Thursday 8 November 2012

Die dag van die Here

Teksgedeelte: 1 Thes 5:1-4

1 Thes 5:1 Maar oor die tye en geleenthede, broeders, het julle nie nodig dat aan julle geskryf word nie;
2 want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos 'n dief in die nag.
3 Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid--dan oorval 'n skielike verderf hulle soos die barensnood 'n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie.
4 Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos 'n dief sou oorval nie.

Een van die vreeslikste en angswekende waarhede in die Bybel, is die waarheid wat gaan oor die dag van die Here, waarvan ons gelees het in v2.    Die dag van die Here is die dag wanneer Jesus kom om die goddelose wêreld te oordeel.  Die dag van die Here is ‘n dag van verwoesting en vernietiging. 

Vandag is dit nie populêr om te praat oor God se toorn of oor Sy wraak nie.  ‘n Mens hoor ook nie baie preke oor hierdie onderwerp, nl. die dag van die Here nie.  Hierdie dag is die dag wanneer Jesus die wêreld wat Hom verwerp het, sal veroordeel.  .

Maar as ons hierdie waarheid na laat, is ons nie getrou aan die Skrif nie.  Paulus sê in:

Hand 20:27 Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie. 

Ons kan nie ‘n halwe waarheid verkondig nie, maar ons moet die hele raad van God verkondig en dit sluit in dat ons sal praat oor die dag van die Here.

Die Bybel het baie te sê oor hierdie onderwerp, oor die dag van die Here, die ewige straf van ongelowiges, veroordeling, vergelding, wraak, toorn, ens.  Die profete het baie daaroor gepraat.  Die apostels het baie daaroor gepraat.  Maar die persoon wat die meeste daaroor gepraat het, was Jesus self. 

Daarom glo ek dat die profete, apostels en Jesus vir ons ‘n voorbeeld van hoe ‘n ware prediker moet lyk.  En deel van ons prediking gaan daaroor om mense te waarsku oor die dag van die Here.

Nadat Paulus in 1 Thes 4:13-18 geskryf het oor die wegraping, skryf hy nou in 1 Thes 5, die volgende hoofstuk, oor die gebeure wat na die wegraping sal plaasvind.  Hier praat hy oor die dag van die Here, v2, maw die vernietiging van die goddelose.  Almal wat op die aarde is wat Christus verwerp het, sal die dag van die Here ervaar.
Op 14:7 En hy het met 'n groot stem gesê: Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom;…

Ek het alreeds vir u gewys dat, Op 6-19, gaan oor die groot verdrukking, en ons het alreeds gesien dat die kerk nie deur die verdrukking gaan nie, maar by die Here sal wees in die hemel.  Maw. die uur van Sy oordeel sal aanbreek in die verdrukkings tydperk en die kerk sal dit nie ervaar nie.

Ons het laas week ook gesien dat Paulus in 2 Thes 2 probeer om die verwarring wat valse leraars in die gemeente van Thessalonicense gesaai het, regstel.  Hierdie ouens het gesê dat die dag van Christus alreeds aangebreek het, maar Paulus sê dit kan nie wees nie, want die afval, die seun van die verderf, die antichris moet eers op die toneel verskyn. 

2 Thes 2:7, 8 sê dat hy, die antichris nie geopenbaar kan word nie, nie voordat hy wat hom teëhou, naamlik die kerk van die Here Jesus Christus, eers uit die weg geruim word nie.

Ons het laas week gesien dat die kerk se verwagting is dat Jesus enige oomblik kan kom.  Die volgende gebeure op die kerk se profetiese kalender is die koms van Jesus en nie die verskyning van die antichirs en die dag van die Here nie.  Dit gebeur na Jesus Sy kerk kom haal het.  Vanaf die apostoliese tydperk, het die kerk Jesus se koms spoedig verwag.  Dit was volgende gebeurtenis op die kalender. 

Ons kyk dan vandag na die dag van die Here.  Die wegraping is vir die gelowige.  Die dag van die Here is vir die ongelowige.

1 Thes 5:1 Maar oor die tye en geleenthede, broeders, het julle nie nodig dat aan julle geskryf word nie;

Kom ek gee eers die agtergrond: Die mense van Thessalonicense was nuuskierig oor al hierdie eindtyd gebeure en wanneer dit gaan plaasvind.  En ek glo ons almal is ook maar nuuskierig. 

Eerstens het hulle gewonder hoekom die mense sterf as Jesus dan sou kom.  Hoekom lewe hulle nie totdat Hy kom nie?  Tweedens, as Jesus Sy koms dan sou uitstel, wanneer gaan dit gebeur?  Wanneer kom Hy?  Hulle wou weet.  Hulle wou die tye en geleenthede weet.

Dit is waarom Paulus hulle bemoedig in 1 Thes 4:

1 Thes 4:13 Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie.

Hulle het gedink Jesus gaan gou kom, maar wat gebeur nou met die wat sterf?

1 Thes 4:16 Want die Here self sal van die hemel neerdaal met 'n geroep, met die stem van 'n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.
17 Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.
18 Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.

Paulus bemoedig hulle.  Hy sê: moenie bekommerd wees oor die wat reeds gesterf het nie.  Hulle sal eerste opstaan.  Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle weggevoer word.  En ons weet dit verwys na die wegraping.  Hier kry ons die Griekse woord “harpadsou”, wat beteken, “om weggeruk te word/to be caught up”.  Dit is die eerste fase van Jesus se koms.  Wanneer Hy kom vir Sy kerk.

Nou kom ons by 1 Thes 5 en Paulus sê oor die dag van die Here: julle het nie nodig dat ek vir julle moet skryf nie.  In v4 sê hy: “Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos 'n dief sou oorval nie.”

Hoekom sal hierdie dag julle nie oorval nie? Want julle hoort nie tot die dag van die Here nie.  Dit is nie vir julle bedoel nie.  Julle is mos nie in die duisternis nie.  Julle is kinders van die lig.  Julle hoort nie by die dag van die Here nie, julle hoort nie by die oordeel van God nie, julle hoort by die wegraping.  Paulus probeer hulle bemoedig, omdat daar nog onsekerheid was.

Die mense van Thessalonicense was bang dat hulle het die wegraping gemis het en nou in die dag van die oordeel gekom.  Hulle was bekommerd oor die wat al reeds gesterf het.  Maar Paulus sê in v1: oor die tye en geleenthede, het julle nie nodig dat aan julle geskryf word nie.  Ons kry dieselfde gedagte in hoofstuk 4 v9 waar hy sê:

1 Thes 4:9 Oor die broederliefde het julle nie nodig dat ons julle skrywe nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê;

Paulus sê: julle het nie nog informasie nodig nie, julle het al die informasie wat julle nodig het rondom die tye en geleenthede.  Hy sê: julle weet dit wat nodig is om te weet.  Ons het ook gesien in Matt 24 waar die dissipels by Jesus wou weet, wat is die tekens van die tye.  En in Hand 1:6 sê hulle:

Hand 1:6 Die wat bymekaargekom het, vra Hom toe en sê: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?
7 En Hy antwoord hulle: Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie;

Paulus se reaksie in 1 Thes 5 sê dat jou geestelike voorbereiding vir die koms van Christus niks te make het met datum bepaling, of om jou horlosie dop te hou, of om een of ander teken te soek nie.  Hy sê: julle het nie nodig dat aan julle geskryf word nie.  Hoekom?  Want julle gaan nie daar wees nie.

1 Thes 5:9 Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus

In v4 het hy gesê: hierdie dag sal julle nie soos ‘n dief oorval nie.  Hoekom nie?  Want  julle is nie bestem tot toorn nie.  Julle hoort nie tot die dag van die Here nie.  Paulus sê: wat julle weet is genoeg.  Wat die dag van die Here betref hoef julle nie meer te weet nie.

Ons geestelike voorbereiding vir die koms van Christus het geen verband met datum bepaling of tydsberekening nie.  Jy hoef nie hierdie dinge te weet nie.  Jy moet in elk geval so leef asof die Here enige oomblik gaan kom. 

Paulus sê nie presies wanneer die wegraping gaan plaasvind nie, en ook nie wanneer die dag van die Here gaan plaasvind nie.

Jesus sê in:

Matt 24:36 Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.

Hoekom? Waarom sou God nie wou hê ons moet weet wanneer Sy koms  plaasvind nie?

As ons sou weet wat die datum en die tyd van die wegraping sou wees en wanneer die dag van die Here sou aanbreek, sou ons geestelik onverantwoordelik gewees het, as dit nog ver in die toekoms was.  God het so besluit dat niemand sou weet nie, sodat ons altyd met ‘n verwagting sou lewe.

Wat weet hulle wel?

1 Thes 5:2 want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos 'n dief in die nag.

Maw. al wat hulle baie goed weet, is dat die dag van die Here is oppad.  Wat hulle wel weet is dat dit gaan kom, en dit gaan kom die oomblik wanneer mense dit die minste verwag.  Hulle weet verseker dat hierdie dag sal kom soos ‘n dief in die nag, wanneer niemand dit verwag nie.

In die eerste hoofstuk van 1 Thes, v10 sê Paulus dat die kerk verwag sy Seun uit die hemele.  In hoofstuk 2v19 herinner hy hulle dat Jesus gaan kom.  In hoofstuk 3v13 herinner hy hulle weer.  In hoofstuk 4 beskryf hy die gebeure van die wegraping.  Maar hy sê nêrens, wanneer dit sal gebeur nie.  Want niemand kan dit weet nie.  Al wat Hy weet is, dat dit spoedig sal wees.

Jesus sê in:

Matt 24:42 Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie.
43 Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter nagwaak die dief sou kom, sou hy gewaak en nie toegelaat het dat in sy huis ingebreek word nie.
44 Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op 'n uur dat julle dit nie verwag nie.

‘n Dief kom onverwags.  Die gedagte hier is dat die Seun van die mens sal kom op ‘n uur wat niemand dit verwag nie.

Op 16:15 Kyk, Ek kom soos 'n dief…

Die Here is nie ‘n dief nie, maar die gedagte is dat Hy kom skielik en onverwags.  Paulus haal Jesus aan in 1 Thes 5 wanneer hy sê die dag van die Here kom soos ‘n dief in die nag. 

Wat is die dag van die Here?  Ek het reeds genoem dat dit gaan oor God se oordeel.  Kom ons kyk:

Jes 2:12 Want 'n dag is daar vir die HERE van die leërskare oor al wat trots en hoog is, en oor al wat verhewe is, sodat dit verneder kan word;

Jes 13:6 Huil julle, want die dag van die HERE is naby; hy kom as 'n verwoesting van die Almagtige.

Jes 13:9 Kyk, die dag van die HERE kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde 'n woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg.

Jer 46:10 Maar dié dag behoort aan die Here HERE van die leërskare, 'n dag van wraak, om wraak te neem op sy teëstanders; en die swaard sal verslind en versadig en dronk word van hulle bloed; want die Here HERE van die leërskare het 'n slagoffer in die Noordland, by die Eufraatrivier.

Joël 1:15 Ag, die dag! Want naby is die dag van die HERE, en hy kom soos 'n verwoesting van die Almagtige.

Joël 2:11 En die HERE verhef sy stem voor sy leërmag uit; want geweldig groot is sy leër, ja, magtig die uitvoerder van sy woord. Want die dag van die HERE is groot en uitermate vreeslik, en wie kan dit verdra?

Joël 2:31 Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die HERE kom.

Amos 5:18 Wee die wat na die dag van die HERE verlang! Wat sal tog die dag van die HERE vir julle wees? Dit sal duisternis wees en geen lig nie.

Mal 4:5 Kyk, Ek stuur julle die profeet Elía voordat die groot en vreeslike dag van die HERE aanbreek.

Daar is een ding wat ons mos oplet.  Elke keer as ons lees van die dag van die Here, dan is dit negatief.  Al die profetiese woorde oor die dag van die Here gaan oor oordeel.  ‘n Dag van verwoesting, verskriklik, grimmigheid en toorngloed.  ‘n Dag van wraak, uitermate vreeslik.  Dit sal duisternis wees en geen lig nie.

Deur die Ou Testament sien ons hoe God die natuur en ook mense gebruik om Sy wraak teen sommiges te laat geskied.  Maar by die finale einde sal daar ‘n groot katastrofiese gebeure plaasvind wat die oordeel van God sal saamvat. 

Ons sien hoe die Here met ‘n watervloed alles en almal op aarde, behalwe een gesin, uitgewis het.  Ons sien hoe dat die Here Sodom en Gomorra uitgewis het met swawelvuur.  Dit is alles voorbeelde en voorgangers van ‘n groter en finale dag wat sal aanbreek.

Matt 24:37 En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.

Luk 17:28 Net soos dit ook gebeur het in die dae van Lot: hulle het geëet en gedrink, gekoop en verkoop, hulle het geplant en gebou.
30 Net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word.

Die Nuwe Testament noem die dag van die Here, Sy dag. 

Luk 17:24 Want soos die weerlig wat van die een kant onder die hemel blits en tot by die ander kant onder die hemel skyn, so sal die Seun van die mens ook in sy dag wees.

Dit word die dag van wraak en openbaring genoem. 

Luk 21:22 Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word.

1 Pet 2:12 noem dit die “dag van besoeking”.  Die dag van die Here gaan oor God wat Sy oordeel oor die goddeloses uitgiet en hulle vernietig.  En hierdie dag gaan baie mense onverwags betrap.

1 Thes 5:3 Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid--dan oorval 'n skielike verderf hulle soos die barensnood 'n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie.

Hoe kan mense sê: “vrede en veiligheid”?  Ten midde van alles wat aangaan, aardbewings, oorloë en gerigte van oorloë, hongersnood.  Steeds sê mense alles gaan oraait wees.

Kom ons som dit gou alles op:

Paulus het gedink die wegraping sal in sy eie tyd gebeur, net soos alle Christene oor die eeue geglo het.  Hy het geglo dat die dag van die Here sal na die wegraping wees.  Paulus sê ook dat geen gelowige in die dag van die Here sal wees nie.   Hy sê niemand weet wanneer dit sal gebeur nie. 

Niemand weet wanneer die wegraping sal gebeur nie.  Niemand weet wanneer Sy verskriklike oordeel oor die goddelose sal kom nie.  Al wat ons weet is, die dag van die Here is oppad.

Het 1 Thes 5 wat handel oor die dag van die Here, enige implikasies vir my en jou? Ja, beslis.  v5 sê:

1 Thes 5:5 Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie.
6 Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees.
Want die wat slaap, slaap in die nag; en die wat dronk word, is in die nag dronk.
8 Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid.

Maw kom ons leef konstant soos kinders van die lig.  Kom ons wees waaksaam.  Kom ons wees nie soos die ander wat slaap nie.  Kom ons wees altyd gereed, gereed vir die koms van die Here.

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288