Matt 24:1 En Jesus het uitgegaan
en van die tempel vertrek, en sy dissipels het nader gekom om Hom die geboue
van die tempel te wys.
2 En Jesus sê vir hulle:
Sien julle al hierdie dinge? Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik
nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie.
3 En toe Hy op die Olyfberg gaan
sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie
dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die
wêreld?
Almal van ons sou graag wou weet wat vir ons in die toekoms voorlê. Ons sou graag wou weet wat ons nie weet nie.
Waar gaan jy wees oor ‘n paar
jaar van nou af? Ons sou graag
wou weet wat gaan gebeur met die
ekonomie van Suid-Afrika? As ons
dit kon weet, sou ons beter besluite
kon maak. Ons sou geweet het waar om ons
geld te belê. Of ons sou geweet het of ons in Suid-Afrika moet bly of nie. Daar is baie redes wat ek kan gee waarom ons die toekoms sou wou ken.
Wanneer dit kom by God
se plan en die eindgebeure, gee Jesus vir ons die tekens van die tye,
sodat ons nie in die duister sal wees oor wat in die toekoms gaan gebeur
nie.
Voordat Hy op die
Olyfberg gaan sit en die tekens van die wederkoms gee, sien ons dat Hy
Sy laaste prediking gegee het in die tempel.
Ons sien in Matt 23 dat
Jesus veroordeel die huis van Israel.
In
Luk 21:24 sien ons dat Hy maak
hierdie verklaring: “…en Jerusalem sal vertrap word deur
die nasies todat die tye van die nasies vervul is”. Hierdie vers is in 70 n.C. vervul. Dan 9:26 sê “…tot
die einde toe sal dit oorlog wees”.
Waarom
veroordeel Hy hulle?
Joh 1:11 Hy het na sy eiendom
gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.
Maar
hoe het die dissipels al hierdie
dinge verstaan?
Die dissipels het die OT
geken. Hulle het daarna verlang…’n tyd van geregtigheid
en vrede, ‘n tyd van voorspoed en veiligheid in Jerusalem, en nie net tydelik
nie, maar verewig, soos die profeet Jesaja dit voorspel het.
Ons
kry al die beloftes van Jes 9:6,
Jer 23, Jer 30 wat sê: daar sal Een kom wat op die troon van Dawid gaan sit en
regeer.
Sag 14:9 En die HERE sal Koning
wees oor die hele aarde; in dié dag sal die HERE een wees, en sy Naam een.
Hulle het ook Daniël
2 geken wat vertel van die beeld van Nebukadnesar. In v34 sien ons dat daar ‘n klip losraak sonder die toedoen van
mensehande en dit die beeld aan sy voete tref en dit fynstamp. Dan gee Daniël die verklaring en sê in v44
dat hierdie klip spreek van die koninryk
wat God sal verwek, en hierdie koninkryk sal die aardse koninkryke
vernietig.
Hierdie koninkryk sal ook verewig bestaan. Dit is die
koninkryk van die hemele, waar Jesus as Koning op aarde sal regeer. Die Jode het hierdie gedeeltes baie goed geken.
Dit
was hulle verwagting. Buite Bybelse bronne en geskrifte van die Jode wys vir ons dat die
eskatolgiese dinge, die toekoms gebeure, was die oorheersende temas. Dit is ook interesant dat hulle was pre-millennialiste. Maw.
dit beteken dat die wederkoms
vind (pre) voor die millenium plaas, voor die duisendjarige
vrederyk.
Dit is die volgorde
van gebeure soos die Jode dit geglo het:
Eers sal daar verdrukking
wees, en daarvan het hulle al baie gehad, dan iemand soos Elia, ‘n voorganger wat die koms van
die Messias aankondig, dan die koms van
die Messias. Daarna sal die nasies bymekaar kom om teen die
Messias te veg. Dan sal die Messias al
die volke wat teen Hom is, vernietig.
Daarna vind die
herstel van Jerusalem plaas, die reiniging van die stad, en dan die Millenium. Daarna versamel God al die Jode oor die hele wêreld bymekaar en is dit
ook vandag nog die daaglikse gebed van Jode.
Dit is waarvoor hulle lewe. Dit
is hulle droom. En dan sal ‘n nuwe era van vrede en goedheid en
heerlikheid aanbreek wat tot in ewigheid aanhou.
Nou,
volgens die Jode het hulle genoeg
verdrukking gehad. Hy was tans onder
die Romeinse bewind. Hier daag Johannes
die Doper op die toneel. Wat dink
hulle? Hier is die een wat kom soos Elia. En dan kom Jesus Christus. Hy maak mense gesond, wek dooies op, voed
skare mense. Hy kom op ‘n donkie in Jerusalem tydens die
paasfees en hulle gooi takke van bome en klere op die grond. Hulle
sing: Hossana in die hoogste hemele.
Hulle was sekerlik opgewonde. Die tyd
het aangebreek. Hier is die Messias. En wat onthou hulle is die eerste dinge wat moet gebeur as
die Messias kom? Al die nasies gaan teen Hom optrek en Hy gaan
hulle vernietig. Hulle dink Hy gaan oorlog voer en die
Romeinse soldate is die eerstes wat dit gaan kry. Daarna sal Hy Jerusalem reinig, en so aan.
U kan net dink waarom die
dissipels so omgekrap was toe
Jesus vir hulle gesê het dat Hy gaan sterf.
Dit het nie in hulle raamwerk
ingepas nie. Al wat hulle sien is
die heerlikheid wat gaan
aanbreek. Hulle het nie gesien dat daar
‘n tydperk sal wees tussen Sy
eerste koms en Sy tweede koms nie. Ons
weet dat hierdie tydperk word eers in
die NT geopenbaar.
Paulus sê in Ef 3:3 dat
aan my is ‘n openbaring bekend gemaak, die verborgenheid van Christus, v5 wat in ander tye aan die mensekinders nie bekend gemaak is nie. Daar is ‘n waarheid wat verborge, weggesteek was vir die OT profete. Hierdie waarheid, v6 is dat die heidene mede-erfgename is en
medelede van die liggaam en mededeelgenote is aan sy belofte in Christus deur
die evangelie.
Matt 23:38 sê Jesus: “Kyk, julle huis word vir julle woes
gelaat!” en in v39: “Want Ek sê vir julle: Julle sal My
van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in
die Naam van die Here!” Jesus sê: daar kom ‘n oordeel oor die huis van Israel, dan sal daar ‘n
tydperk wees wat hulle Hom nie sien nie en dan sal hulle Hom weer sien en sê: “Geseënd is Hy wat kom…”
“Hy wat kom in die Naam van die
Here”, is ‘n Messiaanse titel. Dit is ook wat hulle Hom genoem het, toe Hy
in Jerusalem op ‘n donkie gekom het. Matt
21:9 sê hulle: “Hosanna vir die Seun van Dawid!
Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste hemele!”
Hoe verstaan die
dissipels dit? Daar was verdrukking, Johannes die Doper het
gekom, Jesus, die Messias het gekom. Wat
moet volgende gebeur? Hy moet die nasies wat teen Hom optrek, vernietig en dan Jerusalem reinig. Jesus sê: julle huis word woes gelaat.
Wanneer hulle hoor: “julle huis word vir julle woes gelaat” dan hoor hulle
“Dit is hoe Hy Jerusalem gaan reinig van al die goddelose”. Hulle dink Hy is op skedule. Hulle
dink Hy praat van die reiniging van Jerusalem.
Maar wat Jesus eintlik sê, sê Hy in werklikheid aan die huis van Israel:
Ikabot. Die heerlikheid
van God het die huis verlaat, want God het dit verlaat. Hy sê in Matt 23:38 “julle
huis word woes gelaat!” Jesus het dit altyd Sy Vader se huis
genoem. Hier sê Hy: julle huis, nie My
huis nie. Hoekom? Want God is nie daar
nie.
Die woord “woes”, is die woord “eremos”, wat beteken “verlate”. God het dit verlaat. En julle sal My nie weer sien, totdat ek kom in volle Messiaanse glorie
nie.
Dan
kom Jesus in Matt 24:2 “Sien julle al hierdie dinge (watter
dinge? die geboue van die tempel)? Voorwaar Ek sê vir
julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie
afgebreek sal word nie.”
Jesus verwys na die
verwoesting van die tempel, nie na die reiniging van Jerusalem nie. Hierdie vers is letterlik vervul in 70 n.C toe die Romeinse leër, onder leiding
van Titus, Jerusalem aangeval en vernietig het.
Maar die dissipels is so opgewonde. Hulle dink, dit is die einde. Alles is
op skedule. Hulle bevraagteken nie eers
dit wat Jesus sê oor die tempel nie. Dit
het binne hulle raamwerk ingepas,
want hulle het geweet dat Eseg 40
en 48 beskryf ‘n nuwe tempel.
Hulle vra vir
Jesus in v3: “Vertel ons,
wanneer sal hierdie dinge wees…” Watter dinge? Die afbreek
van die tempel. Wat anders? Die verwoesting van Jerusalem, en die koms, Matt 23:38 en Hy wat kom in die Naam
van die Here, v39. Hulle het dit alles
as een gebeurtenis gesien. Die tempel is afgebreek, die stad is verwoes,
die Messias kom in sy glorie. Wanneer
gebeur al hierdie dinge? “…en wat is die
teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?”
Hulle het nie ‘n
tydperk gesien tussen Jesus se eerste koms en Sy tweede koms nie. Selfs na Jesus se opstanding, het hulle steeds so gedink, en net voordat
Hy opgevaar het hemel toe, vra hulle: In Hand 1:6 “Here, gaan U
in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?”
Dit is mos nou die tyd, is dit nie?
Nadat Jesus
gekruisig is, was al hulle hoop
vernietig. Maar nadat Hy
opgestaan het, het al die ligte weer
aangegaan. En hulle vra: Is dit die tyd? Gaan dit nou gebeur? Hulle het geglo die Koninkryk gaan opgerig
word.
Luk 19:11 En
terwyl hulle na hierdie dinge luister, vertel Hy daar nog 'n gelykenis by,
omdat Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het dat die koninkryk van God
onmiddellik sou verskyn.
Dit was al waaraan hulle gedink het.
Hulle het gedink dit is nou. Alles gaan nou gebeur. Maar Jesus sê vir
hulle: dit gaan nie nou gebeur nie. Dit lê nog voor in die toekoms. Dan
gee Hy vir ons die tekens, sodat hulle wat dit sien, sal weet, dit is die einde.
Matt 24:3 “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is
die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?”
Die
woord “koms” is die woord “parousia”, wat letterlik beteken “om
te wees”. Maw dit verwys na Sy
teenwoordigheid. Wat is die teken van U
volle teenwoordigheid?
Hulle vra:
wanneer kom U in U volle
teenwoordigheid? Wanneer gaan U
hier wees in U volle Messiaanse openbaring?
Wanneer gaan U hier wees, om dit te wees, waarna ons uitsien U gaan
wees?
Hulle vra nie
of Hy weggaan en weer terugkom nie. Die
koms in hierdie konteks verwys na Sy
teenwoordigheid. Hulle sê in der
waarheid, wanneer gaan U in U volheid toe tree.
Dit is die gedagte.
Die voleinding van die wêreld –
“συντελείας τοῦ αἰῶνος” – suntelias to aionos. Suntelias – die voltooide einde, die finale
einde. Wanneer is die voltooide en
finale einde van die, aionos, era?
In Matt 28:20 sê Jesus: “En kyk, Ek is met julle al die dae
tot aan die voleinding van die wêreld. Amen”
Jesus sê: Ek is met julle tot die finale einde toe.
In Matt 13:39 kry ons ook
die “suntelias to aionos” - die finale
einde. “en die vyand wat dit gesaai het, is
die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld, en die maaiers is die
engele.”
Hierdie
gedeelte gaan oor die gelykenis
van die goeie saad en die onkruid. Dit sê: Die oestyd is die voleinding van die wêreld. Die engele gaan die oes maai. Die onkruid sal bymekaar gemaak word en met vuur
verbrand word. Dit is hoe dit sal wees
aan die finale einde. V42 sê: “…hulle (sal) in die vuuroond (ge)gooi word. Daar sal geween wees
en gekners van die tande.”
Matt 13:43 Dan sal die regverdiges skyn soos die
son in die koninkryk van hulle Vader. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.
Matt 13:49 So
sal dit wees in die voleinding van die wêreld: die engele sal uitgaan en die
slegte mense onder die regverdiges uit afskei
50 en hulle in die vuuroond gooi.
Daar sal geween wees en gekners van die tande.
Weereens by
die “suntelias to aionos”, by
die finale einde van alles. Dit is soos ‘n
visserman wat sy net in die see gooi, en van elke soort bymekaar maak. Daarna sorteer hy die goeies van die slegtes.
Wanneer
die dissipels vir Jesus vra: wat
is die teken van u koms en die “suntelias to aionos”, die finale einde. Dan praat hulle van die einde waar Jesus, die
nasies, die goddelose gaan vernietig en Jerusalem gaan reinig. En hulle dink dit gaan nou gebeur.
Jesus sê
egter vir hulle: Julle dink dit is die einde, maar in Matt 24:6 sê Hy: hierdie is nog nie die einde nie. V8 Hierdie dinge is nog net die begin van smarte. Dan gee Hy die tekens wat dui op Sy volle
openbaring, die “parousia”. Hy gee die tekens van Sy tweede koms, die
wederkoms. Hy gee die tekens van die “suntelias
to aionos”, van die finale einde, die voleinding van die wêreld.
Matt 24:8 Maar al hierdie dinge
is 'n begin van die smarte.
Die woord “smart”
is die Griekse woord “odin”, wat
verwys na geboortepyne. Nou, wanneer vind geboortepyne plaas? Dit vind plaas net voor die geboorte plaas,
nie tydens die hele swangerskap nie.
Naby die einde. Die geboortepyne
vind nader aan mekaar plaas en meer
intens. 1 Thes 5:2 sê: “want julle weet self baie goed dat die dag van die
Here kom net soos 'n dief in die nag.”
Hoe kom ‘n dief in die nag? Skielik,
onverwags. Dieselfde met
geboortepyne. Dit gebeur skielik.
1 Thes 5:3 Want wanneer hulle
sê: Vrede en veiligheid--dan oorval 'n skielike verderf hulle soos die
barensnood 'n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie.
Die
koms van die Here sal skielik wees.
Die geboortepyne is die tekens
wat Jesus ons dan gee, sodat ons kan weet: die einde is naby. Hierdie tekens sal al meer gereeld en nader
aan mekaar plaasvind en meer intens.
Wanneer
ons dan die tekens van die tye lees wat Jesus vir ons gee, dan sien ons dat hierdie
dinge word al meer en meer en dit raak al meer intens. Die einde kom al hoe nader in sig.
Die
rede waarom Jesus die tekens gee, is dat wanneer jy hierdie dinge sien, jy jou sal
verbly in Jesus, want die einde is naby.
Jy sal jou verbly, want die einde van alle ongeregtigheid is voor die
deur.
Aan
die ander kant, die mens wat nie gered is nie, moet God vrees, want Hy kom om
te oordeel. Met Sy eerste koms het Hy gekom
om te leer. Met Sy tweede koms, kom Hy om
te oordeel.
Die
mens wat nie gered is nie, sal nie deel wees van die wegraping nie, en sal die
oordele van God beleef.
By die
voleinding van die wêreld, by die finale einde, sal daar ‘n skeiding wees
tussen die goddelose en die gereddes.
Die Bybel sê die ongereddes sal in die vuuroond gegooi word en daar sal
‘n geween en ‘n gekners van tande wees.
Dit is hulle wat hulle nie bekeer het en hulle geloof in Jesus Christus
geplaas het nie.
Dit is slegs
diegene wat hulle van hulle sonde bekeer en hulle geloof in Jesus Christus
plaas, wat gered sal word en sal skyn soos die son in die Koninkryk van die
Vader.
No comments:
Post a Comment