Thursday 7 February 2013

Volle versekerdheid


TEKSGEDEELTE: Kol 2:2-3

Kol 2:2 dat hulle harte vertroos mag word, deurdat hulle saamgevoeg word in die liefde en tot alle rykdom van die volle versekerdheid van insig, om die verborgenheid te leer ken van God en die Vader en van Christus,
3 in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is.

Inleiding

Paulus sê in v1 dat hy ‘n groot stryd het oor die gemeentelede van Kolosse en Laodisea en dan noem hy so vyf dinge hoekom hy in hierdie stryd is.  Hy begeer vyf dinge vir hulle.  Hierdie vyf dinge is die dinge wat ook dan op elke Christen van toepassing is.  Ons kan as’t ware sê dat God wil graag hê dat hierdie dinge in ons eie lewens sal realiseer.  Dit is ook ‘n checklist vir elkeen van ons.

Ons het laas week gekyk na die eerste ding en dit was dat Paulus begeer dat hulle harte vertroos mag word.  Ons het gekyk na wat dit beteken en dit sê dat hy wil hê dat hulle harte verterk moet word.  Ons het gesien dat die Hebreërs het hulle ervaringe baie konkreet beskryf.  Wanneer die Bybel praat van die emosies, dan verwys hulle na hulle binneste of die ingewande.

Jesus het daarna verwys toe hy die skare sien en hulle innig jammer gekry het.  Die Griekse woord is “splagchizomai” wat letterlik beteken, sy ingewande het gedraai.  So, die Bybel verwys na die ingewande of die binneste om die mens se emosies uit te beeld.

Dan het ons gesien dat wanneer die Hebreërs na die hart van die mens verwys, het dit nie na emosies verwys nie maar na die verstand of die gedagtes.  En wanneer Paulus begeer dat hulle harte versterk mag word, sê hy as’t ware dat hulle gedagtes, hul verstand sal vul met die Woord van God.  Dit is al hoe hulle dan hierdie valse leraars met valse leringe sal kan weerstaan.

Ons het ook gesê dat die hart lei en die ingewande volg.  Die hart beheer die ingewande.  Die verstand beheer die emosies.  Emosies is soos ‘n kind wat hand uitruk en droogmaak as daar nie beheer uitgeoefen word nie.  Ons het nodig om ons harte te versterk met die Woord van God.  Ons emosies moet beheer word met ons verstand.  Een van die vrug van die Gees is selfbeheersing. 

Wanneer ons dan sing oor die waarhede van God en dit hoor, dan reageer ons emosies daarop.  Ons raak opgewonde en ons binneste kom in beroering.  Emosies reageer altyd op die waarhede.  Emosies reageer nie op niks nie.

Paulus begeer dat hulle harte versterk mag word.  Die hart verwys dan na die intellek en die wil, die verstand.  Die Hebreërs het nie van jou brein gepraat nie, hulle het van jou hart gepraat.  Die hart is dan die oorspronge van die lewe.  Paulus sê, mag julle verstand versterk word.  Hoekom?

Hoekom moet jou verstand sterk wees?  Want dit is die plek waar Satan jou eerste aanval.  En hy doen dit deur leuens aan jou te verkoop.  Hy is die vader van (?) leuens.  Hy bring vlase waarhede en valse informasie.  Want as jy verkeerd dink, gaan jou emosies verkeerd reageer.  Jou gedrag gaan verkeerd wees.  Daarom moet jy ‘n sterk hart hê.  Anders sal jy nie goeie vrug dra nie.

Hoe versterk ek my hart?  Deur my verstand te vul met goddelike waarhede.  En dit sal positiewe gedragspatrone in my lewe bring.  Die emosies volg op die gedagtes.

Ons het ook gesien dat die woord “vertroos of versterk” is die woord “parakaleo” en dit is dieselfde stamwoord as “parakletos” die Trooster.  Die Heilige Gees kom en versterk my hart.  Hy kom leer my die hele waarheid.  Hy lei ons in die hele waarheid.  Hy leer ons en lei ons.  Die Gees versterk ons.

Dit bring ons dan by die tweede ding wat Paulus vir elke Christen begeer.

V2 sê…deurdat hulle saamgevoeg word in die liefde

2.  Saamgevoeg in liefde (praktiese Christenskap)

Versterk in die hart, saamgevoeg in die liefde.  En dit bring dan balans met die eerste punt.  Ons wil nie mal gaan met ons intellek nie.  Christenskap moet nie iets kouds wees en onpersoonlik nie.  Die hartklop van Christenskap is liefde.

1 Kor 13:1 Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek 'n klinkende metaal of 'n luidende simbaal geword.
2 En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie.
3 En al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie.

Al die kennis en verstand word uitgebalanseer met liefde.  Daarom sê Paulus,

Kol 2:2 dat hulle harte vertroos mag word, deurdat hulle saamgevoeg word in die liefde… KJV being knit together in love

Hy wil hê dat hulle saamgevoeg, saamgeweef, of saamgevleg moet wees in die liefde.  Daar moet ‘n eenheid wees van hart, ‘n eenheid van gedagtes.  Liefde balanseer leringe.

Ons kry hierdie woord weer in v19, waar hy sê dat die hele liggaam saamgebind word.  Al die lede van die liggaam word saamgevoeg, saamgebind en die gom wat alles bymekaar hou, dit wat alle gelowiges aan mekaar bind is die liefde.

1 Kor 12:13 Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.

Ons het almal na Christus toe gekom op dieselfde wyse, ons is almal gered op dieselfde manier, deur dieselfde God.  Ons is almal in die liggaam in geplaas deur dieselfde Gees op die dieselfde wyse en dieselfde Gees woon in my en ook in jou.  Hierdie is die eenheid waarin ons reeds deel.

Alle verskille word uitgewis wanneer ons kom na Christus toe.  Daar is ‘n eenheid wat deel is van elke christen se identiteit.  Hierdie eenheid is ‘n posisionele eenheid.

Gal 3:28 Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus.

Rom 10:12 Want daar is geen onderskeid tussen Jood en Griek nie; dieselfde Here tog is Here van almal en is ryk oor almal wat Hom aanroep.

Ons deel in dieselfde voordele, dieselfde rykdom, dieselfde Gees, dieselfde lewe, ens.  So, Paulus bid dat hulle saamgebind sal word.  Maar ons is dan reeds saamgebind.  Ja, ons is posisioneel saamgebind.  En dit was die gebed van Jesus in Joh 17 wat vra dat hulle een sal wees, wat ek glo reeds vervul is.  Die ware kerk van die Here was nog altyd een.

Maar watter deel van die eenheid is dan nog nie vervul nie?  Dit is hierdie deel waarvan Paulus praat.  As jy mooi oplet sal jy sien dat Kol 2 sê dat ons saamgevoeg moet word (nie in die kerk nie), maar in liefde en dit is prakties.  Julle is posisioneel een, maar ek wil hê dat julle in die praktyk sal verenig.

Anders gestel, laat julle lewens prakties julle posisie in Christus uitbeeld.  Hy sê, julle is een; lewe dan nou so.  Leef julle eenheid uit.

1 Kor 1:10 Maar ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening.

Die Bybel sê dat die wêreld sal weet dat die Vader die Seun gestuur het as die Kerk een is, en deel van die probleem dat die wêreld nie weet wie Christus is nie is omdat ons nie prakties ons eenheid uitleef nie.

Fil 1:27 Alleenlik, gedra julle waardig die evangelie van Christus, sodat, of ek kom en julle sien dan wel of ek afwesig is, ek van julle omstandighede kan hoor dat julle in een gees vasstaan en, een van siel, saam stry vir die geloof van die evangelie,

Hoe kry ons dit reg?  Hier is die sleutel:

Ef 4:3 en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede.

Kyk mooi wat sê hy, “ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar…”  Ons moet die eenheid bewaar, ons moet wag hou daaroor.  Hy sê nie, ons moet eenheid skep nie.  Die Gees het alreeds hierdie eenheid geskep.  Wat moet ons doen?  Ons moet dit bewaar.  Ons moet daardie eenheid bewaar.  En hoe bewaar ons dit?  “deur die band van die vrede.”  Ons moet vredemakers wees.

Ons moet ooreenstem om nie te baklei nie, om nie te argumenteer nie, maar om die vrede te handhaaf.  Die Heilige Gees het ons reeds een gemaak.  Ons moet daardie eenheid bewaar deur vrede te handhaaf.

Kol 3:12 Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.
13 Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander 'n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.
14 En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.

Al hierdie dinge moet ons aantrek.  Innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.  Beklee julle met al hierdie dinge, maar bo dit alles, beklee julle met liefde. 

So ons bewaar die eenheid deur vredemakers te wees en ons doen dit deur ons te beklee met al hierdie dinge en die belangrikste van dit alles, is naamlik die liefde.  Fil 2:2 sê dat ons moet eensgesind wees en dieselfde liefde hê, een van siel, een van sin.  Of dan, een van verstand.

Hy sê, ek wil hê julle moet almal dieselfde wees.  Ek wil hê julle moet almal dieselfde gesindheid en dieselfde mening hê. (1 Kor 1:10)  As Paulus in Fil 2 dan sê dat ons moet dieselfde liefde moet hê, beteken dit dat ons almal dieselfde sal liefhê. Jy sê, maar dit is onmoontlik.  Nee dit is nie, nie as jy verstaan wat liefde beteken nie.

Eenheid is gebou op liefde en liefde is gebou op…?  Kyk na Fil 2:3

Fil 2:3 Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.

Liefde is gebou op onselfsugtigheid.  Wanneer jy dink dat almal in die Kerk van Jesus Christus, reg oor die wêreld, is belangriker as jyself, dan sal jy hulle kan liefhê.

So eenheid moet bewaar word en ons doen dit deur in vrede met mekaar te leef.  Ons sal in vrede met mekaar leef wanneer ons mekaar liefhet.  En ons sal mekaar liefhê, wanneer ons nederig en onselfsugtig is en ander mense hoër ag as onsself.

Fil 2:4 Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s'n.
5 Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.
6 Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie,
7 maar het Homself ontledig deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword;
8 en in gedaante gevind as 'n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.

So, Jesus is die perfekte voorbeeld vir nederigheid.  Hy wat ryk was, het arm geword, sodat ons wat arm is, ryk kan wees.  En hier praat hy nie van geld nie.  Dit is nederigheid.  Dit is ‘n voorbeeld van iemand wat homself offer, sodat ander daarby kan baat.  Dit is hierdie liefde wat ons moet hê vir mekaar.

En wanneer jy begin nederig word, dan begin jy liefhê.  En wanneer jy begin liefhê, dan sal daar vrede en eenheid wees.  Liefde vir mekaar is die bewyse dat jy ‘n christen is.  Dit is nie net jou plig om ander lief te hê nie, dit is die bewys van jou saligheid.  Dit is praktiese Christenskap.

Paulus sê, dat hulle harte vertroos mag word, deurdat hulle saamgevoeg word in die liefde.  Word versterk in julle harte en bewaar julle eenheid in liefde.

Die derde ding wat Paulus begeer vir hulle is. “volle versekerdheid van insig”

V2…en tot alle rykdom van die volle versekerdheid van insig.

Sterk in die hart, verenig in liefde en derdens, volle versekerdheid van insig.  As jy mooi kyk sal jy sien daar is patroon wat Paulus skets.  Wanneer jy die waarheid in jou verstand ken, en jy dit in liefde uitleef, dan sal dit lei tot volle vesekerdheid.  Dit sal lei tot vertroue en sekerheid.

Christenskap is nie net intellektueel of verstandelik nie, maar dit is prakties.   Dit is die praktiese deel wat versekerdheid bring.  Iemand kan na jou toe kom en Christenskap verwerp deur vir jou ‘n klomp intellektuele argumente te gee, dan sê jy.  Maar wag so bietjie:  Ek het dan gesien hoe dit in my eie lewe werk.  Ek het die krag van God in my eie lewe gesien.  Ek kan die resultate sien van God wat in my woon en deur my werk.  Die rede waarom mense twyfel in hul eie saligheid is omdat hulle nog nie dit uitgeleef het nie.  Dit is wanneer ons in daardie liefde leef wat die sekerheid bring in ons verstand.  Dit bring oortuiging en vertroue.  Dit is wat Paulus sê.

Kol 2:2 dat hulle harte vertroos mag word, deurdat hulle saamgevoeg word in die liefde en tot alle rykdom van die volle versekerdheid van insig…

Die rykdom van die volle versekerdheid van insig.  Paulus sê, ek wil hê dat julle volle vertroue sal hê.  Dit is wat volle versekerdheid beteken.  Ek wil hê dat julle sekerheid sal hê in julle verstand.  Die KJV sê, dat julle “full assurance of understanding,” sal hê.

Daar is te veel Christene wat rondval van die een ding na die ander ding.

Ef 4:14 sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring;

Hoekom?  Want hulle is nooit opgebou deur liefde nie.  Nie net deur die kennis van die waarheid nie, maar die praktiese toepassing daarvan.  Paulus sê, ek wil hê dat julle gesettle moet raak.  Hou op om rond te val.  Word in jou hart versterk, word verenig in die liefde en dit is praktiese christenskap en raak gesettle.  Dan sal jy veresekerdheid hê.

Sekerheid kom nie net van sekere waarhede wat jy gelees het in ‘n boek nie, dit kom van die uitlewing daarvan.  Dit is om jou lewe oor te gee aan hierdie patroon wat die Gees van God demonstreer deur jou lewe.  Waarheid word gewortel in jou hart en word bewerk in die liefde van die gelowiges en dit bring as gevolg ‘n diep sekerheid.

Jy ontvang die waarheid in jou verstand, jou wil word versterk, dit word geopenbaar in ‘n gehoorsame liefde vir ander en die resultate is sekerheid en vertroue dat dit is die waarheid.

Ef 4:15 maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus

Kom ons kyk gou weer na ons teksgedeelte:

Kol 2:2 dat hulle harte vertroos mag word, deurdat hulle saamgevoeg word in die liefde en tot alle rykdom van die volle versekerdheid van insig…(understanding)

Hy sê, …tot alle rykdom van die volle versekerdheid van insig.  Maw om dit anders te stel, sê hy: ek wil hê dat jy al die rykdom wat vir jou beskikbaar is sal ervaar en dit gebeur wanneer jy versekerd is van wat jy het.

Maw jy kan nie hierdie dinge opeis en werklik die rykdom daarvan geniet as jy nie 100% seker is dat dit joune is nie.

Het jy al ooit gesit en wonder hoe die hemel gaan wees?  Dink net daaroor.  En dit is alles joune, en dit moet jou opgewonde maak.  Jy is ryk.  Maar as jy nog twyfel en wonder of jy dit gaan maak of nie, as jy nie sekerheid het nie, sal jy dit nie kan ervaar en geniet nie. 

Dit sal nie vir jou rykdom wees as jy aan die hemel dink en onseker is of jy dit eendag gaan kry of nie.  Nee!  Jy moet daardie sekerheid hê.  Jy moet daardie volle vesekerdheid hê, dan weet jy, jy is ryk.

Volle versekerdheid behoort net aan ware gelowiges.  Dit is net ware gelowiges wat die geestelike dinge kan verstaan.  Die sondaar se verstand is verduister.

Ef 4:18 mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart.

1 Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.
15 Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie.
16 Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus.

Die natuurlike mens kan die dinge van die Gees nie verstaan nie, maar net die geestlike mens kan dit verstaan.  As die natuurlike mens dit nie kan verstaan nie, hoe kan ek sê dat die geestelike mens dit ook nie kan verstaan nie.  Jy moet dit juis kan verstaan. 

Dit is net die geestelike mens wat die geestelike dinge kan verstaan.  V16 sê ons het die sin van die Here.  Die KJV sê, “we have the mind of Christ.”  Maw, ons het die verstand van Christus.  Die verstand is nie die probleem nie, dit is die verkeerde inligting wat die probleem is.

1 Joh 5:20 En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die Waaragtige te ken; en ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige lewe.

God wil hê dat jy die verstand van Christus sal hê.  Die Bybel noem dan juis die sondaar, onverstandig.

Ef 5:17 Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is.

Paulus sê, ek moet volle vesekerdheid van insig hê.  Die KJV sê, “the full assurance of understanding”.  Ons kan dit ook vertaal met verstandigheid.  Ons moet volle versekerdheid van verstandigheid hê.  Paulus sê ek wil hê julle moet die wil van God verstaan.

Hoe meer jy God se Woord bestudeer, hoe meer word jou gedagtes gevul, en hoe meer verander dit jou gedrag, en hoe meer vind jy uit en begin jy te verstaan hoe ryk jy is.  Luister!  Die dinge van die wêreld gaan al hoe minder belangrik word vir jou en die dinge wat jy gedink het jy sal nooit laat gaan nie, begin jy nou laat gaan.

Jy weet waar jou ware rykdom lê en jy kan begin om te doen wat Jesus sê:

Matt 6:19 Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie;
20 maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie;
21 want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.

Jy weet waar jou sekerheid lê.  Waar jou skat is, daar sal jou hart wees.  Voordat jou hart nie gesettle is en versekerd is, en vertroue in God het nie, sal jy maar nog aanhang aan die wêreldse dinge.

2 Tim 2:7 Dink na oor wat ek sê; en mag die Here jou insig gee in alles!


No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288