Monday 30 July 2012

Bonatuurlike liefde – deel 3


1 Pet 1:22 As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit ‘n rein hart;
23 want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.
24 Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ‘n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af,
25 maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is.

Ons praat oor ons verpligting teenoor ons mede broer en suster.  Ons praat oor bonatuurlike liefde.  Dat ons mekaar vurig lief moet hê.  ‘n Liefde wat gaan tot die uiterste.  ‘n Liefde wat menigde sondes bedek.  ‘n Liefde wat vir ander omgee diep daar waar lewe geleef word.  ‘n Liefde wat aanhoudend en met groot inspanning uitreik na die wat in nood is.

1 Pet 1:22 As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit ‘n rein hart;

Maw dit is nie uiterlik nie.  Dit word nie wetties afgedwing nie.  Dit is ‘n verpligting wat kom van binne af, uit jou hart.  En God moet ons help dat ons hierdie soort van medelye kan hê.  Dit is seker wat Paulus bedoel het in,

1 Tim 1:5 Maar die doel van die gebod is liefde uit ‘n rein hart en ‘n goeie gewete en ‘n ongeveinsde geloof

Liefde uit ‘n rein hart is liefde as vrug van die Gees.  Dit is liefde wat die Heilige Gees in ons harte produseer.  Dit is liefde wat kom van binne af.  Hoe?  Die vrug van die Gees.  Hoe kan die vrug van die Gees in my lewe sigbaar word?  Gal 5, wanneer ons deur die Gees wandel.  Wanneer ons toelaat dat die Heilige Gees ons lewens beheer.  En solank as wat dit gebeur kan ek met daardie bonatuurlike liefde liefhê.

En somtyds beroof ons onsself van die rykdom wat daarin is om ander vurig lief te hê, want ons is nie gewillig om van binne af lief te hê nie.  God se liefde is in ons harte uitgestort en ons het die vermoë om mekaar vurig lief te hê, maar ongelukkig het ons ook die vermoë om nie so lief te hê nie, is dit nie waar nie?  Verseker.  Ons het die vermoë om te sondig, het ons nie?  En dit is sonde om nie lief te hê nie.  Daarom word ons so baie kere vermaan in die Woord om lief te hê.

Fil 1:9 En dit bid ek dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring.

1 Thes 3:12 en mag die Here julle ryk en oorvloedig maak in liefde vir mekaar en vir almal, soos ons ook teenoor julle is.

2 Thes 1:3 Ons moet God altyd oor julle dank, broeders, soos dit billik is, omdat julle geloof grootliks toeneem en die wederkerige liefde van elkeen van julle almal groter word,

Dit is wat God wil hê.  Dit is wat moet gebeur.  God wil hê ons liefde moet meer word, dit moet oorvloedig wees, dit moet toeneem.

Wanneer is ons in staat gestel om so te kan liefhê?  Toe ons wedergebore is.  Wie moet ons liefhê?  Ons moet mekaar liefhê.  Hoe moet ons mekaar liefhê?  Ons moet mekaar vurig liefhê uit ‘n rein hart.
En dan die vierdie vraag wat Petrus beantwoord: Hoekom moet ons so liefhê?  Die antwoord help
ons om te die teksgedeelte te verstaan.  Daar is soveel rykdom in hierdie teks.  Hoekom?

1 Pet 1:23 want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.

Ons moet mekaar vurig liefhê, want ons is wedergebore.  Dit is wat kinders van God doen.  Hulle het mekaar lief.  Dit is ‘n kenmerk van ‘n wedergeborene.  1 Joh 4:7 sê dat elkeen wat liefhet, is uit God gebore.

1 Joh 5:1 Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore; en elkeen wat die Vader liefhet, het ook die een lief wat uit Hom gebore is.
2 Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie bewaar.

Dit sê dat elkeen wat die Vader liefhet, het ook Christus lief, het ook die kinders van God lief.  Dit is alles aan mekaar verbind.  Dit is die rede hoekom ons so moet liefhê, want ons is aan mekaar verbind.  Ons is deel van mekaar, deel van God se familie.

Wat ons ook moet raaksien in v23m is die beslistheid van wedergeboorte.  Dit is verseker.  Dit is finaal.  En dit sluit aan by wat teoloë noem, monergisme.  Monergisme is heeltemal iets anders as sinergisme.  Nou, sinergisme is die samekoms van verskillende dele.  Monergisme is een enkele deel.

En daar sommige teoloë wat glo dat wedergeboorte is ‘n sinergisme.  Maw dit vind plaas wanneer die mens saam met die Heilige Gees werk om wedergeboorte te bewerk.  Dit is sinergisme.  Monergisme sê wedergeboorte is alleen die werk van die Heilige Gees apart van enige mens se werk.  Maw dit is enkel werk van die Heilige Gees. 

Vraag:  Het die mens deel aan sy redding?  Hy het deel aan sy wedergeboorte?  Hy hy iets gedoen om wedergebore te word?  Nee!

‘n Baba gee nie geboorte aan homself nie.  ‘n Baba veroorsaak nie sy eie verwekking nie.  En nog minder die sondaar wat dood is in sy misdade en sonde.  ‘n Dooie mens kan homself nie lewendig maak nie.  Dit is die werk van God. 

So v23 sê dat wedergeboorte is ‘n beslisende oomblik, ‘n gebeurtenis wat plaasgevind het in jou lewe op ‘n seker dag, toe jy van die duisternis na die lig beweeg het, toe jy uit die koninkryk van die Satan oorgegaan het na die koninkryk van God.  Toe die ou lewe afgelê is, die oue mens gesterf het,
en jy opgestaan het in ‘n nuwe lewe.  Wedergeboorte is ‘n beslisende, daadwerklike gebeurtenis.

En tweedens is die werkwoord in ‘n passiewe vorm en beteken dit dat jy nie deel gehad het in jou redding nie.  Jy het nie God gehelp en saam met Hom gewerk om wedergebore te word nie.  Dit is nie sinergisme nie, maar monergisme.  Dit is die werk van God.

Joh 3:8 Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.

Dit is die Gees wat God wat wedergeboorte skenk en Hy kom en gaan soos Hy wil.  Ons kan dit nie maak gebeur nie.

Ef 2:1 En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes

Hy het julle lewend gemaak.  Dit is alleen die werk van God.  En hoe het Hy dit gedoen?  Hoe het God ons wedergeboorte geskenk?

1 Pet 1:23 want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.

Nie uit onverganklike saad nie.  Wat beteken dit?  Dit is nie ‘n aardse geboorte nie.  Dit is nie ‘n menslike geboorte nie.  Die mens is uit sondige ouers gebore en daarom het hy ‘n sondige natuur.  Die mens is gebore uit verganklike saad en daarom is dit nie vir ewig nie, maar tydelik.  Ons gaan sterf.  Jy gaan sterf.  Ek gaan sterf.  En ek gaan seker maak dit is laaste ding wat ek doen.

Ons gebore as slawe van ongeregtigheid.  Ons het die duiwel as ons vader gehad.  Ons was vyande van God.  Dit is geboorte uit verganklike saad.  Maar ons is wedergebore uit onverganklike saad.  Jou tweede geboorte is nie ‘n aardse geboorte nie.  Dit is nie ‘n tydelike geboorte nie.  Ons nie ouer is God, die saad is onverganklik.  Die geboorte is nie vleeslik nie, maar geestelik.

Ons wedergebore as slawe van Christus.  Ons het ‘n hemelse Vader.  Ons is nie vyand nie, maar vriend van God.  So Petrus sê, julle moet mekaar vurig leifhê, want dit is wie julle is, julle is wedergebore uit onverganklike saad.  Hierdie liefde is daarom nie aardse liefde nie, dit is goddelike liefde.  Dit is ‘n bonatuurlike liefde.

Wat is hierdie onverganklike saad wat vir ons die wedergeboorte geskenk het?  Dit is die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.  Die Woord van God lewe soos wat God lewe.  Dit kan nie sterf nie, net soos God nie kan sterf nie.  En as jy daardie geestelike geboorte ontvang het en deel het aan die goddelike natuur, kan jy ook nie sterf nie.  ‘n Wedergebore persoon kan nie weer onwedergebore word nie.  Hy sal vir ewig lewe.
Omdat die Woord van God tot in ewigheid bly, is dit die saad wat ook lewe kan gee wat vir ewig is.

Jak 1:18 Volgens sy wil het Hy ons voortgebring deur die woord van die waarheid, sodat ons as eerstelinge van sy skepsele kan wees.

Ons word gered deur die Woord van God.

Rom 1:16 Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.

Die evangelie van Christus, dit is ‘n krag tot redding vir elkeen wat glo.  Dit is die Woord van God, die onverganklike saad, wat lewe gee.  Dit is hoekom Paulus ook sê in Rom 10, hoe kan iemand hoor sonder een wat preek.  Geloof kom uit die gehoor en die gehoor is deur die Woord van God.

Die mens kan nie tot bekering kom sonder die Woord van God nie, sonder die waarheid nie.  En om sy standpunt duideliker te maak, gaan Petrus na die Ou Testament toe soos wat die Nuwe Testament skrywers gewoonlik doen.  Hy gaan na Jesaja 40:6,7 toe.

Jes 40:7 Die gras verdor, die blom verwelk as die asem van die HERE daarin blaas. Voorwaar, die volk is gras!
8 Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid.

1 Pet 1:24 Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ‘n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af,
25 maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is.

Hy eindig met: Dit is die Woord wat aan julle verkondig is.  Hierdie is die groot waarheid.  En hierdie gedagte om op baie ander plekke ook voor.  Petrus sê al die heerlikheid van die mens is soos ‘n blom van die gras.

Jy kyk na ‘n veld en al wat jy sien is gras.  Maar so nou en dan kom daar mooi blomme voor in die veld en hierdie blomme is die heerlikheid van die veld, dit is die skoonheid van die veld.  En Petrus weet dat die groot gedeeltes van Palestina het grasvelde met mooi blomme.  Blomme met verskillende kleure.

En selfs die heerlikheid van die mens, selfs die mooiste skoonheid van die mens in vergelyking met die gewone eenvoudige veld is maar net tydelik.  Dit vergaan.  Dit gaan verby.  Dit is nie vir ewig nie.  Dit sterf en gaan verby.  Of jy nou wonderlik is of eenvoudig is.  Die beste van die mens se lewe, die beste van die mensdom.  Raai wat?  Dit gaan ook verby.

Selfs die mooiste mense, die gesondste mense, die sterkste mense, die mees gerespekteerde mense, die slimste mense, of die mees begaafde mense, die beste.  Jy mag dalk die blom wees wat almal bewonder, maar ek het vir jou nuus.  Jy gaan ook sterf.  Die dood stel ons almal op gelyke vlak.

En so kom Petrus en haal Jesaja aan en sê dat jy is nie wedergebore met daardie tipe saad nie, maar jy is wedergebore uit onverganklike saad, in Christus het jy ‘n nuwe onverganklike lewe.  Let op!  Onverganklik.  Dit beteken ‘n as jy eenkeer ‘n kind van God is, is jy vir altyd ‘n kind van God.  Is dit nie ongelooflik nie?  Ons geestelike nuwe mens sal nooit vergaan nie.

Dit is die onverandelike Woord waardeur jy gered is.  Dit is deur daardie woord wat aan jou verkondig is.  Nou in v23 gebruik hy die woord “logos” wat verwys na die Skrif, die Bybel.  Hy sê dit is die lewende Woord van God wat tot in ewigheid bly.  Maar in v25 gebruik hy die woord “rhema”, die woord wat verkondig is.  Dit is ‘n spesifieke uitdrukking.  Die gesproke Woord.  Die spesifieke gesproke woord “rhema” wat kom uit die “logos”, die Skrif.

Beide, let op, beide die logos en die rhema bly tot in ewigheid.  Die totale Woord, die logos is vir ewig en die spesifieke woord, dit wat aan julle verkondig is, die gesproke woord, die rhema, bly ook tot in ewigheid.  Beide bring nuwe lewe.  Nuwe geboorte. 

Ons het die vermoë om met bonatuurlike liefde lief te hê, ontvang toe ons gered is.  Ons moet ons mede broeders liefhê.  Ons moet hulle vurig liefhê.  En die rede waarom ons hulle moet liefhê is want dit is hoe dit is met wedergebore mense.  Dit is in ons geestelike natuur om lief te hê.

Ons word vermaan om mekaar lief te hê.  Kom ons doen dit.  Dit is wat werklik uitdrukking gee aan die nuwe geestelike natuur wat jy ontvang het.  Die onveranderlik saad van God wat aan jou lewe geskenk het wat nooit vergaan nie.  So jy kan nooit ophou om bonatuurlik lief te hê.  Dit is jou verpligting as kind van God in reaksie op die groot verlossing wat Hy aan jou gegee het.

Ons kan want God het ons in staat gestel.




No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288