Monday 18 February 2013

Die wapenrusting van God


Ef 6:10 Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. 
11 Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. 
12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. 
13 Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.

Hierdie gedeelte gaan oor die Christen se worstelstryd of oorlog en daarom het ons die wapenrusting van God nodig.  Dit is die einde van die brief van Efesiërs so as ons dit wil reg verstaan moet ons dit binne konteks verstaan.  Hierdie brief volg ‘n patroon wat baie van die Nuwe Testament briewe volg, veral die wat deur Paulus geskryf is.

Die eerste hoofstukke 1, 2 & 3 identifiseer ons posisie in Christus.  Dit is leerstellig.  Hierdie hoofstukke sê vir ons wat dit beteken om ‘n Christen te wees.  Bv. 

Ef 1:3 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus.

Hy beskryf in hoofstuk 1 ons posisie in Christus.  Wie ons is.  Maar verder sê hy ook dat alle wysheid en kennis is aan ons geopenbaar deur die Gees.  En dit behels die verborgenheid van Sy wil wat voorheen verborge was, maar nou aan ons geopenbaar is.

Ons is in staat om deur die openbaring van die Skrif nie net die verlede en die hede te verstaan nie, maar ook die volheid van die tye, die samevatting van alles in Christus, dit wat in die hemel is, en dit wat ook op die aarde is.  Ons het ‘n ewige erfenis ontvang waartoe ons uitverkies is.

Ons is deur daardie ewige verlossing verseël met die Heilige Gees van die belofte in v13.  Die Gees is aan ons gegee as die waarborg dat dit wat God belowe het, dat ons dit sal verkry.  En so begin Paulus hierdie brief van Efesiërs met ‘n lys van voordele en seëninge wat aan die Christen behoort, want ons behoort aan Christus.

Paulus wil hê ons moet dit verstaan, dat ons vlg v18, verligte oë van verstand sal hê, sodat ons kan weet wat die hoop van sy roeping en die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel is onder die heiliges.

V22 sê dat alle dinge is onder Sy voete en Hy is die hoof bo alle dinge.  Ons moet dit dan in gedagte hou as ons kom by Efesiërs 6.  Maw Jesus is nie net hoof van Sy kerk, maar Hy besit ook totale mag oor alles en ook oor die bose.

Hoofstuk 2 beskryf vir ons die wonderlike geskenk van verlossing wat ons het deur ons te herinner dat ons dood was deur ons misdade en sondes, en dat Hy ons lewend gemaak het.  Hy het ons lewend gemaak saam met Christus deur genade.  En Hy laat ons saam met Christus sit in die hemele.

En dit is waaroor die eerste 3 hoofstukke gaan.  Al die seëninge wat ons ontvang het.  Ons is Sy maaksel, geskape in Christus tot goeie werke.  Die resultaat dan van ons wedergeboorte is dat ons doen wat God behaag en die goeie werke wat God voorberei het, dat ons daarin wandel.  Ons was eers nie deel van God se doel en planne nie, maar nou het ons in Christus deel daarvan geword.

Dan van hoofstuk 4 af begin Paulus beweeg van die leerstellinge na die praktyk.  Omdat al hierdie dinge waar is, omdat God jou al hierdie dinge gegee het, omdat jy geseënd is, word die voglende dinge van jou verwag.

Ef 4:1 Ek vermaan julle dan, ek, die gevangene in die Here, om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is.

Jy is nou ‘n Christen, lewe soos ‘n Christen.  Jy is ‘n geroepene, lewe soos een.  Wandel met nederigheid en sagmoedigheid, wees geduldig en verdra mekaar in liefde.  Strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van vrede.

Ons is een liggaam en verskillende bedieninge.  Ons het elkeen ‘n funksie en verantwoodelikheid in die liggaam.  Die heiliges moet toegerus word vir hulle dienswerk en ons moet groei tot volwasse Christene, wat nie soos golwe heen en weer gedryf word deur elke wind van lering nie.

Verder sê hy ons is anders.  Ons wandel nie meer soos die heidene nie in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie.  Hulle verstand is verduister en vervreemd van die lewe van God.  Paulus sê ons het hierdie lewenswandel afgelê.  Ons is geroep tot ‘n nuwe soort van lewe.  En om so te lewe moet ons vernuwe word in die gees van ons gemoed.

KJV
Eph 4:23 And be renewed in the spirit of your mind; 

Ons moet die nuwe mens aantrek wat geskape is in ware geregtgheid en heiligheid.  Ons moet leuens aflê en die waarheid spreek.  Ons mag kwaad word maar nie sondig nie.  Maar ons mag ook nie kwaad bly nie.  Moenie dat die son ondergaan oor julle toorn nie.

En dan sê hy, gee aan die duiwel geen plek nie.  En die veronderstelling hier is dat enige vorm van verkeerde gedrag gee die duiwel plek.  Paulus noem dan ‘n paar dinge.  Moenie steel nie, moenie vuil taal gebruik nie, bedroef nie die Heilige Gees waarmee julle verseël is.

Hoofstuk 5 sê ons moet navolgers wees van God, ons moet in liefde wandel soos Christus ons ook liefgehad het en Homself vir ons gegee het.  Dan noem hy klomp slegte dinge en sê ons wandel nie meer so nie.  Ons is kinders van die lig en nie van die duister nie.  Ons moet beproef wat God welbehaaglik is.  Ons moet nougeset wandel.  Ons moet Gees vervuld wees.

Paulus sê dan hoe moet ‘n man en vrou en kinders optree.  Alles praktiese dinge.  Tot by hoofstuk 6:9 wat alles gaan oor besonderhede van die Christelike lewe.  Dan sê v10,

Ef 6:10 Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. 

En die rede waarom Paulus dit sê is omdat hierdie stryd nie maklik gaan wees nie.  Dit is nie maklik om ‘n heilige en goddelike lewe te leef nie.  Daar is baie dinge wat teen jou gaan inwerk.  

Eerstens is dit vlees, jou sondige natuur.  Dit is vir alle Christene dieselfde werklikheid, dat ons leef nog in ‘n sondige liggaam.  En hierdie vlees wil die dinge doen van die vorige ou lewe.  Daar is ‘n stryd waarmee elke Christen worstel.  Die gees wat deel is van die nuwe mens wat stry teen die vlees wat oorgebly het van die ou mens.

Paulus sê in Rom 7, die dinge wat ek moet doen doen ek nie, maar die dinge wat ek nie moet doen nie, dit doen ek.  Hy sê in, 

Rom 7:24 Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? 

In Gal 5 sê hy, die vlees begeer teen die Gees en die Gees teen die vlees.  Jy sien!  Die realiteit van die Christen lewe is dit, dat die lewe wat ons moet leef is nie maklik nie.  Dit is nie maklik nie, want ons vlees is in opposisie met ons gees.  Wat is die vlees?

Gal 5:19 En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; 
20 afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; 
21 afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie. 
22 Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. 

En dit is die stryd wat elke gelowige binne-in hom het.  Die vlees teen die gees.  Die stryd is nie aan die buitekant nie, maar aan die binnekant.  Dit gaan jou nie help om jou oë uit te pluk of soos monnik in ‘n klooster te gaan bly weg van die samelewing af, om so van sonde af weg te vlug nie.

Die sonde woon binne-in jou.  En waar jy gaan, gaan die sonde saam met jou.  Selfs al is jy ‘n gelowige, is daar nog oorblywende sonde.  En die stryd is aan die binnekant.  Die oorlogsveld is binne in jou.  Jy het nie eers die duiwel nodig om in die oorlog betrokke te wees nie.  Jou gevallenheid is klaar oorgenoeg.  Maar wanneer die duiwel by kom, is stryd net nog moeiliker, daarom moet jy hom geen plek gee nie.

Jy het ‘n vyand aan die binnekant en dan het jy ‘n vyand, die duiwel aan die buitekant.  Daarom sê Paulus in Ef 6:10 “...word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte.”  V11 & 12

Ef 6:11 Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. 
12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. 

Hierdie stryd is nie ‘n ligtelike ding nie, maar ‘n ernstige ding.  Ons het mense wat ons teëstanders is, maar agter die skerms is bose magte aan die werk.  Voordat jy ‘n Christen geword het, was jy ook vasgevang in die koninkryk van duisternis.  Jy was ook onder die mag en gesag van die owerste van die lug, die owerste van hierdie wêreld naamlik Satan.

Soos Johannes 8 dit stel, die duiwel was jou vader voordat jy gered was.  Nou is hy jou vyand, noudat jy kind van God is en deel is van die koninkryk van God.  Wanneer jy gered word, word jy geplaas vanaf die koninkryk van die duisternis oor in die koninkryk van die lig.  Ons is gered vanuit Satan se mag, vol van leuens, en al sy misleidende ideologieë en verkeerde idees en verkeerde manier van denke.  Ons het die waarheid en God leer ken.

Hoe hanteer ons die vyand wat in ons is, die sondige vlees? 

Gal 5:16 Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie.

Om deur die Gees te wandel beteken om die woord van Christus ryklik in ons te laat woon.  Om dit anders te stel, om die woord in ons harte te bêre dat ons nie teen Hom sal sondig nie.  Om te wandel deur die Gees beteken om te wandel in die dinge wat die Gees bevestig, wat sou wees die dinge van die Woord, om heilig te leef, rein gedagtes hê, heilige woorde en heilige gedrag te openbaar.

Maar wat maak ons met die vyand aan die buitekant?  Hoe maak ons met die bose magte van die lug wat teen ons is?  Hulle oorheers die wêreld.  Al die onwedergebore mense van die wêreld behoort aan hulle.  Die onwedergebore mense in die wêreld is deel van die koninkryk van die duisternis.  Hulle is onder die mag van die owerste van die lug.

Ef 2:2 waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk,

Wat is die wêreld?  Dit verwys sekerlik nie na die planeet nie.  Dit verwys eerder na ‘n stelsel in die wêreld wat bestuur word deur Satan.  Dit is ‘n sondige stelsel.  Dit is ‘n demoniese stelsel.  En dit is hierdie stelsel waarvan mense onder sy mag is wat teen die gelowiges is.

Dit is nie noodwendig die duiwel self wat jou aanval nie, alhoewel dit ook gebeur, soos byvoorbeeld Job.  God het Satan toegelaat om sy gesin aan te val en alles van hom te vernietig.  God het dit toegelaat om te wys dat ‘n ware gelowige soos Job nooit sy saligheid kan verloor nie, al gebeur wat met hom.  So die duiwel kan ‘n mens direk aanval.  Maar die Here sal dit alleen toelaat om Sy eie doel te bereik.

Maar die belangrike ding wat ek en jy moet verstaan is dat Satan werk teen die gelowiges deur die wêreld.  Hy gebruik die wêreldse sondige stelsel om ons te versoek met sonde.  So op die voorpunt van hierdie stelsel is ideologieë.  Op die voorpunt van hierdie stelsel is die Satan wat hom voordoen as ‘n engel van die lig.  Op die voorpunt van hierdie stelsel is godsdiens.

En sy dienaars doen hulle voor as dienaars van geregtigheid.  Alle valse godsdiens noem Paulus die leringe van duiwels.  Maw alle valse godsdiens kom van wie?  Dit kom van die duiwel.  Dit is sy stelsel waarmee hy mense mislei.  En die leerstellings van duiwels sê Paulus in 1 Tim 4 kom deur geveindsheid van leuenaars.

So die Satan wil mense weglei van die ware God na ‘n eindelose verskeidheid van godsdienstige stelsels waarvan hy die outeur is.  En al hierdie stelsels het een ding in gemeen.  Hulle vertel die mens dat hulle verlossing en regte verhouding met God kan verdien word.

Die mens het ‘n gewete en hy voel skuldig oor sy eie sondes.  Daarom is godsdienste maar net ‘n manier waarop die mens van sy sondeskuld probeer ontslae raak.  Dan is daar die mense wat nie meer ‘n gewete het nie en hulle is eenvoudig immoreel en ateïsties.

So dit is ‘n wêreldse stelsel van godsdiens en van atteïsme.  So ons het nie net die sondige vlees binne in ons waarmee ons worstel nie, maar ons leef in sondige wêreld stelsel waarvan Satan die outeur is.  Hierdie stelsel word net erger en erger.  Die wêreld gaan nie ‘n beter plek word nie.  Dit gaan net ‘n slegter plek word.

So wat moet ons doen?  V10 sê, word kragtig in die Here en in die krag van Sy sterkte.  En dit is ons voorbereiding.  Wees sterk!  Dit is nie nou die tyd om swak te wees nie.  Ons erken dat ons nie die krag het in onsself nie, maar dat ons krag is in die Here om staande te bly.  

Fil 4:13 Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee. 

1 Kor 10:13 Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra. 

Christus het klaar die oorwinning vir ons aan die kruis verwerf.  Die Gees van Christus woon klaar in ons en al die krag is daar om te oorwin.  Dieselfde Gees wat Jesus uit die dode opgewek het, woon in ons.  Dieselfde krag wat Jesus verhef het tot die regterhand van God.  Dieselfde krag wat Hy uitoefen oor alle owerheid en mag en krag en heerskappy.

Ons het die volheid van Christus wat in ons woon.  Ons het Sy opstandingskrag.

Ef 3:14 Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus, 
15 van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang, 
16 dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens, 

Ef 3:20 En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, 

Christus woon in ons met al Sy volheid en al Sy krag.  Die krag is daar.  Word dan kragtig in die Here en in die krag van Sy sterkte.  Dit is ons voorbereiding op die worstelstryd.  Op hierdie oorlog. 

Die tweede ding wat ons moet sien in ons gedeelte is die toerusting.  Eerstens is die krag tot ons beskiking en tweedens moet ons die volle wapenrusting van God aantrek.  So hoe word ons kragtig in die Here? Trek die volle wapenrusting van God aan.  En die wapenrusting soos dit beskryf word vanaf v14 tot 17 sê vir ons hoe ons kragtig word in die Here.

Die krag is daar, maar hoe kom dit in werking in jou lewe?  Trek die wapenrusting aan.  Gebruik die toerusting.

Derdens het ons die vyand.  Ons moet ons vyand ken.  Weet wie hy is en hoe hy te werk gaan.  En die Bybel beskryf vir ons in detail wie hy is.

Ef 6:11 Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. 

Teen die liste van die duiwel.  Die engelse vertalings praat van “the wiles of the devil”.  Een vertaling, die CEV, sê,

Ef 6:11 Put on all the armor that God gives, so you can defend yourself against the devil's tricks. 

Die duiwel kom met al sy tricks.  Hy is die master magician.  En ons moet nie onkundig wees oor al sy scemes nie.  Hy maak gebruik van allerhande bedrog en tricks om mense te vang en ons moet bewus wees daarvan.

2 Kor 2:10 Aan wie julle iets vergewe, vergeef ek ook; want wie ek ook vergeef het—as ek iets vergeef het—dit was om julle ontwil voor die aangesig van Christus, sodat ons nie deur die Satan bedrieg sou word nie; 
11 want ons is met sy planne nie onbekend nie. 

Ons moet hom geen plek gee nie.  Ons kan nie net almal in elke godsdiens omhels nie.  Hy is ‘n na-aper van God.  Dit is deel van sy strategie.  En sy stelsel is die wêreld.  Dit is waarom Jakobus sê, as jy die wêreld liefhet, is jy ‘n vyand van God.

1 Joh 2:16 Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. 

Hy sal enigiets doen om te keer dat mense die waarheid aanvaar.  Hy sal enigiets doen om God se werk te verhinder.  Soos die gelykenis van die saaier, sal hy kom en die saad wat op die harde pad geval het, kom weg vat.  Hy is lief daarvoor om die Woord te verdraai.  Hy is lief daarvoor om in te meng in die lewe van die kerk.  Hy werk op baie maniere.

Hy skep baie vorme van valse teologieë wat maak dat gelowiges begin twyfel.  Hy skep alle vorme van valse standaarde van geestelikheid wat maak dat gelowiges dink hoef nie heilig te leef nie.  Ons moet voorbereid wees daarop.  Ons moet ons vyand ken en weet hoe hy te werk gaan.

Ef 6:12 sê dit is ‘n worstelstryd.  Dit is ‘n stryd nie teen vlees en bloed nie.  Mense is nie regtig ons vyande nie.  Ja ons dink soms dat immorele mense is ons vyande.  Nee, ons werklike vyand is die bose magte.  Mense wat aan die koninkryk van die duisternis behoort word maar net gebruik deur die duiwel.

Ef 6:12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. 

Ons stryd is teen die duiwel en sy trawante.  En ons kan hom weerstaan.  Ons kan hom oorwin.  In werklikheid is jou oorwinning ‘n belofte.  Weerstaan hom en hy SAL van jou af wegvlug.  Die duiwel het alles na Paulus se kant toe gegooi, maar aan die einde van die dag kon Paulus sê, 

2 Kor 4:8 In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; 
9 vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie. 

Op die ou einde het hy oorwin, en so kan jy ook.  Oorwinning is ‘n gewaarborgde belofte. 

So jy het jou voorbereiding en dit is die krag van die Here en jy het jou toerusting, die wapenrusting van God.  Jou vyand is die duiwel en jy moet hom ken met al sy tricks.  Jou stryd is nie teen mense nie, maar teen bose magte.

Dit lyk dalk meer as wat jy ooit sal kan verdra, maar as jy die volle wapenrusting van God aantrek, sal jy hom kan weerstaan in die dag van onheil en jy sal staande bly.

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288