God se koninkryk op aarde en die visioen wat Sagaria gesien het, hier in hoofstuk 6.  Ons sien dat God eers gaan afreken met sonde, sondaars en die bose wêreldse sisteem.  Wanneer Jesus kom gaan God se oordeel begin in die Kidron vallei, oos van Jerusalem en dit gaan versprei oor die hele aarde.

Wanneer dan met sonde afgereken is, sal God se Gees tot ruste kom.  En voordat dit nie alles gebeur nie kan Israel nie in die koninkryk inkom nie.  Ons kom dan by die tweede punt van die vestiging van Christus se koninkryk op aarde.

2. Die kroning van die Koning

V9 is nie ‘n visie nie, maar eerder ‘n Woord van die Here, na al die visioene wat Sagaria gehad het.  Die visioene is verby en nadat Sagaria al die visioene oor die toekoms gesien het, kry hy ‘n woord van die Here wat daardie volgende dag gebeur het, soos ons kan sien in die geskiedenis.  Maar hierdie gebeurtenis is in ‘n sekere sin simbolies vir die kroning van die Here Jesus Christsus in die toekoms.

En hierdie is sekerlik een van die ongelooflikste gedeeltes in die Bybel wat gaan oor die verhoging van Jesus Christus as Koning.  Dit is die klimaks van die mens se geskiedenis.  Dit gaan nie soseer oor ‘n gebeurtenis nie, maar oor ‘n persoon.

Vir die Jode is die hoogste klimaks van die geskiedenis, die koms van die Messias, ‘n persoon.

Sag 6:9 En die woord van die HERE het tot my gekom en gesê:

So hier is nie ‘n visioen nie, hierdie is die Woord van die Here.  Hy sien nie iets nie, hy hoor die Woord van die Here.

Sag 6:10 Neem aan van die ballinge, uit die hand van Heldai, Tobía en Jedája—kom jy op dieselfde dag en gaan na die huis van Josía, die seun van Sefánja, waar hulle uit Babel aangekom het—

So wat gebeur hier?  Al was daar baie mense reeds terug in Palistina en baie wat terug gekom het van Babilon af waar hulle gevange was, was daar nog steeds ander daar.  En so nou en dan het ‘n klomp Jode terug gekom van Babilon af na Israel toe.

En op hierdie spesifieke dag het ‘n klomp Jode terug gekom.  Hulle baie jare later terug gekom van Babilon af, na die ander Jode.  En hierdie groep wat nou terug kom was ‘n interresante groep.  Daar was ‘n paar interresante ouens.  Heldai, Tobia, Jedaja e Josia.

Hierdie ouens kom van Babel af, maar hulle kom nie met leë hande nie.  Hulle kom met goud en silwer, maar die rede hoekom hulle kom met goud en silwer is omdat hulle wil bydra tot die opbou van die tempel. 

Kyk wat beteken hierdie ouens se name: Heldai beteken “die Here se wêreld”, Tobia beteken “God is goed”, Jedaja beteken “God weet”, en Josia beteken “die Here ondersteun”.  So hulle name spreek van God se karakter.

So net na die visioen, op dieselfde dag kom daar ‘n groep Jode van Babel af met goddelike voorsiening.  En Sagaria word gevra om hulle te gaan ontmoet.  En dan lees ons in v11,

Sag 6:11 neem dan aan silwer en goud, en maak ‘n kroon en sit dit op die hoof van Josua, die seun van Jósadak, die hoëpriester,

Maw hulle bring goud en silwer vir die tempel, maar hulle vat dit en maak ‘n kroon.  Ons vertaling sê “’n kroon”.  Maar in die Hebreeus is dit in die meervoudsvorm.  Hulle moet krone, meervoud maak.  Die KJV is reg vertaal.

Zec 6:11 Then take silver and gold, and make crowns...

Maar die bedoeling is nie hier dat hulle ‘n klomp krone gemaak moet word nie.  Dit verwys eerder na ‘n saamgestelde kroon.  ‘n Kroon wat saamgestel is uit goud en silwer.  Die kroon word dan op die hoof van Joshua gesit, die seun van Josadak, die hoëpriester.

Nou dit is baie vreemd in die Ou Testament, want die priesterlike amp en die koninklike amp was altyd van mekaar geskei.  Jy kon nooit priester en koning wees nie.  In 2 Kron 26 sien ons waar die Koning Ussía die rol van ‘n priester wou opneem.  En kyk hoe het God gereageer.  Die Here het hom aangetas met melaatsheid.  En hy is oorlede.

‘n Koning was nie ‘n priester nie en ‘n priester was nie ‘n koning nie.  Hoekom sou hulle dan ‘n kroon op die hoëpriester Josua se hoof sit?  Want dit is net ‘n beeld.  Dit is ‘n beeld van Jesus Christus.  Daar is net Een priester wat ‘n koning kan wees, dit is Jesus Christus.  Christus is die Koning Priester. 

So Sagaria kry ‘n Woord van die Here en dit simboliseer die kroning van die Hoëpriester, naamlik Jesus Christus.

Sag 6:12 en sê vir hom dit: So spreek die HERE van die leërskare: Kyk, daar kom ‘n Man wie se Naam is Spruit, en Hy sal uit sy plek uitspruit, en Hy sal die tempel van die HERE bou.

Daar kom ‘n Man wie se Naam is Spruit... Na wie verwys dit?

Joh 19:5 En Jesus het uitgekom buitentoe en die doringkroon en die purperkleed gedra. En Pilatus sê vir hulle: Dáár is die mens (man)!

Pilatus het dit nie geweet, maar hier weerklink hy die woorde van Sagaria. “Behold the Man” (KJV).  Die Messias, die finale Koning Priester was ‘n mens.  As die Jode nie so blind was nie, sou hulle die profesieë van Sagaria onthou het.  Weereens dra Hy ‘n kroon.  Hy is God wat mens geword het.

Dan sê Sagaria, “’n Man wie se Naam is Spruit...” Die KJV sê, “behold the man whose name is The BRANCH;”  En dit is die titel wat in die Ou Testament op baie ander plekke gegee word vir die Messias.

Let op!  Dit gaan hier oor die verhoging en kroning van ons Verlosser en Saligmaker, Jesus Christus.  En hier word ‘n paar dinge oor Hom gesê:

Sag 6:12 ...(1) en Hy sal uit sy plek uitspruit, en Hy sal die tempel van die HERE bou.

Dit weergalm die woorde van Jes 53:2

Jes 53:2 Hy tog het soos ‘n loot voor sy aangesig opgespruit en soos ‘n wortel uit droë grond...

Wat beteken dit?  Dit beteken dat Hy uit Sy eie mense en Sy eie land sal opgroei.  En toe Hy 12 jaar oud was het hulle gesê, “Hy het toegeneem in wysheid en in grootte en in genade by God en die mense.”  Hy het as ‘n mens opgegroei onder mense, maar Hy was ook God.  Hy was een van die volk Israel.

Sag 6:12 ...en Hy sal uit sy plek uitspruit, en (2) Hy sal die tempel van die HERE bou.

Julle weet wat gebeur met Jesus se eerste koms.  Hy het die tempel gereinig en net daarna weggegaan.  God het in 70 nC gekom en die tempel vernietig.  Maar daar kom weer ‘n dag in die toekoms wanneer die God die Messias gaan stuur om weer die tempel te herbou.

In Eseg 40-42 kry ons ‘n beskrywing van hierdie tempel wat Hy gaan opbou tydens Sy Koninkryk op aarde.  Hy gaan ook nie die hulp van mense nodig hê nie.  Hy self sal dit opbou.  Die Koninkryk sal ‘n tyd wees waar die hele wêreld Hom sal aanbid of hulle sal onmiddelik geoordeel word.  Hy sal met ‘n ysterstaf regeer.

Sag 6:13 Ja, Hy sal die tempel van die HERE bou, en (3) Hy sal majesteit verkry en sit en heers op sy troon; ook sal Hy ‘n priester wees op sy troon, en die raad van vrede sal tussen hulle twee bestaan.

Vers 13 herhaal dit weer, en dan derdens, “Hy sal majesteit verkry”, “he shall bear the glory.”  Wat ‘n ongelooflike verklaring.  Hy sal geklee wees met heerlikheid en eer.  Hy sal ontvang wat Hom toekom.  Hy sal die majesteit verkry.

Jes 42:8 Ek is die HERE, dit is my Naam; en my eer sal Ek aan geen ander gee, of ook my lof aan die gesnede beelde nie.

In daardie dag sal alles Syne wees en ons sal deel wees van die kore wat sing van Sy lof en eer.  Die Een wat verneder was sal gekroon word.

Sag 6:13 Ja, Hy sal die tempel van die HERE bou, en Hy sal majesteit verkry en sit en (4) heers op sy troon; ook sal Hy ‘n priester wees op sy troon, en die raad van vrede sal tussen hulle twee bestaan.

Hy heers as Koning en sal Priester wees op Sy troon.  Koning en priester het eenvoudig nie gemeng nie.  Daar is geen manier dat een persoon beide kon wees nie.  Maar nie met Christus nie.  Wanneer Hy kom, gaan Hy Koning en Priester wees.

Psa 110:4 Die HERE het gesweer, en dit sal Hom nie berou nie: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek.

En watse soort priester was Malgisedek?  As jy terug gaan Genesis toe, dan lees jy van hom.  Hy was ‘n priester wat ook ‘n koning was.  So sal die Messias ook wees.  Hy regeer nie net as Koning nie, maar Hy tree vir ons ook in as Priester.

Sag 6:13 Ja, Hy sal die tempel van die HERE bou, en Hy sal majesteit verkry en sit en heers op sy troon; ook sal Hy ‘n priester wees op sy troon, en (5) die raad van vrede sal tussen hulle twee bestaan.

Maw Hy sal vrede maak tussen die twee, tussen die amp van die koning en die amp van die priester.  Wat sal dit dan beteken?  Julle weet in die wêreld vandag is daar ‘n duidelike skeiding tussen die kerk en die staat.  Maar nie in Jesus Christus se koninkryk nie.  Hy sal die twee harmoniseer.  Hy sal die twee in een bring.

Selfs in Israel se geskiedenis sien ons hoe die konings sleg was en korrup.  Aan die ander kant was die priesters en die profete wat na God toe uitgeroep het.  Hoeveel keer in die wêreld was daar nie ‘n verskriklike teenstelling tussen godsdiens en politiek nie?  Kerk en politiek gaan eenvoudig nie saam nie. 

Maar net in Jesus se Koninkryk.  Want dieselfde Een wat regeer is dieselfde Een wat intree en wat die aanbidding van God die maatstaf maak vir elke mens.  Daar sal geen verdeeldheid wees nie en geen onenigheid nie.

Sag 6:15 (6) En die wat ver is, sal kom en aan die tempel van die HERE bou...
Wie is hulle wat ver is?  Vir die Jode is hulle wat ver was die heidene.  Jy kry dieselfde frase in Efesiërs, ook in Romeine.  Hulle wat ver was het naby gekom.  Hulle is die heidene.  En hulle sal kom en aan die tempel van die Here bou.  Let op!  Hulle sal aan die tempel bou.  Hulle sal nie DIE tempel bou nie, maar aan die tempel bou.  Die Heilige Gees vergeet nie om ‘n voorsetsel in te sit nie.

Christus gaan Sy tempel bou en die wat ver is gaan aan die tempel bou.  Hulle gaan ‘n bydrae maak aan die tempel.  Daar gaan mense wees wat nie deel was van die volk nie wat God se volk sal word in die koninkryk.

Jes 2:2 En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom.

Al die nasies sal daarheen stroom.

Jes 2:3 En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem.

Al die nasies in die koninkryk sal die ware en enigste God aanbid.  Christus sal deur al die nasies aanbid word oor die hele wêreld.  Ons kry dieselfde verklaring in Miga 4:1&2.  Die heidene sal kom en God aanbid.

Sag 6:15 En die wat ver is, sal kom en aan die tempel van die HERE bou. Dan sal julle weet dat die HERE van die leërskare my na julle gestuur het...

Wanneer Jesus kom en Sy koninkryk op aarde gaan oprig, gaan mense nie onseker wees en vrae vra of hierdie profesie 100% akkuraat is nie.  Daar is baie mense vandag wat nie glo dat Jesus letterlik gaan terug kom nie.  Baie glo nie in ‘n fisiese letterlike koninkryk op aarde nie.

Maar Sagaria sê, dat wanneer hierdie dag aanbreek sal almal weet dit het aangebreek.  Julle sal weet dat die Here van die leërskare my na julle gestuur het.  Die bevestiging van hierdie profesie is Jesus Christus self wat kom.  Hy is die bevestiging van God se waarheid.

Sag 6:15 ...En dit sal so wees, as julle nougeset luister na die stem van die HERE julle God.

Beteken dit dat die koninkryk van die Here is van ons afhanklik nie?  Nee.  Dit beteken dat hulle deelname in die koninkryk hang van hulle af.  Die vervulling van die koninkryk sal plaasvind, want God het dit so beplan.  Maar of jy daarvan gaan deel wees of nie hang af of jy na Sy stem gaan luister of nie.

Dit is waar dat die koninkryk nie gaan kom nie voordat God geoordeel het en Israel gered het nie.  Maar dit is God se plan wat Hy gaan uitvoer.  En dit sal so wees vir jou as jy nougeset wandel en luister na die stem van die Here.  Nie almal gaan nie. 

Wanneer Christus gaan kom, sal die hele Israel gered word, maar dit beteken nie dat elke Jood gered sal word nie.  Dit beteken net Israel as nasie in die algemeen sal gered word.  Hoekom?  Want Eseg 20:28 sê dat selfs dan sal daar Jode wees wat sal rebelleer en God sal hulle verwyder.

Jy sien die koninkryk sal kom en God sal dit in laat plaasvind, maar net die gehoorsame wat luister na Sy stem sal daaraan deelhê en dit geniet.

Slot

Wat leer ons oor Christus?  Hy groei op, spruit op uit Israel, Hy kom om Sy duisendjarige tempel te bou, Hy sal met heerlikheid beklee wees, Hy sal as Koning en Priester regeer, Hy sal vrede maak tussen die twee ampte, Hy maak die koninkryk beskikbaar vir al die nasies van die wêreld, Hy kom Sy Woord bevestig en laastens beveel Hy gehoorsaam aan Sy Woord.

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288