Monday 2 April 2012

God se oordeel oor sonde

Ons het laas week gekyk na Sag 5:1-4 en ons het gekyk na die eerste visioen wat gegaan het oor God se oordeel oor sondaars. 

Ons het gesien dat die maatstaf waarmee God oordeel is die Woord van God.  Dit is die Woord van God wat die oorlegginge en gedagtes van ons hart beoordeel. 

Ons het ook gesien dat God se oordeel is volledig.  God gaan met alle sondaars afreken.  God gaan nie meer swyg nie.  Christus sal in die 1000 vrederyk met ‘n ysterstaf regeer.

En dan het ons ook gesien dat God se oordeel is verseker.  God sal dit laat gebeur.  Ja, God is lankmoedig en wil nie hê date en verlore moet gaan nie, maar daar gaan ‘n dag aanbreek wanneer Hy verseker gaan optree teen sondaars.

Die tweede visioen het dan te doen met God se oordeel oor sonde.

Sag 5:5 Daarop kom die engel vorentoe wat met my gespreek het, en sê vir my: Slaan tog jou oë op, en kyk wat daar te voorskyn kom.
6 Toe sê ek: Wat beteken dit? En hy antwoord: Dit is die efa wat te voorskyn kom. Verder het hy gesê: So lyk hulle in die ganse land.
7 En meteens word daar ‘n looddeksel opgelig, en daar was ‘n vrou wat binne-in die efa sit.
8 En hy sê: Dit is die goddeloosheid. En hy het haar binne-in die efa teruggewerp en die looddeksel op die opening daarvan gegooi.
9 Toe slaan ek my oë op en kyk—daar kom twee vroue te voorskyn met die wind in hulle vlerke; en hulle het vlerke gehad soos die vlerke van ‘n groot sprinkaanvoël, en hulle het die efa weggevoer tussen die aarde en die hemel.
10 Daarop sê ek aan die engel wat met my gespreek het: Waarheen bring hulle die efa?
11 En hy antwoord my: Om vir haar ‘n huis te bou in die land Sínear; en is dit klaar, dan word sy daar op haar plek neergesit.

v6 sê, “Dit is die efa wat te voorskyn kom” .  Wat is “die efa”? Die freedictionary of Farley sê dit is,

“An ancient Hebrew unit of dry measure, equal to a tenth of a homer or about one bushel (35 liters).”

‘n Efa was ‘n vat waarmee hulle graan afgemeet het of meel of gars gedra het.  Dit was die grootste maat waarmee hulle graan afgemeet het.  Dit was groot genoeg vir ‘n kort person om in te pas.  So wat sien Sagaria?  Hy sien ‘n efa wat vol is en wat dit beteken is dat Israel se maat van sondes is vol.  Israel se sondes het opgehoop.

Die sondes waarna Sagaria dan hier spesifiek verwys, was Israel se sonde van materialisme.  En dit is presies wat in die laaste dae ook sal wees.  God sal na die mensdom kyk en die ganse aarde sal vol wees van die sonde van materialisme.  Die efa wat die maatemmer is van graan, spreek dan ook van handel en ekonomie.

Let dan op wat v7 sê,

Sag 5:7 En meteens word daar ‘n looddeksel opgelig, en daar was ‘n vrou wat binne-in die efa sit.

Wat is hierdie vrou wat in die efa sit?

Sag 5:8 En hy sê: Dit is die goddeloosheid.  En hy het haar binne-in die efa teruggewerp en die looddeksel op die opening daarvan gegooi.

God hou die deksel op boosheid , niemand kan uitklim nie, wanneer God sonde gaan oordeel en uitwis sal daar nie een graan van sonde buite die efa wees nie.  God gaan met alle sonde afreken.

Let op wat sê die einde van v6, “So lyk hulle in die ganse land.”  Die KJV sê, “This is their resemblance through all the earth.”  Die efa is die maat van die ganse aarde se goddeloosheid.  Jakobus 5 beskryf die goddeloosheid, die materialisme en selfgesentreerde rykdom van die laaste dae.  Hy sê,

Jak 5:1 Kom nou, julle rykes, ween en huil oor die ellendes wat oor julle kom.
2 Julle rykdom is bedorwe, en julle klere is deur die motte verniel.
3 Julle goud en silwer is verroes, en hulle roes sal tot ‘n getuienis teen julle wees en sal soos ‘n vuur julle vlees verteer. Julle het skatte vergader in die laaste dae.
4 Kyk, die loon van die arbeiders wat julle lande afgeoes het, wat deur julle agtergehou is, roep uit; en die geroep van die maaiers het gekom tot in die ore van die Here van die leërskare.
5 Julle het op die aarde ‘n weelderige en losbandige lewe gelei; julle het jul harte vet gevoer soos op ‘n slagdag.
6 Veroordeel, vermoor het julle die regverdige; hy versit hom nie teen julle nie.

Daar kom ‘n dag wanneer God gaan oordeel oor die ryk materialistiese sondaars wat in die laaste dae sal wees.  God sal die looddeksel slaan op die efa en meterialistiese boosheid oordeel.  En v6 het gesê dit is ‘n wêreld wye sisteem van materialisme.

En kom ek vertel julle, ons is vinnig oppad soontoe, is ons nie?  Kom ons blaai gou nou Op 18 en kom ons sien hoe Johannes hierdie sisteem beskryf, dieselfde wat Sagaria sien.  Johannes noem dit Babilon.

Op 18:1 En ná hierdie dinge het ek ‘n engel sien neerdaal uit die hemel, met groot mag, en die aarde is verlig deur sy heerlikheid.
2 En hy het met ‘n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword ‘n woonplek van duiwels en ‘n versamelplek van allerhande onreine geeste en ‘n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls,
3 omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid.

Die finale vorm van boosheid, die finale vorm van die wêreldse sisteem van ekonomie en materialisme word Babilon genoem.  En in Sagaria se tyd was dit ook Babilon.  Julle onthou die toring van Babel.  Dit is die wêreldse sisteem wat teen God is, wat gedryf is deur materialisme, self-aanbidding.  Dit is Babilon.

Jesus gaan kom en hierdie wêreldse sisteem vernietig.  Op 18:3 sê, al die nasies het gedrink van die wyn.  Al die nasies het deel geword van hierdie sisteem.  Al die konings is deel hiervan.  Op 18 beskryf die Babilon van die laaste dae, die ekonomie van die laaste dae.

Op 18:7 Namate sy haarself verheerlik het en weelderig geleef het...

Op 18:9 En die konings van die aarde wat met haar gehoereer en weelderig geleef het...

Op 18:11 En die handelaars van die aarde sal ween en rou bedrywe oor haar, omdat niemand hulle koopware meer koop nie,
12 koopware van goud en silwer en edelgesteente en pêrels en fyn linne en purper en sy en skarlaken; en allerhande geurige hout en allerhande voorwerpe van ivoor en allerhande voorwerpe van die kosbaarste hout en van koper en yster en marmer
13 en kaneel en reukwerk en salf en wierook en wyn en olyfolie en fynmeel en koring en grootvee en skape; en van perde en waens en slawe en mensesiele.

Op 18:15 Die handelaars in hierdie dinge, wat van haar ryk geword het, sal ver weg staan uit vrees vir haar pyniging, terwyl hulle ween en rou bedrywe en sê:
16 Wee, wee die groot stad wat bekleed was met fyn linne en purper en skarlaken en versierd met goud en edelgesteente en pêrels, omdat in een uur soveel rykdom verwoes is!

Die stad, die sisteem sal verbrand. V19 sê dit word in een uur verwoes.  Sagaria sien dieselfde ding.  Hy sien die maatemmer, die efa wat spreek van materialisme en handel en vol graan is, wat simbolies is vir sonde.  God slaan die looddeksel toe.  Niks kan uitkom nie.  God sal sonde oordeel.

Wat dan van die vrou?  Hoekom is sy daar?  Die efa, die maatemmer simboliseer die wêreldse sisteem, die ekonomie, materialisme, en die vrou simboliseer die boosheid daarvan.  Die vrou word gebruik om godsienstige boosheid te simboliseer.  En voordat die vrouens dink dit is diskriminasie, onthou, die gemeente van Christus word ook as ‘n vrou voorgestel, die bruid van Christus.

Die valse kerk in die Bybel word dan uitgebeeld as ‘n prostituut.  Ons sien in Op 17 word die valse godsdienstige sisteem Babilon genoem, die moeder van hoere.  Sy is die simbool van sonde.  So ons sien die hele sisteem.  Babilon.  Die valse kerk en die valse meterialistiese ekonomie.  God gaan dit alles oordeel.  God gaan met dit alles afreken.

En aan die einde van die koninkryk van God, het God met sonde afgereken en daar sal ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wees waarin geen sonde meer sal wees nie.  Dit sal die efa wees wat God gaan vernietig.  Gaan dit nie ‘n wonderlike nuwe wêreld wees nie?  Geen sonde.  En ons gaan ook daar wees, want God het ons gereinig en nuut gemaak.

Laastens sien ons God se oordeel op die sisteem.  Ons het reeds dan dit al gesien.  Maar ons sien dit ook v9,

9 Toe slaan ek my oë op en kyk—daar kom twee vroue te voorskyn met die wind in hulle vlerke; en hulle het vlerke gehad soos die vlerke van ‘n groot sprinkaanvoël, en hulle het die efa weggevoer tussen die aarde en die hemel.
10 Daarop sê ek aan die engel wat met my gespreek het: Waarheen bring hulle die efa?
11 En hy antwoord my: Om vir haar ‘n huis te bou in die land Sínear; en is dit klaar, dan word sy daar op haar plek neergesit.

Weet julle wat is Sínear?  Dit is ‘n ander naam vir, Babilon.  Sagaria het toe al die finale vorm gesien, die einde van die wêreld, sal Babilon wees, wat opgestel word.  Soos wat ons lees in Op 17 & 18.  En hier is hierdie sisteem vandag.

Wie is hierdie twee vroue wat vlerke het?  Is hulle goeie engele of slegte engele?  Wel, eerstens moet ons onthou dat goeie engele nooit as ‘n vrou gesien word nie.  Engele in die Bybel is altyd ‘n mans persoon, nooit ‘n vrou of ‘n babatjie nie. 

Hierdie twee vroue is simbole van die godsdienstige boosheid.  Ek dink hulle is demone.  Want hulle word geassosieër met die vrou in die efa wat goddeloos is.  En tweedens, hulle beskerm die efa.  En derdens, hulle stel dit weer op.   Hulle is verantwoordelik vir die organisering van die Babiloniese sisteem.

Levitikus 11 en Deut 14 sê hierdie voëls is onrein en ek glo nie God sal onreine voëls gebruik om heilige engele te simboliseer nie.  Hulle is dan bose geeste wat hierdie bose sisteem, die finale koninkryk van die duisternis sal oprig.  Die modern Babilon.

Hulle neem hierdie efa weg en bou vir haar ‘n huis in die land Sinear, die ou naam van Babilon.  Waar het die wêreldwye boosheid begin? Babilon.  By Babel.  Waar gaan dit eindig?  By Babilon.  God sal Babilon oordeel.

God gaan sondaars oordeel en uitwis.  God gaan onde oordeel .  Maar God gaan ook die bose sisteem van die wêreld oordeel gedurende die groot verdrukking.

Mal 4:1 Want kyk, die dag kom, en dit brand soos ‘n oond. Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe, ‘n stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek, sê die HERE van die leërskare; sodat dit vir hulle geen wortel of tak sal oorlaat nie.

Maw hy sê, dit kom, die onvermydelike dag, God sal nie swyg nie, God sal nie toelaat dat die goddeloosheid altyd voorspoedig sal wees nie, God sal kom in vuur en reg laat geskiet.

Mal 4:2 Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees...

Is dit nie ongelooflike belofte vir ons nie?  Daar is net twee opsies.  Of jy dien God of jy dien Hom nie.  As jy God dien, is dit omdat jy Jesus Christus liefhet en Sy verlossing aanvaar het.  As jy nie Christus aangeneem het nie, dien jy nie God nie.  Daarom gaan jy ook geoordeel word.

Gal 3:10 Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie.

Sluit dit jou in?  Het jy alles onderhou wat geskryf is in die boek van die wet?  Indien nie, is jy  vervloek. Maar die volgende vers sê,

Gal 3:11 En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe.

Wanneer ons dan ons geloof in die verlossingswerk en die person Jesus Christus plaas sê, Paulus in Rom 8:1 dat daar geen veroordeeling mee is vir die wat in Christus Jesus is nie.  Maar as ons dit verwerp, is ons onder God se oordeel.

Dit is alleen deur geloof wat ons God kan behaag.  Dit is alleen deur geloof in Jesus Christus en Sy versoeningswerk aan die kruis, wat ons die toekomstige oordeel kan ontvlug. 

Joh 3:17 Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
18 Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.


No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288