Tuesday 22 May 2012

Eerste dinge eerste: die lewe se drie grootste prioriteite


1 Pet 1:13 Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus.
14 Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie.
15 Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word,
16 omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.
17 En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap;

Hierdie gedeelte gaan oor die gelowige se reaksie op God wat hom gered het.  Jesus het gesê in,

Luk 12:48  ...En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word...

En hierdie beginsel het te doen met die Christen se reaksie op sy verlossing.  Daar is nie ‘n groter geskenk wat jy ooit kon ontvang het, as die geskenk van verlossing in Christus nie.  En daarom kan daar ook geen ander geskenk wees wat ‘n groter reaksie van iemand vra nie.  Die grootste geskenk dra saam met dit ook die grootste verantwoordelikheid.

So in die eerste paar verse van 1 Petrus 1 fokus die skrywer op die aard van verlossing.  Hoe die profete hierdie groot tema van verlossing ondersoek en nagevors het.  Hulle het geprofeteer oor die genade wat sou kom.

Hierdie saligheid is groot want dit is die tema van die Heilige Gees se inspirasie.  V11 sê dit was die Gees van Christus wat in hulle was wat vooruit getuig het van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna.  Dit was die tema wat die profete nagevors het.  Die tema van die Gees.

Hierdie saligheid is groot want dit was die tema wat die Apostels verkondiging het.  V12 sê,

1 Pet 1:12 Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is—dinge waarin die engele begerig is om in te sien.

Hierdie groot saligheid, die tema van die profete se ondersoek, die tema van die Heilige Gees se inspirasie, die tema van die Apstels se verkondiging en ook die tema van die engele.  Dit gaan oor hierdie groot verlossing.

As ons dan kom by v13, ons teksgedeelte, dan verskuif Petrus se gedagtes vanaf hierdie groot tema van verlossing, vanaf al hierdie waarhede, na bevele.  Hierdie groot gawe, geskenk van verlossing dra groot verantwoordelikheid.  Dit vereis van ons gehoorsaamheid.

Hierdie groot saligheid het implikasies vir al ons verhoudings.  Eerstens het ons ‘n verantwoordelikheid teenoor God en dit lees ons in v13 to 21.  Tweedens het ons ook ‘n verantwoordelikheid teenoor ander, v22-25 en dan laastens teenoor onsself, hoofstuk 2.  Ons verhouding met God, met ander en met onsself.

Al hierdie verhoudings word beïnvloed deur die grootheid van ons verlossing en elkeen vereis hoe ons moet reageer.  Veel was aan ons gegee, en veel moet van ons gevorder word.  Ons het ‘n groot verlossing ontvang, daarom word groot dinge van ons verwag in ons verhoudings, met God, met ander en met onsself.

So kom ons begin deur te kyk na die ons verpligting teenoor God.  Watter verpligting het ons teenoor God omdat Hy vir ons hierdie groot geskenk van verlossing gegee het?  Hierdie verpligting teenoor God kan in drie woorde opgesom word, hoop, heiligmaking, en eer.  Ons reageer op God se verlossing  deur volkome te hoop, heiligmaking na te streef en om Hom te eer.

1 Pet 1:13 Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus.

Ek wil hê julle moet die hoof werkwoord in hierdie vers raaksien en dit is “hoop”.  Die NAS sê, “fix your hope”.  Die vers begin met “daarom”, en wat dit sê is, omdat daar so ‘n groot verlossing was, daarom moet julle julle hoop stel.  Daarom moet julle hoop.

En die woord is in die imperatiewe vorm en beteken dat dit ‘n opdrag is.  God het jou die grootste verlossing gegee, daarom moet jy hoop.  Dit is jou verpligting teenoor God.  Dit is wat jy moet doen in reaksie op dit wat God vir jou gedoen het.

Dit is ‘n definitiewe bevel.  HOOP!  Dit is ons verantwoordelikheid en plig teenoor God in reaksie op hierdie groot verlossinge wat Hy aan ons uit genade gegee het.  Ons moet lewe in hoop.  En hoop is ‘n wonderlike ding.

1 Kor 13 sê, nou bly geloof en tweedens hoop en derdens liefde en die grootste hiervan is die liefde.  Ons het al baie boeke gelees oor liefde.  Baie preke gehoor oor liefde.  Selfs oor geloof.  Wat van hoop?  Geloof en liefde is belangrik, maar besef ons nie dat hoop net so belangrik is nie.

Ons kultuur vandag is so dat hoop nie regtig deel is van ons Christen ervaring nie.  Meeste Christene leef nie in hoop nie, primêr omdat hulle hierdie lewe te veel geniet.  En hoop spreek van ‘n toekomstige verwagting.  Het God ons nie geroep om ‘n hoopvolle toekoms te hê nie?

Hoop is in sy wese dieselfde as geloof.  Dit beteken om God te vertrou.  Om op Hom te glo.  Geloof in ‘n sekere sin is om op God in die teenwoordige te vertrou en hoop is om God vir die toekoms te vertrou.  Geloof glo wat God gesê het, wat God gedoen het.  Hoop glo wat God belowe het vir die toekoms. 

Geloof aanvaar en hoop verwag.  Geloof bewillig en hoop voorsien.  Geloof glo in wat God gedoen het en hoop glo in wat God gaan doen.  Hoor wat Petrus sê.  Hy sê, jy is dit aan God verskuldig om te hoop.  Jy moet vir die toekoms lewe.  Om God te vertrou dat Hy Sy beloftes vir die toekoms met heerlikheid sal vervul.  Ons is dit aan God verskuldig.

Dit is ons plig, ons word beveel.  “fix your hope”.  En die volgende woord is “volkome”.  Hoop volkome.  Hoop onvoorwaardelik, ten volle, volkome.  Vir eens en vir altyd hoop volkome sonder om te twyfel op die Een wat jou gered het.

Heb 6:18 sodat ons deur twee onveranderlike dinge, waarin dit onmoontlik is dat God sou lieg, kragtige bemoediging kan hê, ons wat ontvlug het, om vas te hou aan die hoop wat voorlê;
19 en ons het dit as ‘n anker van die siel wat veilig en vas is en ingaan tot binnekant die voorhangsel

As God getrou was in die verlede en Hy is getrou in die hede, kan jy verseker weet dat Hy sal getrou wees in die toekoms.  Ons is moet lewe in daardie lig van die toekoms.  Wat Hy belowe het sal Hy doen.

1 Pet 1:3 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode

Vers 4 sê ons het ‘n onverganklike, onbesmette, onverwelklike erfenis.  Dit kan nie vergaan nie.  Net nog ‘n bewys vir ewige sekuriteit.  Dit word in die hemele in die krag van God bewaar.  Ons lewe in daardie hoop.  Ons lewe in die hoop op ‘n ewige erfenis.

Nou, Petrus sê nie net vir ons dat ons moet hoop, in die sin dat dit ons hier affekteer nie.  En nie soseer vir wat hoop nou vir ons in hierdie lewe kan doen nie, en ja hoop is ‘n gesonde geestelike oefening, dit maak dat ons verby ons omstandighede kyk en bo dit uitstyg, maar dit is nie die hoofrede waarom Petrus sê ons moet hoop nie.

Die rede waarom ons moet hoop is omdat dit God verheerlik.  Jy sien, wanneer jy volkome op God vertrou vir die toekoms, bevestig jy daardeur dat God getrou is en dat Hy sal doen wat Hy sê, en daardeur verheerlik jy Hom.

As jy nie op God hoop nie, twyfel jy in Hom, en jy sê, ek weet nie so seker of ek Hom kan vertrou nie.  Dit is wat jy sê.  Maar as ‘n gelowige wat God se genade ontvang het en gesien het dat God getrou was in die verlede en in die hede, is hy veronderstel om dan ook op God te hoop en Hom te vertrou dat Hy sal doen wat Hy gesê het, en daardeur verheerlik hy Hom.

Jy sien deur te hoop sê jy dat God is ‘n God van integriteit en Hy sal Sy beloftes nakom.  En ons skuld Hom daardie lojaliteit.  Ons moet aan Hom lojaal wees.  Hoop verheerlik God.  Kom ek gee julle ‘n illustrasie.

Rom 4:16 Daarom is dit uit die geloof, sodat dit volgens genade kan wees en die belofte kan vasstaan vir die hele nageslag; nie alleen vir die wat uit die wet is nie, maar ook vir die wat uit die geloof van Abraham is, die vader van ons almal
17 soos geskrywe is: Ek het jou ‘n vader van baie nasies gemaak voor die aangesig van God in wie hy geglo het, wat die dode lewend maak en die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan.
18 Hy het teen hoop op hoop geglo dat hy vader sou word van baie volke volgens wat gesê was: So sal jou nageslag wees.

God het vir Abraham gesê, hy gaan ‘n seun hê.  Abraham was amper ‘n honderd jaar oud.  Sara was in haar negentigs.  Dit is maligheid.  Sy het nog nooit ‘n kind gehad nie.  Daarom sê v18 dat Hy het teen hoop op hoop geglo.  Hoop wanneer vanuit ‘n menslike oogpunt daar geen inhoud is en geen basis is vir hoop nie.  Maar dit was teen hoop op hoop dat Abraham geglo het.

V19 sê dat hy gehoop het sonder om te verswak in die geloof.  En ons sien hier dat geloof en hoop aan mekaar gelyk gestel word, want geloof is ‘n soort van hoop wat op die toekoms geplaas word.  En om dit eenvoudig te stel, God word verheerlik wanneer ons Hom vertrou.  Wanneer ons Hom glo, wanneer ons hoop op Sy beloftes vir die toekoms.

Dit is wat Petrus probeer sê.  Dit gaan nie soseer oor wat hoop vir die gelowige doen nie, maar eerder dat hoop wat God verheerlik. 

As ons terug gaan na ons teksgedeelte toe, dan is die vraag: waarop moet ons hoop volkome wees?

1 Pet 1:13 Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus.

Hoop op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus.  Die openbaring van Jesus is die wederkoms.  Maw ons het ‘n verpligting en verantwoordelikheid om as ‘n Christen wat die grootste geskenk van verlossing ontvang het, om ons gedagtes en hart en alles te stel op die genade wat by die wederkoms van Christus ons deel sal word.

Om dit anders te stel, ons moet lewe in die hoop op die wederkoms van Jesus.  Dit is waarvoor ons moet lewe.  Ons lewe nie vir hier en nou nie.  Ons moet lewe vir daardie dag.  Ons moet lewe vir die dag wanneer Jesus kom om Sy mense te beloon en te verheerlik, die dag wanneer die werk wat Hy in ons begin het voleindig sal word.  Die afhandeling van God se verlossingswerk in ons lewe.

Paulus noem dit in Rom 8, die verlossing van ons liggaam, die openbaarmaking van die kinders van God.  Johannes sê,

1 Joh 3:2 Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.
3 En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.

Maw ons leef in die hoop op die koms van Jesus Christus en die voleindiging van ons verlossing.

Tit 2:11 Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn
12 en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe,
13 terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus,

Saligheid in sy eerste fase, het reeds verskyn.  Ons is wedergebore, geestelik gebore en God het Sy werk in ons lewens begin.  Saligheid in sy tweede fase, die finale afhandeling daarvan, dit is waarna ons uitsien.  Daarom kyk ons met hoop na die wederkoms.  Dit is ons salige hoop.

Kom ek vra jou ‘n eerlike vraag:  Hoop jy!  Hoop jy regtig?  Petrus sê nie dat ons soseer moet hoop op die gebeurtenis van die wederkoms nie.  Ja, wat ‘n gebeurtenis gaan dit nie wees nie.  Dit is nie soseer waarop ons hoop is nie.

Hy sê nie soseer dat ons moet hoop op die belonging wat ons gaan ontvang nie.  Hy sê nie ons moet hoop op die volmaaktheid nie.   Dink net, ons gaan wees soos Hy.  Ons gaan verheerlik word.  Ons gaan volmaak wees.  Maar dit is nie hierop wat Petrus sê ons moet hoop nie.

Hy sê ook nie soseer dat ons moet hoop op die hemel nie.  Is dit tog nie iets om na uit te sien nie?  Dink net hoe wonderlik gaan dit wees, maar dit is nie wat Petrus hier sê nie.  Luister mooi wat sê hy, hy sê

1 Pet 1:13 Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus.

Hoop op die genade wat julle deel word... Ons gaan genade ontvang.  Is jy gereed daarvoor?  En hier is ‘n belangrike waarheid.  Die dag toe jy tot bekering gekom het en jou vertroue in Jesus geplaas het om jou te red, was dit alles uit genade.  Dit was alles net genade.

En wanneer Jesus weer kom en Hy ons verheerlik en Hy ons volmaaktheid gee en die hemel en die ewige lewe in Sy teenwoordigheid wees, sal dit ook wees soos dit die eerste keer was, alles uit genade.

Sommige mense is geneig om te dink dat God ons ‘n finale verheerliking skuld op grond van wat ons gedoen het.  Dink ons vir een oomblik dat Christus sal kom om ons te gee wat ons verdien het deur ons geestelikheid.  Dink ons vir een oomblik dat ons ons finale heerlikheid en finale erfenis kan verdien.

Nee!  Toe God ons siel gered het, het ons dit nie verdien nie, dit was alles alleen uit genade.  En dit gaan nie anders wees by die wederkoms nie.  Ons het nie verlossing van ons sondige siel verdien nie, en nog meer verdien ons nie die verlossing van ons sondige liggaam nie.

Ons verdien nie ons plek in die hemel nie, net soos wat ons nie ons plek in die kerk van die Here verdien het nie.  Ons verdien nie die ewige gewig van heerlikheid meer as wat ons die inwonende Heilige Gees verdien het nie.  Ons verdien nie ‘n sondelose volmaaktheid meer as wat ons die vergifnis van sonde verdien het nie.  Dit is en was genade en genade alleen.

Geen mens kan homself red nie en geen mens kan homself gered hou nie.  Niemand sal sy uiteindelik redding verdien nie.  Dit is alles net uit genade.  Van die begin van jou bekering tot aan die einde, net genade.

Sp Petrus sê, God is waardig dat ons volkome sal hoop en wanneer ons dink oor God en ons dink oor ons ewige erfenis, onthou dat dit is alles genade.  Hoop volkome op die genade wat julle deel sal word.  Dit gee Hom al die eer, want jy was nog nooit waardig nie en sal ook nooit wees nie.  Daarom leef ons in hierdie afwagting op die genade wat ons sal ontvang.

Hoe moet ons dan ons hoop vestig op die genade wat kom?  Hoe leef ons in die lig daarvan?  Die vers sê hoe,

1 Pet 1:13 Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus.

Omgord die lendene van julle verstand, wees nugter.  Wat beteken dit?  Dit beteken eenvoudig maak iets wat los is vas.  In die Bybel was dit die gedagte, maak jouself bymekaar en kry jouself gereed.  In boere Afrikaans sou ons kon sê, kry al jou varkies agter mekaar.  Maak jouself bymekaar.  Kry jouself gereed.

Is jy gereed om te gaan?  Niks hou jou hier nie.  Dit is wat Petrus sê.  Wat hy sê is kry jou prioriteite reg.  Kry jou gedagtes agter mekaar.  Moenie dat ander dinge jou besig hou en jou verhinder om te hoop nie.  Maak jouself los van die hindernisse van hierdie wêreld en leef in die lig van die genade wat jy gaan ontvang wanneer Jesus kom.  Om dit anders te stel:  Bedoel besigheid met God.

Die tragiese van dit alles is dat ons leef so in hierdie wêreld dat die gedagte van Christus wat gaan kom ietwat ontstellend is vir sommige Christene.  Moenie toelaat dat jou gedagtes en doelwitte en besluite los hang nie.  Maak dit vas.  Kry jou prioriteite reg.  Omgord die lendene van julle verstand. 

Maak ‘n beslissende lewens commitment om te lewe in die werklikheid van die genade wat kom.  Paulus sê,

Kol 3:2 Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.

Dit is wat dit beteken.  Lewe ons so?
Maak vas al die los gedagtes en wees nugter, sodat julle kan konsentreer op dit wat saak maak.  Sodat julle kan hoop op die genade.  Wees nugter!  En hierdie nugter beteken nie, jy moenie dronk wees nie.  Dit is beeldspraak wat sê, jy moenie besoedel word met die wêreld nie.

Om nugter te wees is die idee om geestelike standvastig te wees, om geestelik selfbeheersd te wees, om helderheid van verstand te hê, om jou prioriteite agter mekaar te hê, om geestelik gedissiplineerd te wees.

Dit is die minste wat ons aan God verskuldig is.  Dit is wat God van ons verwag in reaksie op dit wat Hy vir ons gedoen het.  Hoop volkome op die genade wat ons deel sal wees wanneer Jesus kom.

Laat eerste dinge eerste wees.  En die eerste en belangrikste prioriteit in jou lewe is jou verantwoordelikheid teenoor God.  En mag hierdie groot verlossing Hy aan jou gegee het, jou so beïnvloed dat jy God verheerlik deur volkome te hoop op die genade wat jou deel sal wees by die wederkoms van Jesus Christus.


No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288