Tuesday 15 May 2012

Gered of self-mislei


Matt 7:21 Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.
22 Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?
23 En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!
24 Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het.
25 En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots.
26 En elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met ‘n dwase man wat sy huis op die sand gebou het.
27 En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval, en sy val was groot.

Ek het dit seker al baie gesê, maar ek wil dit weer beklemtoon: As daar een ding is waaroor die mens 100% seker moet wees, is dit sy saligheid.  Jy mag nie hier ‘n fout maak nie.  En ek dink die gedeelte wat ons gelees het is die mees tragiese gedeelte in die hele Bybel.  Die realiteit is dit dat daar mense is wat eendag voor die Here gaan staan, wat dink hulle sal in die hemel ingaan, maar die Here gaan vir hulle sê, gaan weg van My, Ek ken julle nie.

Dit is die ergste moontlike illusie wat enige persoon kan hê, om verkeerd te wees wanneer dit kom by sy ewige eindbestemming, om verkeerd te wees oor sy saligheid.  En dit is die tragedie, dat in die naam van christenskap daar baie plekke is wat hulleself kerke noem, maar hulle is nie kerke nie.  Dat daar baie leiers is wat hulleself pastore of predikante noem, maar hulle is nie.  Dat daar baie mense is wat hulleself Christene noem, maar hulle is nie.

As jy terug gaan na vers 13 en 14 dan lees ons van twee paaie.  Die smal weg wat lei na die lewe en die breë weg wat lei na die verderf.  Die nou poort is moeilik om te vind en moeilik om deur te gaan, want dit vereis dat jy jouself en jou eiegeregtigheid moet verloën.  Dit vereis dat jy jou sonde moet erken, jou bekeer en aan Christus onderwerp en Hom volg ten spyte van die koste.

Die ware weg is moeilik om te vind, want dit is teen die groot meerderheid.  Dit is ‘n smal weg.  Jy kom staan naak voor die Here.  Jy kom alleen en jy kom berouvol.  Aan die ander kant loop meeste godsdienstige mense op die breë weg en daar is baie valse profete wat hulle lei.  Ons lees daarvan in vers 15-20.

Hulle is valse profete, valse godsdienstige leiers, wat valslik Christus verteenwoordig, maar in werklikheid verteenwoordig die Satan.

2 Kor 11:14 En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig.
15 Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.

Hulle doen hulleself voor as dienaars van geregtigheid.  Hulle lei mense en sê, hierdie weg sal jou na die hemel lei, maar in werklikheid lei hulle mense na die hel toe.  En dit is tragies.  Dit is verskriklik. 

Dit is reeds tragies dat Hindoes hel toe gaan of Boediste of Moslems.  Dit is ‘n tragedie vir enige mens om hel toe te gaan.  Maar wat dit baie erger maak en meer tragies maak is die feit dat die Judas sage homself oor en oor afspeel.  Wanneer mense rond hang om Jesus, maar steeds aan Satan behoort.  En daar is predikante wat in hierdie kategorie inpas, hulle is nie eens Christene nie.   En kerke is vol van mense, wat self-mislei is oor hulle ware geestelike kondisie.

Daarom is dit so belangrik dat ons sal luister na die Woorde van die Here.  En toe Jesus hierdie woorde sê, het Hy dit nie gesê vir ongodsdienstige mense nie.  Hy sê dit juis vir die mees godsdienstige mense.  So godsdienstig as wat jy kan kry.  Maar hulle het geen verhouding met Jesus Christus gehad nie.  Hulle is godsdienstig, maar verlore.  Hulle is op die verkeerde weg, die breë weg.

Paulus beskryf dit so,

2 Tim 3:5 mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.

Hulle het ‘n gedaante van godsaligheid.  Hulle is self-mislei.  En ons het dit vandag ook.  Dit is orals om ons.  Mense wat op een of ander wyse met Jesus verbind is, maar daar is nie goddelike lewe in hulle nie.  Die kerke is vol van siele wat op een of ander Jesus trip is en dink alles is ok!  Maar die woorde van Jesus in ons teksgedeelte beskryf hierdie misleiding baie goed.

Matt 7:22 Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?

Let op!  Jesus sê, baie sal in daardie dag vir My sê.  Vers 13 sê, baie gaan deur die breë poort en gaan op die breë weg wat na die verderf lei.  Dit is dieselfde baie waarvan Jesus praat.  Dit is die godsdienstiges, maar verlorenes.

Dit is dieselfde baie wat dink dat hulle voor die poorte van die hemel gaan staan en toegelaat word om in te gaan, maar sal uitvind dat hulle eerder voor die poorte van dodedryk staan.  Wat ‘n skok gaan dit nie wees nie!  Hoe tragies moet dit nie wees nie, om te dink jy is oppad hemel toe, maar eintlik is jy oppad hel toe.

Hoe is dit moontlik dat ‘n mens so self-mislei kan wees?  Hoe is dit moontlik dat jy dit nie weet nie?  Ek dink daar is paar dinge wat daartoe kan bydra.  En ons gaan daarna kyk.

Eerstens begin dit by ‘n oppervlakkige begrip van die evangelie.  En ek dink dit is die grootste probleem in kerke vandag, mense wat nie werklik die evangelie verstaan nie.  Baie het ‘n oppervlakkige, emosionele en sielkundige benadering tot die evangelie dat die meeste mense wat hulleself Christene noem, nie eers ‘n sinvolle verduideliking kan gee van die leer van saligheid nie.

Nog minder word van hulle verwag wat die leer van saligheid is, want die leraars weet self nie.  Hulle verstaan nie wat reddende geloof is nie.  Hulle verstaan nie wat die verlossings evangelie is nie.

En ‘n mens sou dink dat iemand wat sy leeftyd spandeer om die evangelie aan mense te verduidelik, wat dit beteken om jou werklik te bekeer, en wat dit beteken om jou geloof in Jesus Christus te plaas, en wat dit beteken om geregverdig te word, dat so iemand ‘n held sou wees in die Christen kerk.  Dink weer!  

Dit is net mooi die teenoorgestelde.  Jy gaan op mense se tone trap.  Jy gaan hulle gevoelens seermaak.  Jy gaan hulle gemaksones van verdraagsaamheid binnedring.  Jy gaan verdeeldheid bring.  Maar is dit nie wat die waarheid nog altyd gedoen het nie?

Om die ware evangelie vandag te preek binne die Christen wêreld is om in groter oorlogvoering betrokke te raak as om die ware evangelie eenvoudig daar buite in die wêreld te preek.

So die eerste rede waarom mense so gerus kan word in misleiding is omdat hulle nie werklik verstaan waaroor die evangelie gaan nie.  Daar word net vir hulle geleer hoe om goed te voel in watter situasie hulle ook mag wees.

Die tweede ding wat ek dink kan bydra tot self-misleiding, is ‘n valse gevoel van sekerheid.  Dit is die idee dat as jy goed voel oor God, en as jy ‘n emosionele aangetrokkenheid tot God het, as jy in Jesus glo en jy aan Hom verbind wil wees, en jy met Hom geassosieer wil wees en deel wil wees van dit wat Hy doen, en in ‘n sekere sin wil jy hê dat Jesus saam met jou moet werk en jou moet maak wat jy wil wees, dan is jy in.

Mense sal vir jou sê, as jy hierdie gebed gebid het, dan is jy ‘n Christen.  En as jy dubbel sekerheid wil hê, dan moet jy vorentoe kom dat iemand vir jou bid.  In sekere gevalle, as jy wys jy is getrou en dat jy by alles in die gemeente betrokke is, sal dit vir jou sekerheid gee.

In meeste gevalle as jy goed voel oor Jesus en jy wil hê dat Hy jou lewe moet fix en jou lewe moet vat, dan is jy ok.  Solank as wat jy Jesus in jou lewe wil hê en jy sê jy glo in Hom.  Solank as wat jy tot Hom bid en Hom vra om jou lewe te fix, die regte dinge te sê, en die regte emosies te ervaar, dan is jy ok.

Vir sommige mense is God net daar om hulle te help om hulle drome en begeertes te vervul.  Hy is daar om jou te seën.  Dit laat mense voel hulle is reg met God, maar hulle is nie.  Dit dra by dat mense ‘n valse sekerheid het, maar in werklikheid is hulle verlore.

Die derde rede is ‘n versuim om by self-ondersoek uit te kom.  Wanneer iemand vir jou sê, “Ek is nie seker of ek ‘n Christen is nie,” hoe moet jy daarom reageer?  “Wel, as jy hierdie gebed gebid het of die uitnodiging aanvaar het of jy die Bybelstudies gedoen het, dan is jy ok.”  Is dit die regte anwoord? Nee!

Luister! As iemand nie seker is of hy ‘n Christen is nie, is daar dalk ‘n rede om te dink dat hy nie ‘n Christen is nie.  Dit is baie belangriker om iemand eerder aan te beveel om self-ondersoek te doen, as om sy twyfel te probeer laat verdwyn.  As jy in jou saligheid twyfel, is daar ‘n goeie rede.  Jou saligheid mag dalk nie eg wees nie of dit mag dalk. 

Jy het al die reg om te twyfel of jy oppad is hemel toe.  Jy het al die reg om te twyfel of jy ‘n gelowige is.  En totdat jy ‘n patroon sien in jou lewe en agter kom dat dit onnodig is om te twyfel, en dat jy toegee aan die versoeking om God nie te vertrou wat jou gered het nie.  Selfs dan kan ek nie verseker weet of jy gered is of nie en moet ek jou aanmoedig om self-ondersoek in te stel.  Daar is ‘n dalk ‘n rede hoekom die persoon twyfel.

En dit is nie populêre ding om te doen nie.  Mense sal sê jy trek ander se saligheid in twyfel.  Nee!  Ons moet net doen wat Jesus gedoen het in Matt 7, en Sy woorde duidelik oordra in ons tyd, dat daar baie mense onder self-misleiding is en dink hulle is gered, maar in werklikheid is hulle verlore.  Dit is nie ons boodskap nie, dit is God se boodskap. 

Ons is so bewus van mense se gevoelens.  Ons wil so graag hê hulle moet van ons hou.  Ons hou nie van enige konfrontasie nie.  En daarom is dit moeilik om vir mense te sê om eerder self-ondersoek in stel oor hulle geestelike lewe nie.  Ons wil nie graag hulle moet sleg voel nie.  Ons wil hê hulle moet goed voel en bly wees oor God se liefde.  Maar dit is nie wat God van ons verwag nie.

Paulus se woorde in 2 Kor 13:5 is op almal van ons van toepassing.  Hy sê dit vir ‘n gemeente waar hy self 2 jaar was.  Hy sê dit vir ‘n gemeente wat Christus bely.  Hy het hulle geleer.  Hulle ken hom.  Dan sê hy steeds,

2 Kor 13:5 Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef. Of is julle nie seker van julself dat Jesus Christus in julle is nie—as julle ten minste nie verwerplik is nie!

Na soveel jare sê Paulus vir hulle, gaan terug na die basics.  Gaan doen self-ondersoek.  Maak seker julle geloof is eg.  In werklikheid moet dit die normale gang van die gemeente wees.

Het jy geweet dit is wat gebeur wanneer ons elke keer die nagmaal gebruik?

1 Kor 11:26 Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.
27 Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here.
28 Maar die mens moet homself beproef en só van die brood eet en uit die beker drink.
29 Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ‘n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie.

Wat beteken dit?  Dit beteken as jy ‘n valse Christen is en jy gebruik die nagmaal, word jy skuldig aan Sy dood.  Daarom moet jy jouself beproef.  Die nagmaalstafel is ‘n tafel van self-ondersoek.  As jy dit nie doen nie, of as jy nie gewillig is om jouself te ondersoek nie, is die moontlikheid daar dat jy in jou eie self-misleiding gerus het.

Die vierde rede wat lei tot self-misleiding is ‘n vaslegging van godsdienstige aktiwiteite.  Om deel te wees van ‘n kerk, om saam met ander mense te wees wat hulleself Christene noem, om Christelike boeke te lees, oor God te praat, geestelikheid te voel, deel te wees  van ‘n Christelike organisasie.  Dit bring sommige mense in hierdie misleiding dat hulle gered is.

Jy is nie ‘n Christen omdat jy in die kerk gebore is nie.  Dit sou beteken dat as jy in ‘n garage gebore is, is jy ‘n kar.  Soveel mense is betrokke by Christelike aktiwiteite.  En dan het hulle ‘n klomp godsdienstige aktiwiteite en dit skep by mense ‘n gevoel van sekerheid.  Deelname aan godsdienstige aktiwiteite, maak nie van jou ‘n Christen nie.  Lidmaatskap van ‘n kerk is nie jou toegang kaartjie na die hemel toe nie.

Ongelukkig skep sisteme en godsdienstige aktiwiteite by mense ‘n valse sekerheid van saligheid.

So ons praat nie van mense wat buite die kerk is nie.  Ons praat van mense wat binne die kerk is en glo hulle is gered, maar in werklikheid is hulle mislei.  Hulle is deel van die kerk lewe.  Hulle weet so effe iets van die Bybel af.  Hulle ken ‘n paar Bybel stories.  Hulle ken so bietjie teologie, net genoeg om gevaarlik te wees.

Hulle het gedaante van godsaligheid.  Hulle dink nie dieper oor geestelike waarhede nie.  Hulle is onkundig en nie bewus dat hulle mislei is of ander mislei nie.  En dit is verskriklik.

Maar hoe help jy iemand wat mislei is?  Hoe kry jy hulle om te sien dat hulle mislei is?  Hoe kan iemand wat mislei is, sien dat hy mislei is?  Hoe weet ons of iemand mislei is?  Waarvoor moet ons uitkyk?  Hier is ‘n paar voorstelle.

Eerstens, kyk vir mense wat gevoel godsdiens soek.  Hulle soek gewoonlik ervarings of blessings of genesing.  Hulle soek uiterlike tekens.  Hulle stel gewoonlik belang in die byproduk van geloof en nie in Christus self nie. 

Dit gaan nie vir hulle oor die heerlikheid en die wonder en skoonheid en grootheid van Christus nie.  Dit gaan nie vir hulle daaroor om Hom te eer en te dien, om aan Hom te gehoorsaam te wees en aan Hom te onderwerp nie.  Dit nie gaan nie om Hom te bely en te aanbid nie.  Hulle soek die byprodukte wat saam Christus kom.

Gee my ‘n blessing.  Gee my ‘n geestelike ervaring.  Ek wil op ‘n geestelike high gaan.  Ek wil goed voel.  Gee my gesondheid en voorspoed.  Hulle soek al die byprodukte van God en nie God self nie.  Die byprodukte van Christus en nie Christus self nie.

Dit gaan nie vir hulle om Christus te verkry al is jy siek of gesond nie.  Dit gaan nie om Christus te verkry al is jy ryk of arm nie.  Dit gaan nie vir hulle om Christus te kry wat in jou plek vir jou sonde gesterf het en wat die Here van jou lewe wil wees nie.  Dit is nie waaroor dit vir hulle gaan nie.

Dit is ook nie die boodskappe wat ons vandag hoor van preekstoele af nie.  Inteendeel as jy dit gaan preek gaan jou opkomste vinnig begin afneem.  Mense wil dit nie hoor nie.

John Piper het gesê, “The gospel does not offer to the sinner what the sinner wants naturally.”  Wat soek die sondaar?  Hy wil goed voel, hy wil gesond wees, gelukkig wees, ryk wees, geld hê, suksesvol wees.  Dit is wat die natuurlike mens soek.

Die evangelie belowe egter nie aan die sondaar alles wat hy reeds soek nie.  Dit belowe aan die sondaar wat hy nie wil hê nie.  Dinge soos geregtigheid, heiligheid, vergifnis, die hemel, Christus.  Die gesindheid van die wêreld teenoor Christus is, hulle haat Hom.  Dit is waarom Christene vervolg word.

Joh 15:18 As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het.

Die wêreld haat Christus, daarom haat hulle die volgelinge van Christus.  ‘n Nie-gelowige hou nie daarvan wanneer die evangelie hom as ‘n sondaar defineer en vir hom sê dat hy oppad is hel toe nie.  Dat hy ‘n behoefte het na verlossing en dat dit alleen kom as hy homself verloën en Christus omhels nie.  Die wêreld hou nie daarvan nie.

Dit is hoe jy weet mense is mislei, wanneer hulle net die byprodukte soek van Christus en nie Christus self nie.

Tweedens, kyk vir mense wat meer toegewyd is aan ‘n kerk as aan die Woord van God.  Hulle is commited aan hulle kerk, denominasie of geestelike beweging of groep.  Dit is soos ‘n goddelike sosiale klub.  En hulle is daaraan commited en nie aan die Woord van God nie.

Ek vra die vraag: Hoe kan jy aan God toegewyd wees en nie aan Sy Woord nie?  Hoe kan jy aan God toegewyd wees en nie luister na wat Hy sê en doen wat Hy sê nie?  God sê, bekeer jou en bely jou sonde.  Omhels Christus, die Seun van die Lewende God, want Hy is die enigste hoop vir jou saligheid.  Dit is wat God sê.  As jy nie daarmee saamstem nie, is jy teen God en nie vir Hom nie.

God sê verloën jouself, neem jou kruis op en volg Hom.  God sê ook, jy moet jou vader en moeder en sister en broeder haat en ook jou eie lewe.  Dit beteken jy moet alles waarvoor jy lief is haat.  Hy wil die middelpunt van jou lewe wees.

Kyk vir mense wat meer toegewyd is aan ‘n godsdienstige organisasie, plek of groep eerder as om toegewyd te wees aan die Woord van God.

Hier doen ons elke week dieselfde ding.  Ons het nie verskeidenheid hier nie.  Maar dit is ook nie wat ons hier soek nie.  Ons is nie hier om mense te vermaak nie.  Ons is hier omdat ons lief is vir God se Woord.  Ons is hier omdat ons die Woord wil hoor en ons wil leer en groei.  Die Woord van God is ons geestelike kos.  Dit is waarvan ons leef.

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288