Monday 4 June 2012

Ons is losgekoop


1 Pet 1:18 omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie,
19 maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,

Eendag was daar ‘n jongseun en hy het ‘n bootjie gemaak.  Hy het ‘n stuk hou gevat en die bootjie daaruit gekerf.  Hy het vir dit ‘n seil opgesit en dit mooi geverf.  Met trots het hy die bootjie na ‘n rivier toe gevat en daar met dit gespeel.  Skielik het daar ‘n sterk wind opgekom en die bootjie weg geblaas.  Die jongseun was baie hartseer oor sy bootjie wat weg is.

‘n Paar dae later loop hy in die straat af verby die speelgoed winkel en met groot verbasing sien hy sy bootjie in die venster op ‘n rak.  Hy storm by die winkel in en vertel vir die eienaar dat dit sy bootjie is wat hy gemaak het en verloor het by die rivier.  Die eienaar wou hom nie glo nie en sê dat hy kan die bootjie koop vir die volle prys.

Die jongseun gaan toe huis toe en kry al sy spaargeld wat hy het, alles wat het en gaan koop sy eie bootjie terug by die speelgoed winkel.  Dit is net soos God.  Hy het ons nie net gemaak nie, maar Hy het ook die volle prys betaal om ons te koop. 

En dit is wat Petrus in hierdie gedeelte sê.  God het ons nie net gemaak nie, maar Hy het ons ook gekoop.  Hy het ons verlos.  V18 sê Hy het ons losgekoop.  Die KJV sê “redeem”.  En elke keer wanneer jy sê, ek is gered, sê jy ook, ek is losgekoop, ek is verlos.  Wanneer jy Jesus jou Saligmaker noem, dan noem jy Hom ook Verlosser.

‘n Bekende prediker, Thomas Watson het gesê, “Great was the work of creation but greater the work of redemption. It costs more to redeem us than to make us. In the one there was but the speaking of the Word, in the other there was the shedding of blood. The creation was but the work of God's fingers, Psalm 8:3. Redemption is the work of His arm, Luke 1:51,"

God se skeppingswerk is groot en wonderlik, maar sy verlossingswerk is nog groter.

Matt 20:28 net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.

Die prys waarmee God ons losgekoop het, waarmee Hy jou verlos het, was Sy Seun Jesus Christus.  Dit het Sy Seun gekos om ons te verlos van die hopelose toestand waarin ons was.  Terwyl saligheid dan ‘n algemene term is, is verlossing ‘n spesifieke term oor hoe God ons weer Sy eie gemaak het.  Hy het ons terug gekoop om weer Syne te wees.

Ons teksgedeelte is ‘n tipe van dit wat ons in die Ou Testament sien.  Ons sien byvoorbeeld in Eks 12 ‘n skadubeeld van wat Petrus graag wil sê,

Israel was gevangeniskap in Egipte.  Moses en Aaron was die leiers en dit is nie lank voordat hulle die Israeliete uit Egipte gaan lei nie.  Hulle moet vir almal sê om ‘n lam te neem wat sonder gebrek is op die tiende dag van die maand.  En dan op die 14de dag teen die aand moet almal dit slag.  Let op!  Vir ‘n paar dae moes die lam in die huis geneem word soos ‘n troeteldier en daarna doodgemaak word.

Daarna moes hulle die bloed vat en aan die deurposte smeer van die huise waarin hulle dit eet.  Eks 12:11 sê dan dat hulle dit moet eet met hulle heupe omgord, hulle skoene aan hulle voete, en ‘n staf in die hand.  Hulle moet dit ook baie haastig eet.

En julle weet wat gebeur.  God het deur Egipteland getrek en al die eersgeborenes getref, mense en diere, maar die huise waarop die bloed gesmeer was, was gespaar.  Die Here het daar verby gegaan.  Dit is waar “Passover” vandaan kom.  The Lord passed over the houses with blood on the doorposts.

En dit is ‘n skadubeeld van wat Petrus hier beskryf.  En net om dit aan te vul, onthou julle nog vir Josef.  Hy was deur sy eie broers as slaaf verkoop.  Hy was as slaaf na Egipte geneem en was gevange daar gewees, maar omdat hy ‘n bonatuurlike vermoë gehad het om drome te kan uitlê, het Farao hom oor die hele Egipteland aangestel.

En toe daar hongersnood in die land was het Josef se pa, Jakob en sy familie na Egipte toe getrek.  En met God se voorsiening, was Josef se broers wat hom in slawerny verkoop het, van sy goedheid afhanklik.  Hulle het na Egipte toe gekom en het daar vermenigvuldig.  Eks 1:7 sê die kinders van Israel was vrugbaar en het vermeerder en hulle het buitengewoon magtig geword.

Daar het toe ‘n nuwe koning gekom wat nie van Josef geweet het nie en hy het nie gehou van wat gebeur met die Israeliete nie.  Hy was bang hulle word ‘n bedreiging en besluit toe om van hulle slawe te maak.

So die Here het toe Farao en Egipte met plae getref, maar hy wou nie die Israeliete laat gaan nie.  Die 10de en laaste plaag het God ‘n doodsengel gestuur om deur Egipteland te trek en al die eersteborenes dood te maak.  Daarna het meer as 2 miljoen Jode Egipte verlaat.  70 Jode het daar aangekom in Egipte en nou verlaat meer as 2 miljoen Jode.

Hier is die punt.  Die lam se lewe was die prys wat betaal moes word vir die lewe van die eersgeborenes.  Die lam het in die plek van die eersgeborenes gesterf.  Die lam was die plaasvervanger.  Dit is wat God vereis het om hulle te verlos.

En kan jy jouself net indink oor die voorbereiding hiervan.  Elke familie moes ‘n lam gaan soek wat geen gebrek gehad het nie.  En dan moes hulle alles reg doen en die bloed op die deurposte gesmeer het. 

En toe die aand aanbreek, was hulle sekerlik angstig gewees.  Om die tafel, hulle heupe omgord, hulle skoene aan, hulle staf in hulle hand.  Hulle was gereed om te trek en hulle het vinnig alles geëet.

Eks 12:33 En die Egiptenaars het by die volk sterk aangehou—om hulle gou uit die land uit te stuur. Want hulle het gesê: Ons is almal dood!

En dit was die simbool van hulle verlossing deur die dood.  Dit was die plaasvervangende dood.  En God het vir Israel gesê dat hulle moet die pasga vier om hierdie dag te onthou om hulle te herinner aan hierdie groot verlossing wat gekom het deur die bloed van die lam.

En dit is sekerlik wat Petrus is gedagte gehad het toe hy gesê het,

1 Pet 1:18 omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie,
19 maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,

Vandag vier die Jode nogsteeds die Pasga as die grootste wonderdaad van God in Israel se geskiedenis.  In Eks 15 wanneer Moses en die seuns van Israel sing en God prys, dan sing hulle,

Eks 15:13 U het deur u guns die volk gelei wat U verlos het; U het hulle deur u krag na u heilige woning gevoer.

So die uittog uit Egipte het gegaan oor verlossing.  Hulle was verlos.  Hulle was losgekoop en die prys van die dood van ‘n lam.

Psa 78:35 en hulle het daaraan gedink dat God hul rots was en God, die Allerhoogste, hul verlosser.

God is hulle verlosser.  Maar so groot soos wat hierdie verlossing vir hulle was, kan dit nie vergelyk met die verlossing waarvan Petrus skryf nie.  Hier is die grootste verlossing.  Daarom vier ons nie meer die pasga nie, maar ons vier die nagmaal wat groter is.  Ons word herinner wanneer ons die nagmaal gebruik van die grootste verlossing.

Ons het dan gesien in vers 13 oor ons reaksie op hierdie groot verlossing.  En ons het gesien dat dit vereis van ons, ons verpligting teenoor God, teenoor ander en teenoor onsself.  Ons verpligting teenoor God, in reaksie op hierdie groot verlossing, is om volkome te hoop op die genade, om heilig te lewe en om God te vrees.

Die vrees van die Here is die begin van wysheid (Spr 9:10).  Deur die vrees van die Here wyk ‘n mens af van die kwaad (Spr 16:6).  ‘n Gesonde vrees wat God eer as ‘n heilige God.

So in v18 en 19 gee Petrus net nog motivering waarom ons volkome moet hoop, heilig moet leef en God moet vrees.

Die term wat hy gebruik, “losgekoop/redemption” beteken om ‘n losprys te betaal om iemand te vry te laat.  Hier is dan net nog ‘n rede waarom jy volkome moet hoop, heilig moet leef en God moet vrees, want God het jou losgekoop.  Hy het vir jou ‘n losprys betaal om jou vry te maak.

En hier is vier vrae wat ons moet antwoord.  En dit sal vir ons ‘n goeie gesonde leer gee oor verlossing.  Eerstens, waarvan is ons verlos? Tweedens, waarmee is ons verlos?  Derdens, deur wie is ons verlos?  En vierdens, waarom is ons verlos?
Waarvan is ons verlos? 

Die waarskynlike antwoord is...sonde.  En ja, die skrif ondersteun dit, dat die mens onder die slawerny van sonde was.

Rom 6:6 aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.

V17 sê ons was slawe van sonde en v18 sê ons is vrygemaak van sonde en het dienaars geword van geregtigheid.  Ja, so ons is verlos van sonde.  Maar ons sien ook byvoorbeeld in Gal 3:13 dat God ons losgekoop het van die vloek van die wet.

Wat beteken dit?  Die vloek van die wet is die straf van sonde.  Die siel wat sondig moet sterwe.  Die wet sê dat die loon van sonde is die dood, die ewige dood.  So ons was verlos van sonde en ook van die vloek van die wet, die loon van sonde, die straf van sonde, die ewige dood.

Ef 1:7 In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade.

Ons is verlos van die misdade, van sonde.  En ook in Kol 1:14 “die verlossing deur sy bloed, naamlik die vergifnis van sonde.”  So ons verlossing het te doen met sonde.  En dan hierdie ongelooflike teks,

Tit 2:14 wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.

So dit het te doen met sonde.  Ons is verlos van sonde, van ongeregtigheid, van misdade.  Dit is die algemene gedagte.  Maar kom ons gaan terug na ons teksgedeelte en sien waarna dit spesifieks verwys.  Die eerste is in v14.

1 Pet 1:14 Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie.

So een kenmerk van sonde is begeerlikheid.  Sondaars word beheer deur begeerlikheid.  ‘n Begeerte na dit wat boos is.  Hierdie kenmerk word dan ook verder beskryf in 1 Thes 4:5 wat sê dit is hoe die heidene is wat God nie ken nie.  So sondaars word gedryf deur hulle harstogtelike begeerstes.

Jak 1:14 Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word.
15 Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.

Begeerlikheid begin in jou gedagtes.  Jeremia 3:17, 7:24 in die KJV noem dit, “the imagination of their evil heart.”  Die Afr praat van die verharding van die hart, maar die letterlike vertaling sou wees, die verbeeldings van jou bose hart.
En dit is hoe sonde werk.  Sonde begin in die verbeelding van jou hart.  In jou gedagtes. 

Kom ek gee ‘n voorbeeld:  Ek word versoek om iets verkeerd te doen.  Die versoeking kom na my toe.  En as ek dit nie hanteer nie, kom dit in my gedagtes.  Ek dink daaraan en koester die gedagte.  Ek oorweeg om dit te doen.  En wanneer ek daaroor dink, dan verander my gedagtes in verbeeldings. 

En nie lank nie word hierdie verbeeldings impulse wat my gedrag bepaal.  En hoe langer jy daaroor dink hoe meer voed jy dit.  En dit sal soos Jakobus sê jou wegsleep en verlok en op die ou einde baar dit sonde.  Sonde werk in jou verbeeldings.  En ‘n sondaar se verbeeldings word beheer deur sonde.

Kyk wat sê die volgende vers,

Luk 1:51 Hy het deur sy arm kragtige dade gedoen. Hoogmoediges in die gedagtes van hulle hart het Hy verstrooi.

KJV sê, “he hath scattered the proud in the imagination of their hearts.”

Sonde begin as ‘n gedagte.  Dit word gevoer in die verbeelding.  En die verbeelding lei tot aksie.  Maar as kind van God, word jou verbeelding nie meer net beheer deur die begeerlikhede van die hart nie.  Want die Heilige Gees het inspraak in jou gedagtes.  Die Heilige Gees oortuig jou, dit is sonde.

Daarom kan ‘n wedergbore kind van God nie rustig en sonder skuldgevoel in ‘n leefstyl van sonde bly nie.  Die Gees sal hom nooit tot rus laat nie.  Daar sal altyd ‘n stryd wees in sy binneste.  En as jy wandel deur die Gees, sal jy nie die begeerlikhede van die vlees volbring nie.

As jy in die vlees wandel, gaan die vlees jou gedagtes beheer.  So as jy lank genoeg voor die TV sit en jou gedagtes net voer met allerhande gemors, dan gaan dit jou verbeelding begin beheer.  En dit gaan impulse word wat lei tot aksie.  Daarom moet jy jou gedagtes oppas.  Jy moet jou hart bewaar.

Jos 1:8 Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel.

Psa 19:14 Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser!

Die oordenkinge.  The meditation of my heart.  Dit is jou verbeelding.  Jy moet dit goeie en gesonde bybelse waarhede gee en dit sal jou gedrag bepaal.

So om alles nou op te som, sê dit vir ons dat ons verlos is van die feit dat ons totaal en al deur die begeerglikhede en bose gedagtes beheer was.  Dit het voorheen in onwetenheid bestaan soos vers 14 sê.
Kyk net na die wêreld.  Dis geen wonder dat mense doen wat hulle doen nie.  Dis geen wonder dat mense die verskriklikste dinge aanvang nie.  Mense se gedagtes is besoedel met boosheid.  Dit is nie veel anders as wat ons lees in Gen 6 nie.

Gen 6:5 Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was,

Al die versinsels wat hy in sy hart bedink.  KJV sê, “every imagination of the thoughts of his heart was only evil continually.”

So die eerste vraag: Waarvan is ons verlos?  Ons is verlos van die bose versindsels van die hart.  En daarom moet ons ons gedagtes en ons hart bewaar.  Mag ons gedagtes op Hom gefokus wees.  Mag ons die dinge daarbo bedink en nie dit wat op die aarde is nie.

Ons het rede om te hoop.  Ons het rede om heiligmaking te leef.  Ons het rede om God te vrees, want Hy het ons verlos van die begeerlikhede waarin ons voorheen gewandel het.  God het ons verlos van die slawerny van sonde, van alle ongeregigheid.  Hy het ons verlos van die straf van sonde.  Hy het ons verlos van die ewige dood.


No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288