Monday 5 November 2012

Die tekens van Christus se wederkoms – deel 2

Matt 24

Hier gee Jesus die Olyfbergrede.  Ons het reeds gesien in Matt 23 dat Jesus sy laaste prediking gegee het in die tempel, dat Hy Israel veroordeel en sê: “julle huis word vir julle woes gelaat.”  Hy het ook gesê dat hulle Hom vir ‘n tyd lank nie sal sien nie, totdat hulle sal sê: “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here.”

Ons het ook gesien dat die dissipels het die profesie wat Jesus gegee het oor die vernietiging van die tempel verkeerd verstaan.  Hulle dink dat Hy praat van die vernietiging van sy vyande, veral die Romeinse mag en die reiniging van Jerusalem. 

Hulle dink die einde het aangebreek en dat Hy Sy koninkryk op aarde gaan vestig.  Maar Jesus sê in Matt 24:6, dit is nog nie die einde nie.  Jesus gee dan die tekens wat dui op die begin van die einde, dan sê Hy in v8, hierdie is die begin van smarte.  Die begin van geboortepyne.  Hierdie tekens is dan die gebeure wat plaasvind net voor die wederkoms.

1.    Jesus en Israel

Jesus het met Sy eerste koms na Israel toe gekom, as Verlosser,  Messias, en Koning.

Matt 15:24 Maar Hy antwoord en sê: Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel.

Maar in Sy laaste prediking veroordeel Hy Israel.  Die Jode verwerp Hom as Christus, maar die heidene neem Hom aan.

Joh 1:11 Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.

Matt 21:43 Daarom sê Ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan 'n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra.

Rom 10:20 En Jesaja durf selfs sê: Ek het My laat vind deur die wat My nie gesoek het nie; Ek het verskyn aan die wat na My nie gevra het nie.

Ons sien dan in die boek Handelinge wat gebeur.  Die heidene aanvaar Jesus.  Paulus sê ook: ek is klaar met julle Jode.  Ek wend my nou na die heidene.

Hand 13:46 Maar Paulus en Bárnabas het vry-uit gespreek en gesê: Dit was noodsaaklik dat die woord van God aan julle eers verkondig moes word. Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie--kyk, ons wend ons tot die heidene.

Nou, het God Sy planne verander?  Nee!  Beteken dit dan dat God klaar is met die Jode.  NEE!

Hand 15:14 Símeon het vertel hoe God in die begin uitgesien het om 'n volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem.
15 En hiermee stem die woorde van die profete ooreen, soos geskrywe is:
16 Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel,

Maw. God stel vir Hom ‘n volk uit die heidene saam.  En wanneer hierdie tydperk, die kerk dispensasie eindig met die wegraping, dan sal God Hom weer tot Israel rig.  V16 sê:  Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig.

Rom 11:1 Ek vra dan: Het God miskien sy volk verstoot? Nee, stellig nie! Want ek is ook 'n Israeliet uit die nageslag van Abraham, van die stam van Benjamin.

Rom 11:25 Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het;
26 en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend;

God is nie klaar met Israel nie.  Vandag is Hy besig om vir Hom ‘n kerk saam te stel uit die heiden nasies, maar daardie tyd sal afgesluit word, en dan sal God Hom weer tot Israel wend. 

Dit is dan ook belangrik dat ons sal verstaan, dat die wegraping is direk van toepassing op die kerk, en die wederkoms is direk van toepassing op Israel, wanneer Hy hulle weer gaan oprig en herstel.

Luk 21:24 En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is.

Die KJV is meer korrek vertaal:  Dit sê: “…and Jerusalem shall be trodden down of the Gentiles, until the times of the Gentiles be fulfilled.”


Nadat God klaar met die heiden nasies gedeel het, en vir Hom ‘n volk uit die heiden nasies saamgestel het, die kerk, dan sal Hy Hom weer tot die Jode wend en weer met hulle deel.

2.    Die tekens van die tye

Wanneer ons dan lees in Matt 24 van die tekens van die tye, dan verwys hierdie tekens na die gebeure wat net voor die wederkoms sal plaasvind.  Hierdie tekens stem dan ooreen met die tekens wat ons lees in Openbaring 6-19 en ons sien hoedat dit progressief toeneem in hoeveelheid en in intensietyd.
Ons lees in Matt 24:4-14 van al die tekens wat Jesus wat sal gebeur net voor die wederkoms van Jesus.

Matt 24:4 En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie.
5 Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.

Eerste teken wat Jesus gee: Misleiding.  Nou hierdie is die tekens wat ooreenstem met Op 6 en dit sal plaasvind net na die wegraping van die kerk.  Dit beteken nie dat daar nie misleiding en valse leringe vandag is nie. 

Die feit dat misleiding en valse leringe toeneem in ons eie dag sê juis dat die wegraping al nader kom.  Want na die wegraping en wanneer die verdrukking begin sal hierdie tekens in hulle volheid geopenbaar word.

Matt 24:6 En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie.

Oorloë en gerugte van oorloë.

Matt 24:7 Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke.

Een nasie teen die ander, een koninkryk teen die ander, hongersnood, pessiektes, aardbewings

Matt 24:8 Maar al hierdie dinge is 'n begin van die smarte.

Maw. dit is nog nie die einde nie, hierdie tekens dui op die begin van die einde.  As ons dit met Op 6-19 vergelyk, dan verwys dit na die eerste helfde van die sewe jaar verdrukking.  Hierdie tekens is soos geboortepyne. 

Hierdie tekens verwys nie na gebeure in die verlede nie, maar dit verwys na gebeure net voor die wederkoms.  Onthou, geboortepyne vind plaas net voor geboorte.

Die eerste aanduiding wat ons dan kry dat die einde aangebreek het is die meer gereelde en meer intense vorm van hierdie tekens wat Jesus gee.  Soos dit dan sê in v8: ‘n begin van smarte, ‘n begin van geboorte pyne.

Die volgende aanduiding sien ons in Matt 24:13.

Matt 24:13 Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.

Jesus praat hier van die einde, hulle wat volhard tot by die wederkoms.  Om te kan volhard tot by die einde, veronderstel dat dit mense moet wees wat sal lewe tot by die einde.  En in hierdie geval verwys Hy spesifiek na die Jode, wat tot die einde toe sal volhard.  Dit is hulle wat dan die groot herlewing van Sag 12 beleef.

Sag 12:10 Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos 'n mens rouklaag oor 'n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos 'n mens bitterlik ween oor 'n eersgebore kind.

Dit sal Jode wees wat al hierdie gebeurtenisse aan die einde gaan beleef.  Onthou, die Kerk is reeds sewe jaar voor die wederkoms weggeraap en is by die Here.  Om deel te wees van hierdie groep wat volhard tot die einde toe, moet twee dinge gebeur: (1) jy sal nog moet lewe wanneer dit alles gebeur en (2) jy sal die wegraping moet mis.

Maar dank God, dat as jy wedergebore is, sal jy die groot verdrukking  ontvlug.  Die kerk sal nie hierdie gebeure beleef nie.  Die kerk sal nie deur die groot verdrukking gaan nie.

Matt 24:14 En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot 'n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.

Net voor die einde, sal daar ‘n wêreldwye verkondiging van die evangelie wees.  Dit kon nie gewees het voor 70 nC nie.  Daar is mense wat glo dat al hierdie tekens van Matt 24, vervul is in 70 nC.  Ons noem hulle, Preteriste.  Maar ons het nou gelees, dit kan nie wees nie.  Daar is nog baie plekke oor die wêreld waar die evangelie nog nie verkondig is nie.  Maar net voor die einde sien ons, sal dit gebeur. 

Volgens Matt 24:14 en Op 14:6,7, sien ons dat die evangelie van die koninkryk aan die hele wêreld verkondig sal word, en dit sal eers in die groot verdrukking plaasvind.  En wanneer dit gebeur, sê v14, sal die einde kom.

Nou in die groot verdrukking is die Kerk reeds by die Here.  Onthou, die Kerk word voor die groot verdrukking weggeraap.  As die Kerk nie daar gaan wees nie, wie gaan dan die evangelie van die koninkryk aan die hele wêreld verkondig?

Op 14:6 En ek het 'n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met 'n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke.
7 En hy het met 'n groot stem gesê: Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.

Die volgende aanduiding dat die einde aangebreek het is v15

Matt 24:15 Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom--laat hy wat lees, oplet--
16 dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug;

Die gruwel van verwoesting, dui op die antichirs.  Hy sal in die heiligdom staan.  Die heiligdom verwys na die tempel en dit is dan in die nuwe tempel wat hy gaan staan en homself as god verklaar.  Om dit te kan doen, moet daar ‘n tempel wees.  Die sionistiese beweging is gereed om die tempel te herbou.

2 Thes 2:3 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf
4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.

Dan 9:27 En hy sal een week lank met baie 'n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar 'n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.

Die gruwel van die verwoesting, verwys hier na die antichris, en Dan. sê dit sal wees tot aan die einde.  Die antichris het nog nie gekom nie, en daarom het die einde nog nie aangebreek nie.  Hy moet nog kom.  En wanneer hy kom, sal dit ‘n aanduiding wees dat die einde het aangebreek.

Matt 24:21 Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie.

Dit sal ‘n tyd wees wat die wêreld nog nooit beleef en nog nooit geken het nie.  Dit sal ‘n tyd wees wanneer God Sy oordele oor hierdie aarde sal uitgiet.

Dan 12:1  En in dié tyd sal Mígael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal 'n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat 'n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan.

Die volgende aanduiding dat die einde aangebreek het:

Matt 24:29 En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word.
30 En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid.

Direk na die verdrukking is daar fisiese veranderinge by die hemelligame.  En dan v30, sal die wederkoms plaasvind.

Nou vertel Jesus ‘n gelykenis vanaf v32.

Matt 24:32 En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is.
33 So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur.
34 Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.

Waarvan spreek die vyeboom?  Van die volk Israel.  V32 sê, wanneer sy blare bot dan weet julle die somer is naby. V33 dit is voor die deur

V34 sê: Hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan nie.  Watter geslag?  Die geslag wat hierdie dinge beleef, die mense wat volhard tot die einde toe, dit is hierdie geslag wat nie sal verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.

Kom ons som alles op: Dit is baie duidelik dat hierdie tekens wat Jesus gee lê in die toekoms, net voor die wederkoms.  Dit beteken egter nie, dat sommige van hierdie dinge nie vandag gebeur nie.  Maar in die toekoms sal dit gebeur op ‘n vlak wat die mens dit nog nooit geken het nie. 

Ons het oorloë, ons het aardbewings, ons het hongersnood, ons het moord, vervolging, haat, ens.  Maar dit is niks in vergelyking met hoe dit sal wees nie.  Ons sien dan dat dit meer gereeld en meer intens word na die einde toe.  Ons sien dat een geslag sal al hierdie dinge beleef. 

Ons sien dat die evangelie sal aan die hele wêreld verkondig word.  Ons sien die antichris in die heiligdom staan.  Daar sal groot verdrukking wees soos nog nooit van te vore.  Ons sien dat Israel sal wees soos ‘n vyeboom wat bot.

Gaan lees Matt 24:4-9 en Op 6:1-7 en vergelyk dit met mekaar.

Slot

In Luk 21 kry ons dieselfde gedeelte waar Jesus die tekens van die tye gee.  Lukas konsentreer egter meer op die gebeure rondom Jerusalem.  Hy gee wel nie al die tekens soos dit in Matt en Mark gegee is nie, maar wanneer Hy verwys na die wederkoms, en die tekens wat dit voorafgaan, dan sê Hy in v36:

Luk 21:36 Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.

Die KJV sê:

“that ye may be accounted worthy to escape all these things that shall come to pass…”
Lot en sy gesin het die oordele van God oor Sodom en Gomorra ontvlug.  Noag en sy familie het die oordele van God oor die hele aarde ontvlug.  Elke wedergebore kind van God sal ook al hierdie dinge wat kom ontvlug.  “They will escape all these things.”

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288