Monday 30 July 2012

Bonatuurlike liefde (vervolg)


1 Pet 1:22 As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit ‘n rein hart;
23 want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.
24 Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ‘n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af,
25 maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is.

Ons het nou verlede week begin om te kyk na ons verpligting as gelowiges teenoor mekaar.  Ons moet mekaar vurig liefhê.  Dit is ook waaraan Jesus se dissipels gekenmerk word, liefde onder mekaar.  Hierdie liefde is ‘n bevel.  Ons moet mekaar vurig liefê.  En God se Gees stel ons in staat om met agape liefde te kan liefhê.

1 Joh 3:23 En dit is sy gebod, dat ons in die Naam van sy Seun, Jesus Christus, moet glo en mekaar liefhê soos Hy ons ‘n gebod gegee het.

Aan die een kant kan ons mekaar vurig liefhê, want ons is wedergebore, maar aan die ander kant sê hy nou, doen dit!  Die vermoë is daar, die liefde is in julle harte uitgestort, maar nou is dit julle plig.  Wees vir mekaar lief. 

Fil 1:9 En dit bid ek dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring,

Hier sê Paulus moet julle liefde nog meer en meer oorvloedig word.

1 Joh 4:7 Geliefdes, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God.

Kom ons draai dit om, die wat uit God gebore is en God ken, elkeen van hulle het lief.  As hierdie liefde nie in jou lewe teenwoordig is nie, is jy nie ‘n Christen nie.  As dit teenwoordig, moet dit meer en meer oorvloedig word.

1 Joh 4:20 As iemand sê: Ek het God lief—en sy broeder haat, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie?

Dit is baie hard gestel.  Dit is swart en wit.  As jy gered is, het jy God lief en jou broeder lief.  As jy nie gered is nie, kan jy nie so lief hê nie.  So eenvoudig soos dit.  En Petrus sê dat ons hierdie vermoë ontvang het om lief te kan hê met agape liefde toe ons siele gereinig is.

1 Pet 1:22 As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit ‘n rein hart;

Let op die woorde “ongeveinsde broederliefde”.  ESV sê, “for a sincere brotherly love”.  Opregte liefde.  Dit is nie fake nie.  Dit is eg.  En alhoewel ons die agape liefde van God het wat in ons harte uitgestort is en ons die vermoë het om so te kan liefhê, sê Paulus steeds in,

Rom 12:9 Laat die liefde ongeveins wees...

Laat julle liefde opreg wees.  Dit moet genuine wees.  Dit moet nie fake wees nie.

Dit bring ons dan by ‘n tweede vraag wat Petrus vir ons in die gedeelte beantwoord.  Die eerste vraag was: wanneer het ons hierdie vermoë ontvang om met agape liefde te kan liefhê?  Die antwoord is, toe ons wedergebore is.  Die tweede vraag is: wie moet ons liefhê?  V22 sê dan, julle moet mekaar vurig liefhê.

Mekaar!  Wie is hierdie mekaar?  Net soos wat ons lees in 1 Joh, gaan dit ook hier oor broeder liefde.  In Grieks is dit die woord “Philadelphia”, broederliefde.  Dit beteken ons moet ander Christen broeders liefhê.

Maw toe jy gered is, het God nie net ‘n nuwe liefde gegee waarmee jy kan liefhê nie, maar Hy het vir jou ‘n nuwe familie gegee met wie jy hierdie liefde moet deel.  Liefde vir mekaar is liefde vir die kerk.  As jy God lief het, het jy Sy kerk lief.

Dit is wat Joh 13 gesê het, wanneer ons mekaar liefhet sal die mense weet dat ons Sy dissipels is.  As ons Christene is, sal God se liefde onder ons woon, en ons sal ons broeders liefhê.

Joh 15:12 Dit is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het.

Jesus het dit vir die twaalf dissipels gesê.  En ons moet mekaar so op dieselfde manier liefhê.  Wat dan van die wêreld?  Nee!  Die Bybel sê in 1 Joh ons moet nie die wêreld liefhê nie, dit is die bose sisteem. 

Maar hoe gaan ons die wêreld wen as ons nie die wêreld liefhet nie?  Kom ek vertel jou hoe.  As ons mekaar liefhet sal ons die wêreld wen.  Hoekom?  Want die wêreld begeer om deel te wees van iets waar mense mekaar liefhet.  Dit is die sterkste aantrekkings krag wat ons kan hê.

Dit is waarom Paulus vir ons ‘n ongelooflike scenario skets in 1 Kor 10.  Gaan lees dit.  In breë sê Paulus, jy het ouer Christen en dan ‘n jonger Christen wat onlangs tot bekering gekom het.  Hulle gaan eet by ‘n ongelowige heiden.

Die ouer Christen het nou al gegroei is meer volwasse en die jong Christen was onlangs gered uit afgodediens.  Die ongelowige heiden bring die kos uit en die jong Christen kyk dit so en sê, maar dit is vleis.  Hy kyk na die ouer Christen en sê, ek wonder waar het hy hierdie vleis gekoop.  Was dit nie dalk by die tempel waar hulle dit aan afgode geoffer het nie? 

Jy sien, die jong Christen het uit hierdie afgodediens gekom en weet dat hierdie vleis geoffer is aan afgode, so hy kan dit nie eet nie.  Dit herinner hom aan die heidense godsdienste.  Dit is waarom hy vir die ouer Christen vra of dit afgodsoffer is.

1 Kor 10:28 Maar as iemand aan julle sê: Dit is afgodsoffer—moet dit dan nie eet nie, ter wille van hom wat dit te kenne gegee het, en ter wille van die gewete—want die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan—
29 ek bedoel die gewete, nie van jouself nie, maar van die ander; want waarom word my vryheid geoordeel deur ‘n ander se gewete?

Nou hoekom moet hy dit nie eet nie?  Eet hy nie van die ongelowige heiden se kos nie, gaan hy dalk die heiden aanstoot gee.  Eet hy wel van die kos, gaan hy sy Christen broer aanstoot gee.  So die vraag is, moet hy dit eet of nie?  Die antwoord is: Nee!

Maar wag so bietjie, die ongelowige mag dalk kwaad wees as jy nie sy kos eet nie.  Ja, maar as jy wel sy kos eet, dan sê jy dat jy die ongelowige met meer liefde behandel as jou eie Christen broer.  En die ongelowige kom tot gevolgtrekking, dit is beter om ‘n ongelowige te wees as ‘n gelowige.

Aan die ander kant as jy nie die ongelowige se kos eet nie, dan sê jy dat jy kan nie jou broer aanstoot gee nie, en die ongelowige kom tot die gevolgtrekking, wow, dit is liefde.  En dit is daardie liefde wat ongelowiges aantrek.  So as ons net mekaar liefhet, dan is die getuienis oorweldigend.

Wat beteken dit om mekaar lief te hê?  Onthou ons praat nie hier van gevoelens en emosies nie.  Kom ek vra dit so: Wat het jy vandag gedoen om jou Christen liefde te toon?  Wel, my vrou het gesê ek moet die skottelgoed was, en ek het?  Seker nie ‘n slegte idee nie.  Of ek het vir iemand anders die parkering gegee waar ek wou parker het, al was ek eerste daar.  Ook nie te bad nie.

Is dit wat die Bybel sê ons moet doen as ons mekaar liefhet?  Dit gaan egter veel dieper as dit.

Joh 15:13 Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee.

1 Joh 3:17 Maar wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom?

Ons praat van regte nood.  Iemand wat regtig behoefte het.  Wanneer laas jy uitgereik na iemand wat regtig in nood is?  Wanneer laas het jy uitgereik na ‘n enkel ouer wat sukkel om haar kinders groot te maak sonder ‘n man?  Wanneer laas het jy iemand in jou huis ingeneem wat nie blyplek het nie?  Wanneer laas het jy by ‘n sterfbed in die hospital gesit en getreur saam met ‘n familie wat besig is om iemand te verloor?

Wanneer laas was jy met iemand tyd gespandeer wat vasgevang is in sonde en sukkel om uit te breek?  Wanneer laas het jy jou eie planne moes laat vaar om tyd te spandeer met iemand wat alleen is?  Liefde wat uitreik diep daar waar lewe geleef word.  Nie klein gunsies nie.  Maar iemand wat regtig gebrek ly.

Hoe het Jesus liefgehad?  Hy het gesê ons moet ander liefhê soos Hy ons liefgehad het.  Hoe het Hy liefgehad?  Hy het ons so liefgehad dat Hy ons in ons diepste nood ontmoet het.  Hy het ons so liefgehad dat hy barmhartigheid bewys het in ons gebrokenheid.  Hy het ons so liefgehad deur vir ons daar te wees toe niemand anders daar was nie.

Ons moet mekaar liefhê op die vlak waar liefde bybels is en nie oppervlakkig nie.  En hoe verder die moderne kerk die health, wealth en prosperity gospel preek, hoe verder beweeg hulle weg van die vlak waar Christelike liefde regtig bewys word. 

Ons het hierdie vermoë om waarlik agape liefde te kan gee ontvang toe ons gered is.  Wie moet ons liefhê?  Ons moet mekaar vurig liefhê.  Ons moet alles in ons vermoë doen om dit ‘n realiteit te maak.

Nie net is dit belangrik om mekaar lief te hê en is dit ons plig of Christus se liefde te leef nie en die liggaam van Christus te seën en te bemoedig en versterk nie, maar ons liefde vir mekaar is waarskynlik die belangrikste ding wanneer dit kom by die impak wat ons gaan hê in die wêreld.

Ons word uitgeken as dissipels van Christus op die basis van ons liefde vir mekaar.

Joh 17:20 Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo—
21 dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.

Nie net sal die wêreld sê ons is dissipels van Christus nie, maar sal hulle ook glo dat Christus van God af kom.  Ons word daarom met Christus geïndentifiseer wat van God af kom, wanneer ons liefde onder mekaar het.

Die derde vraag wat Petrus vir ons beantwoord in 1 Pet 1:22 is: Hoe moet ons liefhê?

1 Pet 1:22 As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit ‘n rein hart;

Ons moet mekaar vurig liefhê.  En dit is baie belangrik woord vir Petrus, hy gebruik dit weer in hoofstuk 4.

1 Pet 4:8 Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê, (hoekom?) want die liefde sal ‘n menigte sondes bedek.

Liefde sal menigte sondes bedek.  Liefde oorspoel alle oortredinge.  So baie mense het grudges.  So baie mense word bitter en onvergewensgesind.  Liefde bedek menigte sondes.  God wil hê dat ons mekaar so sal liefhê dat dit die oorheersende ding sal wees.

Die Griekse woord vir “vurig” is die woord “ektenes”.  Dit beteken om tot die uiterste punt te gaan.  Sover as wat jy kan te gaan.  Om vurig lief te hê beteken om tot die uiterste lief te hê, en in die geval sover as wat liefde enige sonde wat ooit bestaan het kan bedek.

Onthou wat Jesus vir Petrus gesê het,

Mat 18:21 Toe kom Petrus na Hom en sê: Here, hoe dikwels sal my broeder teen my sondig en ek hom vergewe? Tot sewe maal toe?
22 Jesus antwoord hom: Ek sê vir jou, nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe.

Jesus het hier verwys na die gelowiges.  Binne die kerk, moet ons die broeders liefhê sover as wat liefde strek, dat dit menigte sondes bedek, dat ons ons broeders sal vergewe.

Dit is dieselfde woord wat Luk 22:44 gebruik toe Jesus gebid het in die tuin van Getsemane.  Dit sê Hy het met groter inspanning gebid.  Hy het so gebid dat Sy sweet in bloeddruppels verander het.  Ons kry die woord ook in Hand 12:5 waar dit sê dat Petrus in die gevangenis aanhoudend gebid het.  Hy het letterlik gebid tot die uiterste tot waar sy geloof kon strek.

Maw ons moet mekaar met inspanning liefhê.  Ons moet mekaar aanhoudend liefhê.  Ware liefde, agape liefde is ‘n aanhoudende inspannende liefde.  Dit is ‘n permanente liefde.  Dit is hoe ons mekaar moet vurig liefhê.

Dit is ‘n bonatuurlike liefde.  Dit is waarom net wedergebore kinders instaat is om so te kan liefhê.  God verwag dit van ons.  Dit is ons verpligting teenoor mekaar, juis omdat God vir ons so wonderlike groot verlossing gegee het.

Wat sê die groot gebod?

Luk 10:27 En hy antwoord en sê: Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself.

Wat beteken dit om jou naaste lief te hê soos jouself?  Dit beteken om jou naaste se behoeftes en nood raak te sien op dieselfde wyse waarop jy jou na jou eie behoeftes en nood kyk.  Toe vertel Jesus hulle ‘n storie om dit te verduidelik.  Hy vertel hulle van die barmhartige samaritaan.

Die Samaritaan het die man wat deur rowers oorval is, se wonde verbind en olie en wyn daaroor gegooi.  Hom op sy pakdier gesit en hom na ‘n herberg geneem.  En nie net dit alleen nie, maar hy betaal nog vir sy versorging en sê ook bo op dit, dat as daar nog uitstaande kostes is, sal hy dit betaal.

Dit is liefde wat tot die uiterste gaan.  Dit is wat dit beteken om vurig lief te hê.

Slot

Hoe moet ek so liefhê?  Dalk het jy nog nie iemand gekry wat so langs die pad lê nie.  Hier praat ons egter van ons broeders.  Dat ons ons broeders vurig moet liefhê.  Hoe moet ek dit doen?  Ons praat nie van gevoelens en emosies nie.  Ons praat nie van om net almal om jou beter te laat voel nie.

Dit gaan oor iemand wat werklik nood het.  Iemand wat werklik behoefte het.  Wat dit ook mag wees.




No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288