Monday 5 November 2012

Hy kom spoedig weer


Op 22:20 Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus!
21 Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen.

Wanneer ons lees van die wederkoms van Jesus Christus in die Nuwe Testament, moet ons onthou dat dit in twee fases plaasvind: 

Die eerste fase van die wederkoms is wanneer Jesus kom vir Sy kerk.  Ons noem dit die wegraping en lees hiervan in 1 Thes 4:15-18, en 2 Thes 2:1.

Die tweede fase van die wederkoms is wanneer Jesus met Sy voete op die Olyfberg sal staan.  Hiervan lees ons in Sag 14:4.  Dit is wanneer Jesus sal kom en Sy koninkryk op aarde sal vestig.  Ons lees hiervan in Op 19:11.  Die kerk kom saam met Hom as Sy bruid en ons sal saam met Hom regeer.

Die rede hoekom ek dit noem, is dat ons hierdie twee gebeurtenisse van mekaar sal onderskei, anders gaan ons deurmekaar raak.

Op 22:20 sê: “Ja, Ek kom gou”.  En in die Nuwe Testament is baie duidelik dat Jesus se koms vir Sy Kerk spoedig sal wees en dat dit enige oomblik kan plaasvind.  Dit lei na drie vrae en ons gaan na hierdie drie vra kyk vanaand:


  1. Sal die verdrukking plaasvind voordat Jesus kom vir Sy Kerk?
  2. Hoe het die vroeë kerk Jesus se koms spoedig verwag?
  3. Hoekom is Christus se spoedige koms so belangrik?
As Paulus so ernstig was en die dringendheid van sy oproep beklemtoon het, 2000 jaar gelede, hoeveel te meer is hierdie oproep om wakker te word, om jou lewe reg te kry, om heilig te lewe, nie dringend in die dag waarin ons lewe nie?  “die saligheid is nou nader by ons…”  Nou is nie die tyd om aan die slaap te raak nie.
Dit is waarom ons ‘n spoedige koms van Jesus verwag. 

Christus kan enige oomblik terugkom.  Nie net omdat die wêreld vandag in die toestand is waarin dit is nie, maar om dat die Bybel so sê.

Die apostels en die vroeë Christene het ‘n spoedige verwagting gehad en het gehoop dat Christus enige oomblik sal terugkom om Sy kerk te versamel en hemel toe te vat. 

Jakobus, waarskynlik van die vroegste briewe van die Nuwe Testament, het gesê dat die Here se koms sal spoedig plaasvind.

Jak 5:7 Wees dan geduldig, broeders, tot op die wederkoms van die Here. Kyk, die landbouer wag op die kostelike vrug van die aarde en het geduld daarmee totdat dit die vroeë en die laat reën ontvang het.
8 Julle moet ook geduldig wees; versterk julle harte, want DIE WEDERKOMS VAN DIE HERE IS NABY.
9 Moenie teen mekaar sug nie, broeders, sodat julle nie veroordeel word nie. Kyk, DIE REGTER STAAN VOOR DIE DEUR.

Petrus het ook die koms van die Here spoedig verwag.

1 Pet 4:7 En die einde van alle dinge IS NABY; wees dan ingetoë en nugter, om te kan bid.

Die Hebreërs skrywer gebruik die spoedige koms van Jesus as ‘n rede en motivering om getrou te wees.

Heb 10:24 en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor;
25 en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle DIE DAG SIEN NADER KOM.

Dit lyk vir my dat hoe nader ons aan die wederkoms kom, hoe minder gaan mense kerk toe, terwyl die Bybel sê: namate julle hierdie dag sien nader kom, des te meer, moet julle nie die onderlinge byeenkomste versuim nie, des te meer moet julle mekaar vermaan.

Heb 10:37 Want nog 'N KLEIN TYDJIE, en Hy wat kom, sal kom en nie versuim nie.

Johannes was die meeste oortuig dat Jesus se koms spoedige sal wees.

 1 Joh 2:18 Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is.

Op 1:1 Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon WAT GOU MOET GEBEUR, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het,

Nou al hierdie verse dui daarop dat die vroeë kerk het verwag dat Jesus spoedig sou terugkeer.  Hulle was oortuig dat Jesus enige oomblik kan terugkom.  En wanneer Paulus praat van die wederkoms van Jesus, praat hy daaroor asof hy oortuig is dat hy self dalk deel gaan wees van dié wat lewendig weggevoer gaan word.

1 Thes 4:15 Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie…
17 Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.

Hy het uitgesien na Jesus se wederkoms in sy eie leeftyd.  Verder maak hy dit duidelik dat ons altyd gereed moet wees en vol van hoop.   Ons moet altyd so leef asof die wederkoms enige oomblik kan plaasvind.

Tit 2:11 Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn
12 en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe,
13  terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus,

1.  Is die verdrukking voor of na die koms van Jesus vir Sy kerk?

Maw. moet ons eers die verdrukkings periode verwag, of moet ons die koms van Jesus, maw die wegraping verwag?  (diagram)

Daar is Bybel studente wat vandag sê: ons moet nie Jesus se koms enige oomblik verwag nie, maar ons moet eers uitkyk vir die verdrukkings periode.  Maw hulle sê: dat Jesus gaan eers Sy kerk kom haal na die groot verdrukking. 

Wanneer hulle praat oor die toekoms gebeure, dan fokus hulle altyd op die verskriklike dinge wat vir die gelowiges voorlê.  Bv.  “Wat om te doen om nie die merk van die bees te ontvang nie.”  Vir hulle, word die salige hoop eers relevant nadat die kerk deur die verdrukking gegaan het.  En die gedeelte wat hulle gebruik is 2 Thes 2:1-3.  Kom ons kyk daarna:

2 Thes 2:1 Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ONS VERENIGING MET HOM,
2 om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie--deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees--asof DIE DAG VAN CHRISTUS al daar is.
3 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf

Dit klink asof daar eers ‘n afval moet kom en die seun van sonde geopenbaar moet word, maw die antichirs, voordat die koms van Jesus vir Sy kerk sal plaasvind.  As dit waar is, dan sal die kerk deur die verdrukking gaan en ons sal die antichris sien.  Dan beteken dit ook dat ons nie die spoedige koms van Jesus moet verwag nie, maar moet uitkyk vir die antichris en die verdrukking.  Maar is dit regtig wat hierdie gedeelte sê?

Daar is ‘n paar dinge wat ons eers in gedagte moet hou:

Eerstens moet ons in gedagte hou dat die algemene “tekens van die tye” soos ons dit in die Nuwe Testament gevind word, word voor ons oë vervul.  Hulle is, in der waarheid, karaktereienskappe van die ganse kerkeeu, soos bv.  afvalligheid, ongeloof, self-liefde, sonde, oorloë, gerigte van oorloë, natuurrampe, ens.  Hierdie dinge het plaasgevind regdeur die kerkeeu.  Daarom het elke generasie in die kerk geglo dat hulle in die eindtyd lewe, omdat hulle hierdie tekens gesien het.

Hoekom sou dit dan vandag anders wees?  Hoe sal ons dan weet dat ons leef in die eindtyd?  Johannes het hierdie vraag beantwoord:

 1 Joh 2:18 Kinders, DIT IS DIE LAASTE UUR; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is.

Maw. Johannes sê die laaste uur het al reeds in sy eie tyd aangebreek.

Heb 1:1 Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy IN HIERDIE LAASTE DAE tot ons gespreek deur die Seun
2 wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het.

Wanneer het die laaste dae aangebreek?  Met Jesus Christus in die Nuwe Testament.  (God praat nie vandag met ons deur profete nie, maar deur die Seun).  Die ganse kerkeeu is die laaste dae.

Tweedens, nêrens in die Nuwe Testament word daar gesê dat ons, ons wederkoms verwagting moet eenkant toe skuif of opsy moet plaas, omdat daar eers ander gebeure moet plaasvind nie.  Die enigste gedeelte wat dalk hierdie verkeerde indruk kan skep is 2 Thes 2:1-3.  Hierdie is dan ook ‘n sleutelvers vir Bybel studente wat glo dat die kerk deur die verdrukking gaan.

Moet die kerk eers die antichris se regering verwag voordat hulle die wederkoms van Jesus verwag?  Dit is belangrik dat ons hierdie gedeelte binne sy konteks sal lees en verstaan.

Die gemeente van die Thessalonicense was verward en ontsteld deur sommige valse leraars.  Hierdie valse leraars het gesê dat die vervolging en verdrukking wat hulle tans beleef het, is die dag van die Here, die oordeel van God. 

En ongelukkig het baie van die mense hierdie leuen geglo.  Hulle het gedink dat God hulle oordeel.  En dit was ‘n probleem.  Hoekom sou God hulle oordeel?  Dit het hulle gepla.

Want in 1 Thes 4:14-17 het Paulus hulle bemoedig met die belofte van die wegraping – die koms van Jesus vir Sy kerk.  In v18 sê hy: Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.”

Maar in hulle tyd van vervolging en verdrukking, het hulle ‘n valse idee begin glo, dat God alreeds besig is om Sy finale oordele uit te giet – en hulle word ook geoordeel.  Hulle het tien teen een gevrees dat hulle die wegraping gemis het en dat hulle die finale oordeel van God, die dag van die Here moet beleef. Dit is waarom Paulus hierdie gedeelte skryf in 2 Thes 2:

2 Thes 2:1 Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ONS VERENIGING MET HOM,
2 om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie--deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees--asof DIE DAG VAN CHRISTUS al daar is.

Die “wederkoms van die Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom”, verwys duidelik hier na die wegraping.  Dit is die eerste fase van die werdekoms.  Die wegraping is wanneer Jesus Sy Kerk gaan kom haal, sodat ons by Hom kan wees.

die dag van Christus verwys hier na die oordeel van God.  En hierdie dag sal nie aanbreek voordat die afval gekom het nie, en voordat die mens van die sonde geopenbaar word, die seun van die verderf.” 

Paulus sê nie dat die koms van Christus vir Sy kerk, maw die wegraping, was uitgestel tot na die verdrukking nie.  Hy sê ook nie dat hulle hul salige hoop op die koms van Christus moet eers opsy plaas tot die einde van die verdrukking nie.

In 1 Thes, spandeer hy juis tyd daaraan om hulle aan te moedig om wagtend te wees, om die spoedige koms van Jesus te verwag.  Die Nuwe Testament is baie duidelik, dat Jesus enige oomblik kan kom om Sy kinders te kom haal.

2.  Hoe het die vroeë kerk Jesus se koms spoedig verwag?

Sommiges sê dat Christus se koms nie spoedig kon wees vir die vroeë kerk nie, omdat ons dan nou al vandag 2000 jaar later is en Hy het nog nie terug gekom nie.  Juis op grond hiervan probeer die skeptici die akkuraatheid van die Skrif uitdaag.

Jakobus, Petrus, Johannes, Paulus en die Hebreër skrywer het tog geglo dat die koms van die Here is baie naby en voor die deur.

Jak 5:9 Moenie teen mekaar sug nie, broeders, sodat julle nie veroordeel word nie. Kyk, die Regter staan voor die deur.

Fil 4:5 Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby.

1 Pet 4:7 En die einde van alle dinge is naby; wees dan ingetoë en nugter, om te kan bid.

Op 3:11 Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie.

Op 22:7 Kyk, Ek kom gou. Salig is hy wat die woorde van die profesie van hierdie boek bewaar.

Hoe kon die vroeë kerk Jesus se koms spoedig verwag het, en hoe kon die Nuwe Testament sê: Kyk, Ek kom gou, maar ons is al 2000 jaar later.  Was die apostels verkeerd?  Dit is om hierdie rede dat die waarheid van die Skrif aangeval word.  Het die verloop van 2000 jaar bewys dat Jesus se koms nie spoedig was in die vroeë kerk nie?  En het die apostels ‘n fout gemaak?

Beslis nie!

Matt 24:42 Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie.

Die tyd van die wederkoms weet ons nie, en die apostels het dit ook nie geweet nie.  Nogtans kan Hy enige oomblik kom.  Die Regter staan steeds voor die deur.  Die dag is steeds naby.  Op die profetiese kalender is daar geen ander gebeurtenis wat nog moet plaasvind, voordat Christus ons gaan kom haal nie. 

Die volgende gebeurtenis op die profetiese kalender is die koms van Jesus Christus vir Sy kerk, of dan die wegraping.  Daarom is die koms van Jesus spoedig.  En daarom was die koms van Jesus ook spoedig in die vroeë kerk.

Twee duisend jaar wat reeds verby gegaan het, beteken nie dat God se Woord verander het nie.  Dit beteken ook nie dat God Sy beloftes sal na kom nie.  Dit is juis waarom Petrus ook sê dat daar spotters sal wees.
  
2 Pet 3:3 Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel
4 en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.

2 Pet 3:8 Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.

Vanuit God se oogpunt is die tyd wat reeds verloop irrelevant.  God is nie aan tyd gebonde nie.  Dit maak nie saak hoeveel tyd verloop nie.  Dit kanselleer nie Sy getrouheid nie.

2 Pet 3:9 Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.

Christus se koms is steeds spoedig.  Dit kan enige oomblik plaasvind.  Die opdrag vir jou en my om gereed en op ons pos te wees is vandag net so van toepassing soos in die vroeë kerk.  Ons weet steeds nie vandag wanneer Hy sal kom nie, maar een ding weet ons, dat dit 2000 jaar nader is aan die koms van Jesus.

3.  Hoekom is Christus se spoedige koms so belangrik?

Hoekom is dit so belangrik dat ons sal glo dat Christus se koms enige oomblik kan plaasvind?  Want die hoop op Sy spoedige koms het ‘n kragtige heiligende en reinigende werk op ons lewens.

1 Joh 3:2 Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.
3 En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, REINIG HOMSELF soos Hy rein is.

Die wete dat Jesus se koms al hoe nader kom, motiveer ons om voorbereid te wees, om daarna te streef om soos Christus te wees, en om die sondige dinge van die wêreld af te lê.

Paulus sê dieselfde ding wanneer dit kom by by die laast dae oor hoe ons moet lewe en wat ons moet doen.

Rom 13:11 En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het.
12 Die nag het ver gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord.
13 Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondenheid, nie in twis en nydigheid nie.
14 Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.

Paulus sê vir die kerk in boere Afrikaans: word wakker! Want die koms van die Here is naby.  Hierdie koms is nader by ons as toe ons gelowig geword het.  Elke oomblik wat verbygaan, is ‘n oomblik nader aan Sy koms.  Dit is nou die tyd om reg te lewe.

Ef 5:14 Daarom sê Hy: Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn.
15 Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse;
16 en koop die tyd uit, omdat die dae boos is.

Nog nooit in die geskiedenis was ‘n oproep soos hierdie vandag nodig nie.  Hoor wat sê Jesus self:

Mark 13:35 Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie;
36 dat hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie.

Ons het geen idee hoeveel sand nog in die uurglas van die mens se geskiedenis oor bly nie.  Maar een ding weet ons dat daar alreeds baie sand uitgeloop het, aangesien Paulus gesê het in Rom 13:12: dit is amper dag.  Hoeveel te meer is hierdie oproep vir die kerk om wakker te word vandag nie meer dringend nie!

Slot 

1 Thes 5:9 Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus

Die kerk sal nie deur die verdrukking gaan nie.  Ons moet onsself nie voorberei vir die verdrukking of oordeel nie.  Nee!, Ons moet voorbereid wees vir die skielike verskyning van Jesus Christus op die wolke.  Dit is waarna ons uitsien.  Dit is ons salige hoop. 

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288