Monday 11 February 2013

Die vrug van 'n self-regerende lewe


Gen 4:1 En die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword en Kain gebaar en gesê: Ek het 'n man verkry met die hulp van die HERE. 
2 Daarna het sy ook sy broer Abel gebaar. En Abel het 'n skaapherder geword, en Kain 'n landbouer. 
3 En ná verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die HERE 'n offer gebring. 
4 En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet. En die HERE het Abel en sy offer genadig aangesien, 
5 maar Kain en sy offer nie aangesien nie. Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang. 
6 En die HERE sê vir Kain: Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang? 
7 Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie--die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers. 
8 En Kain het met sy broer Abel gepraat; en toe hulle in die veld was, het Kain teen sy broer Abel opgestaan en hom doodgeslaan. 
9 Toe sê die HERE vir Kain: Waar is jou broer Abel? En hy antwoord: Ek weet nie. Is ek my broer se wagter? 
10 En Hy sê: Wat het jy gedoen? Die stem van die bloed van jou broer roep na My van die aarde af. 
11 Daarom sal jy vervloek wees, ver van die grond wat sy mond oopgemaak het om die bloed van jou broer uit jou hand te ontvang. 
12 As jy die grond bewerk, sal dit sy vermoë aan jou nie meer gee nie; 'n swerwer en vlugteling sal jy wees op die aarde. 
13 Daarop sê Kain vir die HERE: My skuld is te groot om dit te dra. 
14 Kyk, U verdryf my nou uit die land uit, en ek moet my verberg vir u aangesig: 'n swerwer en vlugteling sal ek op die aarde wees, en elkeen wat my kry, sal my doodslaan. 
15 Maar die HERE sê vir hom: Daarom, as enigeen Kain doodslaan, sal dit sewevoudig gewreek word. En die HERE het 'n teken gegee aan Kain, sodat enigeen wat hom kry, hom nie sou doodslaan nie. 
16 Toe gaan Kain weg van die aangesig van die HERE, en hy het gewoon in die land Nod, aan die oostekant van Eden. 

Inleding:

Wanneer ek praat van ‘n self-regerende lewe, dan bedoel ek ‘n lewe van selfsug, jy doen wat reg is in jou oë, jy doen net wat jy wil, jy leef net soos jy wil, maak nie saak wat God sê nie.  Nou dit is moeilik om dit soms op te merk, maar ons kry dit ook in Christene se lewens.

Die idee van ‘n self-regerende lewe is nie ‘n nuwe idee nie.  Dit kom van die vader van alle leuens.  Die duiwel het gesê: Jes 14:14 Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!  Maw ek wil my eie lewe regeer.  

Eva was verlei: julle sal soos God wees.  Jy sal self-regerend wees.  Jy sal jou eie baas wees.  Daar is niemand bo jou nie.  

Ons kry hierdie tema regdeur die geskiedenis van die mensdom.  Bv. in die dae van Noag was die boosheid van die mense groot.  Ons kry die bose konings van die Noordelike en Suidelike koninkryke van Israel.  Die hoëpriesters wat Jesus gekruisig het.  

Hoekom sou hulle Jesus kruisig as hulle juis ‘n Messias verwag het?  Want hulle sou hul posisie as leiers verloor as Jesus die Messias is.  Hulle wou in beheer wees.  Hulle wou nie onder ‘n koning staan nie.

Selfs vandag.  Die mense se harte is boos.  Dit is daardie ou vlees van rebellie.  Die geveg tussen die vlees en gees.  Die mens wat verval het in sonde en rebellie teen God, word alleenlik weer toegelaat in God se teenwoordigheid deur twee dinge: (1) deur ‘n bloedoffer en (2) deur geloof.  

Jy sien, rebellie kom nie van die Here af nie!  Rebellie kom van die duiwel af.  Rebellie is wanneer jy nie kan onderwerp aan gesag nie, maar jy wil jou eie baas wees.  Niemand moet vir jou sê wat om te doen nie.

Jak 4:6 Maar Hy gee groter genade; daarom sê Hy: God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. 
7 Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.

Jy het geen gesag oor die duiwel as jy nie eers jouself aan God onderwerp nie.

Kain se lewe is ‘n goeie voorbeeld van ‘n self-regerende lewe.  Sy self-regerende lewe het hom gelei na ‘n selfsugtige aanbidding.

Nadat Adam en Eva gesondig het, het God ‘n dier geslag en vir hulle klere gemaak, sodat hulle hul naaktheid kon bedek en so in die teenwoordigheid van God kon staan.

God wys vir die mens wat aanvaarbaar is in aanbidding.  God wys dit aan Adam.  Adam is in beheer van sy twee seuns, Kain en Abel. Adam, het sekerlik sy twee seuns vele kere na hierdie plek van offer en aanbidding geneem en hulle gewys wat God aan hom gewys het.  

Maar daar kom ‘n plek waar hulle self moet opstaan en self moet gaan aanbid. Hulle sal eendag onder hulle ouers se vlerk moet uitklim en op hulle eie voor die Here moet gaan staan.

Ouers moenie hulle kinders grootmaak om eendag onafhanklik te wees nie, maar om hulle afhanklikheid van hulle oor te dra na God toe.  Ons moet hulle nie leer om soos ‘n vry voëltjie uit die nes te vlieg nie.  Maar hulle moet geleer word om hulle afhanklikheid van jou af oor te dra na afhanklikheid van God toe.

Wanneer Kain na die plek van aanbidding toe gaan, het hy selfsugtigheid in sy hart.  Die offer wat hy bring is nie die beste nie.  God soek net die beste.

Gen 4:3 En ná verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die HERE 'n offer gebring. 
4 En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet. En die HERE het Abel en sy offer genadig aangesien,

In v3 lees ons nie dat hy bring die beste van die vrugte van sy land nie.  Hy bring net, “van die vrugte van die land.”  Watookal opgekom het, het hy geneem.  Dit was hoe hy ‘n lewe gemaak het.  Hy het geneem watookal hy kon neem, en dit aan die Here geoffer.

Abel, aan die ander kant, het die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet.  Hy het die beste gebring.  Die verskil is, Abel bring die beste wat hy het, en dit wat aanvaarbaar was vir die Here.

Wat aanvaarbaar is vir die Here is, is (1) ‘n bloedoffer, (2) deur geloof.

Ek wil hê u moet dit raaksien dat Kain ‘n self-regerende persoon was, en dat hy dit sy eie manier wou doen.  Hy wou God op sy eie manier aanbid.  God sê: bring dit, maar hy bring net wat hy wil.  Dit is waarom sy aanbidding nie aanvaarbaar was nie.

God wou nie die vrugte van die lande op die altar gehad het nie.  Al wat aanvaarbaar is, is ‘n bloedoffer deur geloof.  Kain is die sentrum van sy aanbidding.  Kain sê: Ek doen wat reg is vir my.  Hierdie vorm van aanbidding is vir my.

My bekommernis is dat ons dieselfde selfgesentreerde aanbidding vind in baie kerke.  Hulle gaan aan asof die mens die middelpunt van aanbidding is.  Die idee wat ‘n mens kry is dat ek die belangrikste deel is van aanbidding.  Die musiek is soos wat ek daarvan hou, en soos wat ek dit verkies.  Maar op die ou einde gaan dit nie oor wat jy verkies nie, maar wat God verkies.

Ef 5:9 Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.
10 En beproef wat die Here welbehaaglik is;

Aanbidding is nie vir my nie, aanbidding is vir God.  Dit beteken: ek kom na Hom toe soos wat Hy sê ek na Hom toe moet kom.  Ek aanbid Hom soos wat Hy sê ek Hom moet aanbid.  As jy na Hom toe kom, moet dit wees deur ‘n bloedoffer en deur geloof.  Jy kan nie op jou eie manier kom, soos wat jy wil nie.

God se manier is deur die bloedoffer en deur geloof.  Daar is geen ander manier om na God toe te kom behalwe deur die bloedoffer van Jesus Chistus aan die kruis en deur geloof in Hom nie.  Want sonder geloof is dit onmoontlik om Hom te behaag.

Abel het nie net die regte offer gebring nie, maar hy het dit op die regte manier gebring en dit is deur geloof.

Heb 11:4 Deur die geloof het Abel 'n beter offer aan God gebring as Kain, waardeur hy getuienis ontvang het dat hy regverdig was, omdat God oor sy gawes getuienis gegee het; en deur dieselfde geloof spreek hy nog nadat hy dood is.

In die Ou Testament het die bloedoffer die wraak van God oor sonde uitgestel.  Versoening vir sonde kan alleenlik deur die bloedoffer van Jesus plaasvind, nie deur die bloed van skape of bokke nie.  Hierdie offer in die Ou Testament het God se toorn net uitgestel.  

Keer op keer, elke keer as daar ‘n skaap of ‘n ram geoffer is, is die toorn uitgestel.  Dit is uitgestel todat Jesus gekom het en die finale prys vir sonde kom betaal het.  Daarom beveel God ‘n bloedoffer om sodoende sy oordeel uit te stel.

Kain het nie sy beste gebring nie.  Dit was nie wat God wou gehad het nie en dit was nie aanvaarbaar vir God nie.

Gen 4:4b …En die HERE het Abel en sy offer genadig aangesien, 
5a maar Kain en sy offer nie aangesien nie. Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang.

Die woord “nie aangesien nie” in v5, is die woord “shaw-aw”, wat beteken om te inspekteur, of om dit te oorweeg.  God het daarna gekyk, die geevalueer en getoets.  

God kyk na drie dinge: (1) Wat word geoffer? (2) Hoe word dit geoffer? (3) Die hart van die aanbidder.  Kain se selfsugtigheid in sy aanbidding het oor homself gegaan.  Dit is wat hy wou gee.  Dit is nie wat God wou hê nie.

Aanbidding is ‘n refleksie van jou lewe.

Gen 4:5 maar (die Here het) Kain en sy offer nie aangesien nie. 

God het nie net Kain se offer nie aanvaar nie, maar Hy het ook nie Kain self aanvaar nie.  Die Here het Kain en sy offer nie aangesien nie.  Kain het nie in geloof gekom nie, nie ‘n bloedoffer gebring nie, nie sy beste nie.  Hy het gebring wat hy wou.

Jy moet God se manier kom.  God het die weg aangewys hoe jy moet kom.   God het die weg aangewys wat vir Hom aanvaarbaar is.  Dit is wat Hy van die mens verwag, en jy moet dit so aanvaar.

Gen 4:6 En die HERE sê vir Kain: Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang? 
7 Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie--die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers.

God gee Kain nog ‘n kans.  God sê: kom na my toe, bring my wat ek van jou verlang dan sal dit goed gaan.  Is daar nie verheffing as jy goed doen nie?  As jy goed doen, sal jy nie aanvaar word nie?  Maar Kain verkies om nie aan God gehoor te gee nie.  Hy weier om te onderwerp aan die heerskappy van God.  Hy weier om die genade van God te aanvaar.

Hy het die genade van God geweier, as gevolg van sy self-regerende hart wat alles wil verdien wat hy wil hê.  As jy dink dat jy in jou lewe, iets by God kan verdien, misluk jy om aan die genade van God oor te gee.  Jy verwerp die genade van God, sodat jy deur jou werke probeer om jou saligheid te kan verdien.  Jy ignoreer die genade van God.

Wat gebeur as jy genade van God verwerp?  Ons sien die verpersoonliking van sonde.  Dit is sonde as ‘n persoon.  Sonde word iets wat by jou deur lê en loer, en soos ‘n slang gereed is om jou in die enkels te pik.

Gen 4:7 …En as jy nie goed doen nie--die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers.

Wat is hierdie sonde se begeerte?…selfsugtigheid en self-regering.  As jy nie doen soos wat God beveel nie, sal hierdie self-regerende demoon, by die deur lê en wag om op jou te spring en oor jou te heers.  Ongelukkig is daar geen antwoord of reaksie van Kain af nie.

Gen 4:8 En Kain het met sy broer Abel gepraat; en toe hulle in die veld was, het Kain teen sy broer Abel opgestaan en hom doodgeslaan.

Dit is wat gebeur as sonde oor jou heers.  Kain het die tweede moordenaar geword.  Satan was die eerste.

1 Joh 3:11 Want dit is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het, dat ons mekaar moet liefhê; 
12 nie soos Kain wat uit die Bose was en sy broer doodgeslaan het nie. En waarom het hy hom doodgeslaan? Omdat sy werke boos was en dié van sy broer regverdig.

Hy het ‘n moordenaar geword net soos sy vader.

Joh 8:44 Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was 'n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy 'n leuenaar is en die vader daarvan.

Die duiwel het Adam en Eva geestelik vermoor.  En nou het sy bergeerte op Kain gekom.  Want Kain wou sy eie lewe regeer sonder God.  Luister! Hier is die kriks van alles: Dit is onmoontlik om jouself te regeer.  

As jy jouself wil regeer, raai wie gaan oor jou regeer.  Die duiwel.  Jy dien die een of die ander een.  Jy of dien Here Jesus Christus of jy dien jouself en die duiwel.

Daarom as jy jouself nie verloën en jou kruis opneem en Hom volg nie, kan jy nie sy dissipel wees nie.

Dit is ‘n wonder hoe ver sonde mense kan vat.  Daar was nie ‘n skool wat Kain geleer het om ‘n moordenaar te wees nie.  Daar was nie ‘n gemeenskap om hom wat hom so gemaak het nie.  Sy ma en pa het hom ook beslis nie so opgevoed nie.  

Hy het ‘n goeie werk gehad, genoeg om van te eet.  Hy het nie gesteel nie.  Die rede waarom dit so ver gegaan het, was omdat hy gedink het hy kon sy eie lewe regeer.

Hoe ver kan sonde jou vat?  Jy sal verbaas wees hoe ver sonde jou sal vat.  Dit is verbasend hoe ‘n man alkohol bo sy vrou en kinders sal begeer.  Wat hy nie alles sal doen sonder om vir enige oomblik aan sy kinders en vrou te dink nie. 

Kain word die tweede moordenaar. Kain word ook die tweede leuenaar.

Gen 4:9 Toe sê die HERE vir Kain: Waar is jou broer Abel? En hy antwoord: Ek weet nie. Is ek my broer se wagter?

Jy kan die boosheid in sy stem hoor.  “…Ek weet nie.  Is ek my broer se wagter?”  Die laaste ding wat jy moet raaksien is, God gee hom die begeertes van sy hart.  Hy wou dinge sy manier gedoen het.  Hy wou die middelpunt wees van aanbidding.  Hy wou oor homself regeer het.  Onder dit alles was ‘n self-geregeerde lewe, en God het hom die begeerte van sy hart gegee.

Gen 4:10 En Hy sê: Wat het jy gedoen? Die stem van die bloed van jou broer roep na My van die aarde af. 
11 Daarom sal jy vervloek wees, ver van die grond wat sy mond oopgemaak het om die bloed van jou broer uit jou hand te ontvang. 
12 As jy die grond bewerk, sal dit sy vermoë aan jou nie meer gee nie; 'n swerwer en vlugteling sal jy wees op die aarde. 
13 Daarop sê Kain vir die HERE: My skuld is te groot om dit te dra. 
14 Kyk, U verdryf my nou uit die land uit, en ek moet my verberg vir u aangesig: 'n swerwer en vlugteling sal ek op die aarde wees, en elkeen wat my kry, sal my doodslaan.

Hy wou verlate gewees het.  Hy wou in beheer wees.  God sê, OK!  Wees in beheer van jou lewe.  Wees die koning van jou eie lewe.  Lewe jou eie lewe.  Maar daar sal nie twee konings in die teenwoordigheid van God wees nie.  As jy jou eie Here wil wees, is dit reg, maar jy sal nie in my teenwoordigheid staan nie.  

God laat geen mens langs Hom staan as mede-skepper nie.  Hy is die Here van alles.  Hy is die Koning van alles.  Jy wil god wees, soos jou vader, die duiwel.  Jy wil jouself bo God stel.  Gaan wees jou eie god, maar jy sal nie by my wees nie.  God gee Kain wat hy begeer.

Gen 4:14 Kyk, U verdryf my nou uit die land uit, en ek moet my verberg vir u aangesig: 'n swerwer en vlugteling sal ek op die aarde wees, en elkeen wat my kry, sal my doodslaan.

…van u aangesig moet ek verberg word…

Die ergste ding in die hel is nie vlamme en geween nie, maar die ergste ding is om nooit die aangesig van God te sien nie.  Wanneer God Sy rug op jou draai.

Gen 4:16 Toe gaan Kain weg van die aangesig van die HERE, en hy het gewoon in die land Nod, aan die oostekant van Eden.

Letterlik beteken dit dat hy het van die teenwoordigheid van God gevlug.

Op 6:15 en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, 
16 en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam;”
Wanneer God Homself openbaar in Sy oordeel en Een wat wraak neem, dan vlug mense weg van die aangesig van God af.

V16 sê Kain het na die land van Nod gegaan, die land van Nod is nie ‘n dorp nie, maar ‘n die land van swerweling.  Hy het nooit ‘n huis gehad nie.  Hy het van plek tot plek soos ‘n boemelaar rondgeswerf.  Hy het sy lewe gevrees want almal wou hom doodmaak.  Hy het geen rus vir sy siel gevind nie.

Kain was ook die vader van afgodediens.

Rom 1:21 omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. 
22 Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword 
23 en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van 'n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere. 
24 Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer 
25 hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen.

Wie is die skepsel?  Die skepsel is ons.  Hulle aanbid eerder die skepsel bo die Skepper. 

Waarom moet ek myself kruisig?  Waarom moet ek die self verloën?  Waarom moet ek nie meer leef nie, maar Christus in my?  Want dit is die stryd tussen jou vlees en jou gees.  Die vlees, wat homself wil regeer, teenoor die gees.

Daarom soek God aanbidders wat Hom in gees en waarheid aanbid.  God soek nie vleeslike aanbidding nie, maar geestelike aanbidding.  Die enigte manier hoe jy God geestelike kan aanbid is om te kom deur die bloedoffer van Jesus Christus, die versoenings werk van God aan die kruis, en deur te kom deur geloof.  

Aanbidding is nie vir jou nie, aanbidding is vir God.  Aanbidding is nie om jou beter te laat voel nie, aanbidding is om God te vereer.  Jy kom nie halfhartig nie, maar jy kom met jou beste na Hom toe.

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288